Nuuskommentaar: Bepalings en voorwaardes vir versoening en vergifnis

Argieffoto

Argieffoto

Gewoonlik wil mense hul hare uit hul kop trek oor hulle nie die fynskrif onderaan ’n kontrak of ander ooreenkoms met ’n vergrootglas mooi deurgewerk en seker gemaak het dat hulle tevrede is nie. Dis eers as daar fout kom, en iemand daag vol verwagtinge by die handelaar op om ’n item met ʼn fabrieksfout of ander ingeboude swakheid om te ruil, dat hy op die uitsluitings in die fynskrif gewys word. Die kort en lank is hy het ’n kat in die sak voetstoots gekoop, vlooie en omlope en al.

Namate die post-1994 Suid-Afrika sy verloop geneem het, het dit algaande duideliker geword dat daar wyd-uiteenlopende persepsies (fynskrif) bestaan oor hoe die proses van versoening in die land sou verloop. Breedweg loop hierdie verskille in persepsies langs rasselyne.

Op die gevaar af dat veralgemeen gaan word, kan dit gestel word dat die witmense die proses in Bybelse (Paulus-) terme beskou het. Iemand doen verkeerd, en hy vra om vergifnis, en alles is min of meer vergete, met dien verstande dat vergifnis nie noodwendig beteken dat vergeet word nie.

Daar is by die strepe afgesit Waarheids- en Versoeningskommissie toe, en daar is gebieg (en gelieg) en tranerig om vergifnis gevra. Die leie is dikwels skoongevee, en soms ook nie.

ʼn Persepsie bestaan dat swartmense se beskouing van vergifnis anders daaruit sien – met soort van Bybelse (Jacobus-) terme waar die groot hartoopmaak gevolg moet word met (geloofs)dade: “Ek was honger, en jy het my gevoed, Ek was naak en jy het my geklee.”

Hierdie sou ’n vreeslike breekspul afgee as dit ’n algemeen geldende wet sou wees. Gister skryf Flip Buys, grootbaas van Solidariteit, in sy opiniestuk op Maroela, Reguleer groepverhoudings ter wille van persoonlike verhoudings, onder meer die volgende: “Wat my moed gee midde-in die toenemende rassepolarisasie en groeiende woede in die land, is die goeie persoonlike rasseverhoudings op grondvlak… Ekself en min van ons is al ooit rassisties behandel deur ʼn gewone swartmens, maar vir die swart elite is ras bepalend wat owerheidsbeleid en politieke uitsprake betref. Hierdie kragdadige swart nasionalisme onder die dekmantel van demokrasie, laat dieselfde witmense wat gemoedelik met swartmense oor die weg kom, rooi (of swart!) sien.”

Vanoggend, in ʼn rubriek op Netwerk 24, skryf Max du Preez onder die titel, Kyk dieper na ras-geskiedenis onder meer die volgende oor Suid-Afrikaners wat mekaar oor die rassegrense heen kap: “Dit is water op die meul vir opportunistiese politici. Die uitbuiting van mense se meer basiese instinkte soos vrees en wrokkigheid is ’n ou en meestal geslaagde manier om politieke swakhede te verbloem en mense te mobiliseer. Tog kom swart en wit op ’n persoonlike vlak baie goed oor die weg in die kantoorruimtes, woongebiede en op die fabrieksvloer.”

Kortom, die elite en die politici beduiwel die algemeen goeie rasseverhoudinge wat op voetsoolvlak bestaan. Daar, min of meer, eindig die ooreenkomste tussen Flip en Max se sienings – Flip is immers toekomsgerig, en Max het te veel wortels in die verlede vasgegroei. Maar hulle is nie die eerste wat opmerk hoe die voetsoolvlak en politici verskil nie. Na afloop van die sogenaamde Kliptownberaad enkele jare gelede, wat juis gehou is om die toenemende polarisasie aan te spreek maar deur ANC-gesinde politici gekaap is om sake verder uitmekaar te dryf, het van die teenwoordiges ook moed geskep oor die groot poel van welwillendheid wat onder die gewone beraadgangers bestaan het.

In die komplekse Suid-Afrikaanse situasie sou dit net te eenvoudig wees. Hoe het die bruin mense die hele proses ervaar? Hulle het, nie onverwags nie, hulself beskou as in ʼn soortgelyke posisie as die swartmense, maar staan dikwels ontnugter dat hulle vir die tweede maal die kort lootjie getrek het. Of om, met apologie aan Adam Small, te sê die Here het geskommel, en die dice het wéér verkeerd geval vir ons.

Vir politici wat faal, is dit inderdaad ’n maklike uitweg om hul politieke basse te red en die blaam na diegene te verplaas wat het, of waarvan die persepsie bestaan dat hulle het, maar nie in boetedoening oor die verlede dit wil deel met diegene wat (steeds, en na baie beloftes) niks het nie. En siedaar, woorde soos restitusie, rasbenepe transformasie, “affirmative action” onder die misleidende naam van regstellende aksie, SEB en vele meer. Met ras as norm. Trouens, dat ras nou (weer) die burger se lot van die wieg tot die graf bepaal.

Die voorwaardes vir versoening en vergifnis word nie meer in fynskrif aangebring nie, maar blatant in vetdruk. En politici wat faal, skerp die verwagtinge al feller by die bevolking in. Trouens, dit het reeds gelei tot die ontstaan van die jeugdige EFF wat op hierdie konsep bestaan – met grondgryp sonder vergoeding as formele beleid. Die EFF-leierskap het nog voor die party gestig is gesê die party gaan minder fokus op versoening, en meer op revolusie, die grondwet bloot ’n lastigheid, en die vredesakkoord iets wat nie meer bestaan nie.

Hierdie konsep van (terug)gee en ontvang, het ook geen tydsraamwerk nie. Vir bankrot leiers sal, so lank as wat daar ’n sweempie van ongelykheid is, ongeag of die oorsake (nog) na apartheid herlei kan word, of eerder aan snelle aanwas en ander faktore toegeskryf kan word, so lank sal “restitusie” die grondslag van vergifnis en versoening wees. Dit maak nie saak hoe ver dit die “ander kant” weg van versoening dryf nie. Die fisiologie van versoening is immers ʼn komplekse, multi-dissiplinêre proses.

Dit is daarom nie verbasend nie dat daar al hoe meer tekens van rug-styfmakery is. Mense het dikwels baie hard gewerk vir wat hulle het. Hulle het dikwels alles verloor, en weer deur harde werk en die aangryp van geleenthede weer op hul voete gekom. Hulle voel hulle skuld niemand iets nie, behalwe om die Vader te dank daarvoor.

Onlangs het Janet Heard, nou parlementêre redakteur van Media 24 en voorheen nuushoof van die Independent-groep, ook in ’n rubriek, Reik uit oor rassegrense, verwys na hierdie verwagtinge van nog méér materieel doen om aan die vetskrif te voldoen. Maroela Media het dit toe só saamgevat: “Wat van belang is, is dat sy in haar rubriek melding maak van groeiende frustrasievlakke onder swartmense, omdat hulle meen hulle het nog tyd nodig om die letsels van apartheid te ontgroei, maar toenemend van witmense verneem hulle moet ‘get over it’.”

“Get over it” staan egter ook breed geskryf in dr. Frans Cronjé, direkteur van die Instituut vir Rasseverhoudinge, se rubriek in die afgelope Sondag se Rapport, Wat as die skoen aan die ander voet was?

’n Paar harde realiteite staar die land in die gesig. Die eerste is dat hierdie poel van welwillendheid wat veral op grondvlak bestaan so sterk ontwikkel moet word dat dit die politici onder druk plaas. Elke liewe landsburger kan hierin ʼn rol speel.

Ironies bied die grootste vlieg in die salf, pres. Jacob Zuma, ook nou ’n unieke venster hiervoor. Daar is min dinge waaroor Suid-Afrikaners oor die politieke en ideologiese grense heen so gemeenskaplike siening het, naamlik dat Zuma ’n skadelike verleentheid vir die land is. Ook hier is baie slaggate, soos dat die onlangse geskiedenis van Suid-Afrika toon dat ’n persepsie baie maklik ontstaan dat ’n aanval op ʼn swart persoon, eintlik op ’n aanval op swartmense in geheel neerkom. Dit is irrelevant of die kritici enigsins die persoon wat deurloop, se ras in ag geneem het.

Miskien is die beste benadering om versoening aan te pak met die konsep van “Vergeet Zuma, bou die toekoms.” Die vetskrif lui duidelik dat Zuma nie deel van die land se oplossings is nie, maar deel van die probleme. Die probleem kom egter in by wat mense alles in die bedoelde en onbedoelde fynskrif lees.

’n Tweede realiteit is dat witmense/die Afrikaner/minderhede moet waak daarteen dat die vrot politici hulle nie self in die web van rassisme intrek nie. Geoordeel aan die kommentare op die sosiale media het dit ongelukkig al te dikwels gebeur. En die oomblik wat ras, in plaas van die norme van die internasionale reg en die grondwet om volke en groepe aan te dui, ingespan word om minderheidsregte te probeer opneem, het daardie groep reeds ’n yslike teiken op die rug. Die paadjie na geregverdigde en legitieme verwagtinge het dan eenvoudig in ’n gladde oorhangkrans verander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

anet ·

Herman, ek stem saam met jou, vergeet van Mnr Zuma en sy Kaders hulle is vrot, en kom ons bou saam aan ‘n nuwe Suid-Afrika waar ons in harmonie en vrede kan saam woon, met wedersydse respek teenoor mekaar as mede Suid-Afrikaners

Swartmense op kantoorvlak en in die algemeen is baie vriendlik en ordentlik. Soms dink ek dat Mnr Zuma en die ANC regering moedig swak rasseverhoudings aan, en dit laat hulle beter voel oor hulle self en hulle wanpraktyke

chris ·

In die apartheidsjare was daar goeie verhoudings op voedsoolvlak.Dit is nie iets wat nou skielik deur hierdie “reenboognasie” geskep is nie.

Saamprater ·

Baie stof to nadenke, en goed geskryf, dankie.
1)Met die minderheidsgroeppe wat nie ‘n sterk leier het wat dit regkry om die meeste se hande saam te snoer nie, sal bek-aanvalle persoonlik raak, en daarom sal alle argumente op basis van ras plaasvind. Ek meet mense se “emosionele volwassenheid aan die manier hoe hulle optree op annonieme forums. Ons ou mensies faal en val liederlik vir die slag-gate wat daar gestel word. Eish!
2) Huidige politieke beleid dwing dat alles op basis van ras gemeet word, en daarom sal mense beweeg word om alles deur wit/swart bril te sien.
Grondvlak-welwillendheid is goed, slegs as die “speelveld” gelyk is. Dit kan nie so voortgaan nie. Politiek sal mense forseer
3) In die ontbreking van duidelikke riglyne oor wat more inhou, raak al hoe meer mense wanhopig en radikaal gefrustreerd. Meer uitbarstings volg. Dit is ‘n waarborg. Ek sit dit op skrif
Sterk leierskap vir minderhede is nodig, en huidige politieke leiers moet hulle weerhou van haatspraak en “af-spraak” teenoor minderhede. On-onderhandelbaar vir n vreedsame toekoms
Die alternatief is ‘n sterk drukgroep wat aandring op internasionale en Konstituele reg om “kultuurgrense” te gaan trek, soos wat nogsteeds in plek is in KZN-hartland, kwa-Ndebele, Venda, Ciskei ens
Almal moet ‘n heimat he.
Sodra minderhede se regte beskerm word sal ras-politiek dadelik ophou.

Nico ·

Die jaar 2015 is nou maar een maand oud. Vanaf die einde van 2014 is daar geglo die jaar 2015 kan ‘n rowwe jaar word. Na die eerste maand sal ek nie verbaas wees as hierdie jaar ‘n werklike waterskeidingsjaar polities en ekonomies gaan wees nie.

Maand een was maar die begin en is dit dalk maar ‘n kalfie teenoor wat wag. ‘n Ekonomiese voorbeeld wat almal baie hard vorentoe gaan pak gee: So pas is die watte om Eskom gedraai en is hy teen kompetisie gevrywaar. Polities gaan die skroewe ook in die hoogste graad teen die minderhede verder aangedraai word, én aangedraai word.

Leeutjie ·

Is dit net ek wat so dink want my gevoel is die media dra ook geweldige skuld! Wat die koerante bydra is in baie gevalle rubrieke wat rassehaat aanwakker!

Willem ·

Ek dink die meeste Afrikaners is bewus daarvan, veral een ou wat nie kan wag as die geleëntheid hom voordoen om uit die wegspringblokke te kom nie.

Hy en hy alleen is die bewaker oor die Afrikaner, die Afrikaner kan nie beweeg nie, of hy is op hom. Hy wil altyd eerste daarmee wees.

Agt sekondes oor die 100 meter is nie vir hom ‘n probleem nie, as die maan werklik van kaas was, het hy hom al opgevreet.

Willem ·

Lees vanoggend gerus die volle aanslag van die rubriekskrywers van Netwerk24 teen die Afrikaner se identiteit.

Lees dan ook wat die sprekers die week by die FW De Klerk stigting se konferensie te sê gehad het. Lees dan ook wat Johann Rupert beduie oor die ekonomie en dies meer. Hoog tyd dat hy van hom laat hoor.

Dit sal egter nie die afbrekende liberales stop wat wil toesien dat almal soos een in die land lyk en praat nie. Dit is nou 4 Februarie en die res van die jaar lê voor. Die felste aanslag kom soos die maande uit loop.

Grassie ·

Maroela – julle is onnodig stief. Daar was geen haatspraak of vuil taal in my kommentaar nie, net feite soos ek dit sien en glo, Word ‘n verskil in mening nie meer geduld nie, of het julle nou “polities korrek” geword?

Grassie ·

Maroela – julle was nou onnodig stief. My kommentaar het nie haatspraak of vuil taal bevat nie, net feite soos ek dit sien en glo. Verdra julle nou nie meer ‘n verskil in mening nie of het julle “polities korrek” geword?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.