Nuuskommentaar: Breek ANC-sagteware SA se hardeware?

(Foto: RAJESH JANTILAL/AFP)

Die graderingsagentskap S&P het Maandag in ʼn verslag aangetoon dat die onlangse onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng die land se BBP-groei vir 2021 sowat 0,7% gaan kos – dit is na raming R35 miljard.

Die afgelope maand se onluste en gebeure voel soms nog surrealisties. Die naweek voor oudpres. Jacob Zuma uiteindelik tronk toe geneem is, het talle ondersteuners by Nkandla vergader in solidariteit met Zuma. Dit het uiteindelik ontaard in ʼn massabyeenkoms wat onder die inperkingsregulasies in daardie stadium onwettig was. Ten spyte daarvan het die polisie doelbewus geen mense in hegtenis geneem nie. Soos verwoord deur Bheki Cele, minister van polisie, is niemand daardie naweek in hegtenis geneem nie ten einde bloedvergieting soos by Marikana te voorkom.

Die ongelooflike hartseer ironie van die saak is egter dat die regering inderdaad nie ʼn Marikana daardie dag herhaal het nie, maar in die daaropvolgende twee weke selfs erger beleef het. Die polisiediens as swaard van die staat was nie net aanvanklik onwillig om die situasie te hanteer nie, maar het uiteindelik bloot nie die vermoë gehad om dit te hanteer nie.

Sodoende het die ANC tienvoudig veroorsaak wat hulle wou voorkom. Tydens die Marikana-slagting het 34 mynwerkers gesterf. Daar het oor die afgelope maand meer as 300 mense in die onluste gesterf. Dit is uiteraard nóóit ʼn goeie idee om lyke te tel en te vergelyk nie, maar hierdie vergelyking dui wel aan hoe klaaglik die staat misluk het. Presies dit wat die polisiediens wou voorkom, het tienvoudig plaasgevind.

Hierdie onluste is toegelaat om tot op die punt van absolute anargie te verval. Die polisiediens het gekies om wet en orde te laat verval en uiteindelik het die burgery ʼn duur prys daarvoor betaal. Dit word beraam dat sowat 150 000 werksgeleenthede deur hierdie onluste bedreig is. Meer as 40 000 besighede is ook deur die plundery geraak.

Daar is oor die afgelope paar weke wyd en syd ontleed, verklaar en gespekuleer oor wat presies die oorsaak van die onluste was. Talle politieke kommentators skryf die onluste toe as ʼn produk van Suid-Afrika se voortslepende armoede en ongelykheid. Dit is natuurlik deur die regering se hantering van die Covid-19-pandemie vererger en het miljoene mense net nog meer desperaat gemaak.

Dit verduidelik natuurlik ʼn gedeelte van die plundery, maar beslis nie alles nie. Dit is daarom ten beste ʼn gedeeltelike antwoord op die absolute chaos wat gemeenskappe en besighede oorweldig het.

Onluste in Diepkloof, Soweto (Julie 2021) (Foto: GCIS)

Die regering self pand kliphard die narratief dat dit ʼn georganiseerde opstand teen die staat was – ʼn sogenaamde insurrection. Dit is ʼn verskriklike ding om te sê, maar is steeds onder die omstandighede die beste moontlike “verduideliking” wat die regering vir hul mislukking kan gee. Indien dit ʼn georganiseerde opstand teen die staat was, was dit “net” die staat se intelligensiediens wat misluk het.

Die alternatief is dat hulle byna in die geheel die vermoë verloor het om hul monopolie op geweld as staat te behou. Hulle moet erken dat hulle ʼn staat sonder ʼn swaard geword het – hulle het doodeenvoudig nie meer die vermoë om op enige noemenswaardige wyse anargie doeltreffend te verhoed nie. Minstens nie op so ʼn wyse dat dit betyds geskied nie.

Eerder as om te vra waarom hierdie onluste gebeur het, is die vraag wat ʼn mens dan dalk moet vra waarom hierdie vlak van onluste enigsins moontlik was. Hierdie vraag skuif die fokus van die ontstaansrede daarvan na die rede waarom die onluste en plundering vir so lank en tot op hierdie vlakke kon voortgaan.

Die antwoord hiervoor lê vierkantig in die ANC se geskiedenis as regering.

Die ANC het in 1994, met al die morele en politieke probleme van die apartheidsregering inaggenome, ʼn moderne funksionerende staat ontvang. ʼn Staat wat ekonomies, burokraties en betreffend infrastruktuur modern en gevorderd was. ʼn Staat wat spesialiskundigheid en ervaring nodig het om bestuur te word. Dit was die basis waarop hulle kon voortbou en groei. Die instellings en strukture, oftewel hardeware, van die staat wat hulle geërf het, was modern van aard en moes dienooreenkomstig bestuur en hanteer word.

Met hul oorname in 1994 het hulle hierdie instellings egter met onmoderne sagteware, oftewel idees, gevul. Die rasse-Marxistiese ideologie van die staat het sodoende ʼn wanpassing met die moderne hardeware van die staat ervaar. Die ANC se ideologiese fundering is eintlik maar agterlik in die ideologiese sin van die woord. Die idees wat hulle aanhang, het reeds ten koste van miljoene lewens in state soos China en die Sowjetunie klaaglik misluk. Dit is idees wat beslis onmodern is – dit ondersteun nie die hardeware van ʼn moderne staat nie en dit kan ook nie vanuit die idees ontwikkel nie.

(Argieffoto)

Die ANC se rasse-Marxisme het uiteindelik net ontaard in ʼn mislukte en mislukkende staat wat oor die jare heen van alle kapasiteit, moderniteit en grootsheid gestroop is. Dit is veral omdat hierdie ideologie tot ʼn groot mate bloot omvorm het in ʼn kleptokrasie. Staatskaping het die vermoëns wat die staat nog sou en kon hê, doodeenvoudig lamgelê. Dit beteken dat die ANC se onmoderne sagteware Suid-Afrika se moderne hardeware laat inplof het. Die ANC het nie net ʼn tekort aan vermoëns om ʼn moderne staat te bestuur nie, maar ook ʼn tekort aan idees om hierdie moderne staat te ondersteun.

Die ANC het weens hulle eie agterlike idees die moderne staatshardeware wat hulle moes onderhou se vermoëns weggekalwe. Die onmoderne sagteware waarmee hulle die moderne hardeware moes onderhou, het dit uiteindelik gebreek.

Dit verklaar dan ook waarom dit ooit moontlik was vir hierdie onluste om so handuit te ruk soos wat dit het. Die ANC het met hulle eie idees die instellings, strukture en werkinge van ʼn moderne funksionerende staat met slegte idees en slegte regeerkunde weggekalwe – dit wat oorgebly het, is nou net die dop van ʼn moderne funksionerende staat.

Die grootste les wat ʼn mens hieruit kan leer, is dat die toekoms hoogs onwaarskynlik in die ANC-regering en -idees gaan lê. In die leemte wat die vervallende staat los, lê die vryheid vir gemeenskappe om na hulself om te sien!

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kokerboom ·

Hierdie was die keerpunt tussen selfversorging en oorlewing of ANC staats dominasie en vernietiging. Keuse lê nou by die burgers van die land!

Werner ·

Die regering en publiek kan hulle maar regmaak vir n veel groter rondte no 2.Die regering het net bewys dat hulle nie n staatsgreep kan keer nie Natal was net n proeflopie.Hulle sukkel nog steeds om by die 25000 soldate te kom wat hulle al twee weke gelede moes gehaad het.Het mos gese dis waar die ministe wat ook net n kleuterskool kwalifikasie het gaan agterkom sy het nie 25000 soldate nie.

Karina ·

Dan word soldate mosambiek toe gestuur! Verregaande, beskerm jou eie land eerste. Jy het dit goed gestel Werner

Wielspore ·

Ek kyk vanoggend ‘n video van twee jong mans wat ‘n veligheidshek by ‘n winkelsentrum se ingang in Newcastle Engeland probeer afskop. Een persoon lewer kommentaar met ‘n vraag, “Any resemblance in the persons commiting the crime”. Heelwat persone reageer met ‘n antwoord en toe is daar een reaksie, you’re all racist.
Die ANC maak hulle daaraan skuldig dat hulle nog nooit verhoudings tussen kulture bevorder en eerder hulle mislukkings weegsteek deur rasse haat aan te jaag.

Leonard ·

Goeie kommentaar
ANC ís NIÉ opgelei om Suid Afrika te Regeer

Gert ·

Die ANC is nie opgelei om enige iets te regeer nie, nie eers hulle self nie

Ian ·

Wel die rubriek laat n frank smaak in n mens se mond maar is ongelukkig n wake up call om jou goedjies reg te kry so gou as moontlik. Iets is besig om te broei en net soos wat iemand reeds gese het hier kom n 2 rondte KZN was net n proeflopie. In elkgeval die persoon wat die agenda van die ANC vrygestel het op openbare media en uitgekruit was daarvoor dat dit net cloak en dagger stories is, was toe per slot van rekening spot on. Alle SOE is omtrent vernietig en die finansies ook hulle kort nognet die plase brand.

Francois ·

OK, so absoluut niks gaan gebeur om dinge reg te maak nie, want die ANC se kiesers gaan maar net weer ANC stem, en die res gaan maar weer dwars trek en nie saamstaan nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.