Nuuskommentaar: Belarus – stryd nie net om vryheid, maar ook die waarheid

Alexander Loekasjenko. (Foto: Nikolai Petrov/BelTA, Pool Photo via AP)

Die opstand in Belarus handel nie net oor vryheid en demokrasie nie, maar veral oor die waarheid. Pres. Alexander Loekasjenko regeer nou al 26 jaar, en volgens sy verkiesingskommissie het sy party pas 80% van die stemme in ’n algemene verkiesing gewen. En dís daar waar die kinkel inkom – as ’n mens wil lieg, moet die leuen darem ten minste geloofwaardig wees. Met derduisende ontevrede burgers wat nou oor die hele land in parke en ander oop ruimtes saamtrek om beswaar oor die verkiesingsuitslag te maak, is daar geen manier waarop die amptelike aankondiging as geloofwaardig beskou gaan word nie.

Die bevolking ken Loekasjenko al langer as ’n kwarteeu in die stoel. Hy is bekend as iemand met min ooghare vir die vryhede en regte wat die demokrasie veronderstel is om te bied. Buitendien word die president se omgang met die waarheid erg bevraagteken – dermate dat van die plakkate wat die betogers nou vertoon openlik meen dat daar ’n hele klompie varkies nie op hok is nie.

Waar die polisie aanvanklik erg hardhandig op die betogers toegeslaan het, is die polisie nou skoonveld of selfs deel van die betogings. Die betogers kon ook talle wonde vir hul behandeling onder aanhouding wys.

Loekasjenko self het hom tot sy tradisionele bondgenoot, Rusland, gewend om te help, en na berig word, het pres. Wladimir Poetin sy steun beloof. Talle betogers glo egter nie Poetin sal Loekasjenko te hulp snel nie – hulle is dan self groot Poetin-ondersteuners.

Die land, voorheen deel van die Sowjetunie, het twee amptelike tale – Russies en die nou-verwante Wit-Russies. Rusland beheer ongeveer die helfte van Belarus, ook bekend as Wit-Rusland, se ekonomie. Wit-Rusland se bevolking is ook meestal lede van die Russies-Ortodokse Kerk. Albei tale gebruik die Cyrilliese skrifstelsel. Daar is jare lank onderhandel om Rusland en Wit-Rusland te laat saamsmelt in een land.

Die stryd dryf egter verder as net een van streef na die waarheid. Met die aanvanklike toeslaan van die polisie op die betogers het verskeie met hul lewe betaal. Op die oog af lyk dit of die oorledenes doodgemartel is. Verskeie word egter ook vermis sedert hulle aangekeer is, en die opstandelinge meen dat diegene wat nou soek is ook gemartel word. Met die optogte of betogings lewer die leiers geen toesprake nie, en geen musiek word gespeel nie.

Baie mense glo dit is net ’n kwessie van tyd voor die president voet in die wind gaan slaan.

Wat onrusbarend is, is dat daar ’n enorme ooreenkoms is tussen wat nou in Wit-Rusland gebeur en wat die afgelope dekade en ’n aks in Suid-Afrika gebeur. Pres. Jacob Zuma was immers internasionaal berug vir die mate waartoe hy die waarheid met ’n stokkielekker gesus en as toffie verkwansel het. Trouens, op Google is daar meer as 31 000 trefslae wat op die sinsnede “Zuma se leuens” reageer. En dis net die Afrikaanse trefslae.

Tot dusver lyk dit ongelukkig nie of pres. Cyril Ramaphosa veel beter vaar nie, ná hy sommer vroeg in sy bewindstydperk sy geloofwaardigheid erg geknou het met sy stelling dat daar nie plaasaanvalle in Suid-Afrika is nie. Of dit sy raadgewers is wat as vyfdekolonners optree, of die president wat op eie houtjie kluitjies gebak kry … alles dra daartoe by dat die land al hoe moeiliker word om regeerbaar te bly, en die beeld van die land al hoe sterker die aanskyn van ’n piesangrepubliek of selfs ’n kakistokrasie aanneem.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kosie

Die manier hoe Loekasjenko sy mag behou is deur die veiligheidspolisie te gebruik om enige rebellie te onderdruk; dit is maar soortgelyk aan wat Mughabe ook gedoen het met sy weermag en polisie. Lyk my dit is die manier van alle diktators. Verder speel Loekasjenko konstant Rusland af teen Navo, net soos Turkey ook gereeld doen. Die laaste waarvan ek van bewus is, is Loekasjenko weer nader aan Navo as aan Rusland, so ek betwyfel of Poetin hom enigsins sal help met interne probleme.

JohanR

Suid Afrika – stryd nie net om vryheid, maar ook die waarheid!