Nuuskommentaar: Boereverneukery of Afrikaner-uitreiking?

voortrekkermonument“Die ANC het nie probleme met die Afrikaner nie,” sê Keith Khoza, woordvoerder van die ANC.

Vir baie Afrikaners gaan die ANC ‘n advokaat van die kaliber van Gerrie Nel nodig hê om hulle te oortuig dis nie ‘n baie vet kluitjie nie. En selfs dan sal dit ‘n geval wees van: “Julle kan traai, maar die wiend waai wes.”

‘n Onlangse peiling het ook getoon dat die Afrikaner die ANC met mening die rug toegekeer het…

Dit is so dat die ANC periodiek gespreksgeleenthede met die Afrikaner en ander minderheidsgroepe reël. Bekende Afrikaners het al so skouer geskuur met pres. Jacob Zuma en ander senior ANC-lede. Die omgekeerde het ook al dikwels gebeur, met ANC-leiers wat al ‘n tipiese braaivleis beleef het, en hier en daar selfs ‘n stoetskapie of twee in sy kraal gekry het.

Vanaand se ontmoeting tussen mnre. Cyril Ramaphosa en Roelf Meyer namens die ANC en verskeie Afrikanerorganisasies aan die ander kant, staan dus nie in absolute isolasie nie.

In sy poging om die Afrikaner gerus te sus is ‘n paar foute gemaak. In die eerste plek gaan die intrek van Meyer vir die ANC se saak waarskynlik meer weerstand as goeie gesindheid ontlok. Namate Meyer hom by die ANC ingewurm het, het die stemme uit gematigde en meer liberale Afrikaner geledere om vir hom oor sy Kodesa-poging in die bresse te tree, stiller en stiller geword. Dit is ook nie vergemaklik namate meer en meer uitbuitbare krake in die grondwet geblyk het, en polarisasie baie duidelik geword het nie.

Selfs Ramaphosa het hom al dieper en dieper in die dryfsand vasgewoel nadat hy die goedkoop truuk probeer het om ‘n kieser te oorreed om vir die ANC te stem “anders gaan die Boere weer regeer.” Hy skuld die Afrikaner nog ‘n bevredigende verskoning.

Die keuse van die Voortrekkermonument het ook bitter sop laat deurloop, omdat geen ander politieke party toegelaat word om politiek op dié terrein te bedryf nie. Die Voortrekkermonument se verduideliking dat die aansoek as ‘n “veelpartygeleentheid gerig op versoening” gerig was, sal net deur die mees politiek-naïewe gesluk word. Om dié rede neem Solidariteit nie deel aan vanaand se gesprek nie.

Daar is egter ‘n breër konteks waarom die ANC dit baie moeilik gaan vind om hond-haaraf te maak.

“Die wiend waai wes.”

Dit sal ‘n aardige lys maak van uitlatings en standpunte van ministers en ander ANC-ampsdraers waar die Afrikaner se moermeter in die rooi gejaag is. Pas het Marius Fransman weer daarin uitgeblink, agternagepiep deur Nosey Pieterse. Tina Joemat-Pettersson se uitlatings help ook nie.

Dan was daar ‘n rits uitsprake deur Lulu Xingwana, waaronder hoe die Afrikanermans weens hul Calvinistiese agtergrond gewelddadig neig teenoor hul vroue. Of Nathi Mthethwa se stelling dat AfriForum se veldtog om plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad te laat verklaar, ‘n “goedkoop publisiteitsfoefie” is.

Die regering hou vol daar skuil nie politieke motiewe agter plaasaanvalle en plaasmoorde nie, maar die ANC sal ‘n baie goeie advokaat nodig hê om die Afrikaner te oortuig dat die regering se reaksie, en die weiering om ‘n moordkategorie tot prioriteitsmisdaad te verklaar wat drie keer hoër as die land se gemiddelde moordkoers, en twee keer so hoog soos die moordkoers op polisielede, nie politiek gemotiveer is nie.

Twee en twintig jaar ná die vorige regering die laaste apartheidswet uit die wetboek verwyder het, is die land nou so deur rassewetgewing verstrengel dat dit nie net mense se lewe van die wieg tot graf bepaal nie, maar die ekonomie in ‘n wurggreep plaas. Vanoggend berig die media weer hoe Zuma self kiesers emosioneel oproep om die lewe onder apartheid te onthou.

‘n Groot deel van die vervreemding moet juis in godsdiensopvattings gesoek word. Terwyl Zuma deur ‘n kerk tot ere-pastoor ingeseën is, hou die stroom kritiek vanuit die meer konvensionele kerke oor sy en sy ringkoppe se godsdiensuitlatings net nie op nie. Baie van hierdie uitlatings word as godslasterlik beskou, en ander grensend aan godslasterlik. Verskonings vir hierdie uitlatings is so skaars soos hoendertande, en nog minder word die kraantjies toegedraai. Trouens, dit lyk of dit bepaald deel van die ANC se verkiesingstrategie is. En vir die Afrikaner het godsdiens nog altyd na-aan die hart gelê.

Dan is daar kwessies oor onderrig in Afrikaans wat met die handhawing van kultuurgoedere saamloop, soos onder meer manifesteer in die verwikkelinge by Kovsies en die PUK. Met uitlatings van Blade Nzimande wat nie juis die gemoedere kalmeer nie.

Net gister was die uitspraak in die saak van kol. Kobus Roos van Misdaadintelligensie, waar die belastingbetaler ‘n stewige bedrag aan regskostes moet opdok weens die SAPD se vasbeslotenheid om ‘n onwenbare saak met waarskynlik rassistiese ondertone in die hof te laat besleg.

Van die instansies wat genooi is, het aangedui dat hulle die geleentheid gaan gebruik om die keel behoorlik skoon te maak. Daar is selfs die moontlikheid dat die ANC-ringkoppe in daardie geledere ‘n gerusstellende woord of twee sal kan spreek. Nog ‘n belofte of twee op die tafel kan plaas. Maar, as dit soos dikwels in die verlede binne die vier mure opgesluit is, gaan dit broekskeur gaan om iemand daarbuite te oortuig. Tensy die ANC self ‘n verklaring met daardie strekking uitreik, en toesien dat dit bindend op sy heethoofde inwerk, gaan die bedenkinge staan dat dit gewoon ‘n Boereverneukery is.

Die Afrikaner staan nie alleen agter die deur nie.

Daar is ook ‘n verbete veldtog om die bruin kiesers vir die ANC terug te wen. Selfs Zuma is persoonlik ingespan om die bruin kiesers te sus dat die nuwe arbeidswetgewing eintlik ook bedoel is om hulle te bevoordeel, en sodoende die Manyi- DKD-skade te probeer beperk.

Maar solank die wetgewing met die nasionale demografie-teikens nie uitgegooi word nie, praat die ANC met ‘n gesplete tong.

Oor vanaand se gesprekvoering skryf Volksblad in sy hoofartikel: “Oudpres. FW de Klerk het verlede week in Kaapstad gesê Suid-Afrikaners se probleem is dat ons te min met mekaar praat en te veel op mekaar skree. Hy is reg.

Los die emosie. Gaan luister na die ANC. En selfs al verskil ’n mens van álles wat in die gesprek gesê word, is dit goed. Dit gee jou meer inligting om mee te werk en rus jou beter toe om jou kruisie op die regte plek te trek.”

Slegs die afloop van vanaand se gesprekvoering en hoe die verloop daarvan na die breë gemeenskap geprojekteer word, sal bepaal of Volksblad reg is dat na die Voortrekkermonument opgetrek is.

Die Afrikanersaak het al te dikwels skade gelei weens die optrede en uitsprake van heethoofde. Maar daar is ook al genoeg gevalle waar die Afrikaner die slagoffer van sy eie ordentlikheid was. En die politiek is nie vir sissies nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Hennie Botha ·

Pasop om nie vir die aalmoesie mielies wat die ANC wil opdok te val nie.
Ons bly eindelik die prooi.

Paul Swart ·

ANC is openlik vyandig teen ons as n reel. Hulle laster gereeld, onbekeerlik. Ons heil lê nie by hulle nie want hulle het nie God se seën nie. Hou maar verby.

Demokraat ·

Jammer, maar die ANC is, op grond van hul vertoning oor die afgelope paar jaar, hopeloos as regeerders en geensins te vertrou nie.

Hierdie uitreik na die Afrikaner, so op die vooraand van die verkiesing, is slegs maar ‘n poging van die ANC om stemme te werf of alternatiewelik om sy eie beeld bietjie te poets sodat hy beter lyk. Sy planne gaan ongelukkig nie werk nie want die Afrikaner het ‘n ryke geskiedenis van folteringe en onderhandelinge om sy staanplek te kon verseker en sal hom hierdie rondte dus ook nie met ‘n slap riem laat vang nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.