Nuuskommentaar: Boko Haram en die Siriëgangers

nigerie ontvoering bring back our girlsDie wêreld het nie gaan stilstaan terwyl Suid-Afrika verkiesing gehou het nie.  Terwyl Suid-Afrikaners nou oor die belangepad vorentoe moet besin en dit reeds duidelik is dat burgerlike instellings soos Outa, Regslui vir Menseregte, AfriForum en die groter Solidariteit-familie nog ‘n veel groter rol (met meer ondersteuning) sal moet speel, het belangrike gebeure oor die wêreld plaasgevind waarvan Suid-Afrikaners moet kennis neem.

Die konflikpotensiaal in die Oekraïne is een, die komende verkiesing van die Europese parlement is nog een, die voortslepende burgeroorlog in Sirië dikteer nog ‘n groot deel van die wêreldpolitiek, terwyl die wêreld se aandag vasgevang is deur die ontvoering van skoolmeisies in Nigerië. Baie van hierdie sake is ineengestrengel – die radikale Islam wat ‘n beergreep op die wêreld probeer kry, en Rusland wat weer lewe in die Koue Oorlog blaas.

Die Siriëgangers

Terwyl die wêreld gons oor die ontvoering, sit verskeie Wes-Europese lande ook met die hande in die hare oor die optrede van radikale Moslems.

Suid-Afrika moet die oog deeglik hou op die toenemende rol wat radikale Moslems in die wêreld speel.

Min of meer alle nie-Moslems weet van die twee hoofsektes van die Islam, die Soenies en die Sjiïete. Die gedagte dat die Sjiïete die meer radikale is, het sterk by die weste vastrapplek gekry na die rewolusie in Iran en die oorname deur die ajatollas.

Tog, toe Al Kaïda op die toneel bars, het dit nié uit die Sjiïete gekom nie, maar die Soenniete. Meer in die besonder, die Salafiste, of meer korrek neo-Salafiste, wat weer ‘n “boetie” van die Wahabiete is, wat weer in die vorm van onder meer Saoedi-Arabië ‘n Westerse bondgenoot is.

Uit hierdie geledere kom onder meer Boko Haram en Al Shabaab. In die antieke Timboektoe het hulle met hul oorname begin om antieke praalgrafte af te takel, omdat praalgrafte ‘n vorm van aardse verheerliking en strydig met die Islam sou wees. In Suid-Afrika is die praalgraf van Sjeg Yusuf ‘n belangrike bedevaartsplek vir Moslems.

Daar is egter ook radikale groeperings onder die Sjiïete, soos Hisbollah wat in veral die suide van Libanon goed gesetel is, en heel moontlik met hul toetrede tot die burgeroorlog in Sirië, die skaal in pres. Assad se guns geswaai het.

Die Siriese burgeroorlog het egter ook sy tentakels tot in Wes-Europa uitgebrei. Soos verwag is, hoe langer die burgeroorlog sou duur, hoe meer sou die opstand teen die Assad-diktatuur deur radikale Moslems gekaap word. Uit alle dele van die wêreld stroom hierdie jihadiste na Sirië om ‘n sogenaamde heilige oorlog teen die sekularisme van Assad te veg.

Hoewel waarskynlik net sowat twintig persent van hierdie jong geradikaliseerdes uit Wes-Europese lande kom, is hulle in totaal waarskynlik tussen 2 000 en 3 000. Hulle kom veral uit Nederland, Frankryk en België, maar daar is na raming sowat 500 uit Brittanje wat ook reeds in Sirië is of was. Daar is ook jihadiste uit Swede en Switserland.

Anders as met die Kruisvaarders van die Middeleeue, het hierdie jihdiste dikwels moderne kommunikasie na hul tuistes in Wes-Europa, en van die materiaal wat terug ontvang word, is soms baie ontstellend. So het een trots ‘n foto huis toe getwiet waar hy met een van die afgekapte koppe van Assad se soldate in die hand spog. Ander toon hoe hulle agter masjiengewere stelling inneem.

Hoewel almal daarop aanspraak maak dat hulle by organisasies aansluit wat met Al-Kaïda verband hou, is dinge tuis nie so eenvoudig nie. Veral twee groepe word onderskei – die Al Nusra en die Islamitiese Staat Irak en die Levant (ISIS). Eersgenoemde wil ‘n Islamitiese regbank in Sirië vestig, en laasgenoemde is eintlik net daarop gerig om die bewind van Assad om ver te werp.

Hulle steur hulle nie daaraan dat Al-Kaïda hulle al van organisasies wat in hul naam optree, gedistansieer het nie. Op Westerse webwerwe veg die twee groepe verbete teen mekaar, en in Sirië is daar al sprake van ‘n burgeroorlog binne ‘n burgeroorlog binne ‘n burgeroorlog.

Benewens Assad se sekulêre staat is dit vir die neo-Salafiste nie moeilik om “regverdiging” te kry om teen die Assad-bewind te veg nie. Die Assad-dinsie behoort tot die Alawiete, wat weer ‘n subsekte van die Sjiïete is. Die Alawiete word nie oral in die Moslemwêreld as deel van die Islam erken nie. Daar het nou reeds besondere wrede gevegte tussen Hisbollah wat Assad te hulp gesnel het, en die Al-Kaïda-gesinde organisasies plaasgevind. Volgens berigte het reeds meer as 500 Hizbollah-vegters in Sirië omgekom.

Irak word ook regstreeks deur die situasie in Sirië geraak. In Irak, soos in Iran, is die Sjiïete die meerderheid, en sedert van Saddam ontslae geraak het (‘n Soenie), ook aan bewind. Veral radikale Soenie-groeperings, dikwels met Al-Kaïda-bande, voer egter steeds ‘n skrikbewind in Irak. Dikwels, soos in Sirië en Egipte, beland die Christene in die knyptang.

‘n Groter kopseer vir Wes-Europa as die Siriëgangers, is die feit dat van hulle, wat nie sneuwel nie, na ‘n ruk terugkeer huis toe. Tuis het, soos met die Kruisvaarders, die deure en werksgeleenthede dikwels toegeklap. Die lande huisves dan goed-opgeleide, radikale Moslems wat dikwels werkloos en uitgestoot is. Die lande se kommer dat dit na terrorisme op eie bodem kan oorloop, is dis te verstane. Op die oomblik lyk dit of Assad se magte die oorhand gekry het, wat beteken dat nog meer jihadiste kan terugkeer, en boonop ontevrede gaan wees met die Westerse lande wat nie meer gedoen het om Assad tot ‘n val, of tot behoorlike vredesonderhandelinge te dwing nie.

Dit beïnvloed ook reeds die verkiesingsveldtogte van die verkiesing van die Europese parlement wat van 22 tot 25 Mei plaasvind. Partye wat tot dusver eintlik baie klein is, maar hul rug styf maak teen die Islamitisering van Wes-Europa, se steun groei merkbaar.

Boko Haram

Sowat 50 persent van Nigerië se bevolking is Moslems, en veertig persent Christen, met sowat tien persent wat tradisionele gelowe aanhang. Veral van die noordelike stamme soos die Hausa is Moslem, terwyl die Ibo in die Ooste meestal Christen is, met ander suidelike stamme soos die Yoruba omtrent om die helfte Christene en Moslems. Staatkundig word vir alle praktiese doeleindes gewerk op die beginsel dat die Moslems en Christene ewe veel is, met Christen- en Moslempresidente wat mekaar aflos.

Van die deelstate wat deur Moslems oorheers word, het ook reeds die Sjaria ingestel.

Boko Haram is etnies en sektaries versprei oor dele van Noord-Nigerië, Niger en Kameroen. Pres. Goodluck Jonathan (‘n Christen) word internasionaal verkwalik dat hy nie vroeër skerp uitsprake teen die ontvoering van skoolmeisies gemaak het nie, en andersins ook stadig uit die blokke was. Ook Beeld mik vanoggend in sy hoofartikel ‘n hou na Jonathan. Sy Opsies tot dinge kritiek raak  is egter staatkundig beperk. Die land is na die Biafraanse afskeidingsoorlog ‘n etniese federasie, en is sake met ‘n religieuse ondertoon by uitstek ‘n saak wat eers deur die deelstate hanteer moes word. Boonop het die suide nog met separatistiese magte in veral die deltagebied te make.

Verder duur die “oorlog” teen Boko Haram al lank, en is die ontvoering van skoolmeisies by verre nie die ergste gruweldaad nie. Ter wille van sensitiewe lesers word dit nie hier genoem nie, maar die lys van vyf mees grusame aanvalle kan hier gelees word.

Uit internasionale gebeure is dit dikwels duidelik dat nie-Christene so ver moontlik moet wyd hou wanneer dit kom by die beslegting van onderlinge konflikte tussen verskillende Moslem-groeperinge. Onkunde oor die nuanses laat inmenging van buite dikwels in dryfsand vassuig. Boko Haram het egter van sy aanvalle nie op andersdenkende Moslems geloods nie, maar op Christene, wat by verstek nasionale ingryping noodsaak.

Waar die president wel verkwalik kan word, is dat hy nie gou en entoesiasties genoeg op aanbiedinge van buitelandse hulp gereageer het nie.

Suid-Afrika se opsies

Suid-Afrika moet kennis neem. Dit is goed en wel om in sy buitelandse beleid onverskillige politieke keuses te maak soos met die kwessie om Israel, maar dit is dikwels veel meer kompleks as dit. Sulke keuses kan die land later nader laat beweeg aan groepe soos Hamas wat naby aan Al Kaïda staan, en wat weer ‘n Suid-Afrikaner in Jemen aanhou.

Met die Amerikaans-geleide invalle in Irak het verskeie Suid-Afrikaanse Moslems ook soos Jihadgangers opgeruk om aan die kant van Saddam te veg, hoewel Saddam ‘n volledige sekulêre diktatuur bedryf het.

Met Sirië was die betrokkenheid van Suid-Afrikaners hoofsaaklik humanitêr van aard, soos die herstel van broodnodige hospitale.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae