Nuuskommentaar: Boere kry bokse vol hoop

Argieffoto: Reint Dykema

Minstens 100 000 hektaar se weiding is onlangs in die Oos-Vrystaat in ʼn verwoestende brand verwoes. Hierdie brande het die boere, die omliggende gemeenskap en die hele land geraak. Boere is oorgelewer gelaat aan genade van buite – hetsy deur die hulp van die gemeenskap of die genade van God.

Hierdie brande het ʼn mens weer eens herinner presies hoe uitdagend boerdery is. Dit is ʼn moeilike werk wat selfs die gehardste mense toets. Dit is ʼn werk wat soveel moed verg as genade. Dit is iets waarvan almal van ons afhanklik is, maar slegs enkeles sal aandurf.

Die afgelope jaar was reeds vir ons almal uiters uitdagend. Die meerderheid mense het op een of ander manier onder die Covid-19-pandemie en veral die regering se hantering daarvan gely. Ten spyte hiervan was ons boere deurentyd een van ons belangrikste steunpilare. Diegene wat weens die inperking in ʼn maatskaplike krisis gedompel is, is sonder aarseling deur die boere gehelp.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het ook genoem hoe die boere nie geskroom het om etlike tonne kos te skenk aan die Helpende Hand se Josef Silo’s nie. Boere reg oor die land het in oorvloed hul mense en gemeenskap met liefde en hulp bygestaan.

Daarom het die gemeenskap ook nie vir ʼn oomblik gehuiwer om die boere in húlle tyd van nood by te staan nie. Die brande in die Oos-Vrystaat het, soos enige ander droogte of ramp wat boere tref, ons elkeen se hart aangegryp. Daar waar boere ly, ly ons almal. Nie net omdat ons so afhanklik van hulle is nie, maar ook omdat ons onlosmaaklik deel van hulle is.

Hoewel ons almal nie op plase bly nie, is ons almal boere. Die Afrikaner wat in die stad of op die platteland bly, verstaan steeds tot een of ander mate wat dit is om ʼn boer te wil wees. Ons lyding is hulle s’n en hulle lyding ons s’n. Daarom treur ons saam met boere oor verskroeide aarde en die vee wat hulle verloor het. Ons elkeen vind in ʼn boer ons broer en buurman.

Duisende noodbokse is op pad na boere in die Vrystaat. (Foto: Verskaf)

Die hulp vir boere wat absoluut uit mense se harte gestroom het, spreek ook hiervan. AfriForum het in reaksie op die brande hulle Boks vir ʼn Boer-projek van stapel gestuur. Verder het AfriForum in samewerking met verskeie ander organisasies reeds meer as R4,5 miljoen se hulp ingesamel en honderde tonne voer is reeds na boere gestuur.

Die Boks vir ʼn Boer-projek vra van mense om ʼn boks vol nie-bederfbare produkte vir ʼn boer en hul gesin saam te stel – meestal om die maatskaplike nood weens die brande te help verlig. Tog het die bokse soveel meer beteken. Derduisende bokse is die afgelope week by AfriForum se hoofkantoor afgelewer. Mense het hul harte en hande met die grootste vrymoedigheid vir boere oopgemaak. Selfs na ʼn jaar met byna onleefbare ekonomiese en politieke uitdagings het mense gegee wat hulle kon.

“Laspossie Kleuterskool, Lief die Boere”. “Omgee boks vir boer”. “Vasbyt boere! Ons bid vir julle. Sterk staan”.

Hierdie is enkele van die boodskappe wat op van die bokse verskyn. Die boodskappe en bokse spreek van gewóne mense wat instinktief hul gemeenskap wil bystaan. Dit spreek van mense wat weet dat ons soveel van ons identiteit in ons gemeenskap vind en soveel van ons vryheid daaruit kan kry.

(Foto: Verskaf)

Elke boks – ongeag die grootte of inhoud – is met ʼn onvoorwaardelike broederskap gepak en geskenk. Dit is die ongesproke weefsel wat ons gemeenskap verbind hou, ten spyte van ons wye verspreiding. Dit is die instinktiewe hulp aan ons eie mense wanneer hulle in nood is. Daar bestaan nie eens vrae oor óf jy sal help nie, maar eerder hóé jy sal help.

Die oorvloed waarin mense geskenk het, is juis dit wat so aangrypend is. Elke boks is eintlik ʼn baken van hoop. Dit is ʼn bevestiging dat ons nie ons boere as vanselfsprekend aanvaar nie. Elke boks is ʼn verbintenis aan saamstaan deur verlede en toekomstige uitdagings. Dit is die vergestalting van dít wat nie verwoord kan word nie, maar wat ons gemeenskap so sterk en verenig hou. Dit is ʼn stille eenstemmigheid oor hoe ons gemeenskap na onsself en mekaar omsien.

Daar bestaan soms nog twyfel oor die ware krag van die gemeenskap – kan ons regtig genoeg saamstaan en genoeg dóén om die verval van die staat om ons teen te staan? Is die krag van die gemeenskap nie net ʼn mooi droom waaraan ons noodgedwonge vasklou nie? Vervaag die boks wat ek gestuur het nie teen die grootte van die probleem nie? Mense se oorweldigende reaksie op AfriForum se projek spreek van die teendeel. Dit is ʼn bewys daarvan dat groot monumente met een baksteen op ʼn slag gebou word. Boere sal uit die krisis gehelp word met een boks op ʼn slag. Vir ons gemeenskap om sterk te wees, hoef een mens nie alles te doen nie, maar elkeen moet net doen wat hy kan, daar waar hy is.

Daar waar ons, ons boere of ons aarde afgebrand word, sal ons telkens opstaan – met volharding, uit geloof en deur die krag van die gemeenskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Lekker om te weet die boere gee vir ons, en nou ‘n kans om aan hulle terug te gee. ANC en EFF dink moes kos kom van PnP, Checkers, Shoprite, Woolworths en Spar. Wat kan jy nou doen met ‘n IK van 12.5?

Pieter ·

Ons blankes kan saam staan as daar nood is het nie die ANC kommuniste nodig nie.

Marisa W ·

Nou moet ons nog net leer om saam te staan en mekaar te ondersteun ook wanneer daar nie nood is nie. Wanneer dit goed gaan is dit mos elke outjie vir homself

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.