Nuuskommentaar: Brackenfell en die hof van openbare menings

(Foto: Rob Hutchinson/Twitter)

Die Wes-Kaapse departement van onderwys het in sy amptelike verslag bevind dat daar geen bewyse van rassisme by Hoërskool Brackenfell se private funksie is nie. Sodoende het die departement die skool, leerders, ouers en onderwysers amptelik vrygespreek van die klagtes van rassisme.

Hoewel dit nie tot ʼn amptelike hofsaak gelei het nie, was ʼn beslissing steeds nodig. Gegewe die aandag wat die voorval geniet het, sou iemand dié funksie amptelik veroordeel of vryspreek.

Die probleem is egter dat die hof van openbare menings lank reeds oor dié saak beslis het. Lank voor die departement die ondersoek kon afhandel, het mense besluit hoe hulle daaroor voel. Ook die establishment-media het oorweldigend reeds besluit dat die skool, leerders, ouers en onderwysers skuldig is.

Diegene wat die skool in die hof van openbare menings reeds skuldig bevind het, gaan nie sommer van mening verander nie. Hulle besluit is geneem. Diegene wat van die begin af die skool vrygespreek het, gaan nou bloot die departement se bevindinge as bevestiging gebruik.

Die hof van openbare menings het juis hierdie mag. Mense kan baie maklik, veral met die leiding van die media, amper méér deurslaggewende beslissings lewer as selfs ʼn normale hof. ʼn Hof se uitspraak gaan nie sommer mense se menings verander nie. Dit is veral te sien in sake soos die Coligny-twee se onlangse vryspraak.

Met die aanvanklike beskikbare feite het mense hulle beslissings gemaak. Dit is veral gelei deur die establishment-media se menings aan die een kant en mense se vooropgestelde idees aan die ander kant. Die establishment-media het die Coligny-twee van die begin af as skuldig hanteer. So ook die sogenaamde “rassevoorval” by Brackenfell. Dié media het beslis dat die partye in hierdie twee voorvalle skuldig is – ongeag die feite.

Aan die ander kant het talle mense hulle menings gevorm op grond van vooropgestelde idees. Iemand wat graag rassisme in alle wit mense wil vind, het hierdie twee gebeure as bewyse gebruik. Hulle het mos gewéét dat alle wit mense rassiste is wat eintlik na apartheid hunker – Brackenfell se “wit” partytjie het dit net bevestig.

Hierdie kombinasie van die media se narratief aan die een kant en mense se vooropgestelde idees aan die ander kant is juis die toksiese kombinasie wat die hof van openbare menings so gevaarlik maak. Hierdie twee kante vuur mekaar aan en stel sekere narratiewe daar – ongeag die feite. Diegene wat die meeste invloed en hardste openbare stem het, gaan die narratief vestig. Die prominente narratief gaan so ook die hof van openbare menings se beslissing swaai. Nie noodwendig omdat die meeste mense so voel nie, maar eerder omdat diegene met die meeste invloed en hardste openbare stem so voel.

Teen die tyd dat die eintlike howe of mediators ʼn beslissing maak, is dit grootliks irrelevant. Mense het reeds besluit wat hulle glo – feite of ʼn onafhanklike beslissing gaan dit nie verander nie. Die establishment-media gaan ook nie van sy narratief afwyk nie. Lede sal eerder ʼn manier vind om rondom die feite en uiteindelike beslissing te praat.

Sodoende is die skade tot groot mate reeds gedoen. Die Coligny-twee sal vir sommige mense vir ewig rassiste bly. Hoërskool Brackenfell sal vir sommige mense vir ewig die skool wees wat ʼn apartheid-partytjie gehou het. Ongeag die feite.

Nes die probleem van die hof van openbare menings tweeledig is, is die oplossing ook tweeledig. Aan die een kant is dit ons verantwoordelikheid om beter media te steun. Medialede wat eerlik is oor hulle vooropgestelde menings óf eerlik is oor hulle onpartydigheid. Media wat nie onder die vaandel van onpartydigheid partydig optree nie. Media wat wag vir die feite. Media wat erken wanneer ʼn fout begaan is. Dit is belangrik om die invloedrykheid te ontneem van die media wat bydra tot ʼn oneerlike en eensydige openbare gesprek.

Lede van die establishment-media het die invloed om die beslissing in die hof van openbare mening te swaai. Hulle het die middele en stem om mense met ʼn ewige smet van skuld te laat. Indien hulle iemand as rassis bestempel, sal daardie mens vir ewig in die openbare gesprek as rassis onthou word – of dit nou waar is of nie, en of die meeste mense nou daarmee saamstem of nie.

Dit is belangrik om hierdie invloed van hulle te ontneem deur eerliker alternatiewe media te steun. Sodoende sal partydige én oneerlike establishment-media stadig maar seker hulle posisie van invloed in die openbare gesprek verloor. Slegs deur die establishment-media se marksegment te verklein en beter alternatiewe media te steun, sal ʼn meer gebalanseerde openbare gesprek moontlik wees.

Mense gaan hulle eie menings hê. Die meeste mense gaan ook altyd besluite beïnvloed deur vooropgestelde idees, eerder as blote koue feite. Dit, eerder as suiwere redelikheid, is die mens se natuur. Dit is juis waarom dit belangrik is om deurentyd te probeer om billike menings gegrond op feite te vorm. Soms gaan iemand aan “die ander kant” skuldig wees. Soms gaan iemand “aan jou kant” skuldig wees. Dit is belangrik om met die twee kante dieselfde om te gaan. Nes ʼn mens die feite oorweeg wanneer iemand aan jou kant beskuldig word, is dit belangrik om feite te oorweeg wanneer iemand aan die ander kant beskuldig word.

Dan moet ʼn mens ook vrede daarmee maak dat jy nooit almal gaan kry om vir die feite te wag nie. Ten spyte hiervan is dit belangrik om deurlopend aan die openbare gesprek te werk. Eerstens deur media te ondersteun wat bydra tot ʼn eerlike en gebalanseerde gesprek. Tweedens deur self nie by te dra tot die probleem nie. Hoewel ongelooflik moeilik, is dit belangrik om deurlopend eerlik te wees oor die feite – veral wanneer jou eie kant foute begaan.

Sodoende sal ʼn mens stadig maar seker in die rigting van ʼn beter hof van openbare menings kan beweeg. ʼn Hof wat nie so eensydig partydig en oneerlik is soos dié een wat oor Brackenfell en Coligny geoordeel het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Dries ·

Punt bly staan, sou daar slegs swart leerders wees wat die afskeid bygewoon het, sou geen haan daarna kraai nie.

Wondermaarnet ·

Gelukkig kan ek kies met wie en wat ek meng en kuier in my privaat erf. My getroue honde laat in elk geval nie enige jan rap en sy maat toe nie.

Adam Adriaan ·

Alles gaan oor die mate van oordeelsvermoë waaroor mense beskik. Party mense pas sy oordeelsvermoë aan na gelang van sy politieke oortuiging. Niemand sal hom dan van iets anders oortuig nie. Die perd Brackenfell is al op enige manier gery, maar in die stal sal jy hom nie kry nie, bloot omdat sy hoewe al afgekom het. Die sage sal ook in die niet verdwyn, al bevind wie ook al wat.

Anel ·

En niemand sal omverskoning vra vir hul verkeerde oordeel nie. Hulle is baie gou om die blankes as rassiste te brandmerk maar weier om omverkoning te vra vir die vals bewerings. Net soos die met die kleuterskoolonderwyser. Daar is soveel ander voorbeelde, maar as ‘n blanke kla oor rassisme word daar vir jou in jou gesig gelag.

JM ·

Ons bevind ons in ‘n siek samelewing, waar die leuen as die waarheid verkondig word en die waarheid geminag word.

My siening ·

Die regter moet maar bietjie sy mond toe maak want hy is veronderstel om nie partydig te wees nie. Seker n eff kader!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.