Nuuskommentaar: Brand, Suid-Afrika, dan word jy beter betaal!

Argieffoto ter illustrasie

In Suid-Afrika se geskiedenis van beurtkrag was ons nog net twee keer in fase 6 gedompel. Die eerste keer was in Desember 2019. Tydens die somer en ook in ʼn tydperk waarin die meeste groot nywerhede reeds vir die jaar gesluit het. Dit was ʼn reuseskok omdat dit ook die eerste fase 6 ooit was.

Die afgelope week is ons vir die tweede keer met fase 6‑beurtkrag gestraf. Dit was nie weens een of ander ondenkbare natuurramp of krisis nie. Misdadigers – dit is onwettige stakers – het die land doelbewus in die duister gedompel. Van die “wintersnorm” van fase 2 is ons opgegradeer (of dalk eerder afgegradeer) na fase 6. Hierdie onwettige stakers het die kragnetwerk doelbewus gesaboteer weens hul ongelukkigheid met die stand van loononderhandelinge.

Dit eggo die absolute belaglikheid van kragnetwerksabotasie wat ook einde verlede jaar en begin vanjaar aangeteken is. Verskeie kragstasies is herhaaldelik doelbewus en misdadigergewys gesaboteer. In hierdie tipe sabotasies word presies die regte kabels klinies geknip – soms word selfs niks gesteel nie.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, beskryf hoe Solidariteit se lede – wat aanhou werk het – geïntimideer is deur hierdie onwettige en misdadige stakers. Sommiges se huise is selfs met petrolbomme aangeval. Diegene wat wel naarstigtelik gepoog het om die land se kragnetwerk aan die gang te hou, is dus gestraf.

Diegene wat gewelddadig onderhandel het, het egter nou gekry wat hulle wil hê – minstens tot ʼn mate. Die vakbonde NUM en Numsa was ongelukkig met die loonverhoging wat Eskom wel aan werkers kon bied. Hulle eis ’n wesende 12%-verhoging – die 5,3% wat Eskom kon aanbied, was nie voldoende nie. Nou het Eskom natuurlik na die onderhandelingstafel teruggekeer met 7% – die staking het dus sy doel gedien.

Betreffende hierdie kwessie, kan ʼn mens ʼn paar goed opmerk.

Die eerste wesende dat almal in die land gebuk gaan onder ongenaakbare ekonomiese omstandighede. Dit beteken dat almal desperaat is om minstens net voor die inflasiekoers te bly. Daarom is die ideale situasie dus dat jou salaris jaarliks minstens gelykstaande aan die inflasiekoers verhoog. Dit is egter die ideale situasie. Ons ekonomiese omstandighede en vooruitsigte staan tans ongelukkig nog geteister deur dekade lange staatsdiefstal en wanbesteding. Die staatsmafia waardeur ons die afgelope dekades regeer is, het meer as ʼn dekade se welvaart uitgewis.

Daarom is oorborrelende frustrasie en woede oor versmorende ekonomiese omstandighede verstaanbaar. Dit is egter waar vir almal – ook vir die getroue Solidariteit-lede by Eskom wat te midde van intimidasiepogings die ligte aangehou het. Dit is ook waar vir mense wat elke dag hard en getrou werk eerder as om die land af te breek. Verlammende ekonomiese omstandighede lei dus nie noodwendig na ʼn afbreekmentaliteit nie. Sommige mense poog steeds om iets te bou uit die puin van ANC-regering.

Die tweede kommerwekkende kwessie in dié opsig is die normale onderhandelingstaktiek wat geweld lank reeds in Suid-Afrika is. In 2018 reeds het die Instituut vir Sekerheidstudies verduidelik hoe gewelddadige stakings ʼn gewilde onderhandelingstaktiek veral in loononderhandelinge geword het. ʼn Tekort aan vervolging en aanspreeklikheid maak hierdie ʼn laekostetaktiek met groot potensiële voordeel. Sedert 2013 het Suid-Afrika tussen twee en drie stakings ʼn dag ervaar – hoe oorleef ʼn land so iets?

Hierdie werklikheid is absoluut onleefbaar in ʼn moderne samelewing en ekonomie. Geweldsprotes in besonder hou dalk goeie korttermynwins vir protesgangers, maar wesenlike negatiewe gevolge vir die ganse land in. ʼn Verontskuldiging van wetteloosheid en geweld verteer uiteindelik bloot wet en orde in totaliteit. In Suid-Afrika blyk die broodnodige monopolie op geweld die enigste sektor te wees wat die regering bereid is om te demonopoliseer!

Energiekenner Chris Yelland beskryf hoe beurtkrag eintlik heeltemal tot ʼn einde kan kom – Suid-Afrika word egter gyselaar gehou. Ten einde ons kragprobleem op te los, moet die kragnetwerk en ‑opwekking eintlik radikaal gediversifiseer word. Ons sit egter vasgevang in ʼn ideologiese verlede en diepgaande gevestigde belange in spesifiek steenkoolkragopwekking.

ʼn Handjie vol swart ekonomies bemagtigde steenkoolmyne het groot steenkoolbeleggings – dit is natuurlik ten nouste verweef met Eskom se alleenmandaat van kragopwekking. Eskom is nog feitlik volledig afhanklik van steenkoolkragopwekking. Hierdie SEB-maatskappye se steenkool word dan boonop met trokke, eerder as op vervoerbande, aangery omdat dit duurder is – dus meer “wins”.

Indien die Zondo-rillerreeks ons enige iets geleer het, is dat dit daar altyd geleentheid vir belangeuitbreiding, kaderkorrupsie en ontvangs van jou welverdiende tendertiende is.

Die staat het hom in geldgierigheid en magsugtigheid oor die afgelope dekades wesenlik verswak. Dit beteken natuurlik nie dat ʼn mens net kan doen wat jy wil nie. Dit beteken egter dat dit veral vir die burgerlike gemeenskap en private sektor makliker word om ook aan die spel van magsverhoudinge deel te neem – noodgedwonge en noodsaaklik. ʼn Goed gesteunde burgerlike samelewing begin al meer in die regering se gewigsklas boks. Daar is dus ʼn pad oop te kloof na minder verval en meer normaliteit.

Dit blyk duidelik uit Solidariteit se onlangse hofoorwinning oor die sogenaamde sertifikaat van behoefte – een van die steunpilare van die NGV. Solidariteit, AfriForum en Sakeliga se onverpoosde teenstand teen ongegronde en onregverdigbare Covid-regulasies het ook uiteindelik in ʼn vryer werklikheid neerslag gevind.

Die kort en die lank van die saak is dat ʼn mens hier gaan oorleef omdat jy moet – ondanks die regering. Orania het verlede jaar daarmee begin om ʼn sonplaas op te rig wat die hele dorp van krag kan voorsien. Hulle is tans nog aan die nasionale kragnetwerk, met beurtkrag saam, gekoppel. Die huishoudelike of gemeenskaplike oprig van alternatiewe kragopwekkingsmetodes – soos veral sonkrag – verhoog stelselmatig egter gemeenskapselfstandigheid.

Hoewel nie maklik of sommerso goedkoop nie, is dit moontlik en, selfs belangriker, is dit noodsaaklik. Mense het oor die afgelope dekades hulself suksesvol van die staat ontkoppel – in gesondheidsorg, sekuriteit, infrastruktuurinstandhouding en soms ook ekonomies deur om SEB te leer leef. Dit is nou maar ʼn werklikheid dat jy jouself ook mettertyd van die huidige kragnetwerk moet ontkoppel om nie saam te sink nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Burgermeester ·

Baie dankie vir die insiggewende berig @monicamynhardt.

Die kaders wil geld hê … maar die kaders wil nie werk nie.
Die kaders wil regeer … maar die kaders het nie die vermoë nie.
Die kaders doen wat hulle wil, en kom weg daarmee, want die ANC top-struktuur lieg, bedrieg en steel … en kom weg daarmee.

Solank die kaders in die parlementsbanke sit, gaan daar nie veel vooruitgang in die land plaasvind nie.

Gerhard ·

Ek kan regtig nie glo hoe dit toegelaat kan word dat die hele land en ons ekonomie deur die stakers lamgele word. Ek weet nie wat ons gaan doen om hierdie tipe situasies tot n einde te bring nie. Jissie, as die werkgewer n persentasie aanbied as verhoging, dan is dit wat die werkgewer kan bekostig. Nou moet die hele land boet vir hulle optrede. Ek neem aan ons gaan nou betaal vir die ekstra 1.7% wat Eskom nou meer gaan toestaan vir die verhoging. Nee, jissie, ek verstaan nie dit nie.

duiweboer ·

As ons die berig in diepte Lees en agter die skerms kyk, is Eskom Verploeg om die kadar konsortuims te akomedeer. Dit plaas ons in die slegste posisie in die wereld

marius ·

Met mag en geweld kom jy aan bewind en kry presies wat jy eis , sonder enige verantwoordbaarheid . ALMAL moet dit maar begin doen .

Natasha ·

Eerlikwaar dank al die ontwettige stakers af en boender hulle in die tronk. Daar is genoeg werklose mense wat met liefde hulle salaris sal aanvaar.

Antonk ·

Nee Natasha.Dan moet ons nogsteeds vir hulle betaal terwyl hulle in die tronk sit en niks doen nie.

Saartjievandiebosveld ·

Tiepies…steek vandag die bus aan die brand….more dan wag hy vir dieselfde bus…dan toi-toi hulle oor die bus wat hulle eergister aan die brand gesteek het wat hulle nie kom op laai nie. EISH ja met ys

Nettie ·

Dit behoort nie meer nie, maar dit skok my nog steeds elke keer as ek sien waarmee kom misdadigers weg in hierdie land.

Antonk ·

Hulle is ʼn klomp ondankbare goed.Hulle het die hele land verniet gekry dan vernietig hulle alles en ons moet nogsteeds vir hulle nonsens boet.

Herman L ·

Die ANC politici is inderdaad die diensknegte van sekere vakbonde!

Onbesmetlik ·

Ons moet aandring dat SLEGS BELASTINGBETALERS stemreg mag hê. Dit sal die hele land regruk, want hulle bly vermeerder op ons Belastinggeld en daarom sal die sg. “Meerderheid” ALTYD die mag hê oor gewone, hardwerkende mense !!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.