Nuuskommentaar: Brand, brand! Maar die brandweer is stukkend

Argieffoto

Argieffoto

’n Baie ou grappie word nou net te dikwels ’n ernstige storie. Die huiseienaar bel die brandweer in groot nood omdat sy huis in vlamme is. “Goed, meneer,” sê die diensbeampte, “maar hoe kom ons daar?”

“Agge nee,” sê die huiseienaar, “moet my net nie sê jul lorries is al weer stukkend nie!”

Pas is die volgende berig oor RSG uitgesaai: “Die eienaars van sowat 30 luukse huise wat langs die Vaalrivier in Vanderbijlpark afgebrand het, pak die skuld op die Sasolburg Metsimaholo brandweer-en-reddingsdienste. Die skade word op sowat 100 miljoen rand geraam. Albei die munisipaliteit se brandweerwaens was buite werking ná ongelukke en net een ou wa is van Boksburg geleen. Dit was glo ’n gespook om die brand te blus. ’n Woordvoerder van Metsimaholo, Gino Alberts, sê hoewel die voorval betreurenswaardig is, kan die munisipaliteit nie die skuld daarvoor dra nie. Hy sê hulle neem enige noodgeval ernstig op. Daar word gewag op ’n omvattende verslag oor die voorval.”

Uit Volksblad se argiewe blyk dit dat sowat 15 van die laaste 50 berigte waarin die woord “brandweer” voorkom, negatief van aard is. Dit sluit bewerings in soos die brandweer wat nie die telefoon beantwoord nie, of baie lank neem om op te daag, en aanstellings wat nie aan die minimum-vereistes voldoen nie. Voeg hierby probleme wat die brandweer raak, maar van ’n heel ander oorsprong is, soos strate sonder name (die naamborde word op groot skaal gesteel), en slegte paaie en onbegaanbare strate. Die vlegwerk van onwettige kragaansluitings, veral in informele strate, maak dit dikwels uiters gevaarlik vir die brandweerlorries om deur te beweeg.

Die meerderheid berigte oor die brandweer is gelukkig baie positief.

Die brandweer is egter nie al nood- of openbare diens wat kort-kort weens ondoeltreffendheid in die nuus is nie. Die polisie, ambulansdienste en vele meer kom kort-kort in die spervuur. ’n Mens se bloed kook veral as daar gereeld nie ’n voertuig beskikbaar is nie, maar terselfdertyd sien ’n mens hoe hierdie voertuie vir taxi’s ingespan word, of hoe daar by supermarkte inkopies gedoen word terwyl sommer op die parkering vir gestremdes geparkeer word.

En word nou betrap dat jy ’n foto neem … ’n mens sou sê die persoon wat die amptelike voertuig bestuur het, het iets verkeerds gedoen soos hy of sy aangaan.

Soms is dit aardse besittings wat in die slag bly, soms is dit menselewens. Dan maak dit in beginsel nie saak of dit een uit ’n miljoen vrot appels is wat die probleem veroorsaak het nie, dit bly steeds een geval te veel.

In ’n samelewing waar ’n mens vir byna alles dubbel betaal (belasting vir veiligheid maar ook ter wille van veiligheid en die versekering vir diefwering, gewapende reaksie en alarm), is dit vanselfsprekend vir baie ’n wrewel dat hulle self nog snags moet patrollie ry, brandblussers aanhou wat gereeld versien moet word, en steeds onveilig voel.

Terwyl die presidensie en ministers, en sommer ’n hele klomp ander kaders ook, miljoene rande bestee om in die allergrootste luuksheid die wêreld vol te vlieg. En dikwels net nog verdere uitgawes genereer.

Eens was daar ’n keiser wat viool gespeel het terwyl Rome brand. Hy het die Christene geblameer. Eens was daar ’n president wat rondvlieg terwyl Suid-Afrika brand. En hy blameer wyle Jan van Riebeeck.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Fanie ·

Baie goed geskryf Herman. Ek is egter een van miljoene Suid-Afrikaners wat wil weet wat is die oplossing om uit hierdie gemors te kom. Diegene wat omgee word net afgelag en geignoreer.
Die Skilpad van Never Ending Story vlieg lekker rond met ‘n smile.

E. Scholtz ·

Mnr Gino Alberts het ook vanoggend op RSG beweer dat die Wonderfontein area deel vorm van die Emfuleni of te wel Vanderbijlpark munisipalitiet. Dit is nie die waarheid nie, aangesien Wonderfontein val onder Sasolburg sektor 4, en dit is gelee aaan die vrystaat kant, reg langs die Vaalpark woon area.

Winston ·

As ek jou berigte lees Herman is my dag gemaak. Nie oor die gemors waarin ons is nie, omdat iemand die waarheid vervat in n kort berig. Wat in die land is regtig nog funksioneel? Absoluut niks en ons agbare Never ending Story president is meer in die lug as op die grond. Iewers kom n groter dinges as wat ons dink. Groete

Ek wonder net? ·

Jip dis waar, elkeen blameer die volgende een.
Maar waar lê die verantwoordelikheid, wie gaan verantwoordelikheid aanvaar?
Die persoon wat die kompleks gebou het of die koper, beide moes tog seker gemaak het dat alle reëls nagekom word, en nie net die “omkoopgeld” betaal het om die planne goedgekeur te kry nie.
Die Brandweer het seker reëls wat nagekom moet word as dit kom by alle komplekse nuut en oud.
Was daar die nodige spasies tussen al die geboue gewees?
Was daar die nodige “hidrent” in die area?
Is die Grassdakke in hierdie geval jaarliks instandgehou?

Baie van hierdie vakanise plekke word opgesit sonder planne en mense glo mos dit sal nie gebeur nie.

Al het die plaaslike munisipaliteit ook deel aan die skade, wat was die ander omstandighede, die wind het sterk gewaai en dit dra ook by tot die probleem.

Dit help nie net mens blameer die nooddienste nie, mens moet alle feite kry voordat jy skuld neerlê. Nalatigheid aan eienaar se kant in enige noodsituasie word nooit genoem nie!

Elkeen is verantwoordelik vir sy eie dade, en as jy dan kies om omkoopgeld te betaal moet jy die nagevolge kan dra en nie huil nie.

Peet Schabort ·

Hier waar ek woon in hierdie einste Metsimaholo-munisipaliteit se gebied het ek die volgende:
Ek het ‘n verouderde plan (so is aan my gesê want daar was nie een wat op datum was beskikbaar nie) in die hande gekry en ‘n steekproef net in my onmiddellike omgewing gemaak. Ek het dit per fiets gedoen omdat dit soveel makliker was.
Dit was op 12April 2011 omdat ek foto’s geneem het met ‘n kamera wat ook dag en datum gee.
Van 21 brandkraanposisies aangedui op die plan was 14 krane WEG, d.w.s. ek kon geen kraan sien, terwyl een dalk ‘n kraan kon gewees het waarvan ek nie seker was. Dus was daar 7 uit 21 krane in ‘n werkbare toestand waarvan daar ook TWEE VERSKILLENDE KOPPELINGS gebruik gemaak is. Dus moet die brandweerwa ook so toegerus wees. Met die aanmelding hiervan het ‘n brandweeramptenaar met groot spoed hier aangekom en daarna was die vuur ook uit die brandweer om iets daaraan te doen en na 53 maande is die situasie presies dieselfde.
Intussen, waarvan ek bewus is, het hier reeds al ‘n grasdakhuis en lapa afgebrand terwyl ook ‘n besigheid aan die brand was waar daar glo net ‘gekyk’ was deur die brandweer terwyl ander die vuur moes blus. Ons is in die posisie dat ‘n plaaslike besigheidsman met sy twee seuns ‘brandweer speel’ waar die munisipaliteit nie eers brandstof aan hulle voorsien. Voorwaar ‘n laakbare manier van doen.
Hoekom die Metsmaholo brandweer nie ‘n ordentlike brandweerwa het kan toegeskryf word aan die feit dat hulle groot wa in ‘n ongeluk betrokke was en hier ter plaatse by die polisiestasie gelê het van ongeveer Julie 2014 tot Maart 2015 d.w.s. vir ten minste 9maande. Toe skielik op ‘n dag was dit verwyder maar waarheen weet niemand. Daar kan ook nie uit hulle uitgewurg word wat is die toedrag van sake waarom die assuransie nie die wa laat regmaak of uitbetaal. Sou die bestuurder dalk nie ‘n geldige lisensie gehad het vir die voertuig ?
Gedurende Aug. 2013 was daar op die plotte aangensend aan Vanderbijlpark ook ‘n brand met miljoene R’e se skade. Na wat ek verneem het Emfuleni se brandweer (hulle moes gehaal word want het nie geweet waar is Stephanopark) opgedaag met die verkeerde pype om water uit ‘n swembad te pomp terwyl Sasol en Metsimaholo se pompe nie gewerk het !!!!
Daar word net nie aandag gegee en dis ‘n storie dat Alberts se “Hulle neem enige noodgeval ernstig op” geglo kan word. Ek sal eerder in die man in die maan glo voordat ek DOKTOR Gino Alberts sal glo.
Die oplossing ? Die middelman wat die munisipaliteit is moet verwyder word waarna die plaaslike inwoners en privatisering moet omsien na hulle eie belange.
Dit was die grootste onding om kleiner munisipaliteite saam te gooi in groter munisipaliteite wat net nie doeltreffend kan funksioneer.
Kleitrap met ‘n klomp verskonings is nou aan die orde van die dag.

Pierre Celliers ·

Neem asb kennis, ons woon in derde wereldse Afrika, en dinge gaan nooit verbeter nie!
Dit is nie ‘n prioriteit by enige owerheid in hierdie land om te verbeter nie! Raak gewoond daaraan dat ons protes geen duit verskil gaan maak nie, nie nou nie, ook nie later nie.

Peet Schabort ·

Nee Pierre, ons roer hulle met die storting van riool in die Vaaldam en dit werp vrugte af. Ons SAL NIE GAAN LÊ !!

Janie Nel ·

Ek vermy dit om brandweer berigte te lees want ek word woedend. Toe my oorlede man brandweerhoof was, was die dinge wat tans aangaan ondenkbaar. Die dissipline wat bestaan het, elke jaar moes ‘n brandweer eksamen plus eerstehulp eksamen afgelê word, die manne moes fiks en gesond wees, nie aan engtevrees ly nie, swaarvoertuiglisensies hê, nag of dag binne ‘n minuut uit die stasie wees as daar ‘n noodoproep was. Die stad se besighede het versekeringskorting ontvang omdat die brandweer doeltreffend was. Maar hy moes gaan want hy was wit en is toe met ‘n onderwyser vervang. Net bid jou huis of besigheid brand nie…..

Sue ·

En toe dink niemand om die naaste natuurlike vloeiende “fire river” te gebruik om brand te blus nie!

Deon ·

Ek kan – as oud brandweerman – met trots se dat die brandweer in die Kaapstad is die beste .

Jurie van Staden ·

Ons probeer al 2 jaar n ooreenkoms teken met Emadlangeni Munisipaliteit vir die lewer van privaat brandweer diens. Maar nog niks nie hul glo brandweer voertuig gekoop maar verstaan dit bos voertuig so wetie hoe hul struktriele brande wil doen.

Nou die ander punt ek weet mense betaal tax en glo dat die regering moet brandweer verskaf. Raai wat hulle kan in meeste van die dorpe nie veral op die platteland. Om dan te maak soos inwooners om eerder klippe te gooi en as mens vra vir hulp om vir hul redding en brand diens te kan lewer is die andwoord …………… stilte .

Mike de Beer ·

Herman, Moet asseblief nie vir Jan van Riebeeck blameer nie. Ek was sy Fire Chief en ons brandweerwaens was almal in goeie werkende orde. Hoekom het die mense nie elk ‘n fire pool gebou soos by Nkandla – dis tog die aangewese ding om te doen?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.