Nuuskommentaar: Asterix en Obelix nou ‘wees’

Albert Uderzo een van die skeppers van die Asterix-boekereeks, is onlangs dood. (Foto: Joerg Sarbach/AP)

Met die afsterwe van die kunstenaar Albert Uderzo vroeër die week, het die einde moontlik aangebreek van ’n werklik merkwaardige tekenprentreeks wat in 1959 die eerste keer in drukvorm verskyn het.

Die oorspronklike teksskrywer en vennoot, René Goscinny, is reeds in 1977 oorlede. So saam-saam kon die twee ongenadig die spot dryf met mense wat nie die ligte kant van die lewe kon waardeer nie. Die reeks word as satire beskryf, maar dit toon ook dikwels groot ooreenkomste met die Namakwalandse genre van “droë humor”.

Die reeks se simboliek strek egter oneindig verder. Enige persoon wat snobisme ten toon stel, sal ervaar dat daar met hulle die spot gedryf word. Diktators word eweneens woordgewiks, terwyl spioene aan die tegnologiese foefies waarmee James Bond en ander bekende “spioene” verbind word, toevertrou word. Mag die reeks egter oorleef en nog lank die mensdom teen die swaarkry daarbuite bemagtig.

Stokoud tot bloedjonk tel onder die miljoene aanhangers wêreldwyd wat die 370 miljoen eksemplare wat reeds verkoop is, behoorlik opgeraap het. Die reeks is in meer as 170 tale en dialekte vertaal (wat 60 Duitse dialekte insluit) en wat een van die merkwaardigste eienskappe van die reeks belig.

Een van die Afrikaanse weergawes van die reeks.

Die reeks is uiteraard oorspronklik in Frans geskryf, maar die vertalers het bykans voor die voet daarin geslaag om die vertaalwerk so oorspronklik moontlik te laat klink. So kon daar heerlik met Cleopatra se pragtige neus die draak gesteek word. In die episode wat Cleopatra betrek, vra ’n karakter in ’n stadium: “Who knows?” In ’n teksblokkie skryf die skrywer: “And a very nice nose indeed.”

So is die mees toepaslike name vir die karakters in verskillende tale bedink. In Duits het die baie ou man van Asterix se dorpie die oorspronklike naam van Methusalix gekry. In Engels het Obelix se piepklein hondjie die naam Dogmatix gekry. In die nuwe Afrikaanse vertaling is ook met die hondjie, voorheen Woefix, raakgevat toe dit na Witblix verander is.

Maak nie saak hoe oud die leser is nie, die teks is so uniek opgestel dat die lesers sal voel dit is vir hul ouderdomsgroep geskryf. Dus, hoewel dit ’n strokiesreeks is, is die lesers nie oorwegend kinders nie. Die geleerde professor sal ook ’n simboliek kan waarneem wat by sy professie en ouderdom pas.

Hoewel die reeks histories besonder akkuraat is, is daar ter wille van sekere lesse ook historiese onakkuraathede. Die tydperk waarin die reeks afspeel, val saam met die bewind van Julius Caesar. Julius is in werklikheid in die jaar 44 voor Christus oorlede, wat beteken Asterix en Obelix se deugde, soos om deurgaans die goeie na te streef, kon nie met die ontstaan van die Christendom gesinchroniseer word nie. Hul hoofgod was Toutatis. Tog, toe een van hul avonture hulle na die Heilige Land voer, het dit volgens die storielyn met die geboorte van Christus saamgeval.

Asterix se stam kon hul onafhanklikheid van die Romeine handhaaf danksy die towerdoepa van hul moetieman, wat in sommige Engelse vertalings die naam Getafix gekry het. Obelix het glo as baba in ’n vat van hierdie doepa geval wat veroorsaak het dat hy sy lewe lank buitengewoon sterk sou wees. By die res het die uitwerking van hierdie en ander doepas net ’n tydelike uitwerking gehad. Die doepa is deurgaans gebruik om die goeie saak te dien.

Oor of die skrywers die reeks werklik as ’n aanslag teen kommunisme bedoel het, is daar geen eenstemmigheid nie. Daar is wel raakvlakke tussen die kollektiewe uitbeelding van die Romeine en die marsjerende kolonne van die kommunistiese weermagte. Trouens, volgens bronne was Asterix besonder gewild in die destydse Oos-Duitsland (DDR), juis omdat Asterix-hulle verset teen die kommuniste sou simboliseer.

In die huidige konteks sou die slim humor van Asterix en Obelix, eerder as vlak snaaksigheid, die karakters bewapen om staande te bly teen allerlei eietydse kwade bedoelings.  Maar selfs al mis ’n mens al die simboliek, verdryf die humor die donker wolke wat die Romeinse gevaar inhou.

Obelix se enorme krag en eetlus, asook sy gebrek aan vrees en die skrapsheid aan intelligensie word gereeld as wapen teen die Romeine en ander ingespan. Toe Cleopatra dreig om hulle vir die krokodille te voer om geëet te word, wil Obelix heel onskuldig weet of krokodille dan lekker genoeg sou smaak.

Humor en skerpsinnigheid kan soos Getafix se doepa baie werd wees, maar is geen alternatief vir Christelike bemagtiging nie – hoogstens aanvullend. Christene word nie “wees” gelaat nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SomeOne ·

baie pragtige reeks “verhale”, ek hoop daar sal nog nuwe reekse beskikbaar gestel kan word, iemand wat albert uderzo se handewerk kan oorvat en aangaan met asterix en sy vriende

koos10 ·

Ek het met die boeke groot geword, en vandag is my kinders mal daaroor. My vrou het selfs vir my ‘n stel DVD’s gekoop!
Dankie ooms Albert en Rene, julle het iets in my kindwees geplant wat vandag nog voortleef.
Ook aan almal wat iets by hierdie boeke betrokke het. Hou asb aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.