Nuuskommentaar: “Blackface” en rassisme

Kloksgewys v.l.n.r. Zwarte Piet (bet.com); 'n golliwog-pop (Foto: Richard Williams); Leon Schuster in Schucks Tshabalala (dstv.com) en Xhosa-seuns by 'n inisiasiekamp (Foto: Obakeng Maje via confessionsofmycharacter.wordpress.com)

Kloksgewys v.l.n.r. Zwarte Piet (bet.com); ‘n golliwog-pop (Foto: Richard Williams); Leon Schuster in Schucks Tshabalala (dstv.com) en Xhosa-seuns by ‘n inisiasiekamp (Foto: Obakeng Maje via confessionsofmycharacter.wordpress.com)

Bykans ’n kwart eeu na die vorige regering die laaste apartheidswet uit die wetboek verwyder het, word Suid-Afrikaners bewus van ’n woord wat ’n groot deel van die land se problematiek beskryf. Let wel, beskryf, maar nie verklaar nie.

Blackface.” Die begrip het in Suid-Afrika in omloop gekom toe twee vroulike Tukkie-studente hulleself swart gesmeer en as “huishulpe” by ’n privaat kostuumpartytjie opgedaag het. Terwyl hulle by wyse van spreke aan die skandpaal gehang is, het ʼn groot deel van die land hul koppe in ongeloof geskud en kon nie verstaan waaroor die bohaai nou eintlik gaan nie. Moes Leon Schuster met sy alewige “rashoppery” in sy fliek dan nie ook al lankal deur die strate geparadeer gewees het sodat die inwoners hom met vrot eiers en tamaties kon bestook nie?

En, skynbaar onbewus van die hele gedoente, gaan twee Matiestudente en beeld hulle by ’n temapartytjie oor bekende tweelinge as die Williams-susters uit.

Steeds is daar by baie ʼn onbegrip oor wat die probleem nou eintlik is. Is veral die tweede geval dan nie juis ’n aanduiding van die getransformeerde samelewing wat die regering so najaag nie? En wat dan van die tradisionele gebruike waar baie swart mense hulle tydens seremonies met klei wit maak? Die een kan immers nie verkeerd, en die ander dan reg wees nie. Of hoe?

Die probleem kom indien die kwessie “opgelos” word deur dit net deur die bril van die een kant te bekyk. Hierdie optrede kan nie as rassisties beskou word deur dit net deur die bril van die “teikenras” te beoordeel nie. Daar moet ook na die gebruike, opvattings en individuele oortuigings van die “oortreders” en die kulture waaruit hulle stam, gekyk word.

Eerder as om die individue, wat geen kwade bedoelings op aarde, en selfs juis edel motiewe in die oog gehad het, skandpaal toe te sleep, moet die groep wat benadeel voel, hul saak duidelik kommunikeer: “Dís hoekom ons verneder voel deur die optrede.” Soos dit nou hanteer word, is daar nou ’n groter bewustheid van die feit dat dit vir baie swart mense vernederend is, maar nie begrip daarvoor nie.

“Blackface” het waarskynlik sy ontstaan in die slawe- en segregasie-era in die VSA toe swart mense nie toegelaat was om self rolle van swart mense in “wit” toneelopvoerings te speel nie. Witmense is vir hierdie doel swart gesmeer, en het dikwels die rolle só vertolk dat swart mense as oorlams, selfs dom, en verspot uitgebeeld is.

Die uitbeeldings was dikwels ook stereotipies van dik, rooi of wit lippe – iets wat minstens tot onlangs nog in die Asterix-strokies te siene was, veral met die rol van die swart seerower.

Die bedoeling was nie noodwendig om te verneder nie. Dit het immers ooreengeval met die era van die sogenaamde golliwogs – gebreide poppe van swart mans wat besonder gewild onder wit ouers was, met basies die gedagte – elke seuntjie moet een hê. Die golliwogs is stereotipies uitgebeeld, wat ingesluit het dat hy altyd vrolik en opgeruimd gelyk het. By baie liberale ouers was die bedoeling juis om ’n nuwe geslag groot te maak wat nie persepsies voorhou van swart mense wat wreed en skelm sou wees nie, maar ʼn positiewe bydrae tot ’n geïntegreerde gemeenskap sou lewer.

By baie swart mense het dit egter juis die weersin in die vernederende praktyk van “blackface” bevestig. Die gewilde golliwogs het politiek-inkorrek geword, en begin verdwyn.

Pogings om na nie-rassigheid te beweeg het nie altyd vlot verloop nie, en onder meer gemanifesteer in swart bewussyn, met ’n swart koukus in die Amerikaanse kongres wat eens op ’n tyd baie aktief was. Soms het van die pogings om die trots in swart wees, soos die uitdrukking, “Black is beautiful,” ander begin irriteer, en tot die teen-uitdrukking, “White is clean” gelei. Hieroor was daar ʼn groot ontsteltenis. Dit skep net ’n verloor/verloor-situasie.

“Blackface” sou egter steeds nuwe gevalle kry om aan te spreek, waaronder die bekende Zwarte Piet wat in Nederland en België vir Sinterklaas so getrou bystaan. Zwarte Piet word inderdaad dikwels soos ’n golliwog-stereotipe uitgebeeld, en dit het ’n draai in die howe gaan maak sodat daar nou allerlei juridiese voorskrifte is oor presies hoe swart Zwarte Piet mag wees, hoe gekrul sy hare mag wees, en so meer.

Maar word daar regtig wegbeweeg van ’n ras-bepaalde gemeenskap as nie-rassigheid ’n eensydige proses is? Dit kry soms die naam, omgekeerde rassisme, wat op sy beurt immers self ’n rassistiese begrip is – dit impliseer immers net een groep kan rassisties wees – as die ander groep presies dieselfde doen is dit “omgekeerde” rassisme. Wat wel omgekeer kan word, is die Volla wat te vinnig om die draai ry.

Skep eers ʼn bewustheid wat “die ander kant” aanstoot gee, en verduidelik hoekom, voor sake soos die twee gevalle hierbo ’n inkwisisie afgee.

En ontmoet dit wedersyds. Baie witmense het immers nie gehou van die sing van “Kill the Boer, kill the farmer” nie, maar die “reg” om dit te doen is verbete verdedig, en die “voorsanger” is selfs beloon deur een van die wêreldbeker-sokkerstadions na hom te vernoem.

Dit is ’n tweesnydende swaard.

Baie wittes, en bruin mense, is duidelik nie geneë daarmee dat dié bevolkingsgroepe blykbaar ad infinitum aan ras-diskriminerende praktyke onderwerp word nie. Tog gaan die owerheid hof toe om dit te verdedig.

Interessant, in die ou Suid-Afrika is lesings aangebied om groepe bewus te maak van watter praktyke die ander aanstoot sou gee. “Blackface”, toegegee, het nie deel daarvan uitgemaak nie, waarskynlik omdat destyds geneem het dis ’n Amerikaanse ding.

Maar die uitspraak van name het wel baie aandag gekry, en voorbeelde is genoem van hoe ’n verkeerde uitspraak ’n heel ander betekenis kan hê en erg aanstoot kan gee. ʼn Voorbeeld is die uitspraak van Mangaung, destyds die kollektiewe naam vir Bloemfontein se swart woongebiede. Die regte uitspraak – waarskynlik herlei na ʼn oorspronklike Khoisan-benoeming, beteken min of meer “plek van die groot katte”. Dit word egter dikwels, ook deur die SAUK, anders uitgespreek. Die vernederende aspek hiervan blyk uit die samestelling: “Ma (aanduiding van vroulikheid), “n-ga” (stink), “ung” (plekaanduiding). Kortom, elke keer wat die naam so oor die lug uitgespreek word, word minagting ervaar – terwyl die spreker geen in die minste kwade bedoelings het nie. Trouens, dikwels juis politiek-kruiperig probeer wees om Bloemfontein (die amptelike naam van die stad), Mangaung te noem.

Enkele jare gelede het die opname-agentskap, Pondering Panda, wat op jong menings spesialiseer, tydens ʼn opname bevind dat die meeste wit, bruin en Indiër jongmense meen die regering het apartheid heringestel. Die meeste swart deelnemers het nie so gevoel nie.

Stereotipes veroorsaak oor ’n baie wye front spanning. In die post-1994-era het die meeste Afrikanerinstellings die ras-norm laat vaar en die meer erkende volkeregtelike norme van kultuur en taal gebruik om op minderheidsregte ingevolge die grondwet en die internasionale reg aan te dring. Die rasbehepte regering “lees” dit egter byna strykdeur (moedswillig) in rasseterme. Toe Beeld in ’n onderhoud vir Gwede Mantashe vra na minderheidsregte in die toekoms vir die Afrikaner, het hy dit op die plek buite orde gestel deur dit onverdund ’n rassekwessie te maak.

Met die Puk-debakel negeer die minister van hoër onderwys, comrade dr. Blade Nzimande, blatant die grondwetlike en volkeregtelike beginsels deur die status van Afrikaans met apartheid en erger gelyk te stel.

Pogings om die land te “ontras” word natuurlik ook bemoeilik deur mense soos diegene wat op Nuweland kwistig die k-woord inspan. Skynbaar met die hulp van die omgewing se spog-produkte. Daar is randakker-groepe wat ras as sentrale norm vir selfbeskikking stel, wat die saak van diegene wat suiwer grondwetlik en volkeregtelik wil optree, in die wiele ry.

Maar iemand wat dink dat daar enige heil, ongeag die uiteindelike staatkundige model, te vinde is in ’n samelewing wat erg rasgepolariseerd is, begeef hulle op onverkwiklike terrein.
En ja, dit geld die regering ook.

Nou het die saak só ontwikkel dat Solidariteit die Suid-Afrikaanse regering by die VN se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie (CERD) gaan verkla. Onder meer het die regering sedert 2010 versuim om jaarverslae oor sy program om rassediskriminasie uit te wis, in te dien.

Navorsing toon dat ’n rasbeheptheid, ongeag die motiewe soos die uitskakeling van sosio-ekonomiese ongelykhede, nie nie-rassigheid bevorder nie. Waar transformasie ’n suiwer rassistiese instrument word, is die uitkomste dieselfde – ’n gemeenskap wat selfs meer gepolariseerd is, maar in ’n drukkoker vasgevang weens ’n diktatoriale beleid van die instellings wat hulle hieraan skuldig maak. En die ding van ’n drukkoker is dat die deksel soms afskiet.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Chris ·

Jy kan in alles wat jy hoor,lees of sien fout vind. Ek is beslis nie n Mangahunner nie ek is n Bloemfonteiner!!

Herman Toerien ·

Hallo Chris
Ek weet nie of jy my verkeerd verstaan het nie. Die kwessie van “nuwe name” is ‘n heeltemal ander ondewerp waaroor ek ook al baie geskryf het. Ek deel AfriForum se standpunt dat dit op kulturele imperialisme neerkom.
Wat hier ter sprake is, is dat instansies, bv die SAUK, hetsy uit doodgewone onkunde, gatkruipery of om na die munisipale struktuur verwys, dit verkeerd uitspreek dat dit ‘n erge belediging vir die mense word. Wat die SAUK betref, het ek persoonlik self taamlik lank e-posse gestuur elke keer wanneer ek die vreeslike uitspraak hoor, net om geïgnoreer te word. Eers na ek handdoek ingegooi het, het hulle dit reg begin uitspreek. Maar nou die dag toe Eskom die krag aan sekere munisipaliteite sou knip, het RSG in die nuus by herhaling van “Dilabeng” in plaas van die regte “Dihlabeng” gepraat. Vreemd omdat hulle dadelik die nuwe uitsprake vir plekke soos Witbank en Bronkhorspruit reg kry, waar dieselfde klankreëls geld. My punt is net, as ‘n mens die ander tael se woorde wil gebruik, maak seker die uitspraak is reg, want net ‘n verkeerde uitspraak, en jy vloek die ander dat die see hom nie kan skoonwas nie. (Terloops, Mangaung het nog ‘n derde uitspraak en ander betekenins, maar ek kan nie onthou wat die betekenis is nie).
My vrou is juis willebooslik kwaad vir die Britse weerdiens, wat op hul webwerf Bloemfontein met Mangaung gaan vervang het. Ek self gebruik die Noorse, wat nog na Bloemfontein verwys. Vind ook dat hulle die akkuraatste is.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.