Nuuskommentaar: Begroting ʼn Tekleinding vir politieke kombers?

Minister van finansies, Nhlanhla Nene Foto: Departement van kommunikasie

Minister van finansies, Nhlanhla Nene Foto: Departement van kommunikasie

Die laaste aantal jare probeer die ANC sy “goeie storie” aan kiesers verkwansel; ’n “goeie storie” te midde van openbare protes wat nie net verlede jaar ’n nuwe rekordvlak bereik het nie, maar al hoe gewelddadiger word. (Lees gerus Maroela Media se nuuskommentaar: Raak Suid-Afrika lag-lag onregeerbaar?

Daar is ’n goeie storie, maar hoeveel daarvan te vertelle is ongeag die regering eerder as gevolg van die regering, is ’n ope vraag. Net soos apartheid, het poele van ekonomiese voortreflikheid ook ’n vermoë om ’n sleureffek te hê om minstens ’n tyd lank in ’n klimaat te oorleef wat institusioneel en logisties minder bevorderlik vir gesonde ekonomiese groei en werkskepping is.

Ministers van finansies is bekend daarvoor dat hulle met begrotingsredes ’n ongelooflike haas uit die hoed kan pluk. In die begrotingsrede word ’n skynbaar onoorkomelike probleem dikwels skynbaar moeiteloos oorkom. In plaas van die verwagte styging in inkomstebelastingkoerse is daar eerder verligting (al is dit eintlik net ’n inflasie-aanpassing).

Die minister sal môre die vleis aan die raam (probeer) sit. Dié keer, so lyk dit egter, sal minister Nhlanhla Nene ’n besonder taai neut moet kraak om die haas losgelaat te kry. Sommer met die wegspring is Jan Taks met miljarde agterstallig. Die kaderbeleid beteken miljarde word aan konsultante spandeer – konsultante wat soms die wa van die wal in die drif help sleep.

Eskom en ander instansies in staatsbesit soos die Poskantoor en die SAL bly liederlik in die knyp.

Deur ’n kabinetskommeling het Nene se voorganger nie genoeg kans gehad om te wys hy het die tande om besparingsmaatreëls af te dwing nie. Veral munisipaliteite het bloot voortgegaan om nuwe, luukse rygoed aan te skaf en vir die minister ’n toffie gegooi. Gaan Nene die murg in die pype hê om byvoorbeeld die peperduur ekskursie van ’n reuse-afvaardiging van premier Ace Magashule na Kuba, peperduur webwerwe en ander onverklaarbare gelaaide rekenings aan bande te lê?

Dus, tot watter mate ploeg die ANC-regering met anderman se kallers? En dit sal ’n lekker baklei afgee of ’n fyn spoortjie hiervan tot Jan van Riebeeck teruggevoer kan word.

Maatskaplike pensioene is aansienlik uitgebrei – maar daarmee saam ook maatskaplike afhanklikheid. Die belastingbasis bly erodeer.

En terwyl die inkomstegaping vergroot, sal diegene wat tot die persoonlike en maatskappy-belasting bydra, in beginsel minder word, maar al hoe meer bydra.

Met die huidige boekjaar, so lyk dit, het die knyptang met mening toegeslaan. Uit die Vrystaat kom die nuus dat van die staatsdepartemente, waaronder gesondheid en onderwys, met enorme skuld sit. Munisipaliteite skuld miljarde rande aan Eskom en die waterrade. Soweto se elektrisiteitskuld is al jare lank ʼn astronomiese bedrag. Die balju het beslag gelê op ʼn groot deel na Mahikeng se bates.

Slaggate op paaie is ’n algemene verskynsel – ’n kombinasie van te min wat daarop spandeer word, en tenderpreneurskap.

In sy vooruitskouing van die begrotingsrede noem PWC die begroting Nene se vuurdoop, maar meld ook dat dit die moeilikste begroting sedert die aanbreek van die nuwe bedeling sal wees.

Ekonome sal na die lewering van die begrotingsrede kan oordeel of die begroting ekonomies-vakkundig haalbaar sal wees.

Die bedoeling hier is egter om te kyk of die begroting aan die kwaal van politieke beloftes kan voldoen, en die antwoord is op die oog af, nee.

Hoe word die nodige geld vir die allernoodsaaklikste gegenereer? Laat staan nog vir die voed van die kwaal van luukse verblyf, oorsese ekskursies en spyseniering genoeg om ’n weermag te voed.

Word die hoër inkomstegroepe te hard geslaan, loop die Inkomstediens die gevaar dat verbruikerbesteding sal afneem, en die inkomste uit BTW kan afneem.

Word BTW verhoog, sal dit die spanning tussen die ANC en sy vakbondvennote onder nog groter druk plaas.

ʼn Te groot verhoging in die brandstofheffings kan die land se ekonomie knak as die internasionale olieprys weer die hoogtes inskiet.

Beurtkrag kan voortgaan om die ekonomie onder druk te plaas wat die belasbare inkomste onder nog groter druk plaas.

Gaan die verlies aan kundigheid by Jan Taks uiteindelik deursuurdeeg dat al hoe meer belastingontduiking kan plaasvind, veral onder diegene met gesonde politieke bande?

’n Te snoep hand kan weer behoorlik lewe in die stakingseisoen blaas, wat ook ’n impak op belasbare inkomste het.

Met die ANC wat besig is om steun te verloor (geoordeel aan verlede jaar se algemene verkiesing) is dit sekerlik wensdenkery dat die regering hom van die kwaal van onuitvoerbare beloftes sal genees – in elk geval nie met die landswye munisipale verkiesings wat aanstaande jaar voorlê nie.  Op die oomblik is daar min rede om te glo die diensleweringsproteste neem vanjaar af, wat nie ’n verkiesingsjaar is nie. Selfs die kleine Verkeerdevlei het deurgeloop met geboue wat afgebrand is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.