Nuuskommentaar: Boekverbranding, stratkom, beeldestorm en persvryheid

Betogers ontwrig die bekendstelling van Pieter-Louis Myburgh se boek Gangster State: Unravelling Ace Magashule’s Web of Capture by Exclusive Books in Sandton City. (Foto: Penguin Random House)

Daar is, heeltemal tereg, groot ontsteltenis oor die ANC Jeugliga se ontwrigtende optrede teen die onlangse boek wat optredes agter die skerms, en soms nie eens vreeslik agter die skerms nie, van die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, aan die lig bring. Daarmee saam die Jeugliga se dreigement om alle eksemplare van die boek te verbrand. Talle prominente ANC-leiersfigure het die Jeugliga se optrede erg gekritiseer.

Maar kan die ANC werklik vrygespreek word oor die Jeugliga se optrede?

Die voortdurende gebruik van die pikante woord “stratkom” staan grootliks sentraal in die verdagmakery van inligting wat vir die ANC skadelik kan wees. So is reeds herhaaldelik na die boek Gangster State van die ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh as stratkom verwys.

Die ANC gebruik deurgaans die spelling “stratcom”, maar “stratkom” word in ’n hele paar Germaanse tale gebruik. Taalkundig is dit bloot ’n afkorting vir die woorde “strategiese kommunikasie” wat in sy mees onskuldige vorm, baie sterk ooreenkomste toon met strategiese bemarking. Die vernaamste verskil is dat met strategiese bemarking gewoonlik fisieke produkte verstaan word. Met stratkom behels dit die verandering van mense se denke.

Twee van die vernaamste ooreenkomste is dat albei nie veronderstel is om die leuen in te span nie, omdat dit te maklik kan boemerang. Die boodskap moet genoeg waarheid bevat dat dit geloofwaardig is. Die teikenmark moet ook nie agterkom iemand probeer sy gedagtes verander nie, omdat ’n mens hom sal verset as hy agterkom daar word met sy brein gesmokkel.

As teenvoeter vir die doeltreffendheid van stratkom is dit op verskeie maniere verdag gemaak. Dit sou glo die handewerk van die veiligheidspolisie wees, en word aan die moorde op aktiviste verbind. Hierdie persepsie word wyd gedeel, en in meerdere koerante klakkeloos as die waarheid aangebied. Die werklikheid is komplekser.

Die destydse veiligheidsbestuurstelsel as geheel het dit aangewend, en daarvoor ’n betreklik gespesialiseerde vertakking gehad wat in die sogenaamde Komkoms (kommunikasiekomitees) en substrukture vergestalt is. Die Komkoms was weer substrukture van die gebiedsbestuurstelsels, wat grootliks na staatkundige, ekonomiese en maatskaplike sake omgesien het, gewoonlik uitsluitlik in ’n koördineringsrol tussen lynfunksiedepartemente.

Daar was egter ook lang wortels na sekere vroeëre gebruike, soos Goebels se strategiese propaganda, en later die konsep van sielkundige oorlogvoering as respons tot die totale aanslag. Hoewel baie van die kundigheid hieroor in stratkom beslag gekry het, was die uitpak daarvan as strategiese kommunikasie veronderstel om minder gestigmatiseer te wees. Die strukture daar agter was immers gelaai met gewone amptenare wat ook eerbare kerkmense was.

Wat stratkom was, of veronderstel was om te wees, is egter nou in die praktyk irrelevant. Die persepsies daaroor wat die huidige bewind daarvan uitstraal en voorhou, is skrikwekkend; in so ’n mate dat dit die pleger of medepligtige tot op die randjie bring van die status van vrybuit. Hul lewens is in gevaar.

Foto: Penguin Random House

Ondersoekende joernaliste is onontbeerlik om wanpraktyke wat die demokrasie ondermyn te ontbloot. Dit floreer waar ware persvryheid die norm is, maar is nie vreemd in lande wat diktatoriaal is nie. Die verskil is dat ondersoekende joernaliste in outokratiese lande die gevaar loop om aangehou te word of hul lewens te verloor. Die gelukkiges word gedeporteer.

Die huidige regering is klaarblyklik nie onskuldig by die toepassing van stratkom, of eerder blatante propaganda nie. Baie vrae hang byvoorbeeld nog oor die uiters amateuragtige “intelligensieverslag” wat die destydse minister van finansies se kop in die Zuma-bedeling laat rol het. Hiervolgens sou Pravin Gordhan en sy adjudant, op ’n sending oorsee om beleggings te probeer werf, eintlik oorsee gewees het om subversie teen Zuma te pleeg. Destyds is min of meer aanvaar Bell Pottinger het die projek namens Zuma en sy binnekring uitgevoer om Zuma so skoon as moontlik daarvan te laat afkom om van Gordhan ontslae te raak.

’n Wilde krokodil word nie sommer ’n mak huishond as sy stert afgekap word nie. Jesse Duarte se onlangse vloermoer teenoor ’n joernalis is wyd veroordeel, en blyk nie die eerste keer te wees wat sy so uitgebars het nie.

Die fisiologie van wat nou gebeur het, en hoe dit verder gaan ontwikkel, sal later in groot detail ontleed kan word. Minder as ’n maand voor die verkiesing kan daar nie vir antwoorde gewag word nie, en is die druk in die drukkoker reeds baie hoog.

Voorlopig lyk dit egter of die staat nou deeglik die prys betaal van sagte optrede teen die beeldestorm waar die anargiste net te dikwels straffeloos daarvan afgekom het. Oproerige studente wat op ’n rugbyveld gestorm en ’n belangrike wedstryd ontwrig het, word as slagoffers voorgehou nadat betalende toeskouers hulle hardhandig van die veld verwyder het.

Tegniese verskonings laat die mees blatante opstokers van rassisme en haatspraak skotvry daarvan afkom. Die OVK gaan registreer ’n party wat slegs swart lede toelaat, in weerwil daarvan dat dit volgens wetgewing verbied word.

Hoe op dees aarde moes die boekverbranders nou ook snuf in die neus hê dat hierdie bepaalde optrede, nou skielik verkeerd sou wees, veral as die leier die boek as stratkom swart smeer?

Dit neem niks weg van die feit nie dat die skrywers en uitgewers van onthullende boeke wat erg gaan kwets baie seker moet maak van hul feite. ’n Wolk van omstredenheid trek byvoorbeeld saam met die onlangse boek Seuns van Bird-eiland. Nadat die boek pas erg onder ondersoeke na die geloofwaardigheid daarvan deurgeloop het, het die een skrywer nou ’n poligraaftoets met vlieënde vaandels geslaag.

Lees gerus ook Netwerk24 se dagblaaie se hoofartikel hier, asook Sanef se reaksie en die ANC se reaksie hier.

* Die skrywer, opgelei in Stratkom, was sekretaris van die Bloemfonteinse sub-GBS wat Bloemfontein en verskeie omringende en Suid-Vrystaatse dorpe bedien het, asook lid van die Vrystaatse Komkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

John ·

Iemand moet die voorste ou op die pic tog wys waar staan die straatkom en die koekie seep. Sy hempie kort aandag.

Andreas ·

Ek voel om nou ‘n draai te loop vir strategiese kommunikasie, dis nou daar ent in die gang af.

Heinrich ·

Ek stem Andreas, ek stuur gereeld persoonlike boodskappe vir hulle maar het ‘n spesmaas dit loop in die verkeerde pad af…

Andreas ·

‘Nevermaaind’ stratkom, ek storm deesdae as my spysvertering ding nie meer kan hanteer nie gereeld op die porselein troon (vir my is dit ‘n beeld) in die kleinkamertjie af. Ek het nou op die deur die woord ‘beeldestorm’ geplak, met onder dit die woorde ‘met dank aan Herman Toerien’.

Martin ·

Wys jou net, hulle stem vir korrupsie, soort soek soort. Die toekomstige palementere leiers, hulle gaan net so korrup wees.

Agie ·

Dankie Mnr Toerien
Insiggewend
Die wêreld kan maar raas en blaas
Ons wéét wie is in beheer
Groete

Saint ·

Die ou wat op die foto voor staan se hemp is maar bra vuil.
Kort blykbaar ook n paar knope.
Of dink hy nou dit help hom sterk lyk of dalk dink hy dit lyk macho.
Ek sou nie weet nie. Lyk vir my maar erg verwaarloos en gladnie macho nie.

Alida ·

Wat ‘n grap! Brand die boeke as julle wil. Die drukkers druk net meer en versprei dit op ander maniere as in boekwinkels of ons kan dit seker aanlyn ook lees of hoe. Lees sal ons lees.

J ·

Waar n rokie trek breek daar altyd groot vure uit en dan kom die moeilikheid kan nie die vure blus nie.

Jerry ·

n Gepaste benaming vir die boekbrand episode moet heet, “Gangster State, ANC orchestrated counter attack”! Die ANC jeugliga, veteraneliga, vroueliga en al die ander ANC ligas wat deel vorm van die ANC revolusionere strukture en wat deur die ANC kabinetministers, met behulp van die ANC hoofkantoor se Luthuli huis beheer word, voer dus opdragte uit wat van bo na onder toe, deurvloei. Die ANC sal dus aandadig wees aan enige optredes en of wandade wat deur die ligas gepleeg word! Dit is algemene praktyk van bevrydingsorganisasies wie se elite uit gewetenlose “gangsters” bestaan en wie geen onregte verdra nie, om in ontkenning te staan van hul duistere misdadige opdragte aan die ligas en die se optredes! Die ligas se werkersvlakbeheerstrukture staan in diens van die ANC en tree dus op in die naam van die ANC, alhoewel hulle by SOE’s en staatsdepartemente aangestel is in botallige poste vir salaris doeleindes. Dit maak nie saak wat CR se om Suid Afrikaners en die buiteland te mislei nie, Ace Magashule sal tot op die einde deur die ANC en die se revolusionere strukture beskerm word, want val een gangster, dan val daar gewoonlik n klomp kadergangsters saam met hom of haar. Gangsters se geraamtes hang in die meeste gevalle in dieselfde kas!

Bul ·

Die goed is so rou bos soos die trekkers in 1839 hul hier gekry het.

Jan Botha ·

Die eerste trekker in die land was ‘n Waterloo Boy trekker en is in 1913 vervaardig.

Bul ·

Dankie ou Jan R 50 in jou maxispaar hoor! Gelukkig was dit nie ‘n Vaaljapie nie en dis nie die een wat jy drink nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.