Nuuskommentaar: Bid ’n mens vir so ’n regering?

hande-in-gebed

Foto: Charlottefirst.org

Behoort ’n Christen nog vir hierdie regering te bid?

Die bedoeling van hierdie nuuskommentaar is om die kwessie hoofsaaklik vanuit ’n politiek-wetenskaplike hoek, en nie noodwendig ’n teologiese hoek nie, te bestudeer. Dié kwessie word immers gereeld in preke en dagstukke, ook in Maroela Media, onder die loep geneem.

Al meer mense voer skynbaar ’n innerlike stryd oor die vraag of ’n mens vir hierdie regering moet bid of nie – of dan eerder, wat ’n mens moet bid. Sondae word Lied 283 immers in baie Afrikaanse kerke gesing. Die eerste strofe bied geen probleme nie – ons bid vir ons land:

283   Ons kom, o Vader, vir ons land

————————————

  1. Ons kom, o Vader, vir ons land

om vrede by U pleit.

Solank die vlam van haat bly brand,

is vrede self ’n stryd.

Wil deur u Gees ons lei, genees

in u geregtigheid.

Die tweede strofe dui egter nie net aan dat ons vir die regering bid nie, maar ook wat ons van die Here vir die regering behoort te vra.

  1. Lei, Vors van vrede, op u weg

húl wat oor ons regeer,

dat hul met insig en met reg

u opdrag hier hanteer

gelei deur U, bewaar deur U,

getroue Opperheer.

Daar was die afgelope week heelwat nuusdekking oor ’n ope brief  wat die Tussenkerklike Raad van die NG Kerk, die NH Kerk en die Gereformeerde Kerke aan die regering gerig het. Die brief is wyd vertolk as dat die regering met die bekendstelling van die minister van polisie se Nkandla-verslag die hand op die morele terrein heeltemal oorspeel het, en dat die kerke daarom van samesprekings met die regering waarheen die kerke genooi is, onttrek. Ook die AGS het onttrek. Dit volg ná ’n moontlik selfs skerper brief wat die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke aan die regering gerig het.

Wat bygevoeg kan word, dit volg ná ’n ellelange rits vermanings (en soms selfs skerper) van kerke aan die regering oor bedenklike godsdienstige uitlatings wat pres. Jacob Zuma en van sy vernaamste kornuite soos Gwede Mantashe en premier Ace Magashule gereeld maak. Van die uitlatings is selfs deur sommige kerkleiers as godslasterlik beskryf.

Heelparty hiervan was duidelik uit onkunde oor wat die Bybel leer. Pres. Jacob Zuma se oproepe tot ’n nasionale reinigingsdag het tot in die buiteland weergalm. Sy onkunde blyk daaruit dat hy aangedui het dat hy emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu sou vra om aan die hoof van die aksie te staan – hy het dus van ’n Anglikaan verwag om aan die hoof te staan van ’n grootliks animistiese ritueel. Voorts het Zuma verklaar dat mense wat nie deelneem nie, nie versoening op die hart dra nie. Tutu het nooit die versoek gekry nie en van die plan het dadels gekom.

Onder die ellelange lys van voorbeelde van hinderlike uitsprake tel een waar gesê is dat die ANC tot die wederkoms sal regeer, dat Zuma gevolg moet word soos Jesus gevolg is, dat die voorvadergeeste diegene sal kom haal wat nie vir die ANC gaan stem nie, en waarskynlik die ergste, Mantashe se vergelyking tussen God-Drie-eenheid en die driekoppige ANC-alliansie.

By geleentheid, skynbaar deur ’n tipe glips, het die VGK sover gegaan om te waarsku dat as Zuma en die ANC nie met hierdie soort optredes ophou nie, die VGK sy lidmate sal aanmoedig om nie vir die ANC te stem nie. Die opmerkings het voortgegaan en van hierdie “dreigement” het dadels gekom.

Ook ander kerke se strepe in die sand het niks opgelewer nie. Dit is ’n komplekse situasie waar die kerk se evangeliese rol teen die profetiese rol afgespeel word, en dat kerke ook in wese as kollektief dien van individue met eie menings en sienings.

Terwyl daar nie ’n misverstand is oor wat ’n kerk se evangeliese rol in die wêreld is nie, is die profetiese rol dalk ’n effens moeiliker begrip.

Dr. Nico Vorster van die Gereformeerde Kerke beskryf dit so: “Artikel 28 K0 vereis van kerke om profeties teenoor die owerheid van die dag te getuig. Die owerheid is immers ’n instelling van God wat reg en orde moet handhaaf (Romeine 13:4, Artikel 36 NGB). Hoewel die Bybel nie ’n politieke handboek is wat spesifieke staatkundige modelle voorskryf nie, het die kerk die profetiese roeping om die beginsels wat politieke modelle ten grondslag lê en die wyse waarop die beginsels in die praktyk uiting kry, aan Bybelse beginsels en norme te meet (vgl. GKSA, Agenda, 2003:83). Die taak van die kerk om openbare mening te beïnvloed is nie net vanuit ’n teologies-prinsipiële hoek belangrik nie, maar ook vanuit ’n maatskaplike hoek. Die Vigspandemie, hoë misdaadsyfer, armoede en die ongelykheid van die Suid-Afrikaanse samelewing maak morele leiding belangrik. Die vraag is egter: Hoe moet die kerk openbare mening beïnvloed? Die radikaliteit van die transformasieproses waardeur post-Apartheid Suid-Afrika gaan, hang grootliks daarmee saam dat die politieke, ekonomiese en sosiale vrugte van die Verligting feitlik oornag in Suid-Afrika geïnstitusionaliseer is. Die vraag na die openbare rol van die Christelike kerk het ingrypend en drasties verander (Smit, 1996b:193).”

In die Bybel is talle voorbeelde van profete wat geroep was om met bepaalde boodskappe na die koning te gaan en te vermaan dat geestelike verval gestraf sou word. Die ballingskappe is onder meer voorspel.

Dit beteken nie dat alle kerke God se boodskap altyd dieselfde sou hoor nie. Terwyl Zuma weens van sy “Bybelse” uitsprake gelooi is, is hy deur ’n kerk tot ere-pastoor ingeseën. Nie lank daarna nie het hy by ’n ander kerk gehelp om poligame huwelike te bevestig.

Dit raak veral kompleks as die uiteenlopende optredes sterk rasselyne volg, juis omdat dit dan nog die kerk se rol as versoener baie ingewikkeld maak.

Dr. Izak Burger, president van die AGS, stel dit soos volg in ’n artikel op Netwerk24:Versoening is steeds deel van die kernroeping van die kerk. Eerstens versoening met God, maar dan ook met mekaar. Ons moet dit preek, maar veral lééf! Die minste wat ons gewone burgers kan doen, is om vriendelik met mekaar te wees, mekaar te respekteer en met menswaardigheid te behandel. Die groot gebod bly steeds: “Jy moet die Here liefhê met alles wat in jou is en jou naaste soos jouself.”

Ook die ope brief van die Tussenkerklike Raad verwys hierna: “Ons is diep bewus van die kerk se profetiese roeping. Die kerk móét getuig van die versoening in en deur Jesus Christus en die implikasies daarvan vir die Suid-Afrikaanse samelewing, onder meer die handhawing van reg, geregtigheid en menswaardigheid.”

In Lukas 7:26 en Matteus 5:44 leer ons by Jesus dat ons ook ons vyande moet liefhê. Die Ou Testament bevat ook verskeie opdragte oor hoe ons die vreemdelinge in ons poort moet behandel.

Tog word al meer gesien dat mense – ook mense wat op Christenskap aanspraak maak – openlik verklaar dat hulle nie ten gunste van versoening is nie. Die Bybel word soms skaamteloos verdraai om hierdie soort standpunte te regverdig.

Christene kan egter ook nie maar net hul eie verantwoordelikhede as Christene aan die kerk delegeer nie. Net so onaanvaarbaar as wat dit is as ’n ouderling pas die kerkraad se afsluiting ná ’n diens met ’n roerende gebed afgesluit het, en dan sy vrou en kinders wat in die kar gewag het uitmekaar verskreeu en vloek, so onaanvaarbaar is dit dat die Christen wanneer hy in ’n algemene verkiesing die kans kry om te stem, sy kruisie by ’n party gaan trek wie se beleid en optrede lynreg teen Christelike leerstellings indruis.

Die demokrasie bestaan egter uit veel meer as net stemreg. ’n Onafhanklike regbank maak deel daarvan uit, en daar rus ’n taak op Christenregters en -regslui om die voorbeeld te stel met Christelike deugde. Die vrye media maak ’n belangrike onderdeel van ’n demokrasie uit, en Christenjoernaliste sal korrupsie en onregmatige dade genadeloos jag – maar meer – ook die nood van hulle wat minder het onder lesers en luisteraars se aandag bring. Voorts is burgerlike samelewingstrukture ’n integrale deel van die grondwetlike demokrasie, en hierdie liggame word gesterk deur lede wat ruimte vir hul Christelike oortuigings vind. Sulke liggame het dan die vermoë om ’n dwalende owerheid in die howe aan te durf, en selfs in buitelandse forums die wandade van so ’n regering aan die kaak te stel.

Natuurlik sal so ’n regering bokspronge maak, en eerder as om hulle in hul weë te bekeer, burgers tot patriotisme oproep waar patriotisme teenoor die land as sinoniem met lojaliteit teenoor die regering verwring word. Terwyl ware patriotisme juis daaruit bestaan om die regering tot verantwoording te roep.

As deel van ons evangeliese taak behoort ons ook te bid dat die regering hom van sy weë sal bekeer. Selfs die heidense keisers het hul deel gekry omdat hulle toegesien het dat basiese dienste gelewer word soos paaie wat gebou is, seerowers wat gejag is om seeroetes te beveilig, dat daar ’n regstelsel (met baie gebreke) was, dat misdaad bekamp is.

Die probleem is dat baie oordeel dat die regering hopeloos faal om hierdie mees basiese keiserlike pligte te vervul. Daar was agt plaasaanvalle in ’n week volgend op ’n plaasmoord. Daar was groot kommer oor die lot van kinders kort voor die aanbreek van Kinderweek, die regering spring bont oor bewerings van omkopery in die Fifa-debakel.

Die regering maak dit bepaald nie maklik om hulle met ’n Christelike gesindheid te benader nie.

Op die knieë moet ons die antwoord vind oor hoe elkeen sy of haar profetiese en evangeliese roeping moet uitleef … in liefde en afgestem op versoening.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Bruno Stef

Wat my verstand te bowe gaan is dat ou Ray mc Cauley met sy ” ONE man Band ” vir die giggilende Jacob as n ere Pastoor ingeseen het.Die knaap is n kommunis en boonop glo die ou aan sy voorvadergeeste.Hoe versoen jy dit met mekaar ek is miskien te dom om dit te verstaan.

Berhalet Beukes

Nee, ‘n mens bid soos per GOD se instruksie! Dit is genoeg!

chris

Jy kan nie versoening bepleit tusssen twee uiteenlopende pole nie.Jy kan nie regerings , regters en joernaliste wat ander normes nastreef Christelik probeer verantwoordbaar hou nie.Dit traak hulle bloot net nie.Die vraag kan met reg gevra word hoeveel van die mense hierbo genoem is Christene?In my opinie ‘n baie klein %.Kyk gerus na die meningsvormes wat veral in die hoofstroommedia gebruik word en veral die afrikaanse media.Mense soos Piet Croucamp(wat God as breindood verklaar het) en Pierre de Vos . Die kerke het baie van hulle geloofwaardigheid verloor en bokspring maar net soos die regering.Dit wat 25 jaar gelede in… Lees meer »

Grassie

Ek bid soms oor die regering. Ek vra “Here, hoe lank gaan hierdie goddelose regering wat U volk verneder, verguis en wil vernietig nog oor ons heers? Gee asseblief vir ons uitkoms.” Sovér die “naaste” betref – Lees asb Lukas 10. Toe Christus gesê het jy moet jou naaste lief hê soos jouself, het ‘n wetsgeleerde vir hom gevra “wie is my naaste?” Christus het toe die baie bekende gelykenis van die barmhartige Samaritaan vertel. ‘n Man het ernstig beseer langs die pad gelê. Daar het ‘n priester en ‘n Leviet vebygekom en hom nie gehelp nie. Toe kom daar… Lees meer »

Gielie - Namibië

Interessant die uiteenlopende kommentare en ons kan versekerlik vinger wys en kritiseer; daar’s immers meer as genoeg rede. MAAR…elkeen van ons as Christenehet ‘n God gegewe opdragom onvoorwaardelik te bid ongeag wat ookal. Ons verspeel kosbare bidtyd! Die liewe Vader weet wat die foute is, maar ons as Sy kinders het ‘n Christelike plig om dit aan Hom op te dra.