Nuuskommentaar: Bom in ‘n boks Smarties

Argieffoto.

Argieffoto.

Pres. Jacob Zuma se standpunt oor ‘n moontlike Amerikaans-geleide aanval op Sirië klink op die oppervlak na in pas wees met die Internasionale Reg, maar pas eintlik netjies in Rusland en China se kraal, wat hul vetoreg gebruik om hierdie vertolking van die internasionale reg weg van die bedoeling daarvan te stuur.

Vraagtekens ontstaan oor ‘n vertolking wat so geplooi word om die goggas van die internasionale staatkunde in hul posisies te kussing. Suid-Afrikaanse soldate maak deel uit van ‘n VN-intervensiemag in die DRK om rebelle tot orde te roep, maar in die proses ‘n korrupte staatshoof wat verkiesing na verkiesing kierang in die stoel te hou. Ernstige vrae hang nog oor Suid-Afrika se betrokkenheid in die Sentraal-Afrikaanse Republiek. Suid-Afrika het nog probeer wal gooi na die uitgestemde staatshoof van die Ivoorkus die verkiesing probeer steel en ‘n burgeroorlog ontketen het, toe Frankryk ingryp en die saak opruim. Suid-Afrika en die SAOG het ook niks fout met Zimbabwe se gekonkelde verkiesing gevind nie, nog voor selfs die SAOG-waarnemers ‘n oordeel oor die regverdigheid van die verkiesing uitgespreek het. Uiteindelik is bepaal dat die verkiesing nié regverdig was nie. Maar die SAOG het reeds ‘n beroep op die langtand weste gedoen om geteikende sanksies teen Mugabe en sy kornuite op te hef.

Beskerm die internasionale reg werklik die wêreld se muishonde? Of het ‘n mens hier eerder te make met ‘n baie eiesoortige soort wêreldbeskouing van Zuma en die ANC?

‘n Eierdans-benadering skep onsekerhede wat ‘n land van die geloofwaardigheid stroop om ‘n aantreklike beleggingsbestemming te word. Die mees onlangse manifestasie blyk uit uiteenlopende weergawes oor die regering se planne met die Nasionale Ontwikkelingsplan. Business Day berig  dat die plan erg gaan deurloop weens dwarstrekkery binne die ANC-alliansie, terwyl Sapa berig egter dat Zuma sê dat die plan bykans ongeskonde geïmplementeer gaan word.

Beide kan nie waar wees nie.

Maar is daar ‘n regte en juridies-regverdigbare wyse waarop in die Siriese konflik ingemeng kan word?

Met die tydsverloop tussen pres. Barack Obama se aankondiging dat hy beplan om pres. Bashar al Assad van Sirië te straf vir die gebruik van chemiese wapens op sy eie mense, vind ‘n koue oorlog met stormsterk winde dwars oor die wêreld plaas. Die wenner en verloorder, as daar so iets kan wees, kan maklik bepaal word voor die eerste bom val.

Wanneer die eerste bom gaan val, bly ‘n ope vraag. In die media word gemeen dit kan op die vroegste volgende week wees, maar die tempo waarteen die Amerikaanse Kongres wat nog amptelik in reses is daarmee handel, plaas vraagtekens oor die tydsberekening.

Sirië en sy bondgenote probeer intussen alles in hul vermoë om die skuld vir die chemiese aanval op die rebelle te plaas, en Rusland het gister by monde van ‘n diplomaat in Sirië daarop aanspraak gemaak dat hy oor bewyse beskik dat dit inderdaad die geval is. Intussen word ook alles in die stryd gewerp om Israel as aggressor by die saak te betrek, en die toets van ‘n missiel oor die Middellandse See  het ‘n handige stukkie propaganda geword. Die doel is eenvoudig: As Israel die vyand is vergeet die Arabiere maklik onderlinge verskille en fokus op die gemeenskaplike vyand. Of so word gehoop, maar sake is lank nie meer heeltemal so simplisties nie.

Volgens die jongste kompromisresolusie wat voor die Amerikaanse kongres moet dien, sal geen Amerikaanse soldaat voet op Siriese grond neersit nie. Die aanval mag net 60 dae duur, maar kan tot 90 dae verleng word.

Indien die SAUK die sekretaris-generaal, Ban Ki-Moon se standpunt korrek weergee, sal die VSA en sy bondgenote se optrede teen die Internasionale Reg indruis as die VN se Veiligheidsraad dit nie goedkeur nie, of dit nie uit selfverdediging geskied nie. Die ander kant van die munt is dat Rusland en China met hul vetoreg ook kan verhinder dat die Internasionale Reg toegepas word, wat vereis dat ‘n regering wat chemiese wapens inspan, gestraf moet word. Die beginsel van Verantwoordelikheid om te beskerm (responsiblity 2 protect) is ook reeds goed gevestig waar ‘n regering wandade teen sy eie mense pleeg, en word onder meer ook in die statute van die Afrika-Unie vervat. Daar is in die internasionale reg geen konsensus dat die VN ‘n super-wetmaker is wat die ganse internasionale reg bepaal nie.

Die syfers in Sirië spreek vanself. Meer as ‘n 100 000 Siriërs het gesterf sedert die burgeroorlog begin het. Meer as twee miljoen het al uit die land gevlug. Ongeveer die helfte van die vlugtelinge is kinders, baie van hul ouers geskei. Selfs al word aanvaar dat die syfers bietjie lyf gekry het met die propaganda voor die verwagte aanvalle, is dit nie veel meer as onlangse onafhanklike syfers nie.

Maar om bomme op strategiese plekke oor Sirië af te gooi se gevolge gaan bykans onvoorspelbaar wees.

Maroela Media het reeds in besonderhede oor die heterogeniteit van Sirië verslag gedoen, maar dit word baie kripties saamgevat:

Die meerderheid van die Siriese bevolking is Arabiere wat tot die Soenie-sekte van die Islam behoort. Die Soenies is die meerderheid in die meeste Arabiese lande. Assad en sy regerende kliek behoort tot die Alawiete-skete wat op sy beurt ‘n vertakking van die Sjiïete-minderheid is. Sirië beskik ook oor ‘n Christen-minderheid, wat op hul beurt baie heterogeen is, en wissel van Assiriese Christene, tot Armeniërs, Grieks-Ortodoks en ander. Daarbenewens het Sirië, soos sy buurlande, ‘n betreklike groot Koerdiese bevolking wat nie Arabiere is nie, maar meestal wel Moslems is.

Vir Assad om aan bewind te kon bly, moes hy ‘n balanseertoertjie met minderhede doen. Minderhede is dus gewaarborgde setels in sy “parlement” toegeken, maar verder moes hy soortgelyke metodes aanwend as ander diktators. Die Alawiete oorheers die bevelsposte in die weermag en ander gewapende magte, maar Soenies het die room van poste in die res van die staatsdiens gekry.

Bykans elkeen van hierdie minderhede het foutlyne wat na die buurlande oorloop. Iran, met sy meerderheid Sjiïete, beskou Assad as ‘n onontbeerlike skakel om wapens na die Sjiïtiese Hizbollah in Libanon te kan afvoer. Die Koerde, Armeniërs en die Assiriërs het almal aan die begin van die vorige eeu onder volksmoorde in Turkye deurgeloop, en baie is nasate van vlugtelinge uit Turkye. Sowat 25 000 Koerdiese vlugtelinge uit Sirië het al na Irak se Koerdistan gevlug, ‘n gebied wat haaks is met Irak se sentrale regering, en hard witvoetjie by die regering van Iran soek. Turkye, wat pas blykbaar vordering gemaak het om sy eie Koerdiese probleem te ontlont, het verstaanbaar nie veel van ‘n aptyt om die Koerdiese pot verder te roer nie.

Die Assiriërs het die oog op die verslegte lot van Christene in Irak na Saddam verwyder is.

Terwyl Assad se sekulêre regering vir ‘n groot deel van die buiteland verkieslik is bo ‘n Moslem-oorheerste alternatief, is die werklikheid ook dat hoe langer die burgeroorlog duur, hoe groter word die potensiaal dat radikale Moslems die rebelle kan kaap en oorheers.

Oor die scenario’s oor wat kan gebeur as die VSA en sy bondgenote Sirië sal begin bombardeer kan net bespiegel word. Gaan dit ‘n volgende Irak en Afganistan oplewer, of gaan dit groter ooreenkomste toon met die verwydering van Gaddafi in Libië? Of ‘n volgende Kosovo waar die afloop redelik goed was (behalwe vir Serwië en sy Russiese bondgenoot).

Obama gee die versekering dat die VSA sy planne in plek het, en dit deeglik met die rebellemagte sinchroniseer. Dit klink verdag baie na die versekerings voor die invalle in Afganistan en Irak. Hoe heterogener ‘n samelewing is, hoe beter is die kanse dat sake kan onvoorspelbaar raak. Roer Moslem-radikalisme in die pot …

Verskeie Europese lande sit reeds met die hande in die hare oor van hul jong Moslems wat afsit om by die rebellemagte aan te sluit.

Europese lande neem reeds bestek op oor hoeveel vlugtelinge hulle sal kan opvang, moontlik vir ‘n onbepaalde tyd. Swede het aangedui hulle kan 50 000 opvang, en Nederland 5 000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan ·

Wonder wat gaan dit bom se naam wees wat die vsa gaan Los laat oor sirië?

Henry Oltman ·

Internasionale Reg word nog altyd volgens lojaliteite interpreteer. Die ANC wys net weereens waar sy ware lojaliteite (geld?) le.

tydspook ·

die hele wêreld se loyaliteit het geld geword.. en die kultoertjie om ons tonge van mekaar te vervreem asook persepsie oor die lewe te breek is saggies en stadig ingeweef deur generasie ritme ~ ons noem dit `TYD`..

Nico Kruger ·

Herman, kan jy dalk verduidelik hoekom Rusland en Sjina die Siriese regering so verdedig. Nie een van die 2 lande is lief vir Moslems nie. Is dit maar net ‘n kwessie van teen die VSA wees? En my tweede vraag, verstaan ek dit reg dat die rebelle die meer radikale Moslems is. Is die VSA nie weer besig om mense te steun wat sy uiteindelike vyand gaan word nie. Soos sy steun aan die Moslem rebelle in Afganistan toe hulle in die 1980’s teen die USSR geveg het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.