Nuuskommentaar: Behoort Zuma die staatsrede te lewer?

Staatsrede 2015 (Kaapstad) Foto: Linda Mthombeni, departement van kommunikasie

Staatsrede 2015 (Kaapstad) Foto: Linda Mthombeni, departement van kommunikasie

Pres. Jacob Zuma lewer Donderdagaand sy staatsrede. Maar is Zuma ’n geskikte persoon om so ’n staatsrede te lewer na al die kontroversie waarin hy beland het? Die kort antwoord is “nee”.

Min mense verwag iets besonders, veral omdat die ANC ’n tradisie ontwikkel het om by vooraf-geleenthede die sluier te lig oor belangrike elemente wat in die toespraak vervat gaan word. So word die eintlike doel – dat die staatshoof bo die partypolitiek en die belange van die meerderheidsparty kan uitstyg, grootliks in die voet geskiet.

Een van die hoofoogmerke van ’n staatsrede is om ’n nasie te inspireer om visioenêr saam te trek in die beste belang van die land en al sy mense. In die VSA, war die gebruik sy ontstaan het, word dit dan ook die “State of The Union”-rede genoem (die stand van die unie, of te wel om saam te kan staan).

Die eerste staatsrede is in 1790 deur pres. George Washington gelewer. Dit is egter na Washington onderbreek deurdat sy opvolgers gevoel het dit is te monargisties, en die daaropvolgende presidente het daarom eerder geskrewe verslae na die Kongres gestuur wat deur ’n klerk voorgelees is. Thomas Jefferson het weer die staatsrede in persoon voorgelees en dit is sedertdien ’n instelling, hoewel daar afwykings was. Die laaste president wat dit in die vorm van ʼn geskrewe verslag gelewer het, was Jimmy Carter.

Die boodskap wat hieruit straal is dat die inhoud belangriker is as die fier en fanfare waarmee dit sedertdien wêreldwyd ontwikkel het. In die proses het daar ʼn tradisie ontstaan oor hoe ’n staatsrede aangebied moet word.

Veral in Suid-Afrika het dit egter ʼn peperduur affêre geword waartydens ’n leë eier oopgebreek word.

Die inleiding, volgens internasionale konvensie, bestaan gewoonlik uit die verwelkoming, wat weens protokol lank kan wees.

Hierna moet regstreeks na die kwessie op die agenda beweeg word: Wat is die stand van sake in die land? Die idee is om aan te dui of sake beter of swakker as ’n jaar tevore is, of onveranderd.

Die volgende deel is om te fokus op die belangrikheid daarvan dat almal saamtrek, met die idee om dinge nog beter te maak. Probleme word uitgewys wat aangespreek moet word om hierdie verbetering teweeg te bring, en voorbeelde van hoe dit reeds vermag is, word genoem.

Die uitdagings kom hierna aan die beurt, wat ook insluit dat probleme genoem moet word. Dit is tipies hier waar die president iets dramaties sal aankondig soos die “oorlog op armoede”. Onder die omstandighede sou hierdie ’n geskikte punt wees waar Zuma aankondig dat hy uit die politiek tree.

Die voorlaaste deel staan in die VSA bekend as die deel waar die president “the right stuff” sê.  Prestasies van die verlede, die land se sterkpunte en oomblikke van glorie word genoem.

Die toespraak word afgesluit met die groot finale – “Die Here seën die land.”

In 2007 het die Sunday Tribune opgemerk dat die destydse president, Thabo Mbeki, se staatsrede aan alle aspekte van belang geraak het, en selfs half verbaas opgemerk dat die president ongewoon baie tyd aan misdaad spandeer het. Die doel van ’n staatsrede is nie om in baie detail in te gaan op elke aspek nie – bloot genoeg om visioenêr die toekoms aan te spreek.

Miskien is dit makliker om die bedoeling van ’n staatsrede op te som deur aan te dui wat dit nié is nie: Dit is nié ’n intervarsity se “groot brag” nie. Dis nie ’n verkiesingstoespraak nie. Dit moet realisties en nugter wees.

Die eerste probleem is dat Zuma, anders as die Amerikaanse presidente en die meeste presidente wat ’n tradisie van staatsredes het, nie regstreeks deur die bevolking verkies word nie, maar as partyman deur die regerende party in die pos geplaas word. Dit verg ʼn besondere persoon om vanuit dié posisie as dienskneg van die party, bo partybelange te kan uitstyg en die land in nasionale belang te kan lei. Zuma het nie juis hiermee uitgeblink nie.

Sal Zuma die volgende uitdagings van die land behoorlik kan aanspreek?

  • Die Eskomkrisis: Dit sal van Zuma ’n besondere Damaskuservaring verg om nou die spyker op die kop te slaan want tot dusver hou hy halsstarrig vol om apartheid hiervoor te blameer. ’n Minister het selfs onlangs daarop geroem dat Suid-Afrika 60% van die kontinent se elektrisiteit opwek – ’n erg verouderde stelling. (Suid-Afrika se elektrisiteitsbehoefte is 28 000 MW, terwyl Egipte se totale leweringskapasiteit 22 500 MW is).
  • Rassisme: Hoewel Zuma pas ’n paar regte geluide gemaak het, en in Beeld se hoofartikel daarvoor geloof word, het hy in dieselfde toespraak ook sekere uitlatings gemaak wat daarop dui dat hy gans te diep in sekere vooropgesette en foutiewe idees vasgevang is om hier die regte koers aan te dui.
  • Die ekonomie: In Moneyweb skryf Hanna Barry dat die Nasionale Ontwikkelingsplan al meer in die vergetelheid sal bly wegdryf namate die regering se aandag op mislukte staatsonderneings gefokus bly. Niemand, maar niemand verwag dat Zuma die groot aankondiging sal doen dat alle SAKP-lede uit die kabinet weggelaat sal word, sodat behoorlike ekonomiese kragte losgelaat kan word nie.
  • Misdaad: Zuma sal wel hierna verwys, maar dit sal ʼn groot verrassing wees as hy die olyftak uithou en aankondig dat plaasaanvalle tot prioriteitsmisdaad verklaar sal word. As statistiese uitskieter behoort dit egter te gebeur.
  • Arbeid: Suid-Afrika het onlangs ʼn internasionale verdrag geratifiseer 21 jaar na dit geteken is, wat onder meer die reg om te werk erken (ons grondwet erken net die reg om te staak), en wat heelwat van die huidige “affirmative action” en SEB-maatreëls buite orde plaas. Zuma het ’n ideale geleentheid om aan te kondig hoe dit die wetgewende program gaan beïnvloed.

Daar is talle ander kwessies wat kommer wek en roep om aangespreek te word, soos hoe die SAOG so flink uit die vere is om enige gekonkelde verkiesing as vry en regverdig te verklaar. Die jongste voorbeeld was die Zambiese presidentsverkiesing waar Verslaggewers Sonder Grense ’n ellelange lys van media-oortredings gepubliseer het wat die speelveld ongelyk gemaak het. En Suid-Afrika is deel van die SAOG – watter boodskap stuur dit aan die Suid-Afrikaanse kiesers oor hoe vry en regverdig volgende jaar se munisipale verkiesings sal wees, en hoe werklik onverbonde die SAUK sal wees as Suid-Afrika die SAOG gewoon napraat?

Môreoggend, DV, word ’n verkorte, Afrikaanse “weergawe” in Nuuskommentaar gedra van hoe die staatsrede daaruit behoort te sien, maar moenie duim vashou dat Zuma daardie kwessies enigsins sal aanspreek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Fanie ·

Ek sou wou sien dat hy die minister van finansies en ook die baas van die reserwebank uitnooi om die stoel by hom oor te vat. Hy het geen, maar geen geloofwaardigheid nie. (Ramaphosa sal ook nie deug nie, hy is ook net ‘n tjap.)

Hy was nooit, van meet af, bevoeg om president van die land te wees nie. Baie van ons het dit der jare gelde met die eerste dag van sy eerste termyn al hardop gesê. Daardie tyd was dit nie gewild om dit te doen nie, ook was dit nie polities korrek en ordentlik om dit van die land se president te sê nie.

Ek self het toentertyd in Beeld sodanige kommentare en briewe geskryf, maar was ek verguis deur die polities korrektes, ook deur ‘n sekere persoon van Danabaai. Vandag is daar nie een koerantredakteur of kommentator wie dit nie sê nie. Tim, almal, die lot.

Die draaiboek is egter geskryf, en is dit vir ons in die wieg gelê dat die wat wil na Zuma sal luister, al is dit net om te kyk of hy nie sy naam dinges wil maak nie. Die ander sal kyk om te sien of Julius dalk geskiedenis kan maak en of Me Mbete hom met haar soldate en spesialis eenhede gaan keer.

Chris ·

Ai mense .
Julle moet die ware probleem raaksien.Die man is onbekwaam .sonder twyfel geen argumente hier nie.Die probleem le egter ,hoe het hy daar gekom?Die massas het vir hom gestem,hulle het mos geweet as hulle ANC stem wie die leier van die land gaan wees.Ek wil weer se ,ons leef in Afrika,dis soos dit werk hier.Moet nie arme Zumpie die skuld gee nie dieselfde sal gebeur met die volgende leier .Logika ontbreek of altans westerse logika(hoe anders is dit moontlik om vir laerskool geleerde te stem as staatshoof x2!).Hoe kry Malema dit reg om binne een verkiesing so opslae te maak?

“Een van die hoofoogmerke van ’n staatsrede is om ’n nasie te inspireer om visioenêr saam te trek in die beste belang van die land en al sy mense.”
Dit is so ,dit is om ‘n nasie te inspireer.Hierdie nasie waarvan gepraat word bestaan net in ‘n paar verkramte libs se koppe.Dis nou “manne” soos kopdoek, ou Pierretjie ens.

Jy kan nie die skapie tussen die jakkalse wees, as daar gestem word wat is op die spyskaart vandag nie.Dit sal oor en oor jy wees.
Al wat ek se is om die mense in die politiek soos hy nou daar uitsien te verwyder is onmoontlik.
Raak betrokke by jou eie en maak daar ‘n verskul,hierdie mense sal mekaar verslint.

Fanie ·

Hierdie sirkus draai om drie narre: Julius, Mbete en Zuma. (In volgorde van balangrikheid.)

Wat ‘n grap het ons nie geraak nie. En dit gaan gebeeldsend word. Ek kan nie sien dat hulle gaan toelaat dat Julius daar opstaan nie, tensy hulle alle beelde en die uitsending gaan sny. Ek kan net nie glo dat hulle dinge hul gang sal laat gaan nie.

Wat moet gebeur moet gebeur. As jy jou bed gemaak het …

Fanie ·

Onwetend het Mbete vir Julius die platvorm geskep. As sy dinge verlede jaar reg hanteer het, was die spul nie waar hulle nou is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.