Nuuskommentaar: Beplan die VSA ’n staatsgreep in SA?

Gwede Manatshe tydens die ANC se optog teen rassisme op 19 Februarie 2016 in Pretoria se middestad Foto: @MyANC_, Twitter

Gwede Manatshe tydens die ANC se optog teen rassisme op 19 Februarie 2016 in Pretoria se middestad Foto: @MyANC_, Twitter

Die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, se opmerking by die ANC se onlangse “anti-rassisme”-optog dat die VSA ’n staatsgreep in Suid-Afrika probeer uitvoer, word as sulke bog beskou dat dit nie eens werklik nuusdekking gekry het nie. Maar verdien dit nie meer aandag ten die agtergrond dat die ANC op die verkiesing van ’n nuwe leier afstuur en voorbrand nou reeds gemaak word dat ’n uitgesproke sosialis soos Nkosazana Dlamini-Zuma eerder as Cyril Ramaphosa se posisie versterk word nie?

Mantashe se stellings oor die VSA wat ’n staatsgreep in Suid-Afrika aan die uitvoer is, is in berigte as sommer bog afgemaak – waar dit hoegenaamd nuusdekking geniet het.

Maar gegewe die werklikheid wat hom oral in die wêreld afspeel, is Mantashe se opmerkings of sy kritici se reaksie nie so eenvoudig soos dit dalk klink nie. En die VSA staan in die bevordering van sy eie belange lank nie alleen agter die deur nie. Daar is ’n globale, noem dit maar geopolitieke konteks as jy wil, werklikheid waarin talle rolspelers deelneem. Sommige minder skuldig as ander, sommige meer vernuftig as ander.

Die gepoogde uiteensetting wat hierop volg, klink (toegegee) soos die soort verbeeldingsvlugte wat ontkenners en samesweringsteorie-aanhangers uit allerlei obskure webwerwe put. Die uwe was egter “bevoorreg” om sekere aspekte hiervan eerstehands te beleef.

Dit is lank nie meer so eenvoudig soos die Sowjet-magsblok aan die een kant, en die Amerikaanse “hemisphere defence” aan die ander kant nie. En wanneer laas het ons van die bamboesgordyn gehoor, met China wat ook nie meer Noord-Korea so blindelings steun soos eens nie – maar darem nog blindelings genoeg om saak te maak?

In die magspolitieke stryd is verskillende style gebruik.

Mantashe se beskrywing van die VSA se “huidige aanslag”, feite en fiksie gemeng, beskryf die VSA se sensitiseringsaksie sedert die 80’s tot die nuwe bedeling in 1994, wat onder meer die identifisering en beïnvloeding van jong leiers behels het. Daarna is gesorg dat hulle in invloedryke posisies beland. Dat Mantashe dit so haarfyn kan beskryf, versterk die vermoede dat minstens sommige ANC-leiers ook deeglik hierby ingebind was, en as “veranderingsagente” opgetree het.

Kom ons laat ’n ope vraag: “Wat het werklik by Kodesa gebeur dat nóg die ANC nóg die ander tevrede is dat die grondwetlike bedeling wat tot stand gekom het aan die land se vereistes voldoen? Mantashe het byvoorbeeld nou weer gekla dat die Grondwet die ANC verhinder om sy meerderheidswil na willekeur af te dwing, terwyl daar steeds onverbloemd, en soms met sukses, ’n aanslag op minderheidsregte gevoer word. Soms lyk dit of net ’n klompie liberale akademici nog met die onderhandelde produk hoog in hul noppies is.

Maar was die gemak waarmee die VSA skynbaar bereid was om Suid-Afrika uit die voordelige Agoa-ooreenkoms te skop nie ’n aanduiding dat Mantashe dié keer dagdroom nie? Die Amerikaanse ambassadeur het ook op Twitter heerlik met Mantashe die draak gesteek.

Wat Suider-Afrika betref, het die USSR op die oog af ’n ander model gebruik, naamlik om deur onder meer die inspan van Kubane en militêre hulp aan die ANC en andersins met oorlogvoering deur afstandbeheer veranderinge teweeg te bring. En nie sommer net veranderinge nie, maar veranderinge wat die belange van die USSR (en later Rusland) die beste sou dien.

Benewens Suid-Afrika is daar talle gevallestudies waar die teorieë oor die beskerming van magsbelange getoets kan word. Een van die beste voorbeelde is seker die Oekraïne waar volgens ’n nuwe verslag tot ’n halfmiljoen kinders hongersnood in die gesig staar.

Die beste voorbeeld bly egter Sirië, waar Rusland fisiek tot die hulp van sy bondgenoot, pres. Basjar al-Assad, gekom het.

Suid-Afrika mag weens sy heterogeniteit ’n nagmerrie vir modelgrondwette wees, maar Sirië hou gemaklik daarby kers vas. Boonop loop hierdie foutlyne deur na buurlande, veral Turkye en Libanon, maar ook na Irak, Israel en Iran.

Maroela Media het reeds gereeld die komplekse situasie in Sirië uiteengesit, waaronder in 2011 in ’n nuuskommentaar met die opskrif, “Godsdiens en diaspora kompliseer Siriese ontrafeling”. Dit is dus onnodig dat dit opnuut volledig behandel word. Opsommend is die situasie soos volg:

Sirië het ’n baie heterogene Christen-minderheid, maar die meeste inwoners is Soenni-Arabiere. Daar is ook onder die Koerdiese minderheid (Indo-Germane en verwant aan die Iraniërs) Soenniete. Onder die Soenniete is ook ’n vertakking, die Salafiste, of eerder, neo-Salafiste, wat bewegings soos Al-Kaïda en die IS voed. Die Salafiste is nou verwant aan die Wahabiete wat in Saoedi-Arabië aan bewind is.

Onder die Arabiere is ook ’n minderheid Sjiïete, en onder hulle weer ’n minderheidsekte, die Alawiete. Al-Assad se regerende kliek kom uit hierdie minderheid van ’n minderheid. Al-Assad is dus ’n natuurlike bondgenoot van Iran wat deur Sjiïete oorheers word, asook die terreurbeweging Hizbollah in Libanon, waar ook ’n beduidende minderheid Sjiïete voorkom. Trouens, Hizbollah was nadat dit aan Al-Assad se kant tot die stryd toegetree het in ’n stadium as die sterkste militêre mag in Sirië beskou, maar het hulle teen die IS vasgeloop.

Onder die Christene is daar nie net verskillende vertakkings nie, maar ook nie-Arabiese minderheidsgroepe soos die Armeniërs (ook Indo-Germane) en Assiriërs en verwante groepe.

Van die minderheidsgroepe, soos die Turkmene (nie verwant aan die Turke nie), is inderdaad erg onderdruk.

Waar Al-Assad ’n bondgenoot van Rusland is, beskryf Westerse lande waaronder die VSA Sirië as terreurstaat weens hulp aan terreurbewegings.

Met die domino-tipe oorspoel van die opstande van die Arabiese Lente na Sirië was die land reeds oorryp. Weens die heterogene aard van die land het die opstand nie van ’n verenigde front gekom nie, maar ’n buitengewoon groot verskeidenheid. Waarskynlik meer as 100 groepe veg nie net teen die Siriese regering nie, maar soms ook onderling teen mekaar. Twee groepe word duidelik van die res onderskei, naamlik die Islamitiese Staat (IS) en Al-Nusra (’n filiaal van Al-Kaïda). Al-Nusra het ook verskeie vertakkings.

Baie van die pro-demokrasiegroepe vorm ’n soort gesamentlike front en tree op, na gelang van die druk waaronder hulle verkeer, as ’n soort alternatiewe regering.

’n Belangrike verskil tussen die benaderings van Rusland en die VSA is dat Rusland die Al-Assad-bewind as die wettige regering beskou, en as kern tot die oplossing. Die VSA en sy bondgenote beskou Al-Assad as deel van die probleem en soek ’n oplossing wat hom nie insluit nie. Rusland se militêre toetrede aan die kant van Al-Assad het egter die militêre magsbalans so verander dat daar nou ’n stilswyende aanvaarding in die Weste is dat Al-Assad deel van die oplossing sal wees. Vredesgesprekke sluit dus Al-Assad en die opposisiegroepe (Al-Nusra en die IS uitgesluit) in, hoewel daar nie regstreekse kontak tussen Al-Assad se span en dié van die opposisiegroepe is nie.

Hoewel daar belowende tekens van vordering na vrede is (die IS en Al-Nusra uitgesluit), word Rusland daarvan beskuldig dat dit voortgaan om die Siriese weermag met veral vernietigende lugsteun te ondersteun om gebiede wat deur die opposisie beheer word in te palm. Al-Assad het ook verklaar dat dit sy doel is om die hele land te herower. Die herhaaldelike bombardement van ander groepe as die IS en Al-Nusra het wye kritiek ontlok, veral toe hospitale, skole en ander burgerlike teikens soos markte onder die bomme gesteek is. Daar is onder meer erge kritiek deur Islamic Relief uitgespreek wat onder meer hospitale ondersteun, maar sonder om Rusland of selfs die Siriese weermag by die naam te noem. Rusland het intussen ontken dat hy by die bombardement van hospitale betrokke was.

Hierteenoor is die meeste Amerikaners volgens die jongste Rasmussenpeiling teen die verdere ontplooiing van troepe in Sirië gekant, hoewel die meeste die IS as ’n groot bedreiging beskou. Teen die einde van November verlede jaar wou 49% van die Amerikaanse kiesers nog formeel oorlog teen die IS verklaar. Vroeër die betrokke maand het die meeste kiesers nog verwag dat meer troepe as die handvol wat Obama na Sirië gestuur het, wel gestuur sou word.

Ook die Arabiese lande se toetrede tot die konflik in Sirië is wisselend en aarselend, hoewel die IS gebombardeer word. Sirië is reeds in 2011 uit die Arabiese Bond geskop.

Iets wat die situasie in Sirië erg kompliseer, is die posisie van Turkye. Hoewel lid van Navo het Turkye eers werklik teen die IS betrokke geraak nadat die IS verantwoordelikheid vir ’n groot terreuraanval in Turkye self aanvaar het. Turkye se aandag is egter steeds tot groot mate teen die Koerde gerig, veral omdat die Koerdiese opstandelinge in Sirië skynbaar neig om simpatiek teenoor die radikale Koerdiese party, die PKK, te staan wat vir talle terreurdade in Turkye verantwoordelik is. Hierteenoor word die Koerde as een van die vernaamste kragte teen die IS in Irak beskou en tree as Westerse bondgenoot op.

Intussen word die sterftes in Sirië deur verskillende instansies op tussen meer as 150 000 en 470 000 geraam. Dit lyk of die mees gesaghebbende bronne dit in die orde van ’n kwartmiljoen raam. Na raming het sowat 4 miljoen Siriërs uit die land gevlug en woon in vlugtelingkampe in omringende lande, of probeer veral Wes-Europa as vlugtelinge bereik. Die Siriërs word nou as die mees ontwortelde gemeenskap ter wêreld gereken.

Om terug te keer tot Mantashe se bogpraatjies oor ’n gepoogde staatsgreep in Suid-Afrika: Daar is net geen manier wat die Amerikaanse bevolking Amerika by ’n situasie sal insleep wat die potensiaal het om die Siriese krisis soos ’n kindertuin-speletjie te laat lyk nie.

As Mantashe sy woorde versigtiger gekies het, en gesê het die VSA is opnuut met ’n sensitiseringsaksie besig om ’n regering te probeer beïnvloed om meer simpatiek teenoor die Weste te staan, sou dit meer sin gemaak het. Die kanse is egter beter dat die “gepoogde oorname” meer in Mantashe en ander binne die ANC wat sterk na ’n kommunistiese/sosialistiese staat neig (soos Zuma nog onlangs verklaar het die ANC se doel is) se koppe as in die werklikheid broei.

Dit beteken nie dat die VSA nie subtiel sy en sy burgers se belange in Suid-Afrika probeer beskerm nie, maar dit sal beslis nie meer wees as wat die ander groot moondhede doen nie.

Veel eerder lyk dit na ’n deel van die stryd om die siel van die ANC in die lig van die opvolgstryd wanneer pres. Jacob Zuma opsy staan. Mantashe, ’n kommunis, sal nie graag ’n nuwe leierskap wil sien wat meer Westersgesind en kapitalisties is nie, en dus nou reeds die speelruimte vir Cyril Ramaphosa wil vernou, en die pad vir sosialiste soos Nkosazana Dlamini-Zuma wil oopmaak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Rynhardt ·

Ek glo nie borg stelling dat VSA n staatsgreep beplan in SA nie.VSA het groot probleme van sy eie met ekonomie en 40miljoen onwettige immigrante! As Mantashe sou gese het, China beplan n staatsgreep, sou ek dit geglo het.Die vraag bly, wat behels al die geheime ooreenkomste met China? Dit strek verder as kernkrag! As China kan aandring op Mandaryns in SA skole, wat is Zuma en Anc als belowe? Wat kry china terug? Dalk goud en silwer asook die helfte van die Republiek? China gaan nog kom inmeng in SA se sake! Hoofstroommedia weet meer as wat hul voorgee.Die amerikaanse navorser, Steve Quayle en die amerikaanse finansiele raadgewer, Ross Powell het albei die volgende gese:”China koop groot hoeveelhede goudvoorrade op”.Hul weet wat kom. Dit laat n mens dink.China is Anc se tjommies en is n groter bedreiging vir SA as wat Mantashe, VSA aan ons wil kom opdwing.

JoeV ·

Netso, ons is nou so aan China verbind dat as die string gesny word, alles in die land sal val, net soos die 60 jaar plan wat China vir ons het.

Retief ·

Die ANC se komediante sal binnekort kan begin aanspraak maak op ‘n Oscar of twee!

Trots Afrikaans ·

Ek weet nie man, want die Afri-Amerikaners kla al reeds dat die Oscars is te wit?

pieter ·

Vra maar net,is daar nie alreeds n staatsgreep deur die anc by die universiteitenie

Loeis ·

Weereens: mense wie skreeu “Zuma moet val!” moet mooi dink – daar is NOG ‘n ZUMA op pad!

Die enigste manier om nie deel van die speletjie te wees nie, is om uit die sisteem te kom. Vreemd dat soveel mense kritiseer wannee riemand dit sê.

Sus ·

Stem saam Loeis, ons beste opsie is om uit die sisteem te kom – onafhanklikheid. Sekerlik het enige land bondgenote nodig maar nie tot verryking van individue nie.

Hein ·

Julle het my stem. Ek smaak onafhanklikheid elke dag met geen traliewerk en sekuriteitsheinings. Heerlik sê ek vir julle.

JoeV ·

Mens wonder of daar nie inligting bestaan dat ‘n staatsgreep wel beplan word, en dat dit net die beste effek sal hê indien dit voor die weste se deur gelê kan word nie?

Christo Visagie ·

Die Guptas het SA klaar gekaap,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,

Trolle ·

South Africa must fall.Dink elkgeval dit gaan gebeur een of ander tyd,

Sonet ·

Nogal nuuskierig – wonder of die Chinese, Guptas, Zuma se dogter wat verlede jaar ‘ n “top” pos gehad het met salaris van miljoen rand enigsins inkomste belasting betaal en wat van al die Pakistanie’s?!!…

Deon ·

Uitstekende beskrywings!
Eerstens in Sirië waar ideologiese ondersteuning deur die loop van die geweer afgedwing word op veelvoudige minderhede, en hierdie strydende groepe op hul beurt gekaap word deur ander
lande se belange (o.a. ISIS). Die magspel in
Sirië deur Rusland, VSA en Turkeie het die
potensiaal om in ‘n Derde Wêreldoorlog
uit te loop.
In Suid-Afrika: Ag siestog, shame! Mantashe probeer so hard om intelligent voor te kom. Dis interessant dat hy en die ANC gewag maak van ander se onderduimse motiewe, terwyl hulle laaankal agter die deur staan.
Tannie Zuma was destyds, toe sy die Gesondheidsportefeulje hanteer het, beskryf as Z-ero U-nderstanding of M-edical A-ffairs.
V: Wanneer lieg ‘n politikus?
A: Wanneer sy lippe beweeg!

Manie ·

Ai maroela media. Julle berigte of artikels is so onnodig lank. Ek hou in die middel op lees ,want ek verloor belangstelling.

Johannes Meintjes ·

Maar geen “staatsgreep” in SA kan ‘n sukses wees tensy daar nie reeds vooraf-geposisioneerde lakeie en agente in eie geldere in plek is nie.

Tom Theron ·

“Waar Al-Assad ‘n bondgenoot van Rusland is, beskryf Westerse lande waaronder die VSA Sirië as terreurstaat weens hulp aan terreurbewegings”

Kan iemand asb die bogenoemde sin in Afrikaans vertaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.