Nuuskommentaar: Blinde, maar nie stom Zuma moet SA by Davos ‘lei’

Pres. Zuma met sy aankoms in Switserland. Foto: Elmond Jiyane

Pres. Zuma met sy aankoms in Switserland. Foto: Elmond Jiyane

’n Groot en sterk afvaardiging verteenwoordig Suid-Afrika vanjaar by die WEF se Davos-beraad, maar die vraag bly wie die diepste spore gaan trap – Pravin Gordhan of pres. Jacob Zuma wat die afvaardiging lei. Gordhan se taak is moeilik genoeg sonder die los kanon wat Zuma gereeld is.

Die goeie nuus is dat Suid-Afrika ’n baie sterk span, wat ekonome insluit, na die jaarlikse Davos-ekskursie van die Wêreld Ekonomiese Forum stuur. Die SA-span se tema is “Suid-Afrika se deure staan oop om sake te doen”

Minister Pravin Gordhan se vermoëns gaan egter tot die uiterste beproef word.

Die slegte nuus is dat pres. Jacob Zuma (al weer) die Suid-Afrikaanse afvaardiging lei. Wat ekonomiese sake betref mag Zuma blind wees vir werklikhede, maar stom is hy nie met onlangse uitsprake soos dat die ANC daarna streef om van Suid-Afrika ’n sosialistiese kommunistiese land te maak; en dat hy, Zuma, van ekonome verskil wat meen pryse moet deur vraag en aanbod, en eerder deur die arbeid bepaal moet word. Aan ondeurdagte optredes wat die ekonomie knak is daar ook nie brieke nie, soos die onlangse Nene-geval.

In ’n wêreld wat ’n globale neutedop is trek sulke wanklanke gou wêreldwyd. Dit hoef nie eens die media te haal sodat die politici en politieke kommentators hul menings daaroor kan lug nie; die wêreld se ekonome het hul vingers op die pols en dit reflekteer dikwels in effektebeurse wat geraak word nog voor die nuus oor die oorsaak algemeen rugbaar word.

Die Suid-Afrikaanse span se ekskursie na Davos vind plaas teen die agtergrond van die feit dat die IMF pas Suid-Afrika se groeivooruitsigte vir 2016 met die helfte tot 0,7 % gesny het. Dis ongeveer die helfte van wat die Suid-Afrikaanse Tesourie verwag, en veral Gordhan gaan sy storie moet ken om potensiële beleggers te oortuig dat die IMF verkeerd is. Die IMF het, terloops, in die verslag ook die groei in die wêreldekonomie vir 2016 van 3,6 tot 3,4 % afgeskaal. Dit is ’n veel kleiner daling as wat vir Suid-Afrika voorspel word, wat beteken dat Gordhan soos ’n advokaat vir sy kliënt se lewe sal moet veg.

Boonop steek Suid-Afrika se verwagte groeikoers sterk af by dié van Afrika suid van die Sahara wat met 0,3 % tot 4 % afgeskaal is.

Gordhan sal sy saak moet stel met Zuma wat teenwoordig is en ook nie gaan skroom om by Davos sy “oorwoë mening” te gee nie. Al sê sy span hom (weer) voor wat om daar in onder meer TV-onderhoude te sê, is die probleem dat dit dan lynreg sal staan teenoor uitsprake wat hy in Suid-Afrika gemaak het, en wat internasionaal opslae gemaak het. Dit knak net vertroue verder.

Voorts lui die gesegde dat ’n ketting net so sterk soos sy swakste skakel is. Afgesien van Zuma aan die hoof van die afvaardiging is daar nóg swak skakels in die vorm van onder andere ministers Rob Davis en Ibrahim Patel, albei van die SAKP.

Davis kan ook nie meer, soos sy gewoonte was, sy beleidsrigtings “regverdig” deur na China se sukses te verwys nie. Afgesien daarvan dat dit weens China se afwyking van ’n kommunistiese ekonomiese model vals is, is China se huidige ekonomiese probleme tot ’n groot mate verantwoordelik vir die probleme wat die wêreldekonomie nou ervaar. Dit word in die IMF se verslag saam met die dalende olieprys en die resessie in Brasilië as vernaamste redes genoem dat groeivooruitsigte afgeskaal moet word.

Gordhan se taak is ook besonder gedug nadat verskeie kredietgraderingsagentskappe Suid-Afrika se gradering tot op die randjie van rommelstatus afgegradeer het. Die noodwendige gevolg is dat buitelandse lenings duurder word weens die hoër risiko, terwyl Gordhan juis goedkoper finansiering, en baie daarvan, moet vind.

En Eskom se aansoek vir ’n 17 % verhoging in tariewe kon nie op ’n slegter tyd vir Gordhan gekom het nie – ook omdat Gordhan beleggers van ’n gesofistikeerde en betroubare infrastruktuur moet oortuig.

Voorts moet die potensiële beleggers oortuig word dat die Nasionale Ontwikkelingsplan nie net beleid bly nie, maar stewig met implementering op koers is. Met soveel klanke uit die ANC dat eerder by die Vryheidsmanifes gebly moet word, beland Gordhan op ’n baie nou lysie. Aan die een kant is ’n regop krans in die vorm van ’n komende verkiesing en die ANC soek witvoetjie by kiesers vir wie die Vryheidsmanifes soos musiek klink, en aan die ander kant is die groot afgrond as die land wél met die Vryheidsmanifes flankeer.

Die tema van vanjaar se driedaagse beraad is “Vierde nywerheidsrewolusie”, wat Suid-Afrika weens sy selfgeskepte agterstand in vaardighede nie juis in ’n sterk bedingingsposisie plaas nie.

Gordhan self gee geen aanduiding dat hy pessimisties is nie, en noem die indekse waar Suid-Afrika onder die voorste lande val (terwyl hy ook erken dat die land op ander onder die swakstes tel en dat iets daaraan gedoen moet word).

’n Groot struikelblok is dat Zuma self oortuig is dat hy, Zuma, bekwaam vir die werk is en die kritiek op hom daaraan toeskryf dat daar nie aanvaar kan word dat iemand met net gr. 3 hom met ’n wonderwerk kon onderskei om president te word nie. Sy optrede en uitsprake sedert die Nene-debakel dui ook nie op ’n president wat sy les geleer het nie, maar eerder van een wat nou juis eie uitsprake maak om te wys van watter stoffasie hy nou eintlik is – en in die proses nou al ’n paar keer weer sy voet daarin gesit het.

Die ANC loop met oop oë in die Zuma-dilemma in en sal eerder diegene wat wil sien dat hy die tuig neerlê van rassisme beskuldig, as om na die land se beste belange om te sien.

Nou moet die Zuma-Davos-turksvy afgesluk word. Maklik gaan dit nie wees nie. Die politieke kommentator Henry Jeffreys stel dit so: “Daar was ’n tyd toe Suid-Afrika ’n groot gunsteling onder wêreldleiers by Davos was. Dit is egter nie meer die geval nie en vanjaar veral sal die Suid-Afrikaners, onder leiding van Zuma, onder ’n meer kritiese vergrootglas kom. En juis weens Zuma se leiding van die land self. Die president se hoogs omstrede uitskop van Nhlanhla Nene as minister van finansies en die aanstelling van Des van Rooyen in sy plek weerklink nog steeds deur die ekonomie. Die land beleef ’n vertrouenskrisis soos laas in die 1980’s tydens die bewind van oudpres. PW Botha toe dié se Rubicon-toespraak die markte in vryval geslinger en beleggersvertroue ’n gevoelige knou toegedien het. Dit sal by Zuma, wat duidelik nie ­reken daar skort iets te erg met Suid-Afrika se beeld nie, tuisgebring moet word dat hy beleggers ontsenu. Suid-Afrika kan nie meer handel dryf op grond van sy politieke oorgang of ‘wonderwerk’ van 1994 nie.”

Die mate waarin Gordhan hom “teen” die president kan handhaaf sal lig werp oor die voorwaardes waaronder hy, as selferkende moeë man, bereid was om weer minister van finansies te word. Het hy inderdaad voet neergesit en geëis dat Zuma sy neus uit finansiële sake hou?

Binnekort vind die staatsrede plaas. Terwyl verwag word dat Gordhan ’n stewige voetafdruk daarin sal hê om ’n eenvormige boodskap na die wêreld uit te stuur, bly die groot uitdaging steeds om daarvolgens te lewe en om kort voor ’n verkiesing bitter medisyne uit te deel aan ’n gemeenskap by wie oormatige verwagtings geskep is.

En gaan Zuma homself kan beteuel? Nie sommer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Rynhardt ·

Dit is absoluut n sirkus wat na Davos-beraad gestuur word met n prez wat SA ekonomie vernietig het.Hy word geondersteun deur Pravin Gordhan wat in ontkenning leef en se Zuma is nie verantwoorfelik vir die val van rand nie! Is Zuma en Anc ooit verantwoordelik vir enige iets? Beleggers gaan nie bele in n dooie ekonomie nie.Daar is geen stabiliteit in SA nie, en geen waarborge vir beleggers met n nommer 1 komediant aan die stuur van sake nie! Al die toneelspel kan hul nie red nie, al belowe Zuma en kie.ook wat.

Dee ·

Somtyds gaan ‘n winkel bankrot nadat dit vir jare op ‘n oewer gestrompel het in pogings om regop te bly. Nadat dit bankrot verklaar is en gedwonge van eienaar en bestuur moes verander, verander dit partykeer in ‘n dawerende sukses. Miskien moet daar nie gehoop word om slegs strompelend ewewig te behou in die modder nie.

Chris N ·

Zuma, Davos is vir slin mense met opleiding. Ek weet nie wat jy daar soek nie, jy is ‘n verleentheid vir die land, en kan nie eens ‘n eenvoudige getal lees nie. Ek is oortuig dat jy nie na Davos genooi is. Die ander lande se genooide afgevaardigdes is slim mense met integriteit, jy sal hul nie kan mislei soos die klomp in SA.

Dee ·

Zuma lees nie Maroela Media nie – miskien lees hy glad nie.

Martin ·

Nee, kyk hier gaan hy sukkel. Gee hom kans. Net nog ‘n spyker in sy doodskis.

HEVW ·

Dankie tog vir die wonderlike geleentheid. Nou word zuma en sy gevolg in die lig gestel en die slim mense met integriteit dwars oor die wereld kan sien vir wat hul werklik is.Dit sal net die boodskap; ” zuma must fall” wat alreeds oor die wereld bekend is versterk.

Anny Penny ·

Ek voel jammer vir Gordhan wat hier moet gaan positief optree met JZ wat in sy nek blaas. Met Gordhan wat eintlik al moeg is vir SA politiek en bereid was om weer te probeer om SA te red hoop ek van harte hy kan JZ se mond snoer. Kry hy dit nie reg nie is ek bevrees PG gaan weer groet en wat maak ons dan want Trevor M is ook vergoed weg. Ons moet almal maar regtig bid dat PG die sterker mens is wat ou JZ op sy plek kan sit

Knersus D ·

OMF – hier kom probleme… Gordhan moet hom beslis muilband want hy kan onberekenbare skade aanrig met een dom uitlating.

Martin ·

Anny Penny, ek het ‘n idee dit is juis hoekom Zuma daar is. Hy wil seker maak PG doen soos wat hy voorgesê word.

jaco ·

Ek keur die meeste van Zuma se besluite en dade af, maar aan die ander kant is dit tragies hoe die wit mense wat in beheer is van Amerika, Europa, die IMF en die Wereldbank steeds aan die res van die wereld voorskryf. En hoop Zuma kla by Davos oor hierdie rassisme…

Martin ·

Hier gaan ons alweer. Een van die dae is dit slawehandel in Amerika en apartheid in SA skuld gaan kry vir die swak wereld ekonomie.

Hein ·

Dit is net al duideliker dat die huidige demokratiese bestel nie werk nie en die verkiesing nie ‘n verskil gaan maak nie. Nie as jy ‘n 2 present minderheid is nie. ‘n Parallele ekonomie sal moet geskep word.

adrian ·

Wereldleiers is baie baie slimmer as die klomp narre. Z haan weer sy bek verbypraat die oomblik wanneer hy nie sy georganiseerde brief lees nie. Geen mens behalwe korrupte skurke sal nie n pennie in die korrupte land bele nie. Hoekom is die rand so laag ……antwoord jakob zuma en die anc

Ouman ·

Beleggers steur hulle nie veel aan wat gese word nie, hulle kyk na wat jy doen. Zumpie en sy brigade kan praat tot hulle blou in die gesig is maar beleggers gaan nie daarvoor val nie. Hulle weet wat in RSA aan die gang is. Trippie is weer net mors van belastingbetaler se geld.

ANDRÉ ·

Ag, gee my krag! Wat weet Zuma van die ekonomie?! Hy het dan nie beter as ‘n grad twee nie!

Pienkes du Plessis ·

Suid-Afrika se afvaardiging bestaan glo uit 80 mense. Waar kan mens die name en beroepe van die 80 kry?

Christo Pienaar ·

Verwyder JZ se stembande. Verklaar hom onbevoeg agv een of ander geestessiekte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.