Nuuskommentaar: Botman verdien méér as net transformasiebaadjie

Prof. Russel Botman. Foto: Twitter

Prof. Russel Botman. Foto: Twitter

Prof. Russel Botman sou waarskynlik die laaste mens wou wees wat sou wou sien dat huldeblyke oor hom rasgewys byna soos ‘n mes gesny kon wees – van regeringskant en selfs sekere bruin meningsvormers wat niks of weinig meer kon vind om hom as transformasiedrywer te eer nie, en huldeblyke uit wit geledere waar daar byna nooit na transformasie verwys is nie.

Hierdie skerp verdeling is juis iets waarteen Botman sy lewe lank gestry het, en selfs ‘n draai in Pollsmoor gaan maak het. Volgens ‘n berig in Rapport het hy gereeld gesê die “plaaseienaar se kind en die plaasarbeider se kind moet ‘n gelyke kans hê om ‘n Matie te wees”.

Word die transformasie-huldigings eers eenkant gelaat, blyk die volgende uit enkele van die volgende huldeblyke in Rapport:

– George Steyn, voorsitter van die US se raad het gesê die universiteit het die afgelope jare baie baat gevind by Botman se visioenêre leierskap, wat ‘n weerspieëling was van sy lewensfilosofie dat die US se uitnemende navorsing en onderrig ’n verskil in die samelewing moet maak.
– Prof. Christo Viljoen, president van die US-konvokasie, het gesê onder Botman se rektorskap het die universiteit nuwe hoogtes van uitnemendheid bereik, en homself gevestig as die voorste navorsingsuniversiteit in Suid-Afrika.
– Johann Rupert, kanselier van die US, het gesê Botman was ‘n persoon met onkreukbare integriteit wat hom altyd vir sy medemens opgeoffer het. “Hy het sy diep geloof daagliks uitgeleef.”
– Prof. Willie Esterhuyse, afge¬trede professor, het gesê “hy het geweet wat integriteit is en het dit uitgeleef. Dit was nie maklik nie.”
– Dr. Michael le Cordeur, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), het gesê Botman het een van Afrika se toonaangewende universiteite gemobiliseer “om verskeie van die probleme wat ons land in die gesig staar, die hoof te bied. Sy plek sal moeilik gevul word.”

Uit ander oorde kan baie bygevoeg word – gesinsman, sy liefde vir Afrikaans en sy strewe dat sy kinders en kleinkinders nog in Afrikaans aan Maties moet kan studeer, Godsman as dekaan van teologie, predikant en president van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke. Hy was geen blindelinge naloper van die ANC nie, en het vyf jaar gelede ‘n rukkie gedink voor hy die aanbod om Cope se Wes-Kaapse premierskandidaat te wees, van die hand gewys het.

Sy taak was nie maklik nie, en sy taak is ook nie aldag vir hom maklik gemaak nie, en daarby het sy gesondheid eise aan hom gestel.

Ook in die hoofartikel wat Media 24 se koerante vandag deel word verskeie mooi eienskappe van Botman genoem. Hy het ‘n sekere waardigheid en statuur in sy rektorskap gehandhaaf wat skromelik by van die ander ontbreek. Dit is jammer dat hy van sy skerpte kritiek so kort voor sy dood moes beleef – trouens, so kort voor sy dood dat daar selfs bespiegelings was dat dit tot sy dood bygedra het.

In die week voor sy dood is daar selfs berig dat die Raad van die US ‘n mosie van wantroue in hom sou aanvaar. Dit het wel nie gebeur nie, maar dit was duidelik dat hy onder skoot gekom het omdat die Sentrum vir Inklusiwiteit ‘n transformasieprogram gedryf het wat reeds deur die raad afgekeur was. Uit beriggewing word die indruk geskep dat die Sentrum, of persone binne die sentrum, hul historiese vriendskappe met Botman benut het om Botman styl en visie te ondermyn. Botman het vir die sentrum in die bresse getree, en “verduidelik” dat die sentrum regstreeks onder sy beheer val en gedelegeerde bestuursfunksies uitvoer.

Hieroor het dr. Leopold Scholtz, ‘n oud-Matie en buitengewone hoogleraar in geskiedenis, soos volg in sy rubriek in Die Burger geskryf: “Maar nee, sê die rektor, die sentrum rapporteer regstreeks aan hom, en wat dié doen, hoef nie deur die universiteitsraad goedgekeur te word nie. Dat die raad die hoogste gesag is, pla hom vermoedelik nie. Van buite maak dit byna die indruk van ’n staatsgreep. Die rektor omseil eenvoudig die raad. Heelparty ingeligtes in en om Stellenbosch het teenoor my bevestig dat dit so is. Dis duidelik dat hier ’n breë aanslag teen Afrikaans is. Transformasie, soos Piet le Roux, ’n US-raadslid, tereg te kenne gegee het, moet breed gedefinieer word, nie eng, soos die ANC/SAKP en hul dissipels op Stellenbosch en Potch te kenne gee nie.”

Sou Scholtz die toekoms kon insien, sou hy in alle waarskynlik meer sagkens met Botman omgegaan het.

Die feite was egter dat, soos Scholtz dit uitwys, die Stellenbosch-geledere in die dampkring van die emosionele PUK-debakel gestaan het. Onlangs het die Kovsie-konvokasie ook onsagkens oor die wyse waarop transformasie gedryf word, omgegaan. Prof. Adam Habib van Wits is in die media aangehaal as sou hy gesê het dat Afrikaanse universiteite ongewens is – iets wat hy agterna in sy eie woorde lomperig probeer regstel het.

Emosies loop hoog, nie net in die wit Afrikaanse gemeenskap nie, maar ook in die bruin gemeenskap wat moet toesien hoe die departement van korrektiewe dienste twee hofuitsprake ten spyt, steeds voortgaan om bruin mense uit hul Wes-Kaapse bestaan te “transformeer”.

Uit hierdie geledere, waar oud-premier Peter Marais ‘n beduidende rol speel, is die gevoel dat bruin intellektuele wat hulself swart noem, uit voeling is met die voetsoolvlak. So skryf Marais op sy Facebook-blad: “Prof (Jonathan) Jansen het seker die reg om homself as swart te identifiseer, maar ons luister lankal nie meer na verdwaalde akademici nie. Hulle neuse is in boeke. Hulle ruik nie die asems van die gepeupel nie.”

Wat het, reeds onder die ou bedeling, met die UWK onder die Habib-tipe transformasiedenke gebeur? Dit was aanvanklik ’n bruin, Afrikaanse universiteit. Om swart studente en dosente ter wille te wees is dit nou ’n Engelstalige universiteit, op die voorstoep van Ikeys. Nou vra dr. Theuns Eloff, afgetrede rektor van die Noordwes-universiteit of dit te veel gevra is dat daar uit 38 universiteitskampusse drie of vier Afrikaanse kampusse is?

Dit is in hierdie ongenaakbare omgewing waarin Botman hom bevind het. Na berig word, wou hy omsigtig en diskreet met die saak omgaan, maar is aan die een kant gedruk om meer ingrypend te transformeer, en aan die ander kant meer aksent op waarborge te plaas soos wat die grondwet vereis.

Ongelukkig bestaan die kanse dat Botman se nalatenskap bepaal kan word deur die dampkring van diegene wat dit suksesvol gekaap kry. Dit is dikwels die lot van komplekse mense wat wegval voor hul taak voltooi is.

Gaan sy nagedagtenis vervlak word tot ’n enkeldimensionele martelaar vir gekaapte transformasie? Hy verdien tog baie beter.

Of gaan sy nagedagtenis sy hele, aansienlike voetafdruk op die geskiedenis weerspieël, sy transformasierol maar een aspek daarvan?

En miskien sou die prof self sy nagedagtenis as ’n eenvoudige, onopgesmukte herinnering wou laat voortleef – soos die foto in Rapport van ’n blondekopvrou wat na sy dood blomme by sy huis kom neersit. ’n Universiteit waar kleur nie meer saak maak nie, maar Afrikaanssprekendes hoë kwaliteit onderrig in hul moedertaal kan ontvang.

Suid-Afrika sal baat daarby deur prof. Botman in sy heengaan te respekteer en ‘n tree terug te staan, en opnuut te besin of daar nie raakvlakke van is om te werk nie.

Kan daar nie maar weer oortuigende argumente en voorbeelde op die tafel geplaas word om te oortuig dat Afrikaans nie gebruik word om rasekslusiwiteit te bewerkstellig nie? En wil die Habib’s nie maar weer gaan kyk wat staan regtig in die grondwet en die internasionale reg nie? Immers het Habib in sy regstelling onder meer gesê Afrikaans as onderrigmedium kan gewens wees.

Aan die naasbestaandes: Innige simpatie. Julle en die land het ‘n groot verlies gely. As Godsman sou hy nie wou hê dat daar oor hom getreur word nie, maar dat diegene wat wel oor hom treur, getroos moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hanno Visagie ·

Was Botman eerlikwaar en ongekwalifiseerd ‘n kampvegter vir Afrikaans en nie verengelsing nie?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.