Nuuskommentaar: Bande van die slapende ‘skoonhede’

zuma-mugabe-slaapDit lyk of presidente Zuma en Mugabe meer gemeen het as hul voorliefde vir ontydige parlementêre uiltjies knip, en al hoe meer ingespan word om in ’n al hoe minder welwillende wêreld mekaar se stertvere te prys.

“Ek het geen twyfel daaroor dat Zuma Suid-Afrika se Mugabe is nie,” skryf die bekende Tim du Plessis op Netwerk 24. Hiermee het Tim ’n veel wyer bedoeling as dat albei regeringshoofde ’n geneigdheid het om op ongeleë tye, soos tydens parlementêre toesprake, ’n uiltjie te knip.

Trouens, tot onlangs is betreklik gereeld geskryf dat Mugabe heimlik nie ooghare vir ’n hele aantal “slap” Suid-Afrikaanse presidente gehad het nie, en dit sluit pres. Jacob Zuma in. Dat Mugabe hom so Julius Malema se stertveerprysery laat welgeval het skynbaar bygedra daartoe dat die heimlike gevoel redelik wederkerig is.

Ten spyte van baie jare waarin Suid-Afrika homself in die voet geskiet het, soos om oorhaastig uiters verdagte verkiesings in Zimbabwe vry en regverdig te verklaar, en Zuma se absolute stilswye toe Mugabe tydens ’n besoek aan Suid-Afrika ’n wit kameraman vieslik rassisties beledig het, was bilaterale betrekking nooit absoluut genormaliseer nie.

In Mugabe se boekie is die regering se versuim om byvoorbeeld ’n stokkie voor ’n onafhanklike regsproses te steek waardeur slagoffers van plaasonteienings in Zimbabwe in Suid-Afrika kompensasie kan verkry deur nie-diplomatieke Zimbabwiese eiendom in Suid-Afrika te verkoop, ’n teken van ruggraatloosheid. Ook die onlangse Zimbabwiese verbod op die invoer van ’n wye reeks Suid-Afrikaanse produkte het strammigheid veroorsaak.

Mugabe is ’n hoogsgeleerde man, Zuma nie juis nie.

’n Besoek aan Zimbabwe was nou Zuma se eerste buitelandse ekskursie ná sy mees onlangse blitsbesoek aan Suid-Afrika waartydens die OB se staatskapingsverslag op die lappe gekom het.

Namate Zuma hom bewys as iemand wat die ergste kritiek kan oorleef om, soos Mugabe aan die bewind te klou, het ons noordelike buurman en despoot se dunk van Zuma toegeneem.

“Kameraad president, ons het mekaar nou meer as ooit nodig,” het Mugabe aldus Netwerk 24 tydens Zuma se Zimbabwiese besoek gesê.

Zuma het op sy beurt, aldus News 24, die volgende te  gehad: “U bydrae as voorsitter van die AU het die streek en die kontinent tot nuwe hoogtes van ekonomiese en politieke prestasie gevoer.” Nogal vreemde lof om iemand toe te voeg wat sy land se ekonomie (al weer) tot op die randjie van inploffing gevoer het.

’n Voormalige premier van Mpumalanga is vreeslik deur die politieke weerlig gepiets nadat hy gesê het dit is in die haak vir politici om kluitjies te bak. In die konteks van gedekoloniseerde diplomatieke protokol is dit egter skynbaar ’n gegewe.

Amptelik is die besoek aan Zimbabwe gebring vir die eerste sitting van die bilaterale kommissie tussen die twee lande. Enige teken van ’n onlekkerte tussen die twee lande sou uiters ongewens wees.

Maar daar is ’n ander rede waarom die ekskursie vir Zuma so nodig was – dit het aan hom die geleentheid gebied om weer voor die SAUK se kameras presidensieel te probeer voorkom. By die soort gehoor voor wie Zuma hierdie truuk uithaal, is daar waarskynlik ’n groot onkunde dat die fier en fanfare waarmee Zuma oorsee ontvang word, bloot diplomatieke protokol is.

By hierdie gehoor word die indruk geskep dat Zuma internasionaal hoog aangeslaan word, en dat dit eintlik ’n geval is van ’n profeet wat nie (oral) in sy eie land geëer word nie. Hiermee voed hy belangrike ondersteuningsbasisse soos die ANC se vroue- en jeugliga, en dit op ruim bydraes van die belastingbetalers.

Dit is jammer dat soveel dubbel-agendas en rugstekery die betrekkinge tussen Suid-Afrika en Zimbabwe beïnvloed en so keer dat die twee lande hul ekonomiese sterkpunte behoorlik ondersteunend tot mekaar kan aanwend. Maar dis eintlik ’n ou laai van Afrikalande wat die vasteland se ekonomie strem, en ten spyte van hoeveel voornemens om dié siekte af te skud, tog die kranklikheid bly koester.

Miskien moet Zuma, soos sy pionne rondom hom in die stof byt, kennis neem van ’n (Westerse) waarheid: “Ver van jou goed, naby jou skade.”

Maar dan is ontydige uiltjies knip skadelik.

Soos die Afrikaanse en Engelse teks van die “voorgestelde” nuwe volkslied lui:

Father Jacob, Father Jacob,

slaap jy nog, slaap jy nog?
Hoor hoe blaas die eindfluit
Hoor hoe blaas die eindfluit
Going, going gone
Going, going gone

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Theresa ·

Walglike skandaligheid die geslapery wanneer ernstige dinge bespreek word. Ga! En watter ekonomiese opgang is al ooit deur die slapendes reggekry: Whaaaaaaaaaa ha ha ha ha!

berta ·

as hy nie meer die energie het oor sy ouderdom ni alhoewel dit bitter min ouderdom eerder as kultuur se probleem is moet hy liewers nie daar wees nie. verpligte pensioen is 65 hkm mag hullein parlement aangaan ouer as 65??

Niccy ·

Genade! Kan my nie indink as zuma so oud soos mugabe moet en die ANC hom nie uitskop, wat sal word en oorbly van onse land nie.

Verwonderd ·

Ek wonder waarom die regering gedurig nerie oor demokrasie, terwyl ons duidelik in ‘n komunistiese diktatorskap staan. Die huidige staatskaping is ‘n natuurlike vrug van die dissel wat nou amper sy prima groei stadium beryk het. Hoe kan enige regsdenkende mens verder hiermee saamloop?

Pietman ·

Verwonderd, ons is inderdaad ‘n demokrasie. ZUma was demokraties verkies en die kiesers kan hom weer uitstem, wat nie sommer gaan gebeur nie. Die groot probleem is dus die intelligensie en moraliteit van die meerderheid kiesers. Demokrasie is nie altyd in die beste belang van ‘n land nie.

Leeutjie ·

Hulle “reboot” net tot hulle oorgaan na nuwe aksies en reaksies!!!

Annie ·

Daar is nie n woord in die wye wereld om hulle te beskryf nie….

Koos1 ·

Nogal snaaks om te dink dat hulle albei ‘n baie hoë dunk van Julius Malema gehad het!
Zuma se besoek aan Zimbabwe, dink ek, was om sy eie ego te streel. Na die staatskaping verslag, moes hy iemand kry wat soos hy dink om hom op te beur. Enige ander president van ‘n ontwikkelde land sou al lankal bedank het. Tot selfs Brasië se president is uit geskop, en dit is die land waarna die ANC nogal verwys, as hulle praat van hoe om die minimum loon en armmoede in te voer.

GES ·

Hulle stel nie werklik belang nie en wil ook nie indiens van land en sy mense wees nie. Hulle will net gedien te word.

Theuns ·

Hallo Herman. Jy gee my siel vlerke met die trant van jou skrywe! Lekker naweek.

Manie ·

Dit is net in Afrika waar n krimineel n ander massa moordenaar en uiterste krimineel so sal ophef. Kyk net die twak wat Zuma kwytraak van die man

Slaapkous ·

Klaar met die struggle…nou is die groot struggle om wakker te bly…

zopm zoom ·

Hulle sit en dink waar lan hulle nog geld maak. Wonder hoeveel lotto’s het hulle al gewen

Slaapkous ·

Hulle het ge struggle voor 94….nou struggle hulle om wakker te bly….

Ella ·

Herman, jy kan aangeleenthede so perfek saamvat / opsom! Met die nodige sin vir humor!

peter ·

In die land van blindes is een oog koning! Zumpie het bietjie gevlug ….

John ·

Dis die waterskaarste hier en daar, se skuld ~ te min vir bygooi, brandpoele en stort. Dis ook waar die woord spaarsamigheid sy beslag gekry het. As my taalkunde my nie in die steek laat nie, is ‘saam spaar’ maklik te verduidelik, ons loodse weet van die Russiese Mig en ‘heid’ rym met spyt wat mos altyd te laat kom soos na baie in ‘n glas en min verdunners daarby.

Zoro ·

Ek wonder of daai twee No1’s in die shebeen tiep terwyl Brian die deals mask!

Oudste ·

Hulle “struggle” nog steeds, om eerlik te wees en om die werk met “honesty, morals, ethics and values” uit te voer. Wat hulle nie besef nie, is dat meer insette nodig is om korrup te wees, as om eerlik te wees. Die verskil is dat eerlikheid, in die politieke omgewing, nie so winsgewend is as korruptheid nie en dis juis daar waar die politieke diere gedy. ‘n Doodskleed het nie sakke nie.

Francie ·

In my lewe het ek nie van geweet dat ‘n mens so dikvellig kan wees soos ons agbare president nie. Het glad al in die openbaar onomwonde gesê dat hy nie sal bedank nie. Natuurlik sal hy nie van sy soustrein wil afklim nie! Ek wonder net of hy besef dat die howe nie onder sy invloed is nie – dit het ons die afgelope week gesien. Ek begin toenemend besef dat die mense wat hom die trekpas kan gee, self soveel geraamtes in die kas het dat hulle nie sal waag om dit te doen nie. Dis ‘n klassieke geval van ” Die wat kan, wil nie, en die wat wil, kan nie”.

Albert Marais ·

Pietman, ek wil jou net reg aanhaal – die kiesers het nie vir Zumie verkies tot no.1 nie. So die kiesers kan hom ook nie uitstem nie. Dis hoekom ons so ‘n “wonderlike” grondwet het.(net op papier. Grondwet in Afrika beteken minus zero)

My tweesent bydrae ·

Dit moet vervelig wees om so na al die beskuldigings te luister wat in elk geval op niks gaan uitloop nie . Enige mens sal aan die slaap raak .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.