Nuuskommentaar: Boere (al weer) op die spit

grondhervormingPeilings toon dat Suid-Afrikaners oor min, indien enige saak, so volledig volgens ras verdeel is as oor landbou, en in die besonder grond.

Met bitter min in die hand is dit ook nie verrassend nie dat die ANC die komende algemene verkiesing juis hierdie kwessie sal lewend hou, en so verseker dat die verkiesing weer ‘n “veilige” rassesensus oplewer.

Persepsies oor grondbesit en hoe gemeenskappe aan hul grondbesit gekom het, was die onderwerp van die Matie, Charl Swart se meestersverhandeling – nie in landbou nie, maar politieke wetenskap. Sowat 85% van die swart mense glo blankes het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel.

Dat blankes, en tot ‘n effense mindere mate bruin en Indiër, is die teenoorgestelde mening toegedaan – selfs na die “nuwe geskiedenis” hoofsaaklik deur skole reeds erosie begin veroorsaak het. Vroeër vanjaar het ‘n groep burgerlike instansies saam onder die vaandel van die ad hoc-komitee vir eiendomsreg, ‘n konferensie gehou oor die onderwerp, en met die subtitel, Die groot leuen.

Die verskille in persepsie het reeds vroeg vanjaar in die parlement ‘n duidelike skeidslyn getoon toe dr. Pieter Mulder aan die parlement ‘n geskiedenislessie voorgehou het oor grondbesit. Hy is wyd oor ‘n uiteenlopende stel redes veroordeel.

Onlangs was die Afrikanerbond aan die beurt, dié keer voor ‘n ad hoc-komitee van die parlement. Die AB het hierop ‘n verhelderende verklaring uitgereik wat ook in ‘n virtuele nuusbrief vir Augustus te lese is.

Terwyl sommiges die AB vir ‘n “onsensitiewe styl” geblameer het, het ander, soos Mandla Mandela die AB se weergawes as leuens afgemaak, en sommer die bestaan van die mfekane ook as apartheidespropaganda afgemaak.

Dit is ver meer as duidelik dat die vergemeenskapliking van die geskiedenis ‘n gedugte, indien nie onmoontlike taak gaan wees nie. Maar tot dit gebeur, hoe word hiermee te werk gegaan?

In ‘n “ideale wêreld” sou sensitiwiteit en objektiwiteit hoog op die agenda wees. In ‘n land waar die kwessie hoogs-emosioneel is en elkeen verbete sy weergawe van die geskiedenis aanhang, blyk so iets buite die kwessie te wees, en is skadebeheer waarskynlik al wat voorlopig ter hand is. Maar ook dit vereis ‘n mate van nugterheid, en met ‘n verkiesingsknyp wat vasdraai, is so iets nie maklik nie.

Die jongste “voorstelle” van die Departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming is waarskynlik die amptelike dokument wat die meeste tot dusver in een kant van die geskiedenis gedoop is, en met waarskynlik die lafste “oplossings” tot dusver vorendag kom.

Die gedagte om plaaswerkers na tien jaar diens met tien persent aandele te beloon, en na meer jare diens met tot 50% aandele in die boerdery, is kwalik die moeite werd om te bespreek. Omtrent al wat dit gewaarborg het, was ‘n veroordeling wat gewaarborg is om polarisasie aan te jaag.

Die gedagte is nie nuut nie. Dié soort van eise het ook opgeduik tydens die Bolandse plaasstakings – of amper –opstande. Dit is toe reeds om presies dieselfde redes afgeskiet – onprakties, onrealisties, onmoontlik en nog ‘n verskeidenheid terme.

Graad 3-meetkunde is voldoende om te weet dat as ‘n boer tien werkers het, en elkeen kry na tien jaar tien persent aandele, het die boer niks.

Volgens die nasionale ontwikkelingsplan moet die landbou mildelik bydra tot nuwe werksgeleenthede en voedselsekuriteit, maar hierdie en ander planne skiet enige sodanige gedagte in die voet.

AfriSake se reaksie toon ook hoe die plan emosies ontlok: “AfriSake gaan ’n verslag saamstel wat die stand van en bedreigings vir eiendomsreg en die vryemarkstelsel in Suid-Afrika uitwys. Dit volg nadat die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming ’n nuwe beleidsvoorstel aangekondig het wat van grondeienaars sal verwag om aandele in hul plase aan hul werkers te gee.

Volgens AfriSake se uitvoerende hoof, Cornelius Jansen van Rensburg, is hierdie voorstel ’n bedekte dreigement. “Al sou hierdie beleid op ’n vrywillige oordrag van grondeienaarskap berus, wat gaan die regering doen indien grondeienaars nie vrywilliglik hul bates aan hul werkers oordra nie?” het Jansen van Rensburg gevra.

Indien hierdie beleid aanvaar word, gaan dit tot groot werksverliese op die platteland lei. “Geen boer sal meer van permanente arbeid gebruik maak nie,” het Jansen van Rensburg gesê. Die uitkringeffek sal die klein sakeondernemings op plaaslike dorpe ook negatief raak, en uiteindelik net meer mense van staatstoelaes afhanklik maak.

Die gevolglike ekonomiese ramp sal tot politieke spanning in die land lei. “Ons kan dit maar te wagte wees dat die Staat die boerderygemeenskap sal wil isoleer en blameer vir die werkloosheid, en sodoende populistiese steun vir verdere onteieningsmaatreëls werf,” het Jansen van Rensburg gesê.

Jansen van Rensburg het bygevoeg dat plaaslike en internasionale beleggers wat in Suid-Afrika wil belê daarom deeglik van die regering se nuutste planne kennis moet neem. “As hierdie beginsel op die landbougemeenskap van toepassing gemaak gaan word, is daar niks wat die uitbreiding daarvan sal keer nie.”

Na voltooiing van die verslag sal AfriSake dit aan ambassades, internasionale beleggers en plaaslike sakelui, asook die regering oorhandig. “AfriSake se doel hiermee is om die regering se toenemende antagonisme teen eiendomsreg onder die soeklig te plaas en die implikasies van die huidige beleidsrigting van die ANC vir belanghebbendes uit te lig,” het Jansen van Rensburg afgesluit.”

Ook opposisiepartye het skerp gereageer, en die Vryheidsfront Plus het dit as “skrikwekkend” beskryf. In die Wes-Kaap is die regerende DA bekommerd oor die impak wat dit op verwagtinge van plaaswerkers kan hê.

Weens die persepsieverskille skep hierdie soort verwagtinge ‘n probleem vir opposisiepartye wat ‘n werklike nie-rassige aanslag op die werf van kiesers probeer loods. In wese word nie-rassige partye gedwing om standpunte in te neem wat binne eie geledere byna gewaarborg is om ook verdeeldheid te veroorsaak.

En die landbougemeenskap moet te midde van plaasaanvalle en plaasmoorde werk voorsien en kos op die tafel sit, en terselfdertyd as verkiesingspaaiboelie dien …

Dit is tragies as ‘n stem van redelikheid as onsensitief of leuens afgemaak word. Dit bring die land nie nader aan oplossings nie.

En ‘n regering wat in algemene belang regeer, soos die demokrasie vereis, blyk voorlopig ‘n vergesogte ideaal te wees met die sagte had waarmee Mugabe gestreel word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

german ·

Kill, steal and destroy! Slaan die plaasboer dood, steel sy grond en vernietig die boerdery. En siedaar, die hele SA is in hongersnood gedompel net soos Zim. En die diktator is in sy noppies want al die lands inwoners is so afhanklik en manipuleerbaar. En dan is satan nog die vader v alle leuens ook.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.