Nuuskommentaar: Begin die kaartehuis nou inmekaar tuimel?

Foto: Reint Dykema

Foto: Reint Dykema

Gaan die ANC die eerste regerende party ter wêreld wees wat sy vallende kaartehuis weer kan oprig terwyl dit aan bewind is, of gaan die momentum voortduur ongeag planne om dit te stuit? Binne die demokrasie is egter sekere dinamika’s waaraan min gedoen kan word en elke krimpende party raak.

Het die ANC se kaartehuis nou inmekaar begin tuimel? Of moet die vraag eerder lui, het die soustrein begin ontspoor?

Binne die aanloop tot ’n verkiesing en die verkiesing self is daar altyd ’n paar faktore aanwesig wat ’n invloed het op ’n party se toekoms. Solank ’n party groei, haper min en kan ’n byna eendragtige entoesiasme van leiers en lede opgebou word. Maar as die party begin krimp, begin dit lol.

Die eerste probleem begin wanneer kandidatelyste opgestel word. Lede weet baie gou wanneer hulle in onverkiesbare posisies op die lyste beland, en veral harde partywerkers kan met reg bitter wees as goeie selfbemarkers asof vanuit die niet skielik hoog op die lyste beland – en dan boonop in die verkiesingsveldtog min of meer ’n nul op die kontrak is. Van die getroue strydrosse word verwag om steeds die plakkate te gaan opsit, pamflette uit te deel, vergaderings te reël, maar hulle is by voorbaat nie op die lys van kandidate wat ’n kans staan om met ’n geveerde nes beloon te word nie.

Dit is wanneer ander politieke partye skielik met oorlopers van ander partye se raadslede kan spog. Word die prentjie egter nugterder ontleed, is hierdie oorlopers dikwels die groot lyfwegstekers en opportuniste, en beland dus selde in hul nuwe party in ’n verkiesbare posisie.

Dan is daar nog dinge soos beweerde nepotisme, of die beweerde manipulasie van leiers om hul vriende “ter wille van die gewenste rasprofiel” in te werk, dikwels uit ’n ander politieke party uit. En so kan die lys probleme aangaan.

Met die verkiesing self gebeur iets soortgelyks. ’n Party wat krimp, het skielik minder setels om sy harde lojale werkers mee te beloon. Die ACDP het homself byvoorbeeld voor hierdie verkiesing bemark as ʼn party wat uitstekende koalisies teweeg kan bring, en Swellendam is as voorbeeld genoem wat as beste munisipaliteit in Suid-Afrika uitgewys is. Maar die momentum landwyd teen die ACDP was te sterk, en die ACDP het sy setel daar verloor en stel die DA nou in staat om op sy eie te regeer.

Volgens die jongste aanduidings het die ANC sedert die laaste munisipale verkiesings in 2011 sowat 8 persent van sy steun verloor en staan nou landwyd op 54 persent. Dit beteken beheer is oor ’n hele paar munisipaliteite verloor (’n paar is gewen ook), wat beteken toegang tot tenders vir maatjies en ander voordele is nou daarmee heen.

Maar amper belangriker is dat daar nou landwyd ’n groot getal ANC-raadslede is wat nou werkloos is. Dit beteken die ANC se soustrein waarin hy kaders kan ontplooi en herontplooi, het nou aansienlik korter geword. En die verskil om werkloos of ’n raadslid in veral sommige rade te wees is aansienlik.

Kortom, hierdie verkiesing gaan bitter baie ontnugterde ANC-raadslede en kandidate op die slagveld laat, en baie van hulle sal oorsake buite hulself soek oor hoekom hulle werkloos is.

En daar is volop oorsake. Seker die grootste negatiewe faktor is pres. Jacob Zuma. Die ANC het hardkoppig gaan dobbel daarmee om Zuma as leier vir hierdie verkiesing te hou, en duidelik selfs in KwaZulu-Natal die prys betaal. Nkandla bly byvoorbeeld self ’n IVP-vesting.

In hierdie stadium lyk dit of die ANC sy beheer oor minstens sommige van die groot metropole (buiten Kaapstad wat die DA reeds beheer) aan opposisiekoalisies gaan afstaan. Selfs in Mangaung het die ANC se meerderheid tot onder die 60 persent gedaal. Waar die ANC beheer verloor het, kan nou begin werk word daaraan om onbevoegde ontplooide kaders in amptenaarsposte weg te werk. Selfs al is dit ’n langdradige proses (soos dit hoort, want almal is darem nie die SAUK nie), beteken dit nogtans hierdie poste is uitgesluit vir die verdere ontplooiing van onbevoegde kaders. En veral nou gaan daar landwyd bitter baie wees wat met groot afwagting na die ANC gaan kyk om iewers vir hulle ’n nuwe geveerde nessie te kry.

Volgens verskeie kenners kon nog geen regerende politieke party iewers ter wêreld hierdie intuimeling keer terwyl dit aan bewind was nie. Daar is baie voorbeelde, soos die Britse Arbeidersparty, waar die party uitgeval, en daarna suksesvol herstelstrategieë in werking gestel het. Gaan die ANC die uitsondering wees en die afwaartse momentum voor die volgende algemene verkiesing gestuit kry? Soos sake nou staan, oppervlakkig geoordeel, gaan die ANC met onder 50 persent van die stemme in daardie verkiesing eindig. Dit sal wel met die hulp van klein surrogaatpartye soos die Minority Front, die NFP, APC en ’n paar ander in koalisie aan bewind kan bly, maar sy soustrein gaan heelwat korter wees.

Dit kan egter wees dat die ANC nou reeds skadebeheer begin toepas en nou van Zuma as president en leier ontslae raak. ’n Bitter opvolgstryd wat die party onder verdere druk kan plaas, kan dan grootliks voorkom word deur adj.pres. Cyril Ramaphosa tot president te bevorder, en hy dan behoorlik kans kry om sy posisie te konsolideer, en bitter baie sake reg te ruk, voor Suid-Afrikaners weer stembus toe opruk.

Maar die opposisie het bloed geruik, en daar is nou ’n ontsaglik positiewe momentum. Dit is ongelukkig jammer dat Suid-Afrika in die proses gestroop word van kleiner partye wat van die belangrikste internasionale ideologieë verteenwoordig. Die Christen-demokrasie in Suid-Afrika het grootliks, selfs ten spyte van ’n groot versplintering, ’n Nuwe Wêreldse karakter aangeneem eerder as die twee Europese weergawes. So is hulle buite die gemaksone van die tipiese Afrikaner-Calvinis.

Miskien is die land nou ook in daardie posisie dat nis-verskynsels, soos groter klem op minderheidsregte, by die aanhangers daarvan swaarder gaan begin weeg as om “ondertussen” stemme “uit te leen”. Daar is plek-plek aanduidings dat die VF Plus reeds hierby begin baat het, en die aanslag op, en miskenning van Afrikaans, het stellig ook daarmee te doen. Die (erg versplinterde) opkoms van ’n bewussyn onder bruin en KhoiSan oor minderheids- en kultuurregte moet ook nie buite rekening gelaat word nie.

Kortom, wanneer die volgende algemene verkiesing plaasvind, kan die dinamika baie anders lyk as nou.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

39 Kommentare

grotman77 ·

die mense wat nie gaan stem het nie het hul steun aan die een party staat gegee en gesorg dat daar n meerderheid stem was en is

Karma ·

@grotman77 – ek het nie gaan stem nie en weet jy wat – ek is nie skaam om dit te sê nie. Ek het in 1999 laas gestem. Geeneen van die huidige partye het my stem, sal my stem ooit kry nie, want geeneen van die huidige partye doen enige iets vir my nie. Wat ek het, moet ek self voor werk en ek kry saam met ander mense swaar oor korrupsie en politieke-bevoordeling hoogty vier in die land. Per slot van sake kan ‘n mens nie iets verloor as jy dit nooit gehad het nie en daarom kan niemand my stem verloor nie, want geeneen van die huidige politieke partye tans in die land het dit al ooit gehad nie!

Theo ·

Karma. Ek stel dan voor dat jy van hieraf aan geen politieke bo of ondertone lewer op enige sosiale media nie. Dis net regverdig teenoor die wat wel gestem het. Verder is jy welkom.

Veritas ·

Karma- ek het, in ‘n vorige kommentaar, dieselfde stelling gemaak. Geeneen van die hedendaagse partye het al my stem gekry nie. Ek het laas in die referendum my stem uitgebring. Sedertdien kon ek myself nie sovêr kry om enige van die huidige partye te ondersteun nie. Inteendeel, net om as kieser te registreer, is vir my ‘n teken dat ek een van die partye sou ondersteun. Die DA het in die Wes-kaap bewys dat hulle ‘n beter diens aan inwoners kan lewer maar dit maak nie dat ek met hul (ANC)- beleid saamstem nie. Geeneen van die ander partye staan enigsens ‘n kans nie en hul verkiesings-manifeste lyk maar almal een en dieselfde.

Lida ·

Brljante artikel Herman. Jy is inderwaarheid reg in die opsig dat die DA nou bloed geruik het en NIKS gaan hulle stop nie. Die soustrein se sous het suur geword en nou moet hulle maar die gevolge van hulle skelm streke dra. Mens kry sommer respek vir Maimane oor die wyse waarop hy sy toesprake lewer. Die man het immers insig en met twee meestersgrade hoe dan nou anders. Dit is ‘n skande dat ons met ‘n graad 3 kind sit om die land te regeer en wat sodoende die hele SA in die afgrond in regeer het. Ons hoop die verandering wys gou en dat ons gesonde werkende munisipaliteite kry. Mooi so DA !!!!!

Hein ·

Ja nee Lida met al die DA se oorwinnings in die land sal die DA nou moet leer om met al die ANC se “Affirmative Action” poste klaar te kom. Dit is waar die probleem nog steeds is in die land en jy kan hulle nie sommer afdank met al die A.A. arbeidswetgewing nie. So voorspoed Bravo!

Ella ·

Lida, ek dog dis standerd drie, nou sê jy graad drie? Aan die ander kant, maak dit enigsins ‘n verskil?
Herman, jy het soos altyd dinge mooi in perspektief gestel.

Kobus ·

Ek vra maar, is Cyril die beste wat ons (hulle) het? Hy het eerlik nie geloofwaardigheid nie, dalk binne sy korrupte party, waarom alle rubriekskrywers hom elke keer as die tweede messias sien, sal nugter weet, of is dit by gebrek aan ‘n werklike leier binne die ANC, iemand met integriteit. Wel, hy is darem so ‘n trappie beter as Zuma, ook maar net.

Of is dit omdat hy by die onderhandelingstafel destyds vir Roelf en kie, ore aangesit het?

Sus ·

Stem saam Kobus. Wat ons net moet onthou is dat Ramaphosa ‘n groot SAKP-man is….ons moet pasop vir sy ware kleure!

Wern ·

Die ANC het die regruk kaart nou ook klaar te veel gespeel, hulle sou regruk na Zuma hofuitslag, hulle sou toe na die mense luister maar hulle het toe nie. Ek hoop nie hulle gaan daardie kaart weer gespeel kry nie.

Kaufman ·

Herman, dankie vir nog n wereldklas analise. Jy krap hier oop een van die belangrikste redes waarom die ANC agteruitgaan, wat min ander die skaal van invloed van besef. Dit is die belangrikheid om grondvlak werkers te motifeer, om harde werkers te behou en te skand van selfbemarkers.

Anoniem ·

Die man het net graad 3..Hy kan nie n land daarmee bestuur nie….Hy het n groot gemors aangevang en nou gaan ons hom wys hoe word dit gedoen…..Dis net jammer daar is nog mense wat vir hom stem….maar as ons kyk wie stem vir hom…dis in die armoede gedeeltes wat vir hom stem…hulle het nog nie geleer sy beloftes beteken net mooi niks..hulle sit nog steeds sonder huise…water…elektrisiteit en hulle word uitgemoor of hulle moor vir n beter lewe…werk nie……jy moet werk vir wat jy wil he op n earlike wyse…kyk waar het leuens, moord, roof en verkragting ons land gebring……pateties om die minste te se!!!!!!!!!!!!!!!!

Sus ·

‘n Groot deel van die mense wat ANC gestem het is verseker die lot wat leef van ‘grants’. Eks nie seker van my feite nie, maar meer as 57% van SA se hele begroting gaan vir een of ander grant en as die ontvangers dit verloor moet hulle gaan werk……..

vermeende ·

Volgens my betree ons die gevaarlikste tyd in ons politieke geskiedenis.
Was daar al ooit n Afrika staat waar n gewapende stryd die regering omvergewerp en vervang het en dan het daai vegters by die stembus verloor en mag afgestaan………nie volgens my kennis nie. N revolusie het nog altyd gevolg.
Dit is kortsugtig om te glo dat die DA vreedsaam eendag die regering gaan vervang en dat net voorspoed sal volg.
Hou gerus die binne gevegte in die ANC dop vir die volgende 2jaar.

MEISIE ·

Ek wil net graag weet of Zuma nie skaam kry of skuldig voel omdat hy die armes so uitbuit nie. En die arme ongeletterde mense glo alles wat die ANC vir hulle opdok dat net ‘n ou kos pakkie hulle sal oorreed om vir hulle te stem. Zuma behoort hom te skaam om die arme mense so te misbruik. Hy het die soustrein so gery om hom en sy familie te verryk dat hy sy rug op die mense wat hom daar gesit het gedraai het. Maar nou ja hy self is niks gewoond nie. Ek hoop nou maar die DA bewys hulle self so dat hulle in die 2019 stemmery loshande kan voor loop.

Theuns ·

Herman weereens is jou artikel weldeurdag en se jy alles wat gese moet word. Jy laat my voel soos daardie advertensie van “Virseker” waar die outjie met die skewe hoed vir die dametjie se “maar dit is my lyn daai. Dit is my lyn”! Miskien net een ding? Die Grotman77 is nogal reg! Groete.

Lida ·

Hein jy is darem seker nie so naief om te glo dat die DA nie ‘n wakende oog sal hou oor hoe dinge gedoen word nie. Natuurlik sal hulle nou uithaal en wys en indien hulle ‘n skelm vang steel word hy summier afgedank. Die Arbeidswet is baie duidelik in daardie opsig. As jy steel loop jy, hoewel dit nie in die ANC so gewerk het nie !!! Die DA het bitter hard gewerk vir hierdie verkiesing en ek glo hulle sal nie droogmaak nie. Glo net dat ons verandering sal sien. Hulle sal “huis skoonmaak” in die munisipaliteite. Glo my.

snoefie ·

ramaphoza was om meer te begin n man met integriteit. maar die afgelope twee /drie jaar het hy n pion en Zuma naprater geword. dalk is die tyd dat die anc ienand met integriteit nader sleep. iemand soos matthew phoza.

Hein ·

Ramapoza/Phoza is nog steeds ‘n lede van die ANC en onderskryf nog die “Freedom Charter”, “Affirmative Action” en die “National Revolution Program”. Dit is alles wat indruis teen ‘n goeie regering stelsel. Nee wat as hullr integriteit gehad het sal hy al lankal die ANC verlaat het. Enige iemand wat diskrimenerende programme wat geskoei is op ras soos “AA”, kwotas, en BEE behoort nie in ‘n demokrasie nie.

Kobus ·

Hein, indien dit so sou wees soos die rubriekskrywers veral in die jongste tyd soveel kere al “gepleit” het, hul versugting uitgespreek het, “sal die regte Ramaphosa nie nou maar opstaan nie”.

Dus wil hulle glo dat hy vir die skyn Zuma ondersteun, dus dat hy sy ware kleure wegsteek en die dag as hy President is, sal hy die messias wees waarop hul hul hoop gplaas het.

Kan mens so ‘n persoon as eerbaar ervaar en sy motiewe bo verdenking plaas? Sal hy nie dan maar die land volgens sy eie morele waardes lei nie?

Mens wil mos graag die beste vir jou land toewens, trots op jou president wees, maar miskien is dit beter so as hy president raak, dit sal net daartoe bydra dat die ANC gouer ten gronde gaan, ten minste kan die DA gouer aan die bewind kom.

Lida ·

Ramaphosa is al so “ge-brainwash” deur Zuma hy weet self nie meer watter kant toe nie.

Jan ·

Ja Mathews Phoza is die regte man .ek sal ook vir hom stem .Hy weet waar oor dit gaan om n land te bestuur .

John ·

Die ANC se antie-tannies se Zuma-met-‘n-doktorsgraad se meubels vir die presidensie staan reeds gepak, soos die’ van ‘n ander ouma wat reeds die binneversierders opdrag gegee het vir die withuis. Die ANC het ‘n Pandora-kis vol allerhande gediertetjies wat wag om uite spring as die deksel weer opgelig word. Staan maar ver weg…

Thuunda ·

Soos bo gese, die reenboognasie betree nou ‘n baie gevaarlike tydperk.

Die volgende twee jaar kan dalk baie rof gaan polities gewys.

Die ANC sal nie, ek herhaal, sal nie vreedsaam gesag verloor nie.

Ek voorspel dat die ANC en EFF mekaar eerste gaan gryp. Maimane sal moet meer lyfwagte ook aanskaf.

Lida ·

Ek het net een bekommernis noudat dit naelbyt word met die uitslae. Daar is soveel korrupsie in die ANC dat dit my nie sal verbaas as hulle die stembriewe wat oorgebly het steel en almal ANC merk nie. Ek wonder tog wat word van die ongebruikte stembriewe nadat die stembusse gesluit is. Hulle behoort dit wet te maak dat sodra die stembusse gesluit het, en almal in die rye gestem het moet daardie boeke deur ‘n snippermasjien gesit word of verbrand word net daar by die stembus voor die opposisie partye se waarnemers. As dit eers weggery word na ‘n ander plek toe is dit net daar waar hulle dit steel en stem. Ek dink tog dit is wat al gebeur het en/of kan nog gebeur.

Ou Bosvark ·

Beste Herman Toerien, ‘n Uitstekende artikel!

Die bakleiery om politieke poste en posisies in aldrie vlakke van die staatsdiens weerspieël net hoe min loopbaangeleenthede daar tans in Suid-Afrika is en hoe ‘n swak internasionaal kompeterende land Suid-Afrika inderdaad is. “Hulle” wil almal “shopkeepers” in die politieke partye en staatsdiens word instede van effektiewe en doeltreffende entrepreneurs wat op eerbare wyse sake vol geld in die buiteland maak.

Maar Suid-Afrika is ‘n land van inkopiesentrums, nog inkopiesentrums, pakhuise vir gemors invoere, hordes prokureurs en ouditeure, hordes politici en staatsamptenare, konsultante, aktiviste vir haas elke denkbare onderwerp, twakpraat, werkloses en maandelikse aalmoes-ontvangers van belastingbetalersgeld. Tragies. Nou begin die volgende fase bakleiery met die oog op die volgende algemene verkiesing. Tragies. Intussen verarm die meeste Suid-Afrikaners al hoe meer. Tragies.

GJ de C K ·

Net onlangs nog het mnr FW de Klerk se NP 2/3 merderheid gehad. Gaan selfs ‘n 2/3 meerderheid DA die fundamentele probleme van hierdie kakostokrasie van die Nuwe SA enigsins eens raaksien?

Kyk hoe mistas ons nog mbt konsepte waaroor Brittanje, Europa en die VSA reeds tot nugterheid gekom het (al is dit ook dalk te laat om húlle lot te red): Mense soek: demokrasie maar nie ‘n president wat die meerderheids-profiel verteenwoordig nie; vrede maar is nie bereid om te veg nie; die voordele van Christenskap maar sonder om die kruis op te neem, en net so terloops: sg christen-demokrasie is so sinnelose konsep soos “Banters for white-bread”, “protestants for the pope”, “Jews for Jesus” en “Rewolusionêres vir die koning”. Goddelike gesag (die aanvaarding waarvan oa jou ‘n Christen maak) wentel nie vanuit die hand van die mense nie.

Hierdie kierie (die politieke meganisme van die Nuwe SA) waarop ons mense steun is ‘n bedrieglike een.

Willem ·

Goeie artikel Herman.

As ek so deur die kommentare lees hierbo dan wonder ek wat soek van julle mens nog in SA. Gaan soek asseblief heenkome in Australie of New Zealand of waarnatoe julle ook al weghardloop want ons soek julle nie is SA nie . Ons land is besig om te verander om ‘n beter plek te word en ja dit gaan tyd vat, maar julle visie van ‘n wit staat is so lankal vergete dit hoort nie eers in die geskiedenis boeke nie
Asseblief mense word wakker en besef ons bly in ‘n land wat aan almal behoort en nie net aan die armsalige witman nie.
Word groot asb.

Ou Vlakvark ·

Geagte Willem,

Jy maak wilde, ongefundeerde, vae en niksseggende stellings onder ‘n skuilnaam. Bly liewer beskeie en tel jou woorde. Ek is ‘n trotse Afrikaner en gun andere in Suid-Afrika ook ‘n gelyke plek onder die son. Ek is beslis nie ‘n “armsalige witman” nie. Bid dat die kriminaliteit en werkloosheid en armoede jou nie bykom nie want dan is die buiteland ook dalk jou toekoms.

Jantjie ·

Ou Vlakvark, Willem-pie sal weens kriminaliteit, oordrewe BBBEE en regstellende aksie in die werkplek, dalk te laat begin rondkyk vir ‘n plekkie in die buiteland.

Ou Erdvark ·

Beste Jantjie,

Ons moet mede Suid-Afrikaners wat emigreer se sieninge respekteer. Dit neem waagmoed om te emigreer. En jou dienste moet in aanvraag wees.

Ons moet diegene wat besluit om in Suid-Afrika te bly se sieninge ook respekteer. Dalk kan hulle nie emigreer nie of het nie die waagmoed nie of hoop die toekoms gaan beter uitdraai..

So, verwyte en suur druiwe bring niemand nêrens. Elke land het sy unieke probleme. Elkeen moet besluit in welke land hy ‘n beter toekoms vir sy kinders en kleinkinders sien. Die harde werklikheid is dat ons in ‘n snelveranderende hoogs mededingende wêeld leef. En sommige gaan in SA nie volhoubare werk kry nie en gaan die baklei vir politieke- en staatsdiensposte waarskynlik toeneem.

Peet ·

Partypolitiek is wat almal praat. Ek het meeste, maar nie alle kommentare nie,gelees. Die probleem is vee l groter as wat mense skynbaar besef. Om nie te gaan stem nie, is ideologies verkeerd. Een persoon hierbo stem al sedert 1999 vir die ANC, onwetend. Ek stem nie omdat ek met iemand saamstem nie, maar omdat iemand teenstaan. Op suiwer meriete sou ek ook vir niemand wou stem nie. Tog moet ek die bietjie verstand wat ek het, aanwend om na die beste van my vermoë vir my mense se regte te veg. My twee skote is baie sekuur in die stembus afgevuur.
http://wp.me/p7D18q-Ln

Jcwf ·

Wat my opval is dat daar baie min gepraat word oor grootste klomp kieser wat die ANC verloor het: wat tuisgebly het. Jy kan dit goed sien byvoorbeeld in die ou Transkei: Ek vat sommer ‘n ward daar:
Engcobo 21307010

Registered voters 4180
Total valid votes 1825
ANC 1324
UDM 228
DA 33

Van 4180 kiesers het net 1324 dit nodig gevind om vir hulle ANC te kom stem. Die ander mense het met hulle voete gestem en tuis gebly.. En dan is daar ook 33 wat so ontevrede was dat hulle wel gekom het maar op ‘n party gestem het wat hulle dalk nooit ontmoet het nie… (Dis die hart van die Transkei!) Daai ‘blanke’ party. Voorouergeeste of nie…

Ja, die ANC het steeds 72% van die stemme gekry. Hierdie verkiesings. Wat gaan gebeur indien die tuisblywers wel gaan stem, maar op die ‘verkeerde’ party? Die ANC se probleem is nie beperk tot die metro’s nie.

NICKEY VAN NIEKERK ·

” MEISIE” Op bogenoemde kommentaar:
Om skaam te kry,,,,,,,,,, moet ‘n persoon( mens) ‘n gewete he…. iets wat die meeste ANC lede Nie het nie…insluitende Zuma.

NICKEY

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.