Nuuskommentaar: Boendoe-geregtigheid

Argieffoto

Argieffoto

Gemeenskappe wat besluit om die reg in eie hande te neem en self met ‘n verdagte af te reken kom gereeld in Suid-Afrika voor. Die afgelope paar dae is dit of daar ‘n toename was, met vermoedelik sowat tien mense wat deur woedende lede van gemeenskappe vermoor is.

Die slagoffers wissel gewoonlik van vermeende hekse wat hul gewaande toorkrag sou inspan om teenspoed vir iemand te bewerkstellig, tot vermeende bendelede wat gemeenskappe geterroriseer het.

Die redes is selde geheim – bygelowige gemeenskappe praat dikwels openlik oor hoekom hulle tot sulke gru-dade oorgegaan het, of die wyse waarop die moord plaasgevind het – soos ‘n vrou wat saam met haar hut verbrand is vertel self die verhaal. In die jongste gevalle het gemeenskappe egter openlik gesê hulle tree so op “omdat die polisie niks doen nie” en hulle sal hiermee voortgaan.

In ‘n regstaat is so iets uiteraard onaanvaarbaar omdat die verdagte nie ‘n regverdige verhoor gehad het nie. Boendoehowe wat soms gehou word, steur hulle ook nie in die reël aan die nodige bewyse nie, en ‘n sweempie van ‘n vermoede is dikwels genoeg om iemand grusaam aan sy einde te laat kom.

Die beweerde oortreding pas dikwels ook nie by die “vonnis” nie soos ‘n bejaarde vermeende veedief wat doodgeslaan is.

Die ironie is dat “die reg in eie hande neem” ‘n hoogs aanvaarbare deel is van die moderne regspraak. Regslui wat die pen hieroor opneem maan egter gou voor die voet dat daarmee nie bedoel word wat die breë publiek daaronder verstaan nie. Dit is nié “mob justice”, “wet van die oerwoud,” “hang-eksursies” “lynch mobs” of soortgelyk nie.

In ‘n artikel op die webjoernaal van die Aikido Journal skryf Nev Sagiba soos volg: “In a Democracy it is the mission and duty of each and every citizen to indeed and in fact TAKE THE LAW INTO THEIR OWN HANDS and uphold it.”

Dit beteken elke burger behoort genoegsame kennis van die reg en geregtigheid te hê om in die eerste plek te weet wat hy of sy moet doen, mag doen, of nie mag doen nie.

Verlede jaar het werkgewers sowat 80 000 sake, of sowat twee derdes van hul sake, by die CCMA verloor. As in gedagte hou dat van die werkgewers lid is van werkgewerorganisasies wat daarop aanspraak maak dat hulle sukseskoerse van meer as 90% by die CCMA het, is dit syfers wat op ‘n skokkende onkunde oor of minagting van die die reg dui.

Is ‘n werkgewer of bestuurder wat die lewe vir ‘n werknemer so ondraaglik maak dat die werkgewer ‘n klag van konstruktiewe ontslag op die lyf loop nie maar besig om boendoe-“geregtigheid” toe te pas nie?

Die verhoor van die Reitz-vier het erg in die konteks van boendoe-geregtigheid gestaan. In ‘n stadium het ‘n uitstellanddros die politici en die media gemaan om nié die verhoor met skuldigbevindings vooruit te loop nie. ‘n Paar dae later plaas ‘n groot Afrikaanse koerant ‘n brief waarin die skrywer na die Reitz-vier as misdadigers verwys en hulle veroordeel – g’n niks “na bewering” of iets dergeliks nie. Toe die Reitz-vier verskoning vra, en SAPA dit wêreldkundig maak, het so ver bekend alle plaaslike Engelstalige koerante, en een van die groot Afrikaanse dagblaaie dit geïgnoreer. ‘n Hele klompie oorsese koerante het dit wel gedra. Daardie Afrikaanse dagblad het lustig voortgegaan om die Reitz-vier te veroordeel “omdat hulle nie om verskoning vra nie”, asook talle van die plaaslike Engelstalige koerante. Uiteindelik, onder appèl, het dit geblyk die landdros, Bloemfontein se hooflanddros, het die vier oordadig gevonnis en ook gevonnis vir aspekte waaraan hulle nie skuldig bevind is nie.

In hoeveel ander sake soos die Griekwastad-moorde en die Oscar Pistorius-saak, of dit wat as die Modimolle-monster-saak bekend geword het, reageer ‘n groot deel van die publiek nie op ‘n manier wat bloot in nuanses van die boendoe-geregtigheid verskil as wanneer ‘n woedende gemeenskap ‘n verdagte se kop gaan inslaan nie?

Veral in heterogene lande kan dit polarisasie erg beïnvloed. Dink maar aan die reuse betogings na ‘n blanke polisieman ‘n swart verdagte agter ‘n voertuig gesleep het, en die talle banieropskrifte daaroor. Toe plaasaanvallers ‘n boer ook agter sy eie bakkie aan aansleep sodat hy erg vermink sterf, was die verontwaardiging uit dieselfde oord tjoepstil. En is harde vrae oor dié swye gevra.

Is swye in daardie konteks nie maar ‘n vorm van kondonering en dus ook boendoe-geregtigheid nie?

Beskou “die ander” dit nie maar doodgewoon naakte rassisme as mense se reaksie op misdaad bepaal word deur die ras van die slagoffer en vermeende oortreder nie?

Dit is goed en reg as die publiek woedend en emosioneel oor ‘n misdaad reageer. Dit dien immers ook die doel dat misdadigers en voornemende misdadigers wat ‘n versteurde beeld van reg en verkeerd het, minstens weet dat dit wat hulle doen verkeerd is, en selfs ‘n persepsie kan vorm oor die erns van die oortreding.

Daar is ook ‘n groot rol wanneer ‘n gemeenskap ontstoke reageer wanneer ‘n saak weens gebrekkige polisie-ondersoekwerk uitgegooi word.

Maar ons reg vereis dat die aangeklaagde onskuldig bly tot hy bo redelike twyfel skuldig bevind is, en tot dan moet dit gerespekteer word.

Selfs die plek op die stembrief waar ‘n burger sy kruisie trek, is deel van die proses om op die regte manier die reg in eie hande te neem. As ‘n regering die reg slap of selektief, of elitisties toepas, of as kaderaanstellings die polisie se vermoë om doeltreffend te werk benadeel, is dit die burger se plig om ‘n ander plek op die stembrief te kry om sy kruisie te trek. Moenie vir ‘n party wat immorele “waardes” voorstaan stem en verwag die toepassing van die reg gaan soos ‘n droom funksioneer nie. Die regbank is wel (nog) onafhanklik, maar selfs in die vervolgingsproses het politieke aanstellings al heelwat onverklaarbaarhede tot gevolg gehad wat die publiek se vertroue skend.

Moenie die GPF en polisiëringsforum kritiseer as jy self daar in jou onbetrokkenheid uitblink nie.

Ja, neem die reg in eie hande, maar op die REGTE manier.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae