Nuuskommentaar: Baie werk vir ‘Tiffie’ Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa skuld blad met VF Plus-leier Pieter Groenewald op 22 Mei 2019 nadat Ramaphosa weer as president van Suid-Afrika verkies is. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Diegene wat as jong manne diensplig in die ou SAW (PW & Seuns) gedoen het, sal onthou van die eiesoortige taal wat dikwels ingespan is. So het die manne van die tegniese dienskorps die benaming “tiffies” gekry, die kanonniers “kanondonkies” en ’n rits eenhede minder vleiende name, waaronder ’n hele paar onpubliseerbares. Die benaming “tiffies” het gou oorgespoel om vir ander spesialiseenhede te gebruik, soos die kapelane wat “sieletiffies” geword het. Sal Ramaphosa as presidentstiffie die mas kan opkom? Die uitdagings is legio.

Gister is pres. Cyril Ramaphosa tot die nuwe hoof- politieke tiffie verkies nadat hy die laaste brokkie van oudpres. Jacob Zuma se laaste termyn voltooi het, en daar verblydende tekens is dat hy die kleptokrasie – trouens iets wat al sterk in die rigting van ’n kakistrokasie (die woord bestaan werklik, en is toevallig uiters beskrywend) ontwikkel het, begin vasvat het. Hy het egter ’n enorme taak om uit te voer.

Jare gelede het die Australiese krieketspan onder die aanvoering van Bill Laurie in Suid-Arika kom toer. Die Springbokke se kaptein, Ali Bacher, het gou die “reputasie” gekry van baie goeie “mechanic” te wees – hy het skaars begin werk, dan loop die “Laurie” al weer.

Maar ’n goeie tiffie is nie goed genoeg om ’n erg verrinneweerde lorrie (Suid-Afrika) weer behoorlik aan die loop te kry en weg te stuur van rommelstatus nie.

Bacher se Springbokspan was gelaai met ’n ongekende aantal uitsonderlike sterre – mense soos die kolfprins Graeme Pollock, Barry Richards, Eddie Barlow, Tiger Lance, Mike Procter, Peter Pollock, en ander. Om die waarheid te sê, suiwer op meriete moes Bacher nie eens die span gehaal het nie, en was sy seisoenvertoning swakker as byvoorbeeld dié van André Bruyns.

Hoe gaan Ramaphosa se “Springbokspan,” of dan Proteaspan, of Bafana Bafana, daaruit sien?

En wat van sy kabinet – een wat hy beloof het kleiner sal wees as die huidige wat laf te groot is, en gelaai met onbevoegdes en mense wat van korrupsie en ander vergrype verdink word?

Pres. Cyril Ramaphosa praat met hoofregter Mogoeng Mogoeng kort nadat hy op 22 Mei 2019 weer as president van Suid-Afrika verkies is. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Ramaphosa het aangedui hy wil/sal ’n president vir alle Suid-Afrikaners wees. Die Grondwet vereis dit in elk geval van hom. Hy pak sy voorneme egter aan teen die agtergrond van ’n era waar die kultuur van die diktatuur/tirannie van die meerderheid al stewig posgevat het. Veral Zuma was absoluut onbeskaamd in sy uitlatings dat hy demokrasie beskou as ’n stelsel waar die meerderheid ’n monopolie oor mag bekom, en dat die eie groep, die eie party, die eie saak bevoordeel word.

Met die eie groep kan breedweg die swart mense bedoel word, maar in besonder die Zoeloes, en natuurlik, die “stam” van politieke kornuite.

In dié stadium lyk die kanse van ’n regering van nasionale eenheid buite die kwessie. Ramaphosa het nou die steun van elke moontlike kader binne die ANC nodig om die Zuma-nalatenskap (wat steeds in die vorm van ondermyning ’n bedreiging is) die hoof te bied, en daarom is elk van die beloofde verkleinde kabinet se poste erg belangrik.

Vir mense uit ander partye om in ’n regering van nasionale eenheid te dien, is daar boonop die onaantreklike vooruitsig om aansien in eie geledere te verloor. Dink maar hoe is dr. Pieter Mulder, destyds leier van die Vryheidsfront Plus, uit eie geledere gekritiseer omdat hy as adjunkminister van landbou gedien het, al het hy (dikwels agter die skerms) enorme werk gedoen.

Daar is egter soveel faktore wat enige vooruitsig van “president vir alle Suid-Afrikaners wees” ’n potensiële slagveld maak dat dit eintlik ’n onmoontlike taak sal wees:

  • Die kwessie van grondonteiening sonder vergoeding. Maak nie saak met watter mooi woorde dit opgedis word nie, soos grondhervorming, en “streng volgens die wet (gewysigde wet en Grondwet), dit probeer klowe heel deur nuwe klowe te slaan.
  • Gaan die land nie onregeerbaar gemaak word as die Zuma-kornuite uit die stelsel geweer kan word, en selfs in die tronk kan beland nie? Mét die kornuite gaan die plundering van die land eenvoudig nie gestuit kan word nie.
  • Pres. Cyril Ramaphosa word gelukgewens nadat hy pas weer as president van Suid-Afrika verkies is. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

    Kan plaasaanvalle doeltreffend aangeraak word? Plaasaanvalle is lank nie die enigste misdaadprobleem in die land nie, maar die buiten-proporsionele hoë voorkoms daarvan, gepaard met ongekende wreedheid, maak dit eenvoudig ’n hoë prioriteit. Die bestryding van ander misdaad durf nie afgeskeep word nie.

  • ’n Kwessie wat dringende aandag verg, is die gehalte van die hoofstuk 9-liggame. Hiervan kan seker die minste kritiek teen die ouditeur-generaal geopper word, en danksy nuwe wetgewing kan dié liggaam, met die regte aanstellings, net nog van krag tot krag groei. Maar die res lyk maar bedroewend.

Pansat se naam word selfs skaars gehoor. Die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van die regte van Taal-, Kultuur- en Godsdiensgemeenskappe het nog niks gedoen wat met sy stigtingsmandaat verband hou nie, die Menseregtekommissie is so rasbevooroordeeld dat dit meer ’n struikelblok as hulp is, die kommissie vir geslagsgelykheid tree meer soos ’n feministiese organisasie op as iets wat geslagsgelykheid wil bevorder, soos die aanwending van staatsfondse om aborsies op aanvraag grondwetlik verklaar te kry – en nou byt die Openbare Beskermer die spit af ná die vorige OB, Thuli Madonsela, groot statuur vir hierdie instelling besorg het.

Die hofbeslissing waarin die huidige, Busisiwe Mkhwebane, se verslag oor die Vrede-suiwelplaasprojek in die ergs moontlike terme afgeskiet is, is ’n skande. En dié skande word vererger deurdat Mkhwebane die skuld vir die toesmeer-verslag nog op Madonsela se kop plaas. Dit is minstens nét so ’n groot skande. Ramaphosa sal moet raakvat hier.

  • Die presidentsamp bly die vernaamste “kliënt” van die intelligensiedienste, wat veronderstel is om te verseker dat die president en sy kabinetsministers van die bes moontlike inligting voorsien word wat tegnies moontlik is. Uit talle verslae blyk dat die misbruik van die intelligensiedienste hierdie instellings so verswak het dat ’n groot regruk-aksie, gelei deur politiek ontkoppeldes, eers gedoen sal moet word.
  • Dit blyk ook dat in Suid-Afrika beswaarlik weer ’n geloofwaardige verkiesing gehou sal kan word sonder dat daar nie ’n breë ingryping sal wees om die Onafhanklike Verkiesingskommissie so erg te ruk dat die baie foute nie herhaal word nie. Dit is nie meer lank voor die munisipale verkiesings moet plaasvind nie.
  • Pres. Cyril Ramaphosa, EFF-leier Julius Malema en Thandi Modise, speaker van die nasionale vergadering, op 22 Mei 2019 by die parlement nadat Ramaphosa weer as president van Suid-Afrika verkies is. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

    Metodes sal gevind moet word om die kundigheid wat in opposisiepartye gesetel is, te kan tap om die leemtes in ANC-geledere behoorlik in algemene belang ontsluit te kry. Dit het op die landbouterrein al byna instinktiewe mode geword om hulpaanbiedinge en gesagsinligting wat beskikbaar gestel word, as ’n daad van wraak of ondermyning te beskou. Tegnokratiese bystand word op bykans elke terrein dringend benodig.

  • Dit spreek vanself dat versoeningsaksies oor ’n breë front deurlopend aandag behoort te kry en professioneel gerig moet word. Van die instansies wat hulle formeel hiermee besig hou, is so eenrigting-ingestel dat hulle meer skade as goed aanrig. Die materiële word al harder gedryf wat weerstandigheid veroorsaak by diegene wat vir restitusie opgevorder word.

Ramaphosa het ’n enorme taak wat soveel kundigheid verg dat geen hulpbron onbenut gelaat kan word nie. Simplistiese “oplossings” bestaan gewoon nie, veral nie as die heterogene aard van die land geïgnoreer en minderheidsregte vertrap word nie.

Miskien is dit tyd dat die gebruik van die woorde middelpuntsoekend en middelpuntvliedend onder die stoflae op die rak van politieke niekorrektheid uitgekrap en afgestof word, en behoorlik benut word voor daar beleidsaankondigings kom wat die warm as van wantroue in ’n enorme vernietigende blaasvlam omskep.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gert van Wierdapark

Miskien het hy iemand van die Geniekorps nodig sodat die nuwe verkleinde Kabinet kundig en werkbaar sal wees. Met genie, moet egter nie verstaan word gee-nie-om en voete voort op die ou pad nie!!

Willie

Die heel laaste foto spreek boekdele… Ek het ook my bedenking oor iemand wat heeltyd sy hande biddend saam hou vir enige iets.. Kamma so beleeft en dankbaar…

Andreas

Herman, al lewer Cyril Ramaphosa watter lippediens ook al, hy kan nie ‘n president vir alle Suid-Afrikaners wees soos wat hy nou na sy verkiesing in die parlement gesê het nie, juis waar hy verseg om van SEB en kwotas afstand te doen. Dit is die een been van sy dryf, dan is die ander een waarop hy met ongekende dryf die verlede wil “regstel”, en wat hy met ‘n onwaarheid aan die wêreld verkondig het omdat hy iets moes bedink om aan die mense te bied en dit is dat wit mense het in die verlede die grond van… Lees meer »

Denise

Kyk dan nounet die eerste foto mense!
Heerlike Hartlike Vaderlike DRUK vir vf+ ook en álmal straal,van blydskap…

Andreas

Herman, baie goed beskryf, ek sien sommer in my geestesoog daai prentjie hoe die ministers met ‘Tiffie” Ramaphosa aan die spits op ‘n middernagtelike ‘OPS’ in die weermag uit is, gekamoefleer, te voet, rowwe onbekende terrein, op plekke dig bebos, elkeen met sy eie unieke vaardighede toegerus vir die taak wat wag.