Nuuskommentaar: Beroerde munisipale oudits: Waar dreig Dag Zero oral?

Argieffoto

Die Wêreldbank beskryf korrupsie as die diefstal van ’n land se toekoms. Nou het die ouditeur-generaal korrupsie as een van die vernaamste faktore gelys oor waarom munisipaliteite op al groter skaal nie die mas opkom nie.

Maar dit is nie al nie. Lees gerus Alida Kok van Akademia se artikel, “‘Dag Zero’ vir salarisse dreig”. Sy vat goed saam hoe dit nie net die munisipaliteite is wat sink nie, maar ook staatsinstellings. Die bedrae is astronomies. Sy skryf staatsondernemings het ’n uitgebreide netwerk van ’n geldbron vir patronaatskap geword.

Oudpres. Jacob Zuma was stellig nie die enigste rede waarom korrupsie die land so diep in die knoffel gedruk het dat daar min lig skyn nie, maar ’n paar van sy opmerkings toon duidelik dat hy deel van die probleem was, en nie van die oplossing nie.

  • “Korrupsie is ’n Westerse konsep.” Met apologie aan ’n advertensie van die oorle’ SAL. Ons het nie korrupsie uitgevind nie, net vervolmaak.
  • “Ek dink ek is ’n goeie president. Niemand sê dan vir my wat ek verkeerd doen nie.” As twakpratery darem ’n siekte was…
  • “Die ANC staan ’n kommunisties-sosialistiese land voor.” Ta-ta beleggers. 

Ingevolge nuwe wetgewing het die OG nou sekere magte om munisipaliteite te “dwing” om sy aanbevelings na te kom. Dit lyk op die oog af of dit geen uitwerking hoegenaamd op die munisipaliteite het nie. En wie sterk hulle in hul kwaad?

Toe die minister van finansies, Tito Mboweni, besuinigingsmaatreëls wil instel soos ’n laer perk op ampsmotors, is dit deur Salga teengestaan. Dit was na Salga met die minister van plaaslike regering en die betrokke LUR’s in gesprekke was. En dis nie asof Mboweni die burgemeesters tot ou tjorries wou verdoem nie, die voorgestelde perk is R700 000.

Maar hoe lyk die bedroewende prentjie?

Slegs 18 uit 257 munisipaliteite kon skoon oudits behaal. In die Vrystaat, Noordwes en Limpopo kon nie ’n enkele munisipaliteit ’n skoon oudit verwerf nie. In die Wes-Kaap het skoon oudits van 70% tot 40% afgeneem.

Die plastiekbottels en vullis langs die Hennopsrivier. Foto: Twitter via @CityTshwane

Die Vryheidsfront Plus en AfriForum het skerp op die uitslag en die redes vir die agteruitgang gereageer. Dit is goed hier saamgevat, en kom daarop neer dat die jaar vir jaar se voortploeter sonder enige regstellende optrede, soos om nie aanbevelings van die OG te implementeer nie, onhoudbaar is.

Die groot vraag is egter wat kan gedoen word? Dit is lank reeds duidelik soos byvoorbeeld toe die destydse verantwoordelike minister, Sicelo Shiceka, met Operasie Skoon Oudits teen 2014 voorgestel het dat alle munisipaliteite teen daardie jaar skoon oudits moet lewer.

Shiceka is egter reeds in 2012 oorlede toe dit duidelik was dat dié droom eintlik ’n nagmerrie is. Shiceka is as ʼn uitsonderlike swak minister gereken wat, as ʼn mens terugkyk, moontlik minstens ten dele aan sy swak gesondheid te wyte was. Tog lyk dit of die portefeulje plaaslike regering en tradisionele sake basies enige minister se begraafplaas sal wees.

So het minister Pravin Gordhan, wat deur talle as baie bekwaam beskou word, maar sleg nerfaf in hierdie portefeulje gekom.

Dit is duidelik dat die munisipaliteite hulself nie gaan regruk nie, en dat selfs die uitgebreide gebruik van konsultante, of selfs om onder administrasie geplaas te word, nie die slap gees kan oorkom nie.

Oor die jare het voorstelle van opposisiepartye gekom soos dat sou ’n munisipaliteit twee jaar agtereenvolgens nie ’n skoon oudit kry nie, dit outomaties onder administrasie geplaas word. In die proses moet ampsdraers en raadslede se salarisse ook elke jaar sonder skoon oudit verminder word.

Die nasionale en provinsiale ekonomieë moet verbeter om die lewensvatbaarheid van die munisipaliteite te rugsteun, maar die sentrale en provinsiale owerhede is op hul beurt afhanklik van optimale strategiese bestuur op munisipale vlak. ’n Munisipaliteit se geldsake sal byvoorbeeld moeilik klop as die staatsinstellings in ’n dorp, soos die polisie, skole, klinieke en ander, nie hul munisipale rekenings betaal nie.

Die skuld kan beslis nie net op die munisipaliteite geplaas word nie. In sy hoofartikel vandag voer Beeld die land se probleme terug na Zuma, Magashule en ander se plunderstaat, en noem dan spesifiek die wanadministrasie by staatsondernemings en ander owerheidsinstansies.

En hou ook in gedagte – hierdie was die verslag vir 2017/2018.  Intussen het bykans nog ’n hele finansiële jaar verloop, en is dit heel moontlik dat die werklike situasie op grondvlak nou reeds veel erger kan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Pieter ·

Dit gaan my verstand te bowe dat ons as belastingbetalers hierdie tipe situasies net so gelate aanvaar. As een persoon opstaan dan word hy / sy gekruisig. In elk geval kan ‘n individu nie ‘n verskil maak nie. Maar kollektief kan die belastingbetaler ‘n geweldige verskil maak.

Sproete ·

Bly op die platteland in Vrystaat…ons dorpie al van verlede jaar af sonder straatligte…baie dae sonder water…..drains word ongereereeld getrek….sypaadjies en strate lê vol rommel….vullisdromme vir die publiek is stukkend en verkeerstekens is weg of bloot net afgebreek en verwyder …..inwoners het selfs al hulp aangebied met koop van voorraad om ligte te herstel…ons dorp lyk plek plek soos n rommelhoop baie van ons inwoners maak self skoon in strat en om ons erwe….weier ons om te betaal vir al die dienste wat nie gelewer word nie word ons gedreig dat ons elektrisiteit afgesit sal …..ons betaal dan vir iets wat ons nie kry nie ??? Waarom wil hulle nou staak….hulle is mos nou maar in selfde bootjie as ons….!!

Andreas ·

Herman, en wat werkskepping aan betref het Cyril mos in antwoord op die partye se kritiek op sy staatsrede gister gesê hulle, die ANC, glo die groot werkskepper moet nie die privaat sektor wees nie, maar die staat moet dit dryf en dit moet deur die staatsentiteite geskied.

Mens kan hier lees hoe sy program nou vir die nabye toekoms lyk: https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/ramaphosa-na-g20-beraad/

Hendrik ·

#OnsBlyLekker #Kleinfontein Jammer ek weet egtig nie van al die probleme. Ek is nie sarkasties nie en is net dood eerlik daaroor. Almal het keuses en dit is jammer as jy vasgevang is in iemand se onvermoe om ‘n dorp of stad te bestuur.

Gemaskerde Sopbeen ·

Hoekom het ons ‘n “munisipaliteit” nodig? Laat elke woonbuurt sy eie mense aanstel om onderhoud, vullisverwydering en ander dienste te lewer…..en stel ‘n “bitter klein” oorhoofse organisasie beskikbaar om alles te koordineer….. Die munispaliteite sukkel want hulle is monsteragtig groot…….en die linkerhand het geen idee wat die regterhand doen nie!!! As elke woonbuurt sy “eie” klein munisipaliteit het, en die inwoners skep werk vir ‘n vullisverwyderaar wat IN die woonbuurt woon…..sal jy sien hoe die diens verbeter en die tariewe daal.

Elna ·

Dit is n baie baie goeie voorstel wat jy daar maak ek stem volkome saam met jou op jou punt. Die vraag is: Wie gaan die water pyppe in stand hou wat die water na ons huise toe voorsien? Wie gaan die riool damme bestuur? Wie gaan betaal om ons teerpaaie reg te maak? Daar is egter baie vrae in hierdie verband. Jy het n goeie punt beet hier die vraag is net Wie sal?

Andreas ·

Mens kan net met jou akkoord gaan mat jou voorstel waar jy die munisipaliteite vaartbelyn wil sien, dis nou buiten die ANC vir wie dit nie sal geval nie, want hulle sien hulself, met hul kommunistiese sosialiste ideologie, juis as juis die groot werkskepper in die land, en nie die private sektor nie.

Dit sal hulle met net nog ‘n groter kopseer laat omdat daar net nog meer mense werkloos sal wees, juis waar dit die ANC se missie is om soveel moontlik indiensnemings te bewerkstellig en werksgeleenthede te skep, Cyril het dan gister oor hierdie aangeleentheid gesê die staat moet dit dryf en dit moet deur die staatsbeheerde ondernemings en ander owerheidsinstansies geskied.

Zumie ·

Goeie analise, Herman.
Die oplossing gaan ongelukkig baie moeilik wees omdat dit ‘n meerderheid eerlike hardwerkende politici en amptenare gaan vereis wat nie soos die huidiges bloot die staatskas as plundergeleentheid sien nie. Gierigheid as karaktertrek is volop teenoor diensvaardigheid, opregtheid en ‘n weersin in oneerlikheid (wat uiters skaars is).

Hans ·

Het bedenkinge of munisipaliteite ooit gerehabilteer kan word as die verantwoordelike minister enkele dae gelede,by ander geleentheid die oorsprong van korrupsie voor die deur van die voor 1994 administrasie gelê het.

Realis ·

In aansluiting hierby kan ons dankbaar wees dat Munisipaliteite nie soos in die ou dae hulle eie kragstasies bedryf nie. Dan was ons nog verder in die moeilikheid.

Lana ·

As dit kom by politiek val ek van die wa af. Maar wat ek probeer verstaan: Ek kry ‘n salaris. Daaruit word SARS se geldjies gevat, ongeag. My huis, voertuig, mediese fonds,aftreefonds, versekering, skoolfonds, krag & water, eiendomsbelasting, kos, klere. En dan het ons nog nie eers in die Spur gaan eet nie. Nou hoekom moet ek ‘n staats instansie se buitensporige behoeftes finansier? Slotsom! Moenie vir my sê ek moet krag spaar want Eskom sukkel nie, en dan word my hardverdiende eerbare geld in ‘n gatsak gedruk nie. Of soos ‘n dronkaard die potholes probeer misry want ek kan nie elke maand nuwe rims en bande opsit nie. Of heeldag en nag in ‘n menslike ontlasting reuk moet saamleef nie. Hoekom moet ek vir ‘n party stem om hierdie basiese goed instand te hou? Dit moet ‘n deurganse behoefte by die regering en die samelewing te wees. Ek voel magteloos, kwaad en verraai want ek bring my kant.

zeno ·

Munisipaliteite het hopeloos te veel werknemers. Elke “grootkop” het `n sekretaresse omdat hulle nie hul werk self wil doen nie. Mense wat op paaie werk is gewoonlik so `n stuk of 6. Een werk ander vyf gesels ander lê op grawe of is besig met selfone. In die kantore self word geboer op Facebook. So Munisipaliteite kan duisende der duisende spaar. Beter toesig oor werknemers en minder shopping en privaat vervoer met Munisipale bakkies/motors.

Gert van Wierdapark ·

Staatskaping is afgewentel van nasionale vlak na plaaslike vlak waar Stads-Kaping plaasvind – en siedaar, die soustrein kry kleintjies!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.