Nuuskommentaar: As Zuma nou moet waai, moet Ramaphosa presidensieel begin optree

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa (links) en pres. Jacob Zuma (regs) (21 Mei 2014) Foto: GCIS

Koerantopskrifte basuin dit nou byna daagliks uit – dat adj.pres. Cyril Ramaphosa nie ’n geleentheid laat verbygaan om grondgryp sonder kompensasie en radikale ekonomiese bemagtiging te dryf nie. Veral die grondkwessie (eintlik alle eiendom) is ’n erg verdelende faktor.

As nuwe president van die ANC spreek Ramaphosa op die oomblik hoofsaaklik ’n verdeelde ANC toe, en probeer eenheid bewerkstellig. Die grondkwessie is ook nog ’n relatiewe nuwe beleid van die ANC nadat pres. Jacob Zuma so onlangs as verlede jaar nog ’n paar van sy loskop-kornuite in die gesang gevolg het. Dit het bykans saamgeval met ’n stemming in die parlement waar die ANC daarteen gestem het, omdat dit nié ANC-beleid was nie.

Nou is dit, danksy waarskynlik een van die laaste hospitaal-aangeë wat Zuma na Ramaphosa kon laat loop. Ekonome is dit bykans eens dat so iets, sou dit werklikheid word, die ekonomie ineen sal laat stort. Die rubriekskrywer Max du Preez het betreklik onlangs nog geskryf dat as dit werklikheid word, hy ook emigrasie sal oorweeg.

Ramaphosa kwalifiseer deurlopend dat grondgryp nie so sal geskied dat dit die ekonomie sal benadeel, of voedselsekuriteit in die gedrang sal bring nie. As dit inderdaad vir Ramaphosa ’n prioriteit sal wees, sal hy die grondgrypkwessie smoor en ander landbou-onvriendelike maatreëls wat die ANC ingestel het, aftakel. Hy sal ook die kwessie van plaasaanvalle met erns aandurf.

Zuma het nooit tydens sy termyne as president geleer dat moderne tegnologie dit vandag onmoontlik maak om, soos ’n stamkaptein van ouds, by elke familievuurtjie ’n storie te gaan vertel waarvan daardie familie hou nie. Al sou dieselfde storie die mense by ’n naburige vuurtjie die harnas injaag. So is Suid-Afrika verskeie kere in die buiteland in ’n verleentheid gestel oor dinge wat Zuma vir bepaalde gehore kwytgeraak het.

Van Ramaphosa word egter beter verwag. Hy weet wat hy in sy ANC-hoedanigheid sê is dieselfde aand op TV’s landswyd. En die boodskap sal sommiges ontstig.

Daar is ál meer sprake dat Zuma eersdaags die trekpas gaan kry, en dat Ramaphosa binnekort ook die staatspresident sal wees. Dan is dit nou ’n slegte tyd om a-la-Zuma populisties te probeer wees, en vereis dit dat hy meer presidensieel moet begin optree. Dit is goeie raad, selfs al volg hy Zuma eers in 2019 op.

Ramaphosa sal ook moet let daarop dat daar tussen hom en Zuma nie ’n situasie ontstaan van waar die pap gereeld op die grond beland nie. Wie moet byvoorbeeld met woord en daad die politieke voortou neem oor die gebeure by Ottoshoop waar ’n poskantoor aan die brand gesteek is, en ’n polisiestasie en ’n huis wat deur polisielede bewoon word, onder die klippe gesteek word?

En wat van die studentekwessie en gratis onderrig wat die EFF so lekker stook?

Dit lyk nie of Zuma meer belangstel om enige krisisse (wat hy self veroorsaak het), aan te spreek nie.

Intussen wag ’n groot deel van die bevolking ongeduldig dat Ramaphosa by sy verkiesingsbeloftes gaan hou om staatskaping en korrupsie ernstig en met mening aan te pak. Omdat Zuma nog deur appèlle na reddingsboeie gryp, is Ramaphosa se hande hier en daar gebind, maar hy kan intussen heelwat doen.

Die land se ekonomie is eenvoudig te broos, soos die rommelstatus bewys, om dit nou nog met hamerhoue oor grondgryp sonder kompensasie te betakel. Los eers die huidige regeringsproses wat vol probleme en korrupsie is, of ruk dit reg. Behou die goeie gesindheid van die landbougemeenskap, en omdat dit alle eiendomsreg raak, ook dié van die ekonomies aktiewe deel van die bevolking.

Die ironie is dat die internasionale reg baie beperkte reg op eiendom aan state toeken, soos byvoorbeeld diplomatieke eiendom. Daarteenoor word individue, en selfs vreemdelinge, se reg op eiendom deur ’n magdom verdrae erken. Sommiges is suiwer aan die internasionale reg gekoppel, ander is weer in universele menseregte geanker.

Een van die rigtinggewende bepalings van die internasionale reg is artikel 17 van die Universele Deklarasie van Menseregte van 1948 wat soos volg lui: “Everyone has the right to own property alone as well as in association with others. No one shall be arbitrarily deprived of his property.” Lees gerus die volledige artikel oor die ontwikkeling van eiendomsreg in die internasionale reg hier.

Terwyl eiendomsreg saam met moderne tegnologie uitbrei, soos bane vir satelliete en ’n wye spektrum intellektuele eiendomsreg, wil die ANC na die voor- koue oorlogse situasie terugkeer, en spesifiek dit wat met die nie-demokratiese state geassosieer word.

Ramaphosa moet meer wysheid aan die dag lê as hy nie die bewind van ’n onregeerbare land wil oorneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

humor ·

Miskien n vraag vanwee onkunde; het CR enige mag om z die trekpas te gee?????????? Watter effek gaan dit op die huidige verdeelde anc he? Gaan CR nie sy ondersteuningsbasis verloor nie en daarmee in die stof byt nie.?

Hendrik ·

Daar is sekerlik paar maniere hoe Zuma sy pos kan verlaat. 1. Die mosie van wantroue deur die parlement (tydperk – Baie lank. Die speaker moet toestemming gee om debat van die mosie van wantroue in stel die president in te stel, daarna moet die meerderheid in die parlement hom uitstem. ). 2. Die ANC kan hom herontplooi terug na Lutuli huis (tydperk – onmiddelik) 3. Zuma kan aangekla word publieke vervolger en skuldig bevind word (tydperk – dot kan maande neem tot die 2019 verkiesing) . Dan word hy ontslaan as president. 4. Zuma kan die land ontval. (tydperk – onmiddelik)

WELKOM ·

RAMAPHOSA Is net so useless soos Zuma en so ook Mev Zuma . ons het nie eintlik veel om uit te kies nie .. almal is maar soos die ander . voorvadergeeste, landonteiening, die onderdrukking van minderhede, die algehele oorname van die Afrikaan in Suid Afrika, NIKS gaan verander met Ramaphosa nie, julle hou verniet julle asem op. MUGABE het soos ‘n KONING in luuksheid gelewe, hy en sy hele gesin en die res van ZIMBABWE het uitgeteer van die honger en doodgegaan van siektes en geen werk gehad nie … WELKOM IN SA!

Hans ·

Jammer om te sê maar hy leef nogsteeds so en nou hoef hy niks te doen nie. Kry nog steeds n groot salaris en als. So wat voel hy wat gaan nou met Zim gebeur hy behou nog steeds als wat hy gehad het. Weet nie wat se redenasie noem mens dit nie, ek het mooi name vir dit nie.

Christo Visagie ·

Heg eerder waarde aan dit wat die Bybel sê,,,,,,,,,,,,,,,,vergeet van al die sieners en voorspellers.

Makhosani ·

Hoekom nie die klaar geeiende grond onder STAMHOOFDE verdeel nie…Daar is letterlik miljoene hektare grond dan beskikbaar. Daar word tans minimaal daarop verbou of ontwikkel…..n Honger maag laat besluite in skande.

PJC ·

Gelukkig is die ANC vinnig met die bekpraatjies maar stadig en deurmekaar met die uitvoering.

Loeis ·

Dalk kan die ANC vertraag word sodat ons by 2019 se verkiesing uitkom sonder dat daar aan die grondwet en eiendomsreg gepeuter kon word.

Dit is dalk te veel om te hoop dat die meer gematigde partye saam 51% in die verkiesing sal haal, maar as die ANC en EFF saam nie meer ‘n tweederde meerdeheid het nie, kan hulle ten minste nie met die grondwet peuter nie. Dis ‘n troosprys, maar die beste wat die sisteem ons nou bied.

Chris Ws ·

Nou wonder ek – as die ekonomie in duie stort omdat grondonteining sonder vergoeding deurgevoer word,hoeveel gaan Ramaphosa se fortuin dan werd wees?
Dink hy ooit daaraan?Of het hy stilletjies sy fortuin landuit gesmokkel en oorsee gebank?Ek wens ek kon weet . . . .
Agv sy terrorisme opleiding in Rusland in die 1980’s is hy nie te vertroue nie.Punt.

John ·

Waarom is soveel goeie dinge van Cyril verwag? Al sy woorde en aksies het getoon dat hy ‘n rigiede ANC-kader is… hy is selfs ook anti-Joods en reageer met woede oor die Palestyne se glo erge onderdrukking. Hierdie knaap is ‘n riller wat gewag het vir ‘n geleentheid om die groot doek te haal. Ons gaan nog wens Eskom bring weer lang kragonderbrekings terug…. vir bietjie stilte op tv…

Jerry ·

Gee CR die voordeel van die twyfel. Nie hy of enige ander ANC lid kan soveel skade aanrig soos wat Zupta aangerig het. Net die tyd sal leer of CR van die skade sal kan herstel en vir alle Suid-Afrikaners se onthalwe hoop ons so. Dit kan net voordelig wees vir die Afrikaner om vriende te maak met CR, ons moet net ons denkwyse n bietjie aanpas. Die vet weet ons het genoeg vyande en ons kan nie so aanploeter en aan die verlede bly vaskleef nie, ook nie aan onrealistiese onhaalbare visies nie. In die afsienbare toekoms kan dit gebeur dat die Afrikaner nie eers n plaas van sy eie mag he nie, laat staan nog n volkstaat!

Al ·

As Ramaphosa werklik grondonteiening voorstaan, is dit plein domweg van hom. Wat mense verstom. Aan die ander kant is hy op hierdie oomblik soos n akrobaat en moet hy fyntrap omdat hy omring word deur zums se faksie.
Dalk is dit net n strategie van hom om n baie netelige kwessie van grondonteiening wat baie populistiese aantrekkingskrag het op n verantwoordelike manier.

Rupert Ashford ·

Herman, het Oompie Max gese waarheen hy beoog om te trek? Die minste wat ons kan doen is om die arme mense te waarsku!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.