Nuuskommentaar: Begrafnis van die nie-rassige SA

Argieffoto

Argieffoto

Al die opposisiepartye in die parlement, op die uitsondering van die Vryheidsfront Plus na, het onlangs in die Nasionale Vergadering ‘n wetswysiging ondersteun wat dit nog moeiliker vir minderhede gaan maak om werk te kry, of vir bevordering te kwalifiseer.

Vir ongeveer ‘n week lank het die kwessie liggies geprut voor die deksel gister in Rapport afgeskiet het. Nie alleen het die grootbaas van Solidariteit, Flip Buys, in sy gereelde rubriek hard ingeklim onder die titel DA is op glybaan na ‘ANC-lite’ nie, maar dieselfde kwessie is in verskeie ander berigte, en rubrieke aangeroer. Tim du Plessis, in sy rubriek, ‘n Seisoen van raserny lê voor (op die internetweergawe word aangedui dat die redakteur, Waldimar Pelser die outeur is), Jan Taljaard se Lunsrien-rubriek, My snellervinger jeuk vir Riah se joppie, en verskeie ander berigte en artikels hanteer die kwessie.

Die artikel, Dit gons oor die DA se ja vir dié wet stel die kritiek van onder meer prof. Hermann Gilliomee aan die bod, terwyl die middelblad afgestaan word aan nog kritiek op die DA se besluit, én die DA se verweer.

Buys se rubriek val met die deur in die huis: ‘Die “nuwe” Suid-Afrika het Donderdagmiddag 24 Oktober om 15:28 stilweg tot ’n einde gekom. Die geleentheid was die parlement se feitlik eenparige aanvaarding van drakoniese rassewetgewing met die toepaslik onvanpaste naam van die “Wysigingswetsontwerp op Gelyke Indiensneming.” Ná hierdie wet is Suid-Afrika nie meer “nuut” nie, maar weer ’n rasgebaseerde land. Die rede vir die stille heengaan van die “nuwe” Suid-Afrika is dat die DA-leierskap die ras-tellende-aksie-wetswysiging amptelik ondersteun het. Ook het die media tydens die eenstemmige begrafnisdiens skynbaar ’n uiltjie geknip. Alles om die kiesers nie so kort voor die verkiesing te ontstel nie.’

Die DA het gister drie mediaverklarings uitgereik, maar nie op die stortvloed kritiek in die grootste Afrikaanse koerant gereageer nie. Moontlik is bloot volstaan met die geleentheid wat mnr. Andricus van der Westhuizen in Rapport gekry het om die DA se kant van die saak te stel.

Alhoewel die DA die amptelike opposisie is, en verreweg die meeste Afrikaanse en Afrikanerkiesers se stem kry – hetsy aan die DA gegee of “geleen”, en dus verstaanbaar vir kritiek uitgesonder is, is dit tog effe vreemd dat slegs Buys breedweg daarna verwys dat die DA nie alleen gestaan het nie. In die sosiale kommentaar onderaan die internetweergawes het die VF+ ‘n punt daarvan gemaak dat dit daarteen gestem het, en al een was wat daarteen gestem het.

Die wetswysiging hou die potensiaal in dat die oorwinning van Solidariteit in die arbeidshof teen die departement van korrektiewe dienste, nou ongedaan gemaak kan word. Die minister kan nou besluit nasionale demografie moet op streekvlak geld. Die nuwe voorgestelde wetswysiging is nie net bedoel om wittes nie, maar alle minderhede te benadeel. Dit is ‘n belangrike gietstuk in die bou van neo-apartheid.

Presies hoeveel moes sake in die land verkeerd loop dat partye wat duidelik ook hul oog op stemme uit minderheidsgemeenskappe het, soos die ACDP en Cope hul steun hieraan toesê?

Trouens, naas die Vryheidsfront Plus wat daarteen gestem het, is die Christen-Demokratiese Party wat (nog) te klein is om in die parlement verteenwoordig te wees een van die min partye wat aan die parlementêre verkiesings deelneem wat ook teen die beoogde wetgewing sou stem.

Die algemene reaksie, of gebrek aan reaksie van die lesers in die sosiale kommentaar, beide op Rapport se skrywes en op Solidariteit se Facebook-blad, sou min analiste verbaas. Eerstens is die reaksie min in vergelyking met wat dit sou wees as dit ‘n ander party was wat siepsop kry (veral die ANC), en tweedens dat daar ook heelwat lojale steun vir die DA uitgespreek word. In vergelyking met die Wet van die oerwoud wat gewoonlik die kuberkommentare kenmerk, is die reaksies mak.

Analiste het lank reeds afgelei dat baie kiesers wat vir die DA stem, self bewus is daarvan dat die DA se beleid in baie opsigte met hul eie oortuigings verskil, en selfs skerp verskil, maar dat hulle steeds glo die DA sal hul belange die beste dien. Hierdie kiesers is ook nie maar teensinnige DA-ondersteuners nie, maar lojaal (hoewel selde baie uitgesproke). Wanneer daar in beriggewing selfs net die geringste suggestie van kritiek op die DA is, sal selfs diegene wat met kommentare op die internet boer, eerder net swyg en hul “likes” weerhou. Die sowat tien persent deelnemers wat op die jongste berigte aandui hulle gaan nie weer vir die DA stem nie, is dus erg misleidend, en verteenwoordig dus in werklikheid ‘n baie kleiner persentasie van die lesers.

Nie al die kommentare wat kritiek uitgespreek het is teen die DA gerig nie – daar is ook die “gebruiklike” groepie wat Solidariteit/AfriForum afkam omdat dié instansies die Afrikanersaak sou verraai het. Die gebruiklike leuens word ook met die teerkwas aangewend, soos die bydrae van ene Paul Kirsten wat skryf: “Voor die vorige verkiesing het al die werknemers van Soliforum opdrag gekry om die rug te draai op die VF+ en die DA te ondersteun. Wag nou vir die mantel om te draai.”

Hierop reageer dr. Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, soos volg teenoor Maroela Media: “Die stelling is totaal belaglik. Ons standpunt is dat ons ons nie aan enige politieke party verbind nie. Ons is ‘n burgerlike beweging wat belange het. As gevolg van hierdie standpunt is ons gereeld in konflik met die ANC omdat hulle ons belange benadeel. Ons is egter ook gereeld in gesprek met hulle omdat dit ons belange soms kan bevoordeel. Ons was al gereeld in gesprek met die DA omdat dit ons belange kan bevoordeel, maar as hulle iets soos die onlangse rassewet ondersteun sal ons sterk standpunt daarteen inneem. Dit bevestig juis ons politieke onafhanklikheid.”

Die hele storm gesied ook teen die agtergrond dat analiste uit die reaksies, of eerder gebrek aan reaksie op berigte en rubrieke wat oor die komende algemene verkiesing handel, aflei dat ‘n (kommerwekkende) groot persentasie kiesers nog geen belangstelling toon in wat aan die kom is nie.

Baie van dieselfde mense wat so maklik die vinger na “die swartes wys wat deur hul stemme vir die ANC hul onkunde toon” staan self agter die deur deur volstruispolitiek te speel en die gevaar te loop om deur hul stemme hul eie beginsels liederlik in die voet te skiet.

Die hele verloop van hierdie kwessie dui aan die een kant hoe wawyd wakker kiesers moet wees om hul kosbare stem reg te kan aanwend, en daarvoor moet die kiesers goed ingelig wees.

Dit toon egter ook duidelik dat die land op rasgronde aan die versuil is. Wanneer versuiling goed gevestig is, sorg diegene in elke suil bloot vir diegene in daardie suil, of silo.

Versuiling wys gewoonlik na sosio-ekonomiese klasse, maar in Europa het dit met die voortdurende immigrasie van mense wat ook anders glo (Moslems) en lyk, nou so ‘n raskarakter aangeneem dat dit ‘n warm besprekingspunt geword het. België en veral Nederland word in onlangse ‘n verslag van die Europese Raad daarvan beskuldig dat hulle erg “populisties en nasionalisties” geword het – kwalik bedekte kodetaal vir rassisties.

In België het die Vlaamse koerant, De Standaard, met ‘n veldtog begin om voorvalle van rassisme aan die man te bring en aan te spreek. In Nederland reageer verskillende partye oor waarin hulle meen die oplossing lê, want Nederland het immers ‘n aktiewe ingetrasieprogram, wat plek-plek met byvoorbeeld skole-integrasie stil-stil laat vaar is.

Jacques Wallage, buitengewone hoogleraar Integratie en Openbaar Bestuur aan die Rijksuniversiteit Groningen skryf wydlopend hieroor in ‘n artikel wat onder meer in Trouw gepubliseer is, soos volg: “Samenleven in een multiculturele samenleving gaat over verbinden en over uitdagingen aangaan. De kunst is om vanuit de eigen identiteit een betekenisvolle relatie met anderen op te bouwen… Bij het samenleven van mensen met verschillende culturen krijg je te maken met tal van onzekerheden, ongemakken en onduidelijkheden vooral omdat leefstijlen en opvattingen kunnen botsen … Ze hoefden niet te worden als de ander, de katholieken hoefden niet protestants te worden, de handarbeiders geen intellectuelen, de vrouwen geen mannen, maar ze moesten wel de leefwereld van anderen leren begrijpen, er respect voor opbrengen en er een verbinding mee (kunnen) aangaan. En, zeker zo belangrijk, want integratie is een wederkerig proces, de samenleving moest zich openstellen voor de wensen, verlangens en ambities van al deze emanciperende groepen en individuen.”

Wallage is ‘n oud-parlementslid van Joop den Uijl se Arbeidersparty wat erg krities teenoor apartheid was.

Ander rolspelers in Nederland plaas die fokus nou eerstens op die beskerming van minderheidsregte, sodat minderhede minstens nie diskriminasie ervaar nie.

Die politici weet wat hul kiesers verlang – en dis nie altyd in algemene belang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pieter ·

Onthou Flip Buys het in die verlede die vakbond Silidariteit se lede aangemoedig om DA te stem.

Gerrie ·

Die DA sal meer neig na hierdie tiepe populistiese optrede omdat hulle meer stemme wil werf. Verder maak hulle (vir nou) daarop staat dat blankes soos skape vir hulle sal stem.

Met die EFF in die prentjie sal die ANC moontlik meer na links neig om kiesers tevrede te stel, net om weer op sy beur weer die DA op sleeptou te neem.

Cyberjerk ·

Die rede vir die min kommentaar in Nasperskoerante kan toegeskryf word aan die huidige boikotaksie teen Naspers asook dat Nasperskoerante al hoe meer irrelevant raak. Dit gons wel op sosiale webwerwe.

Gemsbok ·

Die beste manier om die DA te oorreed om van beleidsrigting te verander, is om in die komende verkiesing vir ‘n party te stem wat teen ras-tellende aksie is.

Indien hulle sien dat hulle spesifiek weens verkeerde beleid kosbare stemme verloor, dan sal hul hul beleid heroorweeg.

Om vir die DA te stem en te hoop vir die beste sal hulle nie van hulle fout laat afskeid neem nie.

Stem in die komende verkiesing VF+ en as die DA vir jou omgee sal hy sy beleid verander en kan jy weer volgende keer vir hom stem.

As die DA nie nou ‘n les geleer word nie, gaan hulle ons net soos die NP gebruik en weerloos agterlaat wanneer dit hulle pas.

Cyberjerk ·

Business Day het verlede week ‘n lang skrywe gepubliseer oor die VF en sy leier Pieter Mulder. Hierdie skrywe is ook wyd op die sosiale media versprei. Daarin beskuldig hulle die VF se verlies aan kiesers direk toe aan Mulder se deelname aan die ANC-regering. Hy moet per slot van sake sy meesters se opdragte uitvoer. Ekself stem nie ANC dmv die VF nie. As Mulder onttrek aan die ANC sal ek weer stem, en vir die VF stem.

Nico Kruger ·

Ek dink nie ons kan seker wees die VF se stemme het gedaal as gevolg van Pieter Mulder se pos as adjunk minister nie, want daar was nog nie weer ‘n verkiesing nie. Die VF se stemme daal sedert 1994, bloot omdat die kiesers nog nie die nuwe proporsionele kiesstelsel verstaan nie. Ek glo Mulder het goed bedoel om die pos te aanvaar. (Ek werk in die staatsdiens en kon vir hom gese het dat ‘n adjunk minister geen invloed het nie. Hy is heeltemal buite die hierargie van die staatsdiens.) Maar hy het geredeneer dat om nie te pos te neem nie, gaan ook niks help nie. Net soos die VF in 1994 besluit het dit gaan niks help om nie te stem nie, en soos Andries Beyers in 1993 gevoel het dit gaan niks help om nie te onderhandel by codesa nie. Ja, ek erken om te onderhandel, te stem en deel van die kabinet te word het ook nie gehelp nie, maar om alles te boikot, nie te stem nie en net te sit en kla ook nie. Dan beter en probeer minstens iets doen al is die kans op sukses ook hoe klein.

Frik Lotz ·

Hoe kan n stem vir die VF Plus n stem vir die ANC wees net omdat Pieter Mulder adjunkminister is? Dis al holrug gery en DA propaganda teen die VF Plus. Feit vd saak is die DA het vir die wet gestem en die VF Plus daarteen. Wie is nou saam die ANC? Daar is geen verskil meer tussen die DA en ANC nie en hulle wedywer nou om swart stemme te kry. Die DA het sy rug gedraai op minderhede en dis tyd dat minderhede hul rug nou draai op die DA. Die VF Plus is die enigste party wat opstaan en sterk staan vir minderheidsregte. My stem sal altyd gaan aan die VF Plus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.