Nuuskommentaar: As (Zuma se) danspassies systappies word

Oudpres. Jacob Zuma tydens sy eerste verskyning voor die Zondo-kommissie. Foto:
Karen Sandison/African News Agency(ANA)

As oudpres. Jacob Zuma se eerste dag van getuienis voor die Zondo-kommissie ’n aanduiding is van wat die res van die week gaan gebeur, wag daar ’n fassinerende verloop.

Suid-Afrikaners wag nog met opgehoue asems om te hoor of oudpres. Jacob Zuma sy dag in die hof sal kry – iets waarvoor hy self vol bravade gevra het, maar sedertdien elke truuk moontlik uithaal om dit nié te kry nie. Die verskyning voor die Zondo-kommissie sal dus moontlik die naaste kom aan ’n regsproses waarin Zuma pa sal moet staan vir sy “bedenklike” doen en late. Nie ideaal nie, maar minstens is daar vír die oudpresident besluit dat hy oor sy rol (al dan nie) in die staatskaping van die land getuig nadat dié oudregeringshoof letterlik sy danspassies, en figuurlik sy systappies, daaroor opgetower het. Nogal onder sy eie spottende begeleiding: “Zuma must fall….”

Het hy dan nog nie klaar geval nie? Het die wiel dan nog nie klaar teen hom gedraai nie? Indien nie, wat bly vir wetsgehoorsame burgers oor om reg en geregtigheid te laat geskied?

Een ding is duidelik – sy invloedryke kornuite, wat self agter die deur staan, se invloed moet geknak word. Hulle sorg dat Zuma se vlerke in werkende toestand is.

Ontleders en kommentators het voor gister se aanvang van sy getuienis voor die Zondo-kommissie uiteenlopend voorspel/geraai oor hoe Zuma voor die kommissie gaan getuig. Oor een ding was almal dit min of meer eens én reg – diegene wat verwag het dat Zuma tranerig om vergifnis sou vra, gaan baie lank wag. Nee, Zuma het eerder self die lakens uitgedeel, en hom self as die slagoffer uitgebeeld. Ja, hy was die slagoffer van komplotte om van ontslae geraak te word, en sies, sy vyande was so lelik met hom dat hulle selfs probeer het om hom te vermoor.

As daar een les uit die Kaapse bendegeweld is wat lank reeds duidelik is, is dit dat ’n misdaadbende se leier se lot is dat sy “ampsgenote” hom hoog op hul dodelys sal hou. Selfs ’n besige lughawegebou en ’n magdom passasiers en hul vriende is nie buite bereik vir sulke sluipmoordpogings nie. Trouens, selfs tronke is nie buite die bereik van “bende-geregtigheid” nie. Selfs nadat die weermag in die Wes-Kaap teen die misdaadgolf begin optree het, is in een naweek byna 50 mense in die provinsie vermoor.

En hoekom word sy bande met die Guptas so uitgelig, en ander se bande geïgnoreer? Engeltjie Zuma het dan niks verkeerd gedoen nie. En hy weet nie hoe die Guptas so by die aanstelling van kabinetslede geïmpliseer kan word nie.

Ja nee, hy is ’n erg verontregte man.

Dit sal interessant wees om te weet in hoe ’n mate die gaping tussen die werklikheid en die Zuma-werklikheid sou vernou as dit nie vir uitmuntende ondersoekende joernalistiek en ’n paar onthullende boeke was nie.

Wat van bewyse? Nou wat het dit met die prys van eiers te make? Korrupsie is dan ’n Westerse konsep, en Zuma kan nie juis daarvan beskuldig word dat hy pro-Westers is nie. Trouens, vir ’n minister om die etiket te kry dat hy pro-Westers is, is so goed soos ’n etiket van verraad, en is veronderstel om jou loopbaan te kelder.

En die lelike Weste hou aan vergeet hoe belangrik die periodieke tas vol kontant geword het. O ja, watter tasse vol kontant?

Oudpres. Jacob Zuma Maandag voor die kommissie van ondersoek na staatskaping. (Foto: Karen Sandison, ANA)

Dit sal interessant wees om te sien hoe Zuma se getuienis die week gaan ontvou. Min mense sal verwag dat daar nie strategieë deur die verskillende rolspelers in die spel is nie. Zuma het reeds die sluier gelig oor wat sy strategie is. Hoeveel mense is nie gister in ’n toestand van vrees geskok toe Zuma vir Ngoako Ramathlodi as “spioen van die apartheidsregering uitgewys” het nie. Dit is kwalik relevant of dit die waarheid is, die blote uitwys van iemand as “askari” is gewoonlik genoeg om iemand se lewe in gevaar te stel en sy politieke loopbaan te knak. Om mense dié etiket om te hang kan ’n dodelik doeltreffende strategie in Zuma se hande wees, al is dit kluitjies sonder weerga.

Die aantyging van Zuma is uiteraard ten sterkste deur Ramathlodi ontken. Hy het Zuma uitgedaag om saam met hom leuenverklikkerstoetse te ondergaan.

Ná die eerste dag se getuienis lyk dit of regter Zondo en sy ondervragingspan doelbewus toegelaat het dat Zuma effektief kon beweer wat hy wou, en hom sodoende in ’n magdom getuienis in te lok wat Zuma uiteindelik aan uiters plofbare ondervraging sal bloot stel.

Zuma sal wel nog verskeie troewe hê, soos om hom aan die proses te onttrek wanneer die water te warm raak. Hoe gaan die Zuma-ondersteuners reageer as hulle agterkom hul held is besig om klippe te kou? Veral as Zuma binne en buite die hof die krane goed oopdraai as slagoffer van ’n vendetta?

Zuma het in sy lang politieke loopbaan al meer kere bewys dat hy ’n meester in systappies is. Trouens, so kort voor die Wêreldbeker-rugbytoernooi kan sy naam gerus in die hoed gegooi word as moontlike hulpafrigter om die Springbokke ’n paar systap- en aftrapkunsies te keer. As Zuma daarin kon slaag om te midde van staatskaping die land se posisie op die internasionale korrupsiepersepsie-indeks en die persvryheidsindeks te verbeter, dan gaan die Bokke se teenstanders yslike gate in die lug op die verdediging duik – mits Zuma die Bokke afrig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Genieve ·

Hy is te selfverseker van sy saak vra my en kan ook nie stil sit nie die miere is te besig met hom hy is skielik die slagoffer volgens hom nou wil almal hom skielik doodgemaak het ag nee wag jong..

maryann ·

Wat ‘n grap – hy verbeel hom hy is ‘n komediant wat ‘die hele wereld vermaak. Genade as hy net wil besef dat hy eintlik ons name met ‘n plank slaan en die feit dat hy verwag almal moet hom glo waarvoor vat hy ons – vir poppe – maak my siek om die ding op tv te sien maar ja grapgat het mos die land verkoop vir eie gewin en wil nou lag-lag almal vermaak en seker later geld maak daaruit ook.

JohanL ·

Zuma se aantyging dat Ramathlodi ‘n spioen is – lagwekkend. Miskien moet Zuma verduidelik wat hy voor ’94 by NI se kantore gesoek het? Was hy daar net vir tee en koekies of in amptelike ANC hoedanigheid? Ons almal weet hy het op verskillende tye deelgeneem aan onderhandelinge. Maar was sy besoeke aan NI deel van die mandaat?

Andreas ·

As ek sy raadgewers was, of prokureur wat vooraf gekla het hy het nie genoeg tyd gehad om hom voor te berei nie, vlug nou vir al wat hul kan, Zuma is soos ‘n kanon wat geen rigting ken nie.

Andreas ·

Ek het in vorige kommentaar hier gesê, ook betreffende die nuwe OB, hulle, sy en Zuma, “go for broke”, nou sien ek Cyril het ook klagte teen haar gelê. So daar is verseker ‘n links en regs in die ANC, alhoewel hulle met die regs ‘n probleem mag hê. Maar regs is mos by wyse van spreke. Ons wit mense ervaar meeste van die keer dat die wat ‘regser’ is, se arm meer as daardie wat ‘linkser’ is, se arm gespalk word.

John ·

Intimidasie en afpersing was skynbaar ‘the name of the game’, kan mens aflei uit die dreigement wat Zuma sommer in sy openingstoespraak gemaak het oor dinge wat hy glo van mense weet. Is dit hoekom hy nooit uitgestem is in die parlement nie? Nou weer word sy lewe glo bedreig. Gooi hom in die tronk en begin met hofsake teen hom. Sit hom in ‘n glaskas en vorder. Die ou man speel met die land. Waar op deeske aarde kan iemand met soveel sake teen hom soveel twak kwytraak en ons glo hom? Die regter sal sy voet moet neersit of hom vir geestesgesondheidwaarneming stuur en met muti dose.

Gert van Wierdapark ·

Die oud pres is besig om sy en sy regs-span se “Skaak-vernuf” op die proef te stel! Aan kreatiwiteit gaan dit beslis nie ontbreek nie. Moenie verbaas wees as hy ‘n getuig-skrif vanaf die Koningin in van Brittanje inhandig nie! Hy is meer uitgeslape as toe Rip van Winkel van sy slapie wakker geword het! He-he-he!!

Therese van Schalkwyk ·

Die mislukte ondersoek van die wapenskandaal in die beginjare van die nuwe, ‘verbeterde’ Suid-Afrika het die standaard gestel. Gróót name in die ANC is daardeur gered van vervolging.
Sedertdien is miljarde elke jaar ‘wanbestee’ met min of geen gevolg vir die skuldiges en skaars enige reaksie uit hoë regeringskringe.
Verstaan dus Jacob Zuma se opregte verontwaardiging oor die ‘Westerse’ situasie waarin hy hom tans bevind.
‘n Gerieflike sondebok vir jare se verval onder die ANC in sy geheel.

Dries du Toit ·

Ek begin regtig dink dat Zuma onskuldig is aan baie van die aanklagtes teen hom. Dit wil voorkom of hy maar net daar gesit het en al sy kaders se doen en lates gekondoneer het omdat hy nie n “cooking clue” gehad het wat hulle regtig mee besig was nie. Hierdie man het nie n idee gehad hoe om n land te regeer nie. Hy was maar net n pion wat rondgestoot was deur al sy ministers en kaders

Andreas ·

Ek glo jy mag dalk reg wees. Ek het al dikwels gewonder as ‘hy’ so met Poetin en andere onderhandel het, wat hulle gedagtes na die tyd is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.