Nuuskommentaar: Bande van die slapende ‘skoonhede’

zuma-mugabe-slaapDit lyk of presidente Zuma en Mugabe meer gemeen het as hul voorliefde vir ontydige parlementêre uiltjies knip, en al hoe meer ingespan word om in ’n al hoe minder welwillende wêreld mekaar se stertvere te prys.

“Ek het geen twyfel daaroor dat Zuma Suid-Afrika se Mugabe is nie,” skryf die bekende Tim du Plessis op Netwerk 24. Hiermee het Tim ’n veel wyer bedoeling as dat albei regeringshoofde ’n geneigdheid het om op ongeleë tye, soos tydens parlementêre toesprake, ’n uiltjie te knip.

Trouens, tot onlangs is betreklik gereeld geskryf dat Mugabe heimlik nie ooghare vir ’n hele aantal “slap” Suid-Afrikaanse presidente gehad het nie, en dit sluit pres. Jacob Zuma in. Dat Mugabe hom so Julius Malema se stertveerprysery laat welgeval het skynbaar bygedra daartoe dat die heimlike gevoel redelik wederkerig is.

Ten spyte van baie jare waarin Suid-Afrika homself in die voet geskiet het, soos om oorhaastig uiters verdagte verkiesings in Zimbabwe vry en regverdig te verklaar, en Zuma se absolute stilswye toe Mugabe tydens ’n besoek aan Suid-Afrika ’n wit kameraman vieslik rassisties beledig het, was bilaterale betrekking nooit absoluut genormaliseer nie.

In Mugabe se boekie is die regering se versuim om byvoorbeeld ’n stokkie voor ’n onafhanklike regsproses te steek waardeur slagoffers van plaasonteienings in Zimbabwe in Suid-Afrika kompensasie kan verkry deur nie-diplomatieke Zimbabwiese eiendom in Suid-Afrika te verkoop, ’n teken van ruggraatloosheid. Ook die onlangse Zimbabwiese verbod op die invoer van ’n wye reeks Suid-Afrikaanse produkte het strammigheid veroorsaak.

Mugabe is ’n hoogsgeleerde man, Zuma nie juis nie.

’n Besoek aan Zimbabwe was nou Zuma se eerste buitelandse ekskursie ná sy mees onlangse blitsbesoek aan Suid-Afrika waartydens die OB se staatskapingsverslag op die lappe gekom het.

Namate Zuma hom bewys as iemand wat die ergste kritiek kan oorleef om, soos Mugabe aan die bewind te klou, het ons noordelike buurman en despoot se dunk van Zuma toegeneem.

“Kameraad president, ons het mekaar nou meer as ooit nodig,” het Mugabe aldus Netwerk 24 tydens Zuma se Zimbabwiese besoek gesê.

Zuma het op sy beurt, aldus News 24, die volgende te  gehad: “U bydrae as voorsitter van die AU het die streek en die kontinent tot nuwe hoogtes van ekonomiese en politieke prestasie gevoer.” Nogal vreemde lof om iemand toe te voeg wat sy land se ekonomie (al weer) tot op die randjie van inploffing gevoer het.

’n Voormalige premier van Mpumalanga is vreeslik deur die politieke weerlig gepiets nadat hy gesê het dit is in die haak vir politici om kluitjies te bak. In die konteks van gedekoloniseerde diplomatieke protokol is dit egter skynbaar ’n gegewe.

Amptelik is die besoek aan Zimbabwe gebring vir die eerste sitting van die bilaterale kommissie tussen die twee lande. Enige teken van ’n onlekkerte tussen die twee lande sou uiters ongewens wees.

Maar daar is ’n ander rede waarom die ekskursie vir Zuma so nodig was – dit het aan hom die geleentheid gebied om weer voor die SAUK se kameras presidensieel te probeer voorkom. By die soort gehoor voor wie Zuma hierdie truuk uithaal, is daar waarskynlik ’n groot onkunde dat die fier en fanfare waarmee Zuma oorsee ontvang word, bloot diplomatieke protokol is.

By hierdie gehoor word die indruk geskep dat Zuma internasionaal hoog aangeslaan word, en dat dit eintlik ’n geval is van ’n profeet wat nie (oral) in sy eie land geëer word nie. Hiermee voed hy belangrike ondersteuningsbasisse soos die ANC se vroue- en jeugliga, en dit op ruim bydraes van die belastingbetalers.

Dit is jammer dat soveel dubbel-agendas en rugstekery die betrekkinge tussen Suid-Afrika en Zimbabwe beïnvloed en so keer dat die twee lande hul ekonomiese sterkpunte behoorlik ondersteunend tot mekaar kan aanwend. Maar dis eintlik ’n ou laai van Afrikalande wat die vasteland se ekonomie strem, en ten spyte van hoeveel voornemens om dié siekte af te skud, tog die kranklikheid bly koester.

Miskien moet Zuma, soos sy pionne rondom hom in die stof byt, kennis neem van ’n (Westerse) waarheid: “Ver van jou goed, naby jou skade.”

Maar dan is ontydige uiltjies knip skadelik.

Soos die Afrikaanse en Engelse teks van die “voorgestelde” nuwe volkslied lui:

Father Jacob, Father Jacob,

slaap jy nog, slaap jy nog?
Hoor hoe blaas die eindfluit
Hoor hoe blaas die eindfluit
Going, going gone
Going, going gone

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

33 Kommentare

jongste oudste gewildste
Connie

Daai fluitjie kan nie gou genoeg blaas nie. Indien ooit.

Theresa

Walglike skandaligheid die geslapery wanneer ernstige dinge bespreek word. Ga! En watter ekonomiese opgang is al ooit deur die slapendes reggekry: Whaaaaaaaaaa ha ha ha ha!

Niccy

Genade! Kan my nie indink as zuma so oud soos mugabe moet en die ANC hom nie uitskop, wat sal word en oorbly van onse land nie.

cs

Maak mens naar

Verwonderd

Ek wonder waarom die regering gedurig nerie oor demokrasie, terwyl ons duidelik in ‘n komunistiese diktatorskap staan. Die huidige staatskaping is ‘n natuurlike vrug van die dissel wat nou amper sy prima groei stadium beryk het. Hoe kan enige regsdenkende mens verder hiermee saamloop?