Nuuskommentaar: Belastingboikot en korrupsie

Malusi Gigaba. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die minister van finansies maak daarop aanspraak dat daar ’n verband is tussen belastingontduiking en die voorkoms van korrupsie. In kuberkommentare onderaan berigte oor korrupsie en staatskaping vra deelnemers inderdaad al lank vir ’n belastingboikot, en het hulle stellig iets meer georganiseerds in gedagte as dit wat skynbaar nou gebeur.

Wat met stelligheid gesê kan word, is dat dit nie vreemd is as die belastingbetalende publiek onwillig raak om (al hoe meer) belasting te betaal nie, as die regering en regeringslui lustig voortgaan om op reuseskaal daardie einste belastinggeld te vermors.

Van raadslede van munisipaliteite wat diep in tamatiestraat is, wat luukse oorsese besoeke bring, tot provinsiale hospitale wat die reputasie kry van ’n plek waar ’n mens weens versuim of slegte behandeling doodgaan, tot staatsdepartemente en ministers wat die duurste hotelle benut, by tenderbedrog betrokke is… en so kan die lysie al langer gemaak word. Selfs die dooies kry reusemeevallers – benewens die begrafnisskema waaraan raadslede behoort, word gereeld enorme bedrae vir begrafnisse (lees politieke saamtrekke) beskikbaar gestel.

Te midde van die een skokkende onthulling oor staatskaping na die ander, word berig dat die Guptas ’n BTW-terugbetaling, skynbaar in die vorm van ’n meevaller, van R70 miljoen ontvang het. Hoeveel blymoedige gewers bly oor onder die pligsgetroue mense wat noustrop trek namate die ekonomie verswak?

Volgens die minister van ekonomiese sake, Ebrahim Patel, kos korrupsie die land jaarliks minstens R27 miljard. Dit is net meer as die helfte van die verwagte begrotingstekort. Ander stel die verlies op sowat R160 miljard per jaar. Staatskaping kos die fiskus glo tussen R150 en R250 miljard per jaar.

Op die oog af lyk dit of die land sy begroting met toe oë kon laat klop as staatskaping en korrupsie na behore vasgevat word, en nie tyd in die howe gemors word om te keer dat staatskaping behoorlik onder die loep geneem word nie.

Wie is nog lus om sonder ’n lang gesig belasting te betaal?

Hierdie is geen oproep om die wet te verbreek nie. Daar is wel maniere om veral op plaaslike regeringsvlak sake wat werklik skeef is reg te stel, soos om ’n wettige dispuut te verklaar.

Die minister maak nie daarop aanspraak dat die verset teen korrupsie alleen vir die tekort van meer as R50 miljard verantwoordelik is nie. Die stadiger ekonomiese groei het ook die belastingbasis verklein. Boonop is ekonome dit nou min of meer eens dat Suid-Afrika binnekort volledige rommelstatus, in plaas van die gedeeltelike rommelstatus tans, gaan beleef. Dit behoort weer die koste aan die diens van lenings om die tekort aan te vul te verhoog.

Die groot vlieg in die salf dat die ekonomie hou op hou toegedien word, bly egter soos ’n neet klou, en het onder meer die minister se mini-begrotingsrede aangehoor (behalwe skynbaar ’n gedeelte toe hy ’n uiltjie geknip het).

Die ANC veroorloof die land luukshede, wat selfverryking ten koste van die land insluit, maar die land en sy gewone mense betaal die prys.

En solank bevoegde mense nie op alle vlakke aangestel word nie, gaan belaglikhede ure se frustrasie en naderhand regskostes oplewer, soos die geval van ’n Bloemfonteinse man wat meer as ’n jaar moes spook ná die munisipaliteit ’n tweede eiendomsbelasting op sy huis op ’n hoekerf begin hef het – een vir elke straatadres.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

dries ·

Die tyd is reg vir n Totale belasting boikot! Waar is die bekwame regslui om ons hiermee te help asseblief?

Jaybee ·

Sal verseker belasting boikot as ek seker is dat ek nie vervolg sal word nie.

Ou Entrepreneur Sakeman Spaarder Belastingbetaler Erdvark ·

1) Alle lede van die publiek, opposiepartye en joernaliste behoort vrye toegang te kry tot alle vergaderings waar besuite oor tenders geneem word: opstel van tenders en toestaan van tenders en monitering van kontrakteurs se prestasies; en
2) Staatsdepartemente wat hul begrotings oorskry se leierskorps se salarisse moet dienooreenkomstig verminder word; en
3) Staatsdepartemente wat appèlleer teen Hooggeregshofbeslissings en hul appèlle verloor, se leierskorps moet gesamentlik die appèlkoste uit eie sakke betaal.

RB ·

Die probleem is nie wat gedoen moet word nie. Voorstelle soos joune is daar baie van. Die probleem is dat diegene in beheer geen belangstelling het om dinge reg te kry nie…al wat hulle in belangstel is hoe hul hulself kan help.

Ek dink amper almal sou aan ‘n belasting boikot wou deelneem, maar die probleem bly, wie is eerste, en gaan die res van ons daardie persoon bystaan wanneer hy vervolg word? So boikot sou grootliks gekoordineer moet word op ‘n vlak waar dit nie vervolgbaar is nie. Ek dink een van die enigste organisasies wat dit dalk kon regkry is Afriforum…ek hoop iets word beplan.

Veritas ·

Laat ons nou maar eerlik wees. Dit is ‘n Afrika-ding wat nie gaan verander voordat die massas geletterd is nie. Diegene wat na dese nog die ANC ondersteun, is duidelik óf onbewus van die ware toedrag van sake óf trek voordeel uit die korrupte omstandighede. Daar kan geen ander rede wees nie.

Loeis ·

Is jy die man wie met die Bloemfonteinse munisipaliteit moes baklei, Herman?

Van subtiel gepraat: jy noem dat bevoegde mense aangestel moet word. Vergun my om die probleem te uit te spel: Affirmative Action staan vierkantig in die pad daarvan.

Herman Toerien ·

Hallo Loeis. Nee, dit was vier huise van my af. Ons het die saga dus redelik goed gevolg. Nou help ons weer iemand wat haar kleinhoewe leet verdeel het. Die nuwe eienaar van die onbeboude deel bou toe ‘n huis op sy deel. Nou word die vrou vir twee huise aangeslaan en die koper vir ‘n onbeboude hoewe. Nog geen duit gevorder om dit te laat regstel nie. H

johan II ·

N wettige boikot is ons enigste hoop. GEEN politieke party, of die ANC massa sal dit steun nie…want dit gaan hul allmal raak…Outa of Afri…los die kriminele vervolging (hul is allmal skuldig), vat die geld weg.

Attie No1 ·

Ek gaan eerlik wees: Ek ontduik belasting op n ekstra inkomste wat ek kry. Ek wens ek kon dit op alles doen. Maar ek wil op iets anders fokus, ek glo dat belasting per definiesie oneties en diefstal is. Altyd as ek dit se, wil mense die bybel aanhaal, maar lees asseblief mooi: Die Bybel verduidelik goed; hulle het Jesus met n strikvraag tegemoed gekom en hy het hulle n strik-antwoord besorg.

Betaal aan God wat aan God toekom en aan die Keiser wat aan die Keiser toekom: Maar wat kom God toe? Die antwoord is alles!! So waarop is die keiser geregtig? Niks!!!!

Carina Gous ·

Stig ‘n spesiale trust en almal betaal hul belasting daarin met een reuse boikot. Daardie geld word dan direk gebruik om dit wat nodig is by hospitale, skole, behuising, ens te doen en te voorsien. Sodra die regering beter mense aanstel en korrupsie opsigtelik afneem kan hul van die geld kry. Daar is baie eerlike en bevoegde kontrakteurs wat uitstekende werk kan doen…

Nico K ·

Nee Attie. As daar nie belasting is nie, wie gaan die polisie en weermag ens betaal? Daar is baie dienste in die land wat nie geld maak nie. Iemand moet vir daai dienste betaal. Maar ek moet ‘n opmerking maak oor die Minister se vermoë om korrupsie te bekamp. Hy kon dit nie in Binnelandse sake regkry nie.

Attie No1 ·

Nee Nico K, Daar is geen diens of funksie wat n regering (op nationale vlak) verrig, wat jy nie kan privatiseer nie. Nie n enkele een nie, jy kan dalk van daardie dienste/funksies afskuif munisipale vlak toe, maar ook net as jy wil. Jy noem Polisie maar daar is 4 maal meer privaat sekuriteit in SA as polisie en weermag saam, so as ek my belasting geld kon hou kon ek baie beter medies, skole en polisie bekostig.
Om ander met diefstal(belasting) te dwing om vir jou dienste te betaal is oneties. En selfs al kan dit nie anders nie, is dit n barbaarse vorm van finansiering.

johan II ·

100% Attie, dis n totaal uitgediende stelsel wat te lank hardwerkende mense verslaaf om vir luiards te betaal…gaan kyk maar na Griekeland, dis waarheen ons oppad is, en ook reg so. Eks so gatvol vir die twak.

John ·

Die rede vir Griekeland se finansiele verknorsing berus juis op die sienswyse dat dit bog is om belasting te betaal en dat die regering om elke hoek en draai verkul behoort te word ~ ‘n gebruik wat reeds eeue oud is. Lenings op lenings is gevolglik aangegaan en die skuld is hemelhoog. Natuurlik verwag almal tot haarkappers om ouderdomspensioene ‘eendag’ te ontvang en dit is stewige bedrae. En noudat immigrante die landsgrense oorspoel word hierdie selfde skuld gebruik om die land te dwing om mooi te luister vir die EU-grootbase en uit te help met die groeiende massas van elders af vir nog meer lenings en ‘hulppakkette’ … ‘n Griekse tragedie op sy ergste…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.