Nuuskommentaar: Blouligboewe en anomie

Die berugte blouliginsident waartydens ‘n jong seun ernstig beseer is toe hy deur ‘n motor van ‘n LUR raakgery is, kon nie op ‘n slegter tyd kom as op die vooraand van die Somervakansie se verwagte padslagting nie.

Drank en spoed kry gewoonlik die skuld vir die noodlottige ongelukke, maar daar is ook padwoedegevalle en ander insidente wat sterker op ‘n siek ingesteldheid van die mense agter die stuurwiel dui. Die sosiologie noem dit anomie, en word omskryf as ‘n toestand van wetteloosheid voortspruitend uit ‘n gebrek aan maatskaplike norme. Dit beskryf die verbrokkeling van die maatskaplike bande tussen mense. Dit beskryf ook ‘n gevoel van vervreemding voortspruitend uit die gevoel van doelloosheid. Dit dui op ‘n gebrek aan etiek of etiese kodes.

Ongehoorsaamheid, in hierdie konteks, word beskryf as die gemeenskap se morele en burgerlike reaksie op anomie deur die owerheid. Die voorbeeld wat die politieke sosioloog, prof. Andries Bezuidenhout hiervoor gee is dat pres. Jacob Zuma, destyds adjunkpresident, hoof van die land se formele herlewingsaksie was maar self van verkragting aangekla is. Sy verweer teen verkragting was dat dit eintlik owerspel was….

Die boefagtige optrede van die blouligbendes wat om onbenullige redes soos laat wees vir vergaderings as regverdiging gebruik om ander padgebruikers se lewens in gevaar te stel sal ook hieronder klassifiseer. Die klimaat word gunstig waar baie burgers respek vir die reg verloor, en baie van hierdie mense beland agter die stuurwiel waar hulle ook weer ‘n swak voorval skep, en situasies van padwoede ontlok.

Watter ouer wat kinders skool toe pendel, ken dit nie: “Sjoe, kyk net hoe jaag daai padvark deur die verkeer.” Met die kinderstem wat antwoord: “Ja, dis juffrou Bessie, sy gee vir ons aardykskunde.” Die verkeerde saadjies word van jongs af gesaai. Onlangse syfers dui daarop dat die gevolge van gewoonte-verkeersoortredings lewens kos. Volgens nuwe data uit Nederland is daar ‘n regstreekse verband tussen bestuurders wat ‘n geneigdheid het om verkeersboetes op die lyf te loop, en om ongelukke te maak.

Volgens die Stigting vir die Wetenskaplike Ondersoek na Verkeersveiligheid, maak motoriste wat nege verkeersboetes per jaar kry, ‘n halfpersent van die bevolking uit, maar is vir ses persent van die ongelukke verantwoordelik. Anders as ‘n studie wat in 1995 in Kanada gedoen is, dui die jongste navorsing nie op ‘n eweredige toename tussen die hoeveelheid boetes en die kans om ‘n ongeluk betrokke te raak nie. Vir nege boetes is die kans tien keer so groot om ‘n ongeluk te maak as net vir een boete. By 17 boetes is die kans ‘n 100 keer groter.

Dié syfers vind ook in die aantal padsterftes neerslag. Die norm is dat die kans vir ‘n sterfte vir elke 50 000 kilometer wat gery is, een uit 10 000 is. By motoriste met nege verkeersboetes per jaar, is die kanse egter een per duisend. Die studie in Nederland word as baie verteenwoordigend beskou, omdat Nederland die land met die meeste “flitspale” per inwoner is. Tog word 67 persent van die ongelukke gemaak deur mense wat geen, of bykans geen verkeersboetes op die lyf geloop het.

Suid-Afrika het ook ‘n interessante statistiese verband tussen wetstoepassing en padsterftes: Hoe laer die persentasie aangekeerdes vir dronkbestuur per 100 000 van ‘n provinsie se bevolking, hoe hoër is die padsterftes wanneer die sterftes en motors per kilometer vergelyk word. Vir die min of meer ooreenstemmende tydperk (met 2008 as ankerjaar), lyk die posisie so, in volgorde van aangeklamde aangekeerdes per 100 000 per provinsie, die aantal padsterftes en die voertuie per kilometer. Gauteng se bevolking is sowat 9 miljoen, ongeveer drie keer soveel as die Vrystaat se ongeveer drie miljoen. Die aantal padsterftes is ook bykans drie keer hoër, maar Gauteng se sterftes vind plaas in ‘n verkeersdrukte wat meer as agt keer so groot is; dus sou verwag word dat die padsterftes in Gauteng veel hoër sou wees. In Gauteng is egter veel strenger wetstoepassing teen dronkbestuur, met ongeveer dubbel soveel motoriste per 100 000 van die bevolking wat aangekeer word.

Die Oos-Kaap se bevolking is meer as dubbel so groot soos dié van die Vrystaat en die padbesetting bykans dubbel, maar die aantal padsterftes is heelwat minder as dubbel – die wesenlike verskil weer eens dat die wetstoepassing teen dronkbestuur ook bykans dubbel so streng is.

Daar is talle ander faktore, soos padtoestande, die gemiddelde ouderdom van voertuie wat in die Vrystaat baie hoog is, en of dit tipiese deurryprovinsies is wat die werklike padbesetting verhoog. Gewoonlik is daar ‘n redelike ooreenkoms tussen die getal bestuurders, passasiers en voetgangers wat in padongelukke landswyd sterf.

Uit navorsing wat die Mediese Navorsingsraad tydens nadoodse ondersoeke doen, was 61 % van die voetgangers wat in ongelukke gesterf het, onder die invloed, en 59 % van die bestuurders. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie, wat ‘n wye verskeidenheid bronne gebruik, is Suid-Afrika se jaarlikse padsterftes per 100 000 van die bevolking die 72de hoogste ter wêreld, naamlik 20,2. Italië, wie se padgebruikmaniere betreklik berug is, is 150ste, met die koers 8,4. Australië se koers is 6,8, dié van Nederland 4 en Japan 3,8.

Kampvegters vir vroueregte sal dit ook insiggewend vind dat Saoedi-Arabië, waar vrouebestuurders en drank nie toegelaat word nie, onder die hoogstes tel, 23,2. Dit is moeilik om ‘n konstante rasionaal te vind vir lande se posisies op die ranglys, waar Namibië die hoogste plek beklee met 53.4, en die Maldives die laagste met 2,4. Tog kan oor die algemeen gestel word dat die syfer die hoogste is in derdewêreldlande veral in Afrika, en die laagste in ontwikkelde lande, veral lande met groot getalle spoorpendelaars. Die syfer neem nie padbesetting in ag nie, en word dit ook verreken sal Suid-Afrika waarskynlik baie na-aan die gevaarlikste land ter wêreld vir padgebruikers wees.
Die belangrike faktor is egter dat iemand wat nie respek vir die reëls van die samelewing het nie, ‘n beter kans staan om bloed op sy hande te hê.

Ongelukkig put die bevolking nie veel inspirasie uit die voorbeeld wat hul leiers stel nie – of dit nou handel oor ‘n persepsie van hoe korrup hulle is, of watter padmaniere hulle aan die dag lê, of hoeveel verhoudings buite die eg op die lappe kom, dit alles maak nie ‘n geheelbeeld van ‘n goeie voorbeeld uit nie. Waar anomie die norm word, is ‘n padveiligheidsveldtog vergelykbaar met iemand wat ‘n sandstorm met ‘n besem probeer keer.

Anomie is egter net ‘n rede, nie ‘n verskoning nie, en wanneer ons agter die stuurwiel inklim om saam met die gesin langs die groot blou dam te gaan uitspan, neem ons beheer oor ‘n potensiële moordtuig. Eerder as om ‘n potensiële doder te wees kan baie mense ‘n potensiële lewensredder wees en gaan bloed skenk. Veilig ry.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae