Nuuskommentaar: Brand die plase – Doom vir Dookoom

'n Skermskoot uit die video

‘n Skermskoot uit die video

’n Kaapse hip hop-groep Dookoom se nuwe video, Larney Jou P**s, waarin ’n brandende buiteband oor ʼn plaas gesleep word, het die land weer in ’n hewige debat gewikkel. Debat, en nie geweld nie, is wat Dookoom meen hulle wil ontlok.

Maroela Media het vroeër berig oor dié video waarin baie erge kru taal gebruik word en mense aangemoedig word om plase af te brand.

Die probleem is dat Dookoom se “feitestel” oor plaastoestande soortgelyk is as dié van Tony Ehrenreich van Cosatu wat met plaasbesettings dreig sou die “onwettige” afsettings van plase nie stopgesit word nie.

AfriForum dreig met stappe teen Dookoom.

Presies hoe Dookoom debat deur dié video wil bevorder is onduidelik. Ehrenreich se opvatting van “debat” is dat almal met sy eie beskouing van die werklikheid moet instem, al stem die howe wat die uitsettings hanteer, nie met hom saam dat dit onwettig is nie.

Dookoom se opvattings is min of meer dieselfde, en voer dit terug na die tye van slawerny en die dopstelsel.

Agri Wes-Kaap het egter al baie verby daardie punt verbybeweeg, en twee heel uiteenlopende sienings oor dieselfde werklikheid bestaan – dikwels op dieselfde plaas.

Selfs al was Dookoom se motiewe hoe edel, kan die land nie vir altyd in ’n situasie vasgevang bly waar rassisme en haatspraak beskou word as iets waartoe slegs een bevolkingsgroep in staat is nie. Die stelling, gebore uit die swartbewussynsbeweging, dat ’n swart persoon per definisie nie ’n rassis kan wees nie, is objektief beskou ’n uiters rassistiese beskouing.

So lank as wat hierdie soort beskouing nie in dieselfde ernstige lig beskou word as die inspan van die k-woord of erger nie, so lank bly die grondwet ’n papiertier waar alle nie-rassige beginsels, en beginsels van gelykheid en gelykheid voor die reg, slegs ’n mite is.

Dan word daar nie eens probeer om ’n skyn van fatsoenlikheid aan die grondwet te heg nie.

Satire het nog altyd ’n belangrike rol in die Suid-Afrikaanse politiek gespeel. Dit toets die grense en sit mense aan die dink. Dit is ʼn kunsvorm waar met slim woordespel dinge gestel word op so ’n manier dat die gehoor vir hulself kan lag. Die gehoor moet wawyd wakker wees om die dubbele betekenisse te snap en te verstaan wat die kunstenaar eintlik wil sê, en dan selfondersoek kan instel.

En volg daar debat, het die kunstenaar met onderskeiding geslaag. Maar wanvoorstellings wat tot geweld kan lei? Dit is geen satire nie.

Dit openbaar bloot die feit dat verskillende bevolkingsgroepe in hierdie land soveel uiteenlopende beskouings oor dieselfde sake het, dat dit ’n polarisasie in stand hou en die potensiaal vir konflik saamdra. Met ʼn ongeërgdheid oor die potensiaal vir geweld.

Ongelukkig is daar maar altyd die vrot appels – dikwels juis die mense wat nie by belange-instansies soos Agri Wes-Kaap of in ’n ander verband, AfriForum, aansluit nie, maar tog as “verteenwoordigend” beskou of aangebied word van die mense en belange wat sulke verantwoordelike instansies verteenwoordig.

Dit is ’n ongelukkige feit dat Maroela Media en ander media-instansies baie mannekrag-ure moet afstaan om die kommentaarkolomme na te gaan om haatspraak te verwyder. Vryheid van uitdrukking word deur die grondwet beperk, en haatspraak is nie ingesluit nie.

Maar dit kan tog nie dat net die “een kant” sorg dat sy beeld nie deur losstaande individue of randakkergroepe besoedel word nie. In ’n heterogene land moet wat vir die een geld, noodwendig ook vir die ander geld, en ook Dookoom is aan die grondwet onderhewig.

Dit is goed en reg om die vrot appels kort te vat en selfs, waar nodig, te vervolg. Maar dit is nie goed om op grond van historiese perspektiewe te veralgemeen en ook diegene wat met groot deernis en verantwoordelikheid met komplekse situasies werk, onder dieselfde kam te skeer nie.

Die land het genoeg slopers, maar ’n reuse tekort aan bouers.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae