Nuuskommentaar: Beginsellose verkiesing?

Argieffoto

Argieffoto

Met die uurglas wat by die OVK uitgeloop het vir politieke partye wat aan vanjaar se algemene verkiesing deelneem, het dit ook duidelik geword waarom van die partye hul lyste so teen die bors gespeel het. Op die ANC se lys pryk toe die name van drie Cope-LP’s, waaronder die bekende Julie Kilian, en ‘n DA-LP. Hoe lank is al agteraf gekonkel en het die vier geweet dat hulle hul mantel na die wind gaan skik, terwyl hulle ewe sedig vertroulike gesprekke in die koukusse waaruit hulle dros aangehoor, en dalk selfs aan deelgeneem het?

In sy hoofartikel looi Volksblad nie net die optrede van die viertal nie, maar ook die lamlendige verskonings of verduidelikings wat die viertal aangebied het. Dit druip van beginselloosheid.

En beginsels is tog veronderstel om die hoofrede te wees oor waar kiesers hul kruisies gaan trek. Kan ‘n party se beleid sonder beginsels hoegenaamd ‘n beleid genoem word?

Dit sou ‘n heel ander kwessie gewees het as die vier, toe hulle agtergekom het hulle het beginselprobleme met die beleid van hul party, uit daardie partye bedank het (en hul setels prysgegee het) en by ‘n party in ooreenstemming met hul beginsels gaan aansluit het tot hulle die kandidaatlyste op die gebruiklike manier kon haal.

Die kiesers gaan ‘n breë keuse hê wanneer hulle in die algemene verkiesing hul kruisies gaan trek. Sommige kiesers sal noodwendig op die nasionale en provinsiale lyste vir twee verskillende partye moet stem omdat sommige partye nie in al die provinsies kandidate stel nie.

Van die bekendste grotes (in die Suid-Afrikaanse konteks) se name sal weer op die stembrief voorkom. Hulle sluit die ANC, die DA, Cope, IVP, die UDM, Vryheidsfront Plus, die PAC, Minority Front en nog ‘n paar kleineres in.

Van die nuwe toetreders het verskeie reeds die oog gevang, hoewel nie almal vir die regte redes nie. Onder die bekendste nuwelinge is Julius Malema se EFF waarskynlik die party wat die beste gaan vaar, Agang SA, en die NFP wat hoofsaaklik uit die IVP ontstaan het, en duidelik baie steun afgerokkel het.

Nog ‘n nuwe toetreder, wat volgens sy Facebook-blad vir die verkiesing geregistreer het, is die Front Nasionaal. Die bekendste leiersfiguur hiervan is dr. Dan Roodt. Dit sal interessant wees om te sien of hierdie party – wat uit verskillende belangegroepe saamgestel is, beduidende steun sal kan trek van mense wat voorheen geweier het om aan verkiesings deel te neem.

Daar is egter ook kiesers wat selfs te midde van die groot keuse gaan sukkel om ‘n alternatiewe party te vind om voor te stem. Die Christen-Demokratiese Party het aangekondig dat hy nie kans sien om die groot bedrag wat nodig is om vir die verkiesing te registreer, te dobbel op die gevaar af dat dit nie ‘n setel gaan wen nie, en so die deposito verbeur. Die party, met sy kern van lojale ondersteuners waarvan ‘n hele aantal nou waarskynlik buite stemming gaan bly, gaan nou eerder op die volgende munisipale verkiesing fokus.

Die bekende Peter Marias het self hard probeer om bruin, Koi- en San-groepe as ‘n beduidende politieke mag vir die verkiesing saam te snoer, maar dit het geblyk dat ‘n veewagter dit makliker sou vind om ‘n trop wilde tarentale in ‘n hoenderhok ingekeer te kry. Daardie verwikkelinge kan egter die bruin steun vir die DA – weens die DA se skynbare louheid oor die Solidariteit-DKD-saak – in ‘n mindere of meerdere mate knou. Daar is ‘n groot onrustigheid oor die groeiende Manyiïsme in nuwe wetgewing wat niks goeds vir die bruin gemeenskappe inhou nie.

Tussenverkiesingsuitslae het daarop gedui dat die UCDP – die party van wyle Lucas Mangope, waarskynlik sy deposito in die water gaan gooi.

Vir die groter partye gaan die verkiesing ‘n groot toets wees. Peilings dui daarop dat die ANC se steun aansienlik gekrimp het, maar dit is nog te vroeg om veel hieruit wys te word omdat die ANC bekend is vir ‘n sterk eindpoging.
Boonop word die Nkandla-verslag van die Openbare Beskermer binnekort bekend gemaak. Die ANC gooi reeds sterk wal, en dit is heel waarskynlik dat die “kerkleiers” wat nou so ‘n striemende aanval op die Openbare Beskermer geloods het, deel van die strategie uitmaak. Pres. Jacob Zuma en die ANC probeer homself as die partye te bemark wat die afgelope twintig jaar vooruitgang gebring het – iets wat baie ander as baie dik vir ‘n daalder ervaar.

Die DA het sy eie kwota drama beleef. Dit kom op die oog af voor asof die party nou die kantelpunt bereik het waar dit in sy poging om veral swart lede te werf, minstens ‘n ongemak onder sy gevestigde lede loslaat. Berigte oor die bestaan van ‘n swart koukus wat sekere beleidsaanpassings opeis wat van die party ‘n ANC Lite maak, word ontken.

Cope is deur diep water, en dit is onseker of die party nou die probleme genoegsaam sou oorkom het om weer as ‘n betreklike sterk party na die parlement en ‘n aantal provinsiale wetgewers terug te keer.

Die UDM kan dalk weens etniese wortels in die Oos-Kaap effens baat uit die Marikna-tragedie, maar dit lyk of die EFF die aanvanklike tekens van steun taamlik deeglik opgeruim het. Die impak van die aansluit van Cope se Shilowa-faksie kan dalk ‘n paar stemme beteken.

Die IVP se leier, Mangasothu Buthelezi, het waarskynlik sy rakleeftyd heeltemal te ver probeer rek, en een van die neweprodukte hiervan, die NFP, lyk of dit die IVP – wat in elk geval in KwaZulu-Natal na die ANC gebloei het, ‘n harde hou kan toedien.

Die ACDP sal dit waarskynlik baie moeilik vind om die vlakke wat dit ‘n dekade gelede geniet het voor dit erg teruggesak het te herhaal. Die grootste probleem is moontlik die verstommende lang lys van sterk persoonlikhede wat die leier, eerw. Kenneth Meshoe, sedert die party se ontstaan uit die party gewerk het. Iewers sou die party die prys hiervoor betaal.

Die Vryheidsfront Plus sal goed doen as hard probeer die enigste maatstaf was. Die party is veral in die sosiale media deurlopend onder skoot weens dr. Pieter Mulder se besluit om as adjunk-minister te dien, en gaan nou ook ‘n aanslag van die Front Nasionaal die hoof moet bied.

Dit is jammer dat oorloper-politici nou die beeld van politici gaan besoedel het.

Die partye wat die deposito-valbyl oorleef het sal nou tot die verkiesing toenemend ‘n aanslag op die kiesers loods. Kiesers sal noodwendig wyer moet lees en luister as partye se eie verkiesingspropaganda, sodat hulle nie na die verkiesing uitvind hulle het ‘n sosiale kontrak met ‘n party gesluit wat nie die stembriefie werd was waarop die kruisie aangebring is nie.

Soos wat tot dusver gereeld gebeur het – die kruisies word getrek, die Nkandla’s verrys, die riool loop deur verwaarloosde strate en die misleide kiesers vaar die strate in met klippe en vuurhoutjies. Daardie siklus moet gebreek word. Vreedsaam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frik Lotz ·

Die VF Plus is n moderne,standvastige party met werkbare oplossings vir n beter toekoms. VF Plus gaan vriend en vyand verras by die stembus. As jy glo in Christelike waardes en minderheidsregte en gekant is teen regstellende aksie en arbeidswetgewing wat diskrimineer teen minderheidsgroepe,stem dan VF Plus en maak die party sterker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.