Nuuskommentaar: Biep, biep Zuma, ons neem by jou oor

artificial-intelligenceSatire en pres. Jacob Zuma was net meer as ’n week sterk in die nuus. Minder bekend is dat meer as ’n honderd baie bekende wetenskaplikes ’n ope brief onderteken het waarin gewaarsku word dat rekenaars so slim kan word dat hulle die mensdom kan onderwerp.

Nou wat gebeur as ʼn mens die drie begrippe in een nuuskômmintaar inmekaar klits?

Maar eers ’n ietsie oor die drie begrippe – of is dit nou ’n geval van twee begrippe en een onbegrip?

Satire word gewoonlik beskryf as ’n gedig of ander kunsvorm waarin daar met dinge in die samelewing gehekel word. Die kritiese blik kan parodie, ironie, sarkasme en karikatuur inspan. Dit kan teen politici, kunstenaars, die media, waardes, Zuma en selfs modes gerig word. ’n Politieke spotprenttekenaar word per definisie as ’n satirikus beskou.

Om noodwendig walglik en aanstootlik te wees maak nie deel van die definisie uit nie, en is bloot ’n Franse – en soms Suid-Afrikaanse tradisie. Juis hieroor word nou wêreldwyd gedebatteer of Charlie Hebdo nie met sy deurlopende aanstootlikheid die kunsvorm skade berokken het nie.

Zuma het tydens sy onlangse amptelike blitsbesoek aan Suid-Afrika om die ANC se 103-jarige verjaarsdagvieringe by te woon, nie brieke op sy uitlatings gehad nie. Oorle Jan van Riebeeck is selfs afgestof om die blaam te kry vir die begin van die land se probleme. Daar is dadelik teruggekap en gesê die grootste probleme het eintlik begin toe Zuma in die Uniegebou ingetrek het. Die leemte in hierdie argument is dat Zuma selde in die Uniegebou kom, soos hy tydens sy blitsbesoeke skarrel tussen Luthuli-huis, sy verskillende ampswonings, Nkandla se swembad en in ’n stadium om vroue buite die eg in die ander tyd te sit. En nee, hy het nie nog tyd ingeruim om vir sekere omstrede skilderye te poseer nie.

Onder die wetenskaplikes wat die ope brief onderteken het tel Steven Hawking en die Suid-Afrikaans-gebore grootbaas van Space X, Elon Musk. Saam met die brief versprei hulle ʼn dokument waarin voorbeelde gegee word van kunsmatige intelligensie wat reeds bestaan. Hulle loof die vermoë en vooruitgang van rekenaars wat al hoe slimmer word omdat dit vir die mensdom groot voordele inhou, maar hulle waarsku tog dat die punt kan kom waar rekenaars met kunsmatige intelligensie hulself kan begin verbeter en die mensdom kan onderwerp.

Trouens, hierdie scenario was al verskeie kere die onderwerp van wetenskapsfiksie, waaronder in verskeie rolprente. In hierdie kunsvorm word gewoonlik van die standpunt uitgegaan dat die slim rekenaars die mens vyandiggesind is, of minstens van sy individualisme wil stroop.

In ’n satire is enigiets moontlik – kan die toekomstige heersersklas van rekenaars dalk die mensdom goedgesind wees – solank hulle nie staatsfondse gebruik om swembaddens in die boendoe te gaan bou nie. Want kyk, as ’n rekenaar so slim raak dat hy met sy kunsmatige intelligensie selfs beter as ʼn mens kan werk, sal hy seker ook in Jan Biep-biep Taks se visier wees.

En ʼn rekenaar wat se swaarverdiende taksgeld gemors word is ’n vreeslike ding.

As die slim rekenaars oorneem, is dit vanselfsprekend dat hulle die regering sal oorneem. Dit sal enorme besparings te weeg bring, want rekenaars loop nie so swaar op verversings wat nou tydens parlementêre komiteevergaderings aan die strompelende LP’s voorgesit word nie.

En omdat selfdink-rekenaars sulke ysters met multitaakverwerking is, kan alle komiteevergaderings gelyk gehou word. Die rekenaar prop net sy/haar datakabel in, en kan so in die kuberruim tegelyk in al die komiteevergaderings wees en gelyk aan almal deelneem sonder om verwar te word.

Die ANC-rekenaars gaan swaar kry, want die luukse om uiltjies te knip (power down) terwyl ander LP-rekenaars data uitruil, analiseer en in gevolgtrekkings formuleer, is daar nie.

Die EFF-rekenaars het dit makliker. Hulle is met luidsprekers toegerus en met ’n sinsnede geprogrammeer – “Pay back the money, pay back the money.” Hul hoofrekenaar het ’n paar bykomende sinsnedes, soos “Plak op ander rekenaars se lessenaars,” en “Maak dood die agri-rekenaars.”
Die DA-rekenaars sal so geprogrammeer wees dat mediaverklarings ook in Afrikaans uitgereik sal kan word.

Die speaker-rekenaar werk nie met eie kunsmatige intelligensie nie. Dit is net met ʼn hoëspoed datakabel met Luthuli-huis verbind van waar die rekenaar beheer word.

Maar hoe lyk die rekenaar was as meesterbrein funksioneer?

Dit hang natuurlik af van oor hoeveel kunsmatige intelligensie die rekenaars beskik, want net swak geprogrammeerde rekenaars sal ʼn meesterbrein “boot” (met data en rekenaarprogrammatuur laai) wat nie oor ’n groot datastoor- en dataverrekeningskapasiteit beskik nie, al het hy ook twee koppe.
En dit sal ʼn swart rekenaar moet wees, anders gaan daar ’n opstand wees van die eertydse reënboognasie.

Wat wel met stelligheid gesê kan word, is dat die meesterbrein nie so die wêreld vol sal hoef te vlieg nie, want in daardie wêreld hoef hy maar net elektroniese verbinding te maak, en hy kan lustig kommunikeer met die meesterbreins in die VSA, Rusland, Guinee, Angola, Mosambiek en Davos – so almal op ’n streep sonder om ʼn voet (of is dit nou ʼn wieletjie) op sy amptelike straler of ten duurste gehuurde vliegtuig te sit.

En hy moet maar wegbly uit die swembad want selfs daai slim rekenaars aard nie baie goed in die water nie.

Terwyl dit moeilik is om te sê of dit in Suid-Afrika beter of slegter onder die blikbrein-regering sal gaan, kan met groot stelligheid gesê word die Yanks gaan lang lippie wees. Want kyk, nou dat die Yanks hul eie presidente en kongreslede kan kies, duur dit nie lank nie, dan is hulle moeg vir daai verkorenes. In minder as twee jaar nadat hulle pres. Barack Obama herkies het, was Obama se gewildheid op ’n vreeslike laagtepunt. En het die meeste Amerikaanse kiesers in ’n peiling aangedui dat mense wie se name lukraak uit ʼn telefoongids gekry word, beter as kongreslede sal vaar as die mense wat hulle pas self verkies het.

Of hulle meer tevrede sal wees met ’n blikbrein-regering is onwaarskynlik, want selfs al gaan dit spanne beter as nou, sal hulle steeds voel iets haper iewers.

In Suid-Afrika? Opnames toon dat bitter min kiesers werklik weet wat die beleid van die partye is waarby hulle hul kruisies gaan trek. Trouens, dis baie dikwels die teenoorgestelde van wat hulle self in glo.

Gestel die blikbreinokrasie besluit om aan die mense ’n soort outonomie te gee om hul eie leiers te kies, sal verkiesings nie soos nou geskied met plakkate, vergaderings, saamtrekke en liegstories nie. Elke kieser sal stelling voor ʼn elektroniese vraelys inneem en ten opsigte van elke beleidsaspek tussen die opsies van die verskillende partye moet kies. Om seker te maak die kiesers stem wat hy/sy self wil hê sal die partye se name nie by die beleidsopsies wees nie. Wanneer almal klaar gestem het, verwerk die rekenaars die data en bepaal uit die beleid waarvoor kiesers gestem het, watter party hoeveel stemme gekry het. En al wat ’n mens dan kan sê, is dat sommige groot partye taamlik sal agteruit boer, veral as daar ’n vraag ingebou is soos of die kieser ’n leier met onkreukbare integriteit verkies, en ander sal weer vooruit sal boer.

Ja-nee, so sal sekere kandidate vir hulle partye ’n groot Block aan die been word.

Maar ongelukkig, al herinner die optrede van sommige politieke leiers, en veral sekeres, gereeld aan dinge soos satire en die hansworse in die sirkus, is die politiek nog harde werklikheid. Maar gelukkig, of ongelukkig, is die moontlikheid van ’n blikbreinokrasie in Suid-Afrika net ’n hipotetiese satiriese oefening, want Eskom kan nie genoeg krag voorsien om die rekenaars deurlopend aan die gang te hou nie. Selfs slim rekenaars soek dit niks as die krag skielik uitskop nie. En niemand, nie eens slim rekenaars nie, dink daaraan om rekenaars te bou wat met kerskrag werk nie. En geen rekenaar met selfrespek sal in beheer van ʼn nuwe kragvoorsiener voorsiener, Kers.Com, wil wees nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Hein ·

Ai Herman; hoe meer ek lees hoe meer opgewonde het ‘n geraak oor ‘n rekenaar oorname! Dan sou ons ten minste ontslae kon raak van al die virusse wat so teel op die hulpbronne van die stelsel!

Vic ·

Nou hoe slim moet n rekenaar nou wees om by Zuma oor te neem, Herman?

Ulrich ·

Ek dink die gemiddelde sakrekenaar het meer intelligensie as as die SA regering…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.