Nuuskommentaar: België verkoop surpluskrag teen verlies ʼn jaar ná beurtkrag

Argieffoto (Pixabay)

Beurtkrag in Suid-Afrika jaag die land se ekonomie en individue se beursies miljarde rande uit die sak.

Fase 2-beurtkrag kan die land R2 miljard per dag, en meer as ’n R1 biljoen per jaar kos. België, daarenteen, het die afgelope naweek so ’n groot surplus aan elektrisiteit gehad dat groot ondernemings aangemoedig is om meer krag te gebruik. Trouens, die grootmaatverbruikers is betaal om meer krag te gebruik, sodat heelwat krag teen ’n verlies van die hand gesit is.

Skaars ’n half jaar gelede, in Oktober verlede jaar, het die situasie heeltemal anders gelyk. Toe is verbruikers, in die aanloop tot die Europese winter gemaan om hulle vir beurtkrag gereed te maak. Die aangepaste noodmaatreëls het onder meer ingesluit dat huishoudings beurtkrag van drie uur op ’n slag sou kon beleef, en dat nywerheidsproduksie opgeskort kon word.

Guardian se internasionale uitgawe wat hieroor berig het, het onder meer ook na België verwys as ’n land wat berug is vir swak administrasie.

Maar klink dit nie verdag baie na die situasie in Suid-Afrika nie?

Ten spyte van, meestal ironiese, ooreenkomste kan die twee lande se situasies nie vergelyk word nie.

Onder die ooreenkomste is dat België swaar in kernkrag belê het. Twee groot kernkragstasies bestaan, wat gesamentlik sewe kernkragsentrales huisves. Suid-Afrika beskik wel net oor Koeberg, maar oudpres. Jacob Zuma het hard probeer om Suid-Afrika in ’n ooreenkoms met Rusland te dwing vir die aanbou van kernkragsentrales, wat Suid-Afrika na raming meer sou kos as wat die land kan bekostig. Die sewe Belgiese kragsentrales lewer saam 40% van België se elektrisiteit. Destyds was ’n ongehoorde ses van die sewe sentrales buite werking.

Nou is die surplus veroorsaak deurdat ses van die sewe sentrales in produksie is, en die sonkrag- en windkrag-sentrales heelwat krag opgewek het.

België het die afgelope paar jaar ’n beleid gevolg om meer hernubare krag op te wek. Hernubare energie word selfs van huishoudelike en ander afval opgewek.

Ten spyte daarvan dat so ’n groot deel van België se opwekkingsvermoë buite werking was, was die beurtkrag en ander noodmaatreëls nie ’n uitgemaakte saak nie. Onder die planne om die probleem te oorkom was onder meer om versoeke tot kragbesparing te rig, ’n gas-aangedrewe sentrale is weer in bedryf gestel, en planne is gemaak om meer elektrisiteit in te voer. België is gewoonlik ’n netto-invoerder van elektrisiteit (behalwe in 2009), en veral uit Nederland en Frankryk. Sou daar egter ’n erge koue kom, sou invoer uit Frankryk onmoontlik wees, en dan was die noodmaatreëls die Belge se voorland.

Weer eens tref die ironiese ooreenkomste met Suid-Afrika, waar fase 4-beurtkrag die gevolg daarvan is dat die lyne wat groot hoeveelhede elektrisiteit van die Cahora-Bassa-hidroëlektriese aanleg in Mosambiek na Suid-Afrika voer, deur ’n sikloon platgevee is.

In België se strategiese beplanningsdokument tot 2050 word baie uitdagings uitgespel. Daarin word onder meer verwys dat baie van België se opwekkingsvermoë teen 2025 nie meer sal bestaan nie. Dit is deels daaraan toe te skryf dat bestaande wetgewing vereis dat België teen daardie tyd al sy kernkragsentrales moes sluit. (Ander bronne verwag dat die wetgewing aangepas sal word en dat daar uitstel sal wees.)

In die strategiedokument word egter ook op onder meer op die volgende gewys: “The energy sector is changing. Driven by decarbonisation, we see a growth of renewable and decentralised energy generation, increasing digitalisation, new technologies and trends like the advent of electrical mobility that are resulting in a rapidly evolving energy landscape. And the energy transition is not just happening in Belgium; it is an almost unstoppable development across all of Europe.”

Daar word duidelik uitgespel dat die openbare diskoers hoofsaaklik handel oor aandag aan probleme deur op die kort termyn te fokus.

Eskom-kragstasie in Kriel, Mpumalanga. Foto: thegreentimes.co.za

Die probleme oor kragopwekking in Suid-Afrika, en veral deur Eskom, bied genoeg materiaal om etlike doktorale verhandelings oor te skryf. Krap aan enige aspek, en ’n vloedgolf inligting tref ’n mens – onder meer korrupsie, onbevoegdheid, staatskaping, swak beplanning, die wegwerk van kundigheid, te min fokus op instandhouding, terwyl die korrupsie veroorsaak dat hewig oorprysde maar substandaard onderdele en dienste, juis verhoogde onderhoud vereis. Die een probleem vererger die volgende probleem.

Boonop beperk wisselvallige lewering deur hernubare bronne dat daardie elektrisiteit nie eenvoudig by Eskom se netwerk kan inskakel nie. Die fisikus prof. Matie Hoffman het dit soos volg in ’n Facebook-inskrywing beskryf: “Dit is baie problematies om hernubare energie kragopwekking aan die ‘grid’ te koppel omdat dit op ʼn onreëlmatige wyse relatief groot hoeveelhede krag in die netwerk kan lewer. Dit veroorsaak dat die groot steenkoolkragsentrales daardeur rondgefoeter word – dit verlaag die effektiwiteit van die sentrales en verkort ook hulle leeftyd indien hulle nie so veel as moontlik op hulle optimaal-ontwerpte revolusies hardloop nie.”

Daar kan geen twyfel wees nie dat daar (nog) baie probleme is wat opgelos moet word soos tegnologiese ontwikkelings, en die vooruitbeplanning van koste-faktore.

’n Hernubare bron wat nou sou beteken Eskom moet krag duurder vir distribusie aankoop as wat hy dit self kan opwek, geld dalk nie ’n jaar later nie omdat hernubare krag relatief goedkoper word. Na berig word onderhandel die konsessiehouers van ’n gasveld aan die Weskus al jare lank om gas aan ’n gas-kragsentrale te lewer, maar Eskom gebruik steeds diesel om die turbines te dryf.

Al verskil die realiteite tussen Suid-Afrika en België baie, die Belgiese ondervinding dien tog as voorbeeld van wat gedoen kan word as korrupsie en onbekwaamheid nie in die weg staan van groter doeltreffendheid nie.

En dit geld nie net kragvoorsiening nie. Gister is pres. Cyril Ramaphosa erg in die skande gesteek toe hy, as ANC-president, ’n verkiesingsrit op ’n Prasa-trein onderneem het, en die trein weens ’n magdom probleme, vier uur laat by sy bestemming aangekom het.  Dit slaan diep duike in die ANC se narratief van “’n goeie storie” wat voor elke verkiesing aan liggelowige kiesers opgedis word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Adam ·

Die grootste verskil tussen SA en die buiteland is dat hier ter plaatse niemand veantwoordelikheid neem nie. Indien iets goed sou gebeur is dit agv van die wonderlike ANC en indien negatiewe goed gebeur in SA, word daarna verwys as “ons probleem”. Die ware werklikheid is gewoon dat die ANC vir die gemors verantwoordelik is en nie “ons” (lees bevolking) nie. Cyril is en bly ‘n papbroek wat soos ‘n marionet deur die NUK regeer word en dit hou weinig goed in vir SA.

Piet ·

Het die skrywer bewyse dat die kraglyne in Mosambiek “platgevee” is, of is dit net gerugte ten einde om Eskom geloofwaardig te laat lyk?

Andreas ·

Dit lyk my jy volg nie die nuus nie. Twee lyne wat krag van Cahora Bossa af na SA ‘vervoer’ is platgevee. Daar is enorme skade in Mosambiek agv die tornado met bv 80% van Beira wat beskadig is. Hulle het nie tyd om na ons kragprobleem te soek waar die kabelfout is nie, gee nou eers aandag aan hul eie mense treurmare. Eskom is bereid om met die herstel van die kabel te help, maar hulle weet nog nie waar die kabel probleem is nie, dus is hulle besig om diesel per skip na SA te vervoer. Na ek verneem het behoort die diesel teen oormore hier te wees. (Bylykbaar het Eskom toe die papaja die hek in Mosambiek tref net 2 dae se noodvoorraad diesel gehad.)

Andreas ·

Hallo Maroela, julle kan maar my antwoord so tydjie gelede aan Piet plaas, die inligting is korrek.
Dankie.

Andreas ·

Die nuutste per Fin24:

“Eskom CEO Phakamani Hadebe said the power utility had burned between 20- 25m litres of diesel by running the open cycle gas turbines as a last resort and there are no diesel stocks available in South Africa, except for cars and small utilities.

The power utility is expecting a shipment of diesel to be offloaded in the next couple of days and relieve the pressure on the grid towards the end of the week.”

ne ·

Hoekom het ons president se ogies gisteraand op die nuus so gehang? Was hy “hoog”? of baie moeg? Kan iemand my dalk reghelp?

Karel ·

Hy is bekommerd oor hoe hy krag aan ‘elektries aangedrewe’ motors gaan verskaf 🤣🤣

Agie ·

Dankie Herman. Jy bly tops.

Niemand is so doof soos die wat nie WIL hoor nie.

Mens kan slegs met ‘n eerlike persoon redeneer

Carl ·

Volgens die Reserwe Bank (van die 80′) praat ons in goeie Afrikaans van ‘n “miljard”. Daar is nie in Afrikaans iets soos ‘n “biljoen” nie. Ek sal bly wees as dit uitgeklaar kan word deur regte taalkundiges.

Herman Toerien ·

@Carl In Afrikaans gebruik ons ‘n milajrd vir ‘n duisend miljoen, en in Engels ‘n billion vir dieselfde begrip. ‘n Biljoen in Afrikaans is ‘n miljoen miljoen, terwyl dit in Engels ‘n trillion is. In Nederlands, Duits, Frans en die meeste Germaanse tale word dit soos in Afrikaans gebruik. Speel gerus met Google se vertaalgerief. Huisgenoot gebruik egter die Engelse styl, wat nie in amptelike Afrikaans erken word nie.

Jacques ·

Gaan kyk na die verwysing dit is inderdaad ‘n biljoen (Amerikaanse trillion) per jaar verlies. Ek het ook ‘n broertjie dood aan hierdie verwarrende terme, so ek gebruik deesdae SI eenhede:
R 1 000 is ‘n kilorand
R 1 000 000 is ‘n megarand
R 1 000 000 000 is ‘n gigarand
R 1 000 000 000 000 is ‘n terarand
Aag wat…

aj ·

ANC = Donkerte = ANC

Soos ‘n vark altyd na modder neig so neig die ANC na die DONKER.

Letterlik en figuurlik!

aj ·

Ons moet ons BEVRY van die staat se monopolie op elektrisiteit (via Eksdom) deur elke huis te omskep in ‘n kragstasie(tjie).

Kom ons stop die korrupte soustrein en hou op om as belasting melkkoeie misbruik te word.

KP ·

Eskom het ook middel 1990s te veel krag gehad en het n bemarkings afdeling (Industrelek; Agrelek en Electroserve) op die been gebring wat elektrisiteit moes bemark aan nuwe kliente en bestaande kliente wat kwalifiseer op nuwe goedkoper tariewe geplaas. Tot ANC regering oorgevat het en ons in die situasie van vandag sit na grootskaalse plundery.
VIVA ANC

Gert ·

Die groot verskil tussen SA en die beskaafde wêreld is dat ons SBE het.

KP ·

Eskom se groot probleem is ook die wanbetaling en diefstal van elektrisitet. Soweto skuld na bewering 17 Miljard rand aan Eskom en dit kan tot 20 Miljard groei in 2020. Geen besigheid kan bestaan as die klient nie vir sy produk betaal nie en grootskaalse diefstal plaasvind. Daar word egter niks aan die situasie gedoen deur die regering want “our people” is mos als verniet belowe.
Sink gaan Eskom sink en die land en ekonomie saam met hom.

Oupa D ·

Dis hoekom niks glo wat die regering opdis oor die redes vir die uiters onverkwiklike beurtkrag gemors nie. Dit kon verhoed gewees het (ons weet almal wat die olifant in die vertrek eintlik is) en kan steeds verhoed word. Sny ALLE wanbetalers se krag af, ook Soweto s’n. Siedaar! Oorgenoeg krag vir AL die betalers. Maar nee, boeta! Dis mos verkiesing en die stemvee moet gaan stem, so: ons dink allerhande twak voor as kamstige redes vir ons onvermoe.

ZAR ·

Ek sien net nou die dag in die argiewe hoe die Republiek die mense vra om meer elektrisiteit te gebruik. Ek wens ek kan onthou watse jaar dit was.

BlinkStephaans ·

Dit is goed om te sien daar duik in Europese lande ook probleme op… elke land het maar sy dingetjies en is nie altyd utopia. Wat egter baie mooi is om te sien is hoe hulle daardie probleem aanpak… verseker ñ voorbeeld om van te leer… maar SA verkies om by lande waar daar ook maar redelike rigtingloosheid heers te gaan kers opsteek… soos Venezuela onlangs… rerig?… as jy blind is gaan vra jy mos maar n ou wat kan sien om te help… nie nog n blinde. Maar ek is bevrees België is net te wit dat die anc daar sal gaan aanklop… wat weet hulle tog nou van afrika probleme. Hierdie ouens het n 2050 plan!!!… my flip Marelize… die anc sukkel hier nog om hul 1994 plan van die grond af te kry… wat nog tesê van vooruit visie.

Vaalseun ·

Goeie artikel, dankie, Herman.
Voeg daarby dat België ‘n werksmag van net 5,3milj mense het, terwyl ons ongeveer vier keer meer werksmense, nl. 22milj mense in diens probeer hou. België se belastinginkomste van $227milj. is meer as dubbel ons $92milj. Daarby moet ons basis elektriese kragstasies en -netwerke tesame met vervoerverbindings oor duisende kilometers bou en instandhou.
Hiermee ondersteun ek jou punt oor korrupsie en onbewaamheid. Met beperkte inkomste tot ons beskikking in ‘n groot land met teveel mense om voor te sorg, kan ons nie bekostig om kundigheid en vermoëns te verloor wat kritiese infrastruktuur moet skep en bedryf nie. Eskom se top ingenieurs het kundige en effektiewe toekomsbeplanning in plek gehad voordat hulle deur die politici se bate-stropers vervang is. Nou is die geld op, projekte nie voltooi nie, strategiese steenkool-reserwes word uitgevoer en beurtkrag op ons afgedwing.
Ongeag die omgewingsbesware, is steenkool nog steeds ons aangewese elektriese energiebron, en kan dit skoon bedryf word. Maar, nog belangriker, ons hoef nie steenkool in te voer nie, en die tegnologie en kundigheid is plaaslik beskikbaar. Ons moet ons eie steenkool reserwes oor die langtermyn ten alle koste beskerm. Ons kan dit slegs met kernkrag vervang vir ons myne, vervoernetwerke en industrieë. Ongelukkig het ons nie ‘n Kongo- of Amazone-rivier vir grootmaat stabiele hidroëlektrisiteit nie. Die Zambezi, Ingula en Drakensbergskemas help darem ‘n bietjie. Die grootmaat kapasiteit en stabiliteit van son- en windkragvoorsiening alleen is ongelukkig in ons land heeltemal onvoldoende om grootmaat steenkool- en kernkrag te vervang.

Herman Toerien ·

Hallo Vaalseun. Ek kan ongelukkig nie op alle leserskommentare reager nie, maar sjoe, hierdie een is van so ‘n hoogstaande gehalte dat ek iets moet sê. By hierdie artikel is ook ander kommentare wat komplimente verdien, en dit laat my hart vandag die ene tsjôklits pomp. Ek het vandag regtig baie daaruit geleer. Teen gisteraaand het ek so half en half al besluit om oor dié onderwerp te skryf, al was ek onder die indruk dit gaan nie juis lesers trek nie. Ook omdat ek ‘n paar jaar gelede laas oor België se elektrisiteit opgelees het (en toe vanuit die hoek van groen energie en saam met ‘n rits ander lande). Ek het dus kort na vier agter die rekenaar ingeskuif vir tyd vir navorsing. Gelukkig kon ek iets hier en daar onthou en was gelukkig om met Google se hulp goeie bronne gou te kry. Weens beurtkrag kon ek eers laterig sien hoe die artikel vaar en ek was vreeslik verbaas EN bitterlik beïndruk met die lesers. Nogmaals baie dankie vir jou en ander lesers se skitterende kommentare.

Oupa D ·

Dis hoekom niks glo wat die regering opdis oor die redes vir die uiters onverkwiklike beurtkrag gemors nie. Dit kon verhoed gewees het (ons weet almal wat die olifant in die vertrek eintlik is) en kan steeds verhoed word. Sny ALLE wanbetalers se krag af, ook Soweto s’n. Siedaar! Oorgenoeg krag vir AL die betalers. Maar nee, boeta! Dis mos verkiesing en die stemvee moet gaan stem, so: ons dink allerhande twak voor as kamstige redes vir ons onvermoe.

Grassie ·

Iets waaroor ek my bekommer is Koeberg kernkragsentrale. As ‘n konvensionele steenkool- of dieselsentrale onklaar raak kom dit net tot stilstand en koel af. Die ergste wat kan gebeur is dat ‘n stoomketel ontplof en daar kan dan ‘n paar ongevalle wees. ‘n Kernkragopwekker werk andersom. As (wanneer!) iets skeef loop, en daar nie ‘n baie bekwame persoon in beheer is nie, begin dit oorverhit totdat dit opblaas, dus ‘n kernontploffing. Dit is wat met Chernobyl in Rusland gebeur het. Ek wonder soms tot hoe groot mate bevoegde personeel in Koeberg deur BEE vervang is met onbekwame ANC-kaders wat dink dat hulle al die wysheid in pag het.
Die ANC-regering het alles in die land wat hulle beheer van (oor?) geneem het tot in die afgrond in verwoes – Eskom, SAL, Prasa, spoorweë, poswese, munisipaliteite – ‘n ellelange lys. In al die gevalle is dekundiges deur dwase vervang. Waarom sal dit dan nou anders by Koeberg wees? Ek is baie bly ek woon nie in die Kaap nie.

Herman Toerien ·

@Grassie. Hallo Grassie. Koeberg is ontwerp om ‘n skudding van 7 te kan weerstaan. Die Milnertonverskuiwingsvlak, wat so agt kilometer van die kus af onder die see strek, het nie ‘n geskiedenis van baie sterk aardbewings nie. Die sterkste was in 1809, en was na raming in die koers van 6.5. Dit was ongeveer dieselfde as dit wat Christchurch in puin gelê het, op soortgelyke bodem wat tot wateropdwining lei. Koeberg se weerstandigheid vir 7 is bereken asof die aardbewing se episentrum reg onder die aanleg sou wees. Die versterkings wat gebou is, wat insluit rubberkussings vir vertikale beweging, en metaalplate vir horisontale beweging, dik lae beton, die verwydering van die sandbodem en vele ander is van de maatreëls wat getref is. Die Vanderkloofdam is ook op ‘n seismies-aktiewe area gebou, en hoewel die trillings en aardbewings gewoonlik lig is, is verskeie konstrukie-aanpassings gedoen om te keer dat ‘n aardbewing skade aanrig.

Gerhardt O ·

Grassie, jy vergeet van Pelindaba. Glo my die Kaap is veiliger…

jaco ·

‘n aardbewing is nie dieselfde as onbevoegde regstellende aksie aangestelde mense nie.

Rupert Ashford ·

Kan die skrywer asseblief vir ons voorbeelde en syfers gee van waar elektrisiteitspryse gedaal het soos meer sg hernubare kragbronne (son en wind) ingespan word vir opwekking. Die daling moet asb wees in vergelyking met pryse voor daar op groot skaal by markte ingemeng is, en ook sonder swaar belastings wat gehef word om die twee bronne te subsidieer.

Buite Stander ·

Jy sal ‘n energie ekonoom moet vra vir die tipe analise. Waarskynlik sal jy vir die resultate moet betaal.

Vaalseun ·

Dankie vir die kompliment, Herman. Dit is ‘n voorreg om aan jou opinie-stukke deel te neem.

Oom Pieter ·

Lees Psalm 2 en Psalm 50. Die rewolusionêres sê hulle sal die probleempies spoedig oplos. Maar hulle het nie met die sikloon gereken nie. Wie hetbdie sikloon gestuur – juis nou, juis Mosambiek toe? Lees die brief van die Apostel Jakobus sorgvuldig. Dat gelowiges ook ly, is waar. Lees dan Habakuk 3, en bedink besonderlik die drie slotverse. Dan kry die laaste woorde van ons Volkslied kragtige en troosvolle betekenis: Met ons land en met ons nasie SAL dit wel wees – want die. Almagtige regeer, laat SY wil geskied wat vir SY kinders goed is, volgens SY ewige Raad, tot SY eer en tot die gelowige se ewige heil.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.