Nuuskommentaar: België, proefbuis vir impak van diversiteit op ’n grondwet

Die koninklike paleis in België. (Foto: Twitter)

Opsomming: In die internasionale politiek geld die beginsel gewoonlik dat ’n unitêre grondwet nie op ’n heterogene bevolking van toepassing gemaak kan word nie. Dit geld byvoorbeeld vir lande soos Indië, Rusland (asook die ou Sowjet-Unie) en België. Suid-Afrika het presies die teenoorgestelde koers ingeslaan, en betaal daagliks die prys. Maar hoekom krap dinge dan in België?

België was enkele jare gelede die demokratiese land wat die wêreldrekord gehou vir die langste om sonder regering te wees – ’n aanduiding hoe belangrik dit is dat ’n land ook ’n gepaste staatkundige model in sy grondwet moet ingebou hê. Nou, na Mei verlede jaar se verkiesing, kon nog geen koalisieregering beding word nie. Oor die naasliggende Nederland het joernaliste al gesê daardie land se politiek is ver te skisofrenies vir buitelandse joernaliste om te verstaan, maar in vergeleke met België speel Nederland wat dit betref in die kinders se junior liga, terwyl België in die volwasse superliga sy staal toon.

Een faktor help darem om België se situasie te verstaan: Suid-Afrika, waar die land die gevolge dra van ’n onderhandelde grootliks unitêre grondwet vir seker een van die mees heterogene bevolkings ter wêreld. Boonop maak wêreldwye migrasie, onder andere in die vorm van vlugtelinge en ekonomiese migrante, dat al hoe meer lande geleidelik meer heterogeen word. Dit lei dikwels tot ’n toename in misdaad, soos in Swede wat eens besonder misdaadvry was, met ’n skerp toename in verkragtings.

Nie baie lank gelede nie was België sterk deur sy Walloniese (Franssprekende) burgers oorheers, met die Franssprekende koningshuis aan die voorpunt. Nou sit die skoen aan die ander voet. Die Vlaamse (Nederlandssprekende) deel van die bevolking maak nou ongeveer 60% van die bevolking uit, en is in vergeleke met Wallonië heelwat welvarender. Trouens, Vlaandere moet jaarliks miljoene euro’s aan Wallonië oorbetaal om die Franssprekendes mee op te hef.

Brexit het boonop ’n bykomende kompleksiteit teweeg gebring. Brittanje was een van die Europese Unie (EU) se ryker lande, en dus ’n netto-bydraer tot die EU se begroting. Die ongeveer €70 miljard minder wat die EU nou jaarliks gaan in, word gevoel en ’n kommissie onder die leiding van Charles Michel moet nou uitwerk hoe die oorblywende lede se bydraes geraak word. Die sogenaamde surpluslande, lande soos Duitsland en Nederland, is egter byna so skaars soos hoendertande.

Michel is egter van Wallonië en was in ’n stadium die Belgiese premier. Wallonië is volgens die EU een van die armer dele, maar omdat dit deel van ’n ryker land is, word dit minder uit die EU gehelp as armer streke in armer lande. Volgens Michel se denke sal Wallonië nou minder of selfs dalk geen EU-begrotingshulp kry nie. Anders as in die hardwerkende Vlaandere is die sosialiste in Wallonië die grootste en trouens die oorheersende party.

As ʼn mens die spreekwoord in gedagte hou wat lui dat sosialisme goed werk tot iemand anders se geld op is, lyk dit inderdaad of Wallonië daarop staatmaak dat Vlaandere die hand nog dieper in die sak moet steek om die sosialistiese paradys te onderhou – eerder as om self die moue op te rol, en die byna daaglikse gepubliseerde advies van ekonome ter harte te neem. Michel se taak word beskryf as om water en vuur te versoen.

Wallonië deel daarom ook nie die separatistiese denke wat onder die Vlaminge aan die groei is nie. Die Walloniërs word hierin breedweg gesteun deur Vlaamse akademici en die media wat nie lekker vat wil kry aan die “primitiewe” volksnasionalistiese denke nie. België bied aan vakkundiges ook groter deelname aan die Franssprekende wêreld wat as prestige ervaar word. (Vlaamssprekendes word verplig om Frans op skool te neem, terwyl die Franssprekende Belge as van die mees eentalige gemeenskappe ter wêreld beskou word.)

Die “probleem” met die jongste federale verkiesing is dat die Vlaminge redelik oorwegend hul stemme gekonsolideer het in twee partye, naamlik die N-VA van die warmbloedige Bart de Wever, wie se denke in die rigting van konfederalisme neig, en die Vlaams Belang. Die N-VA is ook die grootste party in België. Die tweede grootste party in Vlaandere is nou die Vlaams Belang wat as’t ware van nêrens gekom het nie. Die Vlaams Belang is die herrese weergawe van die Vlaamse Blok wat deur die hof verbied is omdat dit rassisties geneig het. In die federale parlement is Vlaams Belang die derde grootste party, en het net twee setels minder as die Franstalige sosialiste. Trouens, Vlaamse partye het vyf van die ses top‑ politieke partye in die federale regering se parlement ingepalm.

Tom van Grieken, die Vlaams Belang se relatief gematigde leier, het sy party as potensiële deelnemer aan die federale regeringskoalisie onttrek, juis om sake vir die ander partye te vergemaklik. Maar vir die Franstaliges, wat steeds aan die eertydse Franstalige dominansie probeer klou, is die Vlaams Belang se terugstaan nie genoeg nie, en pas het die leier van die Sosialiste wyd verkondig dat daar “geen kans is” dat dit in ’n regering waarvan die N-VA deel is, sal deelneem nie. Vir die huidige koning, veel meer tegemoetkomend as sy pa en voorganger, en die Franssprekendes is dit ondenkbaar dat die party wat hulle as nasionalistiese tuiste vir die Franssprekendes beskou in die koue gelaat word. Trouens, dit word reguit gestel dat ’n skikking gesoek word wat nie deur die Vlaminge of Franssprekendes oorheers word nie.

Die koning het nou pas twee politieke leiers as regeringsbemiddelaars aangestel om die politieke verkeersknoop te ontknoop. ’n Vrou het hierdie belangrike amp nog nooit beklee nie, maar nou is Sabine Laruelle (MR – die sewende grootste party) en Patrick Dewael (Open VLD – sesde grootste party) aangestel nadat hul voorgangers die handdoek ingegooi het. Albei word as liberaal beskryf en het tot 9 Maart tyd om aan die koning verslag te doen.

En hiermee is maar een aspek van die Belgiese kompleksiteit kortliks bespreek.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Koos

Tipies Sosialiste met irrelevante nie funksionele ideologie en gebrekkige beleid ñ hele staatsbestel ook irrelevant maak en staatkundig onderdrukkend alles laat stagneer en vrot. Soos die ANC en trawante daagliks in ons parlement en regerings instellings doen.

Jacobus

Puik en nugter opsomming van die Belgiese situasie Herman. HeHe so-ook stelling oor sosialisme. Het vriende daar en selfs hulle weet nie aldag wat aangaan nie. Speel in elkgeval hulle politieke kaarte na-aan die bors.
Een vir een kom die realiteite van Brexit ook na vore. G’n wonder hulle het só hard daarteen kapsie gemaak.

Johan Venter

Ek het ‘n idee Suid-Afrika se ANC-demokrasie het 20 jaar te vroeg gebeur, hierdie ‘demokrasie’ wat soos ‘n ‘mirage’ in ‘n vegvliegtuig se truspieël lyk noem mens in effek ‘diehtrapa’, die nuwe gonswoord, want dit het spesifiek ten doel om wit mense te teiken en van hul regte te beroof, dit kom ook in vele gedaantes voor.

Grassie

Herman se bskrywing van sosialisme is baie waar en dit geld ook vir ons land. Die sosialistiese ANC kan net voortbestaan totdat “iemand anders” se geld op is. Die probleem is net, hier is nie iemand anders soos in België nie en hulle moes teer op die ekonomiese nalatenskap van die vorige regering. Maar dit, helaas, is ook nou uitgeput, vinniger as wat dit sou duur weens plundering van miljarde rande deur hul kaders. Al wat nou oor is, is fondse in die pensioenfonds en hulle kyk met begerige oë daarna. Vat gaan hulle dit vat – as hulle ons… Lees meer »

Hector

As ‘n VLAAMS-patriotiese vriend van die Boere, wil ek my waardering uitspreek vir die puik ontleding in hierdie artikel van die verskriklik ingewikkelde politiek in die kunsmatige staat België, wat ek liewers ‘n ONstaat noem. Net sè dat in hierdie chemiese konstruksie sedert sy skepping in 1830 deur ‘n klomp Engelse en Franse politici die Vlaminge in die MEERDERHEID was en steeds, tot vandag, gebly het. Van die staanspoor af, nogtans het die Franssprekende MINDERHEID gedikteer: België sal Frans wees of nie wees nie. Al het die nuwe Grondwet verkondig dat alle Belge gelyk was vir die wet, hy was… Lees meer »