Nuuskommentaar: Berg Vema, die koninkryk onder die golwe

Peter Goldishman het homself in 2006 as koning oor dié soewereine gebied, die koninkryk van Vema, uitgeroep. Foto: www.mount-vema.com

Berg Vema is ’n seeberg sowat 1 000 kilometer noordwes van Kaapstad, en is in ’n japtrap ná sy ontdekking in 1957 van ’n uitsonderlike hoë voorkoms van kreef gestroop. Peter Goldishman het homself in 2006 as koning oor dié soewereine gebied, die koninkryk van Vema, uitgeroep, en beoog strukture bo die water. Maar met elemente van ’n mislukte staat en staat waar korrupsie endemies geword het – is daar nie ongemaklik baie ooreenkomste tussen SA en die “koninkryk” versonke onder die see nie?

Die berg

Kom besoek die koninkryk van Berg Vema – maar dan moet u dit kan opspoor en ’n goeie duiker wees.

Berg Vema is ’n berg in die Atlantiese Oseaan, vyf keer so groot soos Tafelberg en met ’n plat oppervlak. Toe dit in 1957 deur die navorsingskip Vema ontdek is, was dit oortrek van die kreef – glo meer as een laag, maar omdat dit buite enige gebiedswater val, was dit blootgestel en is die kreeflewe gou op enkele krewe na uitgeroei.

Duikers kan sonder spesiale toerusting die berg se oppervlak bereik, maar nette is blykbaar op groot skaal ingespan om die skade aan te rig. Hoewel verskeie krewe van meer ’n meter lank reeds in die Atlantiese Oseaan gevang is (so ’n kreef kan na berig word ’n man se arm afknyp) en weer weens die beperking op grootte vrygelaat moes word, word min van die spesie wat op die berg aangetref is groot genoeg om weens grootte beskerm te word.

Vandag beïndruk die reusegeelsterte wat daar gevang word hengelaars. ’n Ekspedisie in 1965 om diamante te soek het geelsterte van meer as 1,2 meter lank waargeneem.

Vema is plat bo, ’n nalatenskap van ’n tyd toe die top nog bo die golwe uitgesteek het en glad geskuur is. Vandag is die vlakste dele sowat twintig meter onder die oppervlak, en hou dit ’n gevaar vir skeepvaart in. Dit is sowat 1 000 kilometer noordwes van Kaapstad, en sowat 1 700 kilometer noord-noordoos van Tristan da Cunha (31 38′ S.,8° 20′ O). Dit het ’n T-vormige deursnee van ongeveer 60 kilometer. Die oppervlak is vlak genoeg dat genoeg lig deurdring om ’n welige biodiversiteit te skep, met baie seewier, maar ook ’n groot verskeidenheid garnale, krewe en ander bodemlewe. Min hiervan is endemies, en die kreef is byvoorbeeld van ’n spesie wat by Tristan da Cunha voorkom (Jasus tristani). Die grootste voorbeelde hiervan kom by Gough-eiland voor. [’n Kreef, die St. Paul-kreef, word ook op Tristan da Cunha en omringende seeberge en eilande aangetref. Hoewel hulle ’n stewige 37 cm groot word, het navorsing getoon dat hulle in werklikheid dieselfde spesie as die veel kleiner J. tristani (83 mm) is. (Gough-eiland s’n is 87,2 mm).]

Seeslakke wat endemies is, is wel opgespoor. Groot visskole doen ook daar aan.

Die berg is nie deel van die mid-Atlantiese rif nie, en die geologie herinner blykbaar met nuwe navorsing meer aan Mauritius wat as brokstuk van Gondwana oor ’n warm kol “gedryf” het en vulkaniese kenmerke gekry het. Mauritius is lank vir ’n vulkaniese eiland aangesien. Rotse wat vir navorsingsdoeleindes van die berg herwin is, is egter almal van basalt-herkoms van verskillende kleure. Basalt is ’n stollingsgesteente.

Die soewereine koninkryk van Berg Vema

 In 2006 het die selfaangestelde koning Peter Goldishman homself as leier van die koninkryk van Berg Vema aangestel. Hy het groot planne, soos om die berg met sand op te vul, en só ’n eiland te skep wat as soewereine staat aan die internasionale verkeer sal deelneem. Deesdae word ’n reuseseeplatvorm met onder meer ’n lughawe op “amptelike” webwerwe voorgestel.  Een van die voorgestelde provinsies se naam verklap dalk eerder die toekoms van dié ryk – Neverland.

Volgens koning Peter se planne sou die koninkryk in 2014 onder die golwe verrys het, maar tot dusver het nog niks gebeur nie. ’n “Ambassade” in Londen moes weens ’n tekort aan geld sluit, en die personeel van 40 is hul werk kwyt. In April vanjaar het die koning egter ’n amptelike communique uitgereik waarin die indruk geskep word dat hy ’n soort ampsbesoek aan pres. Cyril Ramaphosa gebring het, en hy die president genooi het om in November 2020 ’n werksbesoek aan die koninkryk te bring. Volgens die communique sou dit nog te vroeg vir ’n ampsbesoek wees. Hierin meld hy dat die ambassade in Londen opnuut in bedryf is. Hy loof voorts die goeie bilaterale betrekkinge tussen Vema en Suid-Afrika. Geen dokumentasie of berigte kan egter opgespoor word dat Suid-Afrika of Ramaphosa enige kennis van die koning se optrede in Suid-Afrika geneem het nie.

Goldishman is volgens beskikbare inligting die negende van twaalf kinders, en het in Lobito in Angola grootgeword.

Die koninkryk het wel sy eie geldeenheid, die gulle, en eie bank en kredietkaart. Dit bied ook onder meer lesse in baldanse aan. Verskeie webwerwe bestaan uitsluitlik om die publiek te waarsku dat die Koninkryk Vema net ’n slenter is om geld te maak. Dat dit boonop onderwater is, skep ook ruimte om die spot met geldwassery te dryf.

Lesse vir SA uit die “koninkryk”

Suid-Afrika is wel nie onder die see nie, maar talle verwikkelinge laat ’n mens dikwels met ’n sinkende gevoel. Mnr. Wollie Burger, voorsitter van TLU SA in die Noord-Kaap, het onlangs in ’n mediaverklaring onomwonde na Suid-Afrika as ’n mislukte staat verwys.

Suid-Afrika het wel ’n banksektor wat wyd lof kry (byna soos Vema waar die bank feitlik al teken is dat hier aanspraak op staatkunde is). Dis egter baie moeilik om in te sien hoe die banksektor gaan oorleef wanneer grondgryp sonder vergoeding moontlik gemaak word. In ’n mens se geestesoog sien ’n mens die banksektor soos Berg Vema onder die golwe verdwyn.

Voeg hierby die EFF en ’n beduidende deel van die ANC se gereelde gekarring oor die eienaarskap van die Reserwebank.

Sou die Koninkryk Vema se kritici reg wees dat die hele konsep eintlik ’n tipe Ponzi-skema is, klink die opmerkings van verskeie van SA se mees gesaghebbende analiste op wat na die land verwys as een waar korrupsie endemies is. Korrupsie, aldus die Wêreldbank, beroof ’n land van sy toekoms. Ook dan sien ’n mens as’t ware die land onder die golwe verdwyn.

Naskrif: Daar steek geen waarheid in dat Maroela Media ’n staatskaping teen koning Peter Goldishman beoog nie.

 

Bronne:

Skriftelik via Facebook: Anton Botha en Stephan Schoeman

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Eish ·

Stem, uiters skerp.
Nadat my aanvanklike lagbui, moes ek n traan stort vir die paralelle streep.

Justus ·

Oh my word . nou is almal konings .. die Khoisan Koning nou die Veme koning .. dit raak nou lagwekkend ..

Albaster ·

Daar is niks belaglik aan die Koisan koning nie. Dit is tyd dat hulle die erkenning moet kry wat hulle toe behoort te kom.

zoom zoom ·

As ek op my wit troon sit in my huis dan is ek ook koning. Net vir ‘ n rukkie

Cornelia ·

Baie interessante artikel. Ek is verras! En die spitsvondige humor is so na aan die waarheid dat mens hier vir die waarheid kan lag. Dankie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.