Nuuskommentaar: BLF se joernalistelys: Skandvlek of ererol?

Dui die storie agter die storie van die BLF daarop dat Suid-Afrika nie net gekaap is nie, maar in ’n Mafiastaat in Tamatiestraat ontaard het? En dien die BLF se lys van joernaliste wat vasgevat moet word, nie eerder as ererol vir diegene wat bereid is om die wanpraktyke genadeloos aan die kaak te stel nie?

Moet joernaliste wie se name op ’n lys voorkom, swig voor die dreigemente van die Black First Land First (BLF) wat geteiken gaan word as hulle nie ophou om die Gupta-familie in ’n slegte lig te stel nie?

Die vraag, so kort ná die ontydige dood van Suna Venter, een van die SAUK-8, wat haar rug teen joernalistieke wanpraktyke styfgemaak het wat in die SAUK afgedwing is, is in die lig van omstandighede nie heeltemal net ’n teoretiese vraag nie.

Die BLF het in ʼn onlangse verklaring gesê hulle gaan joernaliste “teiken” wat “rassisme, laster, fopnuus en die beskerming van wit korrupsie onder die dekmantel van joernalistiek” versprei.

Die joernaliste wat genoem word, is Peter Bruce, hoofredakteur van Business Day, Sam Sole van ama-Bhungane, Adriaan Basson, redakteur van News24, Stephen Grootes, politieke joernalis van EWN, Max du Preez, politieke joernalis en kommentator, Barry Bateman, joernalis van EWN, en Alec Hogg, ʼn sakejoernalis.

Joernaliste, veral sommige en veral daardie joernaliste “wat daarna soek”, is min of meer gewoond daaraan om om elke hoek en draai die wind van voor te kry. Sommige publikasies moes al hul leserskommentaargeriewe sluit, en ander dit sterk beheer, om die uitstort van vitrioel te probeer stuit.

Die Seunse Weenkoor (’n uitdrukking wat Tim du Plessis afgestof het), het dikwels erg deurgeloop. Die kritiek op die Seunse Weenkoor het egter nooit op ’n formele, gepubliseerde lys uitgeloop van joernaliste wat ’n les geleer moet word nie.

Hierdie soort kritiek, gewoonlik op vryskut-rubriekskrywers gerig, maar ook joernaliste van publikasies, kan nie vergelyk word met die dreigemente waaraan ondersoekende joernaliste blootgestel word nie. Sommige rubriekskrywers se eie politieke ideologie straal immers gereeld (subjektief) uit, en sommiges verkondig van enige forum af dat hulle liberaal is. Sommiges skroom nie om eie klein byltjies te slyp nie, of voer ’n vendetta teen ’n instelling waarmee hulle nie saamstem nie.

Ondersoekende joernaliste word dikwels selfs met die dood gedreig.

Behalwe dat die BLF al getoon het dat hulle met hul lys bedoel om moeilikheid te maak, is dit nie in die aard van ’n ware joernalis om voor dreigemente te swig nie. Hierdie skrywer is self as jong hofverslaggewer gereeld gedreig, en het selfs ook aand-“huisbesoek” van een van hierdie kalante ontvang. Later het groot instellings, onder meer ’n universiteit, met die onttrekking van advertensies gedreig, en verskeie ondernemings het ook daad by die woord gevoeg. Dit word deur Verslaggewers Sonder Grense beskou as een van die praktyke wat ’n land se posisie op die persvryheidsindeks negatief beïnvloed.

Dit wat Suna te beurt geval het, is bykans ongelooflik. Uiteindelik het sy gebrokehartsindroom opgedoen.

Die minister van polisie, Fikile Mbalula, het met sy gebruiklike ruim woordeskat, gelaai met waarskuwings (wat soos dreigemente klink), die BLF laat verstaan dat hul optrede nie geduld sal word nie, en dat hulle hul onder meer teen skokgranate gaan vasloop, en “platgevee” gaan word. Hy het voorts gesê inhegtenisnemings volg binnekort.

Intussen lyk dit of die BLF se lys deur sommige joernaliste (wat dit nog nie gehaal het nie) as ’n soort ererol beskou word. Iemand wat dié lys haal, word beskou as ’n joernalis wat dapper die onregte in die land aanspreek. Om die lys te probeer haal word die BLF op enige moontlike wyse sleggesê, soos om hulle te beskuldig daarvan dat hulle as projek van Bell Pottinger tot stand gekom het, toe dié Britse beeldpoetsermaatskappy nog vir onder meer die Guptas opgetree het, en ook die term “witmonopoliekapitaal” geskep het, wat tydig en ontydig deur pres. Jacob Zuma ingespan word en so polarisasie in die land aanjaag.

Inderdaad is dit ook deel van die BLF se woordeskat. Die BLF toon ook ’n besondere affiniteit vir die Guptas.

Voorts het die DA aangekondig dat die party klagtes teen Bell Pottinger by twee gesagsliggame in Brittanje ingedien het. Bell Pottinger sou hom onder meer aan die bevordering van rassehaat in Suid-Afrika skuldig gemaak het.

Maar presies waar pas die BLF in die prentjie? Op die oog af lyk dit na stormtroepe om Zuma se rug te dek. Hulle bevorder Zuma se voorkeur dat grond sonder kompensasie onteien kan word, en soos gemeld, word die witmonopoliekapitaal-uitdrukking ’n hoeksteen van die BLF. Om die regstreekse Zuma-band te verdoesel, kruip hulle self agter die Gupta-rokspante weg, en word hulle wild en wakker deur Mbalula, ’n Zuma-kornuit, gedreig.

Die werklike feite sal stellig deur ondersoekende joernalistiek aan die lig kom, maar sou dit blyk dat die BLF inderdaad as Zuma se stormtroepe optree, is Suid-Afrika nie net gekaap nie, maar ook ’n Mafiastaat. ’n Mafiastaat in Tamatiestraat.

Hierdie gebeure wat met die #GuptLeaks verband hou, veroorsaak dat daar by die breë publiek byna geen aandag aan die beleidsaspekte van die ANC se beleidskongres geskenk word wat nou plaasvind nie. Die Daily Maverick stel dit goed onder die opskrif: Tinkering with the party’s engine while the country’s wheels are coming off.

Maar maak dit saak?

Miskien som adv. Anton Alberts, voorsitter van die Vryheidsfront Plus, die situasie die akkuraatste op: “Dit is uiters kommerwekkend dat joernaliste nou geteiken word aangesien hulle met die oopvlekking van staatskorrupsie as ʼn belangrike skild staan tussen die burgers van Suid-Afrika en totale staatskaping met die gepaardgaande stroping van die fiskus.

“Dit is duidelik dat duister magte gelei deur die Guptas en pres. Jacob Zuma nou in ʼn desperate Mafia-agtige styl oorlog verklaar het teen diegene wat hul dade oopvlek.

“Die oorlog teen die gewone landsburgers het nou oorgegaan na die vlak van persoonlike aanvalle en leed. Die afsterwe van die joernalis Suna Venter en die skrikwekkende viktimisering waaraan sy onderwerp, is, is ʼn voorbeeld hiervan.

“Dit is belangrik dat alle regdenkende mense in die land nou in eenheid saamstaan teen die aanslag aangesien die desperaatheid van die staatskapers wys hulle besef hul einde is naby. Die VF Plus sal Sanef daarom steun in sy aksie teen BLF.”

Intussen bied die aangeleentheid aan joernaliste wat graag ’n uitdaging wil aanvaar, die geleentheid om dit duidelik te maak dat hulle die BLF se lys as ’n ererol vir joernaliste met integriteit en ruggraat beskou.

Thobani Dlamini skryf in ’n brief aan die redakteur van die Daily Maverick: “Journalists don’t work for themselves but selflessly give their time and strength to show people what is happening in our country. There are no personal vendettas against a certain party or individual, but a goal to eradicate ills and socio-economic challenges.”

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Michael ·

Die BLF is beslis net ‘n rasistiese organisasie wat deur die Zupta’s betaal word om haat teen wit mense te versprei. Dit is beslis ‘n ererol.

Bert ·

Die probleem is dat sommige joernaliste veel meer as blote ondersoek doen en daaroor berig. Hulle is ‘politieke diere’ wat hul platvorm misbruik om ‘n bepaalde ideologie of wereldbeskouing te bevorder. Propaganda dus.

Hulle is gewone mense met hul vooroordele en kleinlikhede wat ongewone invloed het op die wereld daarbuite. Sommige joernaliste lewer al lankal nie net meer berigte nie; dit gaan nou oor hul menings.

Soveel joernaliste in ons land word as jong studente beinvloed deur ‘n klein groepie lektore en professore wat klaarblyklik almal linkse neigings het. Groepsdenke heers en hulle beweeg hierna oor na die groot korporasies wat almal ‘n hoofstroom ideoolgie nastreef en inskerp by hul werknemers.

Die linkse ‘bias’ in die media is so ooglopend. Die leuens wat hierdie mense daagliks verkondig is so werklik. Daarom is daar vir my tog ‘n mate van waarheid in die BLF lys. Van die mense wat daarop verskyn maak hulle skuldig aan eensydige en ongebalanseerde beriggewing, fopnuus en linkse propaganda. Wat my aanbetref behoort daar onafhanklike regulering vir die media te wees want die ‘Fourth Estate’ is ‘n baie gevaarlike industrie wat maar eintlik die propaganda arm is vir wie ook al die dominante klas is of wil wees. Daar is niks spesiaal aan hulle nie.

JC ·

Baie baie dankie vir jou weldeurdagte kommentaar Bert. Ek kan sien jy is ‘n outjie wat beslis weet wat aangaan in hierdie siek en verdraaide wereld van ons. Jou kennis van die leuens van die 4de Stand word opreg waardeer.

Magda ·

Baie goed gese – dankie Herman – Almal val en so salZuma en Kie ook – Guptas julle tyd is ook om

Cornelius du Rand ·

Dankie FW de Klerk en Theun Eloff julle skitter in julle afwesigheid

JC ·

Ja nee, dit kan jy weer se Cornelius. Patete is nie ‘n sterk genoeg woord nie.
Is daar ‘n woord of begrip vir “onnosel en liggelowige verraaier”?

Therese van Schalkwyk ·

Die meedoënlose teistering van Suna Venter en haar tragiese dood is skokkend en ‘n ernstige aanklag teen die Suid-Afrikaanse samelewing in sy geheel. Hoe alleen moes sy nie gevoel het nie.

Die feit dat sy géén ondersteuning of beskerming ontvang het van haar werkgewer óf die SA Polisie nie, terwyl almal (die pers inkluis) ten volle bewus was van alle voorafgaande insidente, skrei ten hemele.

Hierdie traak-my-nie-agtige-houding word egter daagliks op vele ander terreine weerspieël en behoort nie meer te verbaas nie. Die “burgeroorlog” wat volgens sg. kenners in die vroeë 90’s vermy is, het bloot ander gedaantes aangeneem. Die nuutste plaasmoord en die hoë sterftesyfer in hospitale getuig daarvan.

Laastens, die twee Afrikaanssprekende joernaliste op die BLF “ererol” moet heimlik wonder waar alles so verkeerd geloop het. SA is dan o.a. heel dapper van ‘n neo-Nazi-beweging op die PUK gered!

Bert ·

Hoe op aarde kan haar dood ‘n aanklag teen die hele samelewing wees? Teen my? Ek het niks daarmee uit te waai nie.

JC ·

Baie goed gestel, dankie Theresa, ek loof die Here vir mense met insig soos jy. Jou soort is dun gesaai. Jou bedekte en heerlike sarkastiese kastytjie aan die einde het my laat lag.

Lea ·

Daar is nog n swart vroulike joernalis oor die naweek skielik na n kort siekte dood..dit laat mens wonder of hulle nie vergiftg word nie, soos gif wat die hart kan aantas. Enige iets is moontlik in DIE mafiastaat van die Zuptas!

Johan ·

Was terroriste en is nog steeds terroriste. Ons veg net nie terug nie, dis maar al.

Sakkie van der Merwe ·

100% korrek. Maar lees hiermee saam Naspers se siek aanval op die Spur-man deur sy verlede te gaan opdiep en op die nuusfront te plaas. Waar het hul die inligting bekom en by wie? Die klagtes was almal terug getrek en een onskuldig bevinding – Naspers daal tot ‘n ongekende laagtepunt in sy aanvalle op al wat wit is.

Leendert ·

Absoluut reg Sakkie, ek het skoon naar geword toe ek die berig sien. Maar natuurlik moes Naspers se base ook die berig gelees het, dus moet dit hul goedkeuring wegdra dat die redakteur van die webwerf en onder wie se ‘waak’ dit geplaas is, dit toegelaat het. Maar dan sien ons ook dat sekere mense na wie Herman hier bo verwys, en wat vir lank nie rubrieke of bydraes vir Netwerk24 geskryf het nie, is van so ‘n maand gelede af terug.

SARIE VAN HEERDEN ·

Die Guptas maar is die mense wat werkskepping doen vir witmense. Ek lees dat een van die voorwaardes tydens die Sun City huweliksseremonie was dat hul slegs deur blankes bedien moes word. Kom ons salueer hulle! Wit werkskepping!

SARIE VAN HEERDEN ·

Hoe het ek dit nou met Max du Preez. Miskien verstaan ek sy skrywes verkeerd maar miskien kan Max vir ons vertel op watter stoel sit hy deesdae want eens op ‘n tyd het hy totaal die teenoorgestelde mening gehad as wat hy deesdae het. Selfs EK lees nou sy werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.