Nuuskommentaar: Ballingskap in eie land

Grafika: nehemiahmission.org

Grafika: nehemiahmission.org

Dit is seker nie toevallig dat die boek Nehemia nou so ’n gewilde onderwerp vir preke en radio-godsdiensprogramme is nie. Die omstandighede kom so sterk ooreen met die posisie waarin Christene, die Afrikaner en ander minderhede hulle nou in Suid-Afrika bevind.

Die Jode is toegelaat om uit ballingskap na Juda terug te keer, maar bevind hulle in ’n onvriendelike omgewing waar baie ander hulle tydens die Jode se ballingskap gevestig het. Nehemia oordeel dat die Jode hul mismoedigheid sal agterlaat as die mure van Jerusalem herbou is – iets wat verbete deur die teenstanders van die Jode geopponeer word.

Predikante ervaar ook ’n groot mate van mismoedigheid onder hul lidmate. Die mismoedigheid spruit dikwels uit die sosio-politieke omstandighede in die land. Sommige leraars, waarskynlik van welvarende gemeentes, gaan van die standpunt uit dat die Afrikaner met die witbrood onder die arm kla. In ’n onlangse radiopreek het die leraar byvoorbeeld lank uitgewei oor die dik stukke vleis op die braairoosters. Vir hierdie predikante is die skuif weg van die mismoedigheid gewoon ’n geestelike kopskuif.

Vir ander, waarskynlik gemeentes waar baie lidmate finansieel noustrop trek en die druk op die diakonale bystand en koskas groot bly, speel die materiële omgewing ’n groter rol, maar sonder dat die geestelike kopskuif agterweë bly.

In hierdie gemeentes is werkloosheid ’n realiteit, terwyl ander wel werk het, maar bitter ongelukkig is omdat al werk wat hulle kon kry, werk is wat hulle andersins nie sou doen nie, of onder enorme stres verkeer om die blinde oog op korrupsie om hulle te werp, of op baie dun ys beweeg omdat die druk om verder te “transformeer” groot loopbaanonsekerheid bring.

Heelwat gesinne bevind hulle in pendelhuwelike waar die broodwinner iewers in Afrika of die Midde-Ooste werk, en sy gesin net af en toe kan besoek. By ander gesinne is van die kinders oorsee, dikwels omdat hulle nie plaaslik werk kon kry nie.

In baie gemeentes is daar kerkbanke wat leeg is omdat die mense wat altyd daar gesit het, in plaasaanvalle vermoor is, dikwels na kerk.

Dit is inderdaad so dat sommige gesinne jare lank geen skerp angel van rasgedrewe transformasie of “affirmative action” (wat nie met regstellende aksie verwar moet word nie), sal ervaar nie en eers ontnugter raak wanneer hul briljante kinders weens hul velkleur nie keuring vir medies of ander gesogte rigtings kry nie, of beursaansoek op beursaansoek, en selfs aansoeke vir studielenings op dowe ore val.

In hierdie klimaat van ’n vreemdeling in jou eie land voel, is die boek Nehemia goeie preekmateriaal.

Nehemia was een van die Persiese konings (Artaxerxes I of II) se skinker – ’n baie belangrike pos. Hy het die koning versoek om na Jerusalem te kan terugkeer om die mure te herbou, en is as goewerneur van die gebied wat as Judea bekend staan, aangestel.

Dit is nie altyd maklik om te onderskei watter van die Bybelboeke wat oor die ballingskap handel, is inderdaad histories van aard, of soos sommige van die apokriewe boeke wat daaroor handel, latere kodeskrifte uit die tydperk tussen die twee Testamente nie. Baie teoloë glo byvoorbeeld weens die leidrade wat daarin geplaas is, dat die boek Daniël uit daardie latere era kom. Die landstreek wat die Jode bewoon het, was in daardie stadium onder die beheer van die Grieke as afloop van Alexander die Grote se veroweringstogte. Na Alexander se dood is die verowerde gebied tussen drie generaals verdeel. Die Jode se woongebied het ’n paar keer tussen die Griekse magte in Egipte (wat hulle en hul godsdiens grootliks uitgelos het) en die Griekse magte in Sirië (Antiochië) verwissel.

Mettertyd is die Joodse godsdiens verbied, en is probeer om van die Jode Grieke te maak. Jode wat by hul godsdiens en tradisies probeer hou het, is wreed vervolg, sodat die Makkabese opstand uitgebreek het. Die leiers van die opstand kon slegs met kodeskrifte met die bevolking kommunikeer. Die ballingskap was ’n handige verwysingsraamwerk, omdat die Jode gewoonlik goed daarmee vertroud was, en die Griekse heersers in wese niks daarvan geweet het nie.  Die Jode is byvoorbeeld gewaarsku teen die Griekse gimnasiums waarheen jong, uitgesoekte Jode geneem is om te vergrieks en spesiale kos gevoer is. Baie van hierdie kos was volgens die Joodse godsdiens verbode. En dit blyk uit die boek Daniël waar van die jong manne beter gedy het deur nie die koning se kos te eet nie.

Die Makkabese opstand was so suksesvol dat nie net Juda verower is nie, maar eintlik die hele gebied van die ou Israel soos wat deur koning Dawid regeer is. Met die geboorte van Jesus was baie Jode reeds in Galilea gevestig, waaronder Josef en Maria, en moes vir die volkstelling ver reis na Bethlehem, die stad van hul herkoms.

Hoewel die boek Nehemia eerder as historiese werk beskou word, kon dit net so maklik as kodeskrif deur die opstandelinge gebruik word om die Jode aan goeie Joodse praktyke, trots en weerbaarheid teen vreemdelinge te herinner.

Tye verander, en waardes verskuif. Toe die vorige regering dit gewaag het om bonusobligasies uit te gee, het die regering onder sulke erge druk van die kerke gekom dat dit opgeskort is. Vandag verrys dobbelpaleise selfs in woonbuurte naby skole, en kerke se georkestreerde weerstand is betreklik gedemp. Politici maak uitlatings waaroor kerke aanvanklik erg ontsteld is, vermaan en selfs dreig, en dan maar in ’n gemaksone terugval.

’n Destydse redakteur van ’n Afrikaanse koerant het in ’n stadium in ’n hoofartikel verklaar aborsies is nie meer deel van die openbare debat nie, en geen nuus het daarna hieroor verskyn nie, selfs nie oor openbare verhore toe die wetgewing verder “geliberaliseer” is nie. Gelukkig het hierdie redakteur se opvolgers nie dieselfde standpunt as hy gehandhaaf nie.

Met ’n spesiale biddag vir onder meer reën, het die Nederduitsch Hervormde Kerk interessante aspekte bygevoeg tot die onderwerpe waaroor gebid kon word, waaronder plaasmoorde, maar ook die gevoel van vervreemding wat baie lidmate in hul eie land ervaar.

Maar soos sake in Nehemia se tyd nie sou verander voor die mense nie ook die hande uit die moue sou steek nie, sal sake ook nie nou verander as daar nie arms uitgesteek word nie.

Daar is natuurlik die opsie om soos sommige liberale en pseudo-liberale te argumenteer, dat dit wat nou gebeur min of meer wenslik is, en dat die grondwet die veilige vangnet bied. Vreemd dat Afrikaners wat juis hierdie grondwet gebruik om minderheidsbelange te bevorder, deur hierdie liberale daarvan beskuldig word dat hulle die grondwet “misbruik” of die grondwet gebruik om die “liberale grondwet” mee te sloop.

Daar sal egter altyd ’n kerngroep wees wat vervreemd sal voel as daar ’n aanslag teen ’n godsdiensetos in skole kom, wat vervreemd sal voel as sy taal se staanplek geërodeer word, wie se werk deurgaans weens sy velkleur in die weegskaal bly. Vir sommiges sal die gevoel dalk gouer akuut word, soos iemand wat nie betaal-TV kan bekostig nie en dus effektief aan die bietjie Afrikaans van die SAUK se TV-kanale uitgelewer is, gestroop van rugby en bykans enige sport behalwe sokker.

Dit is sinneloos om die verlede te probeer verander, maar dit maak sin om te bou aan die toekoms. ʼn Mens sidder om te dink wat die posisie van Afrikaans en die Afrikaner sou wees as dit nie vir instansies soos Solidariteit en AfriForum was nie, wat wydlopende strategieë volg – strategieë wat sekere liberale skrywers tot in hul kleintoontjies irriteer en daarom dié instansies gereeld met die teerkwas bydam, waar al die tegnieke soos halwe waarhede en persepsies van die werklikheid vir “geloofwaardigheid” ingespan word.

Maar Solidariteit en AfriForum se vermoëns kan versterk word as meer mense wat dit kan bekostig lid word, of op ander maniere handjie kan bysit.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Renate Barnard ·

Uitstekende berig. Baie dankie, Herman. Dit is werklik baie waar dat die Here die mense help wat bereid is om hul deel te doen. Ek kry op ‘n daaglikse basis te doen met mense wat moeg en moedeloos voel oor die toekoms in ons land, veral diegene wat onderwerp word aan praktyke soos regstellende aksie. Die enigste raad wat daar is, is om op die regte manier op te staan teen onregte soos die regering se stompsinnige toepassing van rasse-klassifikasie onder die vaandel van regstelling. Deur in passiwiteit en moedeloosheid vasgevang te bly, gaan dinge net erger maak. Meer mense moet betrokke raak by organisasies soos Solidariteit en hul stem laat hoor sodat onbillike praktyke tot ‘n einde kan kom.

Lindie ·

Ons is moeg, moedeloos en frustreerd in ons “mooi” land. dinge ruk net hand uit. Geld hardloop weg uit jou beursie uit. Water is vuil. Krag word betaal maar daar is niks. Ja ons bly in ons land want ons kan nie weghol nie. Dankie Solidariteit en AFriforum. Ek is trots om n lid te wees.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.