Nuuskommentaar: As veldtog téén rassisme self rassisties word

rassisme mnn_com

Grafika: Mnn.com

Die blatante onewehandigheid waarmee gereeld teen wit en swart opgetree word wanneer iemand hom of haar aan rassistiese optrede skuldig maak, word al meer deel van die probleem eerder as die oplossing. Pas het die VF Plus juis hieroor antwoorde by die Menseregtekommissie gesoek – die een instelling wat nie kan bekostig om onewehandig op te tree nie.

Sedert die kwessie van rassisme weer groot nuus geword het, het Maroela Media konsekwent gemaan dat dié kwessie ewehandig en holisties hanteer moet word om enige kans te staan om suksesvol te wees.

Tog het hierdie boodskap nie oral goed afgegaan nie. Uit verskeie oorde is ander menings gehuldig en gepropageer. Die vernaamste gemene deler is om ’n scenario te gebruik dat rassisme in apartheid geanker is/was, en die vertrekpunt is om te bepaal of iets rassisties is of nie. Aanverwant hiertoe dan die opvatting dat ’n swart mens op grond van die definisie nie ’n rassis kan wees nie.

Sekerlik die beste manifestasie hiervan denkbaar is die reuse-hamerslae wat (wit) mense toegedien word wat die k-woord ingespan het, terwyl pres. Jacob Zuma in ’n toespraak, nogal tydens die hooffunksie in die veldtog teen rassisme, na wit mense as “white supremacists” verwys het. Hy is grootliks gehelp om hiermee weg te kom deurdat mediamense wat skynbaar onbewus was van die gelaaide aard van die term, dit na ’n tandelose Afrikaanse vertaling herskryf het.

Zuma het wel ’n klag of wat by die menseregtekommissie op die lyf geloop, maar slegs een saak, sy verwysing na Jan van Riebeeck en sy verbeeldingsvlug daarna, kon ná baie vuurmaak die Menseregtekommissie tot ’n soort aksie aanvuur. Tot dusver is die kommissie onwillig om ’n klag voortspruitend uit Zuma se verwysing dat wit mense swart mense se grond gesteel het te ondersoek.

’n Stewige skeut onewehandigheid blyk uit die galbrakery teen oorle apartheid, maar dawerende stilte uit dieselfde oord oor identiese rasgebaseerde optrede deur die regering. Met terme soos transformasie, kwotas en affirmative action, maak nie saak hoe uitgerafel en misbruik nie, word probeer om ’n kleed van fatsoenlikheid vir growwe rassediskriminasie om te hang. Daar is byvoorbeeld geen manier hoe die term “regstellende aksie” in Suid-Afrika nog met “affirmative action” vertaal kan word nie. Dit het grootliks teenoorgestelde betekenisse gekry.

Die slagveld van onewehandigheid blyk egter die sosiale media te wees. Ja, daar is gevalle soos dat ’n universiteit se regsadviseurs aanbeveel dat niks aan swart studente met T-hemde met die bewoording, Kill all Whites, of soortgelyk, gedoen word nie omdat dit vryheid van uitdrukking behels.

Die Menseregtekommissie se rol en betrokkenheid kom egter erg onder verdenking wanneer dit die sosiale media betrek. Die Vryheidsfront Plus dring nou by die MRK op antwoorde aan oor hoekom dié waghondinstelling skynbaar oor sy voete val om self ondersoeke van stapel te stuur wanneer ’n wit mens hom of haar op die sosiale media aan rassisme skuldig maak, maar in die geval van swart mense niks doen as daar nie amptelike klagtes ingedien word nie. Die geval Palesa Sotjifa, wat die afgelope twee jaar erg rassistiese aanmerkings op  sosiale media gemaak het, kry nou aansienlike nuusdekking in die gedrukte media, maar die MRK het hom tot dusver horende doof gehou daarvoor. Sotjifa het nou om verskoning gevra, maar so ook die meeste wit oortreders wat nogtans tot by oom Daantjie in die kallerhok geja(a)g is.

Die MRK is die één instelling wat nie gesien kan word as onewehandig nie.

Natuurlik geskied dit alles teen ’n konteks, of dan verskeie perspektiewe oor die agtergrondkonteks. Op 4 Julie plaas Netwerk 24 ’n artikel deur die bekende sosioloog, Andries Bezuidenhout, met die veelseggende titel, “Swart woede begin nou eers”. Hy meen dat as die opkomende swart nasionalisme dieselfde pad stap as wat Afrikanernasionalisme gestap het, kan ons eers oor vier jaar weer oor versoening praat.

Hierteenoor die realiteit dat die Waarheid-en-versoeningskommissie sy loop geneem het, dat daar ’n Grondwet met ’n klompie minderheidsregte is, en ’n internasionale reg met ’n stewige grondslag van minderheidsregte. Een deel wil aanbeweeg, terwyl ’n ander groep met persepsies van onafgehandelde sake in die verlede geanker sit.

In sy onlangse reaksie op die regering se voorgenome National Action Plan to Combat Racism, Racial Discrimination, Xenophobia and Related Intolerance (NAP) het AfriForum daarop gewys dat hierdie NAP eendimensioneel is en dat kritieke inligting ontbreek. “Ons kry die indruk dat die regering eerstens probeer om homself te prys voordat daar werklik gefokus word op wat gedoen kan word om rassisme, rassediskriminasie, vreemdelingehaat en onverdraagsaamheid te beveg,” aldus Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum. “Belangrike inligting word taamlik selektief in die regering se planne geïgnoreer en die regering aanvaar geen verantwoordelikheid vir sy eie aandeel in die probleem nie.”

Wanneer dokumentasie oor die oorsake van huidige en onlangse studente-onluste in die VSA bestudeer word, is dit duidelik dat daar universele beginsels is wat aan die kwessie onderliggend is, en wat nie net studente-onluste hier tipeer nie, maar die ganse rassekwessie. Hier word slawerny en segregasie net met apartheid vervang, en in mindere mate kolonialisme (vandaar die persepsies van Jan van Riebeeck).

’n Gemene deler is dat dit uiters moeilik is om ’n skoon lei te vind waarvandaan aanbeweeg kan word. Op universiteite, wanneer sekere kantelpunte in getalle bereik word, is die simpatie vir versoenende kompromieë dikwels daarmee heen en word aangedring op die volwaardige neerslag van kulturele praktyke en gebruike wat voorheen aan die agterspeen gesuig het.

Weer eens bots dit in Suid-Afrika met grondwetlike minderheidsregte.

Ja, wit mense moet en kan hul kant bring om ’n bydrae binne die Suid-Afrikaanse konteks te speel. Die wit studente wat ’n aantal jare gelede vir betogende swart studente “Bobbejaan klim die berg” begin sing het, was sekerlik nie verbaas dat die swart betogers op slag vreeslik kwaad was nie. As Penny Sparrow verbaas was dat haar vergelyking van swart mense met “monkeys” woede sou ontlok, is sy baie werklikheidsvreemd aan Suid-Afrika.

Maar om die kwessie van hierdie kant alleen aan te pak gaan die kwessie eerder stook as laat bedaar.

Ewehandigheid is nie onderhandelbaar nie, en die Grondwet is ook nie sommer opofferbaar nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jan maak n Plan

Wat ‘n plesier is dit nie om ‘n rubriek te lees van iemand wat weet waaroor dit gaan en die regte punte aan raak. Mysinsiens is daar hieroor net twee groot probleme in SA vandag en dit is dat die sogenaamde Menseregtekommisie nog vir Zuma nog swart mense in die bek sal ruk vir hulle rassisme en tweedens dat witmense nie hulle voete sal neersit en saam aksie teen soortgelyke handelings sal neem nie.

snoefie

mense soos zuma en malema skree so graag witmense het geen reg op hulle eie grond nie, want volgens hulle het witmense die grond gesteel. how het witmense die grond bekom? was dit nie deur onderhandeling nie? het die swart voorvaders nie die grond waarop hulle nie eers gewoon het en volgens wet geen reg op gehad het nie, aan die blankes verkoop het nie? wat hulle verkiesing om te vergeet,is dat die orys wat die verkoper geeis het, hetsy dit n handvol twak of n handvol krale, rolletjie koperdraad of n blik wyn was, dit was gewillige koper, gewillige… Lees meer »

Theuns

Dankie Herman vir jou uiters relevante kommentaar! As ons Afrikaners en Witmense in die algemeen weer met die swart meerderheid moet onderhandel soos in die aanloop na die huidige bestel, sal Maroela se lesers jou beslis daar wil he! En ook Leopold Scholtz, AfriForum en Solidariteit. Dit gaan my verstand te bowe dat FW, Roelf Meyer, Leon Wessels en ander nou so stil is maar nogtans voorgee dat hulle die regte ding gedoen het.(Illusions of Grandeur)

Swart nasionalisme

Herman is een van die baie min skrywers wat logika het, wat dinge raak sien en nie bangbroek is om dit uit te lig nie. Oor die gevare van swart nasionalisme versus Afrikaner nasionalisme is my opinie dat die Afrikaners nie die vyand, die Engelse, vermoor het nie. Ons het nie heksejagte op hulle uitgevoer nie. Ons het hulle vrouens en kinders nie vermoor nie selfs al het hulle dit aan ons gedoen. Later in die apartheidsjare het ons ook nie swart babas en bejaardes wreed vermoor nie. Ons het nie verskonings vir ons swaerkry gesoek nie maar hard gewerk… Lees meer »

John

Herman, jy kon hierdie insiggewende en raakvat-artikel net sowel in hogere antieke Japannees geskryf het, vir al wat dit sal saak maak aan die’ ingebedde siekte of dalk eie aard van menswees. Baklei raak altyd vuil en slaan altyd onder die beld. Dis soos gaap of hik, mens kan dit nie keer nie, selfs nie in die beste geselskap nie. Bedreigdes voor verkiesings, veral as die suurstof min raak, doen dit dan veral…