Nuuskommentaar: Baie joernaliste vanjaar reeds dood aan diens

Baie TV-kykers is al so gewoond daaraan om veilig tuis in die middel van oorlogstonele te wees, dat nie twee keer gedink word oor hoe gevaarlik dit vir iemand is om daardie tonele in beeld te verewig nie.

Vanjaar is wêreldwyd reeds 57 joernaliste en drie van hul medewerkers dood. Met nog byna twee volle maande van die jaar oor is verlede jaar se syfer vir joernaliste wat in die uitvoering van hul werk dood is, geëwenaar, en is reeds twee meer medewerkers dood as verlede jaar.

Die lande wat die meeste sterftes onder joernaliste oplewer, is nie in oorloë gewikkel van die intensiteit van die Libiese rewolusie, wat ‘n Suid-Afrikaanse joernalis geëis het nie. Die land wat die meeste sterftes opgelewer het, is Pakistan, en agt het reeds vanjaar in daardie land omgekom en nog twee het agter tralies beland. Tradisioneel word Meksiko, waar 80 sedert 2000 dood is, en 14 sedert 2003 spoorloos verdwyn het, as die gevaarlikste land vir joernaliste in die Westelike halfrond beskou.

Vanjaar het Meksiko reeds 5 sterftes opgelewer, net soveel as wat reeds in Brasilië omgekom het. In Meksiko woed ‘n oorlog tussen die media en dwelmkartelle. Die media wend die pen aan om dwelmbase se doen en late oop te vlek, en die dwelmkartelle gebruik skerppuntammunisie. ‘n Vroulike redakteur, wat in haar gedrukte publikasie nie gewaag het om die dwelmbase se argwaan te ontlok het nie, het op die internet onder ‘n skuilnaam haar veldtog gevoer. Haar identiteit is nogtans vasgestel en sy is vermoor.

Die hoë sterftesyfer onder joernaliste in Brasilië hou verband met hierdie land se oorlog teen misdaad, waaronder dwelmkartelle, in die aanloop tot die aanbieding van die 2014-wêreldsokkerbeker-eindtoernooi. Verslaggewers Sonder Grense is bekommerd oor vlak van die beskerming wat joernaliste geniet wat hulle op die tonele van veldslae in dwelmhole bevind. In die jongste voorval waarin ‘n kameraman in Rio de Janeiro dood is, het tagtig spesialemag-polisielede op ‘n kartel toegeslaan. In die klein oorloggie wat gewoed het, is vier dwelmhandelaars dood, nog nege aangekeer en op groot hoeveelhede wapens en dwelms beslag gelê. Die kameraman, wat ‘n koeëlvaste baadjie gedra het, is nogtans in die bors geskiet.

Al lyk dit of verlede jaar se wêreldwye sterftes van joernaliste oortref gaan word, is dit nie naastenby ‘n rekord nie. In 2009 het 75 joernaliste en een assistent gesterf, die jaar daarvoor 60 en in 2007, 87. Die verskil is egter dat die sterftes nou veral in lande voorkom wat nie as oorlogsones beskou word nie. Tydens die oorlog in Irak, en in ‘n stadium Afganistan is joernaliste dikwels spesifiek geteiken, wat tot hoë ongevalle gelei het.

In dié stadium bevind 162 joernaliste en nege assistente hulle agter tralies. Sommige state is egter meer bekommerd oor die impak van internet-nuusskrywers, en 123 van hierdie netizens, soos Verslaggewers Sonder Grense hulle noem, is op die oomblik in aanhouding, teenoor 125 in Oktober. Dié organisasie het in Oktober ook ‘n verslag uitgereik waarin daarop gewys word dat tien mense in daardie stadium ‘n moontlike doodstraf in die gesig gestaar het, vir aksies wat volgens ons grondwet as die uitdrukking van ‘n geregverdigde mening beskou word. Dié verslag het ironies saamgeval met die bekendmaking dat ‘n vroulike Jemeense joernalis vanjaar een van die medewenners van die Nobel-vredesprys was. Ook sy is al verskeie kere aangehou.

Ook in Suid-Afrika het ‘n joernalis al vanjaar ‘n draai agter die tralies gaan maak, en tydens die aanvanklike betogings met Julius Malema se dissiplinêre verhoor is joernaliste onder die klippe gesteek. ‘n Joernalis wat agter die kap van die byl oor Bloemfontein se knaende waterkrisis probeer kom het terwyl damme vol is, se kamera is by ‘n watersuiweringsaanleg afgeneem. Die kamera is later met heelwat moeite deur die koerant herwin. Trouens, kort – kort is daar berigte oor joernaliste wat deur amptenare geviktimiseer is, of weens hul werk op plekke beland het waar hulle die slagoffers van misdaad was.

Veral werknemers van gemeenskapsradiostasies beleef te midde van ‘n beperkende institusionele omgewing selde beduidende werksekerheid. Dit is reeds moeilik om aan die wavragte tegniese voorskrifte te voldoen wat ‘n plekke op die beperkte bandwydte verseker, maar verskeie radiostasies is reeds gesluit of pogings aangewend om hulle te sluit bloot weens ideologiese redes. In dié stadium is die gedrukte media aan selfregulering onderwerp, en dit boonop opsioneel, maar dit is duidelik dat die regering hom nog nie daarby berus het nie.

Tallose gevalle van korrupsie of vergrype sou nooit op die lappe gekom het nie, of sou spoedig in die doofpot beland het, was dit nie vir die media wat dit oopgekrap het, of aanhou krap nie. Die vernaamste kritiek wat teen die Suid-Afrikaanse media gehoor word, is dat dit selektief is, of kant kies. Veral die gedrukte media wat suiwer sakebelange is, het egter die volste reg om kant te kies, ook in die politiek. Of dit goeie joernalistiek, of selfs goeie sakebeginsels omarm, is ‘n ander vraag. In dié stadium beskuldig die ANC juis die media in die algemeen dat dit die blinde oog werp op beweerde DA-vergrype in ‘n Suid-Kaapse munisipaliteit.

Die opposisie beweer gereeld dat die SABC, ‘n openbare uitsaaier, ‘n ANC-verlengstuk is. Die geldigheid van hierdie bewerings word klaarblyklik vandag aan ‘n groot toets onderwerp wanneer die Openbare Beskermer sy verslag oor beweerde onreëlmatighede in die DA-beheerde Midvaal-munisipaliteit bekend maak. Uit die vooraf-beriggewing wil dit voorkom asof die media nie die roede gaan spaar nie.

Beriggewing oor sake wat in ANC-beheerde munisipaliteite skeefloop is so algemeen dat dit amper nie meer nuuswaardig is nie. Om by ‘n produk te kom wat ons rustig tuis op TV aanskou, of in die koerant lees, het iemand aansienlike ongerief en dikwels gevare trotseer. En soms het iemand met sy lewe geboet.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae