Nuuskommentaar: Breek die Derde Wêreldoorlog in 2015 uit?

Grafika: Bloomberg

Grafika: Bloomberg

Is 2015 die jaar waarin die Derde Wêreldoorlog uiteindelik gaan uitbreek? Die antwoord, in hierdie stadium, hang daarvan af of iemand ’n optimis of ’n pessimis is.

Die titel dien as knuppel in die duiwehok om die belangrikheid van objektiewe aktualiteitsontledings onder die loep te neem.

Miskien sou ’n beter vraag wees of een of meer van die bestaande konflikpunte in die wêreld tot ’n veel groter konflik sal uitbrei? Om in ’n wêreldoorlog te ontwikkel moet daar twee min of meer ewe sterk magsblokke wees, en hoewel 2014 ongetwyfeld die kenmerke van ’n hervatte Koue Oorlog gebaar het, is daar steeds baie “magsblokke” soos die neo-Salafistiese radikale Islam wat nie gemaklik in ’n bestaande Koue Oorlog-raamwerk val nie. Tog is dit juis hierdie kwessie wat in 2014 die karakter van die naaste aan ʼn wêreldoorlog ontwikkel het, met meer as tien lande wat aktief ’n gewapende stryd van die een of ander aard teen die IS voer. Selfs tradisionele vyande soos die VSA en Iran, en die Koerde en Turkye, is op die een of ander wyse betrokke – soms erg langtand.

Die mate waartoe allerlei sameswerings- en ontkenningsteorieë iemand rig, gaan ook sy siening bepaal of 2015 op ’n transnasionale skaal in ’n bloedbad gaan ontaard. En ongelukkig word ontstellend baie mense se lewens nie net hierdeur gerig nie, maar ook vergiftig, met ’n ongedurigheid omdat ander nie sy sieninge (wil) deel nie.

’n Interessante ontleding van Bloomberg verskaf ʼn interessante vertrekpunt. Dié ontleding, wat gepas A Pessimist’s Guide to the World in 2015 gedoop is, en wat onderhoude met akademici, navorsers en beleggers oor die wêreld as bronne insluit, het 15 potensiële plofbare situasies identifiseer en scenarios geskep waardeur ander lande ingesuig kan word.

ʼn Paar hiervan, soos Russiese inmenging in die Oosseelande, Estland, Letland en Litaue, en die meer bekende Oekraïne, kan na die dampkring van die hervatte Koue Oorlog herlei word. Die radikale Islam, soos die IS, Al Kaïda en Taliban, kan as belangrike katalisator in ’n aantal Midde-Oosterse situasies dien, asook uiteindelik in die broeiende situasie tussen Pakistan en Indië, beide kernmoondhede. Ons media het skraps berig oor die hoogspanning en selfs lewensverlies in 2014 rondom Kasjmir.

In die Verre Ooste hou benewens Noord-Korea, ook ander situasies soos die koppestamp tussen Japan en China oor betwiste eilande, ’n gevaar in.

Oor elkeen van hierdie situasies word ’n saak uitgemaak wat meer as genoeg oorreding is vir ’n pessimis om die nuwe jaar met ’n oupa van ʼn depressie in te gaan.

Om alles te kroon, is die Bloomberg-lys nie volledig nie. Die Hongkongse pro-demokrasieprotes is nog nie volledig onder die knie nie, en gans te min aandag word nog geskenk aan die impak van die naderende eeuherdenking van die Armeense, Koerdiese en Assiriese volksmoorde aan die hand van die Turke, terwyl die Koerde met Koerdistan in Irak as fokuspunt, juis aktief werk in die rigting van ’n Koerdiese staat. Dit terwyl Turkye met probleme van sy eie te kampe het.

Om die tekens en gerugte van oorloë te ontleed vir die bepaling van die waarskynlikheid van ’n eskalasie is meestal soos om te probeer voorspel of die nuwe jaar die jaar is waarin die spanning in die San Andreas-verskuiwingsvlak tot “die grote” gaan lei waar ’n aardbewing San Francisco of Los Angeles min of meer gaan platvee. In die jongste tyd het die sterkste aardbewings in Los Angeles in ander verskuiwingsvlakke ontstaan wat as onbenullig beskou is, of waarvan die wetenskaplikes nie geweet het nie.

Maar sou ’n Derde Wêreldoorlog of ’n uitgebreide streekkonflik uitbreek – wie gaan vriende en wie gaan vyande wees? Dikwels “pas” die werklike nuus net nie in die prentjie nie. Die VSA lei saam met die Europese Unie die sanksies teen Rusland, maar bedryf saam die Internasionale Ruimtestasie. Die VSA oorweeg na berig word om van die aangehoudenes in die Guantanamo-basis in Kuba na basisse in Kazakstan te verskuif, ’n land wat tot dusver redelik sterk binne die Russiese invloedsfeer gebly het.

Onlangs is berig dat die rebelle in Oekraïne opnuut vredesgesprekke wil voer, maar die vreemdste is die berig dat Oekraïne sy brandstof moontlik van Rusland sal aanskaf. Die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jong-un, het na berig word pas gesê hy sien geen rede waarom nie op die hoogste vlak samesprekings met Suid-Korea gevoer kan word nie.

Ewe vreemd is ’n kwessie waaroor dr. Leopold Scholtz reeds verskeie kere die pen opgeneem het – hoe linkse en regse radikale dikwels dieselfde vriende het. In ’n nuwe artikel wys hy hoe linkse en regse radikale in Europa en in Suid-Afrika standpunt vir pres. Wladimir Poetin se Rusland inneem.

Volgens die jongste Rasmussen-peilings is die Amerikaners besig om meer optimisties oor ’n verskeidenheid meestal ekonomiese sake te word, terwyl sekere ekonomiese aanwysers daar die optimisme voed. Sal die VSA nou met aksies begin wat hierdie brose herstel in die wiele gaan ry?

Die pessimiste kan hulle in situasies bevind waar ouers van bakleiende skoolkinders mekaar steeds wil nek omdraai – terwyl die oorspronklike vegtendes reeds die strydbyl begraaf het en weer goeie vriende is.

In elke situasie is daar ook optimiste. ’n Plaaslike dagblad is nou al ’n paar dae lank liries oor die laer olieprys, en die voordele wat dit inhou. Die skerp daling van die olieprys is inderdaad goeie nuus, en het grootliks plaasgevind in ’n tyd van die jaar wat dit tradisioneel eerder geneig het om te styg wanneer die groot nywerheidslande in die noorde groter hoeveelhede aangekoop het vir energie-opwekking gedurende die lang wintermaande.

Trouens, die olieprys was al skerp aan die daal, toe het sommige ontleders steeds projeksies oor verhoogde oliepryse gemaak. Om die waarheid te sê, die meeste bronne het maar ’n swartgallige oordeel uitgespreek. Baie belanghebbendes is met die broek op die knieë betrap, waaronder Rusland (’n groot olie-uitvoerder) wat sy begroting geskoei het op ’n gemiddelde olieprys van $95 per vat. Nou is die Russiese ekonomie in die knyp.

Dit is maklik om te preek dat meningsvormers objektief, realisties en nugter moet wees wanneer hulle die werklikheid ontleed. Maar bestaan daar so ’n ontleder? Is die een nie maar net meer objektief as die ander nie? Neig die een nie meer net ’n bietjie meer na die slegste moontlike scenario as die ander nie? Lê die een nie net bietjie meer volwassenheid aan die dag as ’n ander nie?

En is die een nie net bietjie meer ingestel as die ander om ’n gewilde geleentheidspreker te wees, en is ’n meester om sy data aan te bied en te plooi dat die uitnodigings om kongresse en ander geleenthede toe te spreek bly instroom nie?

Want mense wil (gewoonlik) goed voel. Natuurlik is daar die pessimiste wat by voorbaat kwaad is as ’n ontleder iewers so aspris is om die silwer randjie raak te sien.

Die werklike ontleder sal nie net sorg dat sy nuuskennis so groot as moontlik is, en daagliks ’n groot aantal bronne (wat hy mettertyd ook sif) te raadpleeg nie, maar ook die ontledings van ander ter harte neem. Harde werk word in elke ontleding ingesit, en elke woord geweeg.

Die wêreld van die ontleder is leeuwêreld, veral vir die een met vooroordele, die naïewe of die een wat sy posisie misbruik om klein(like) byltjie te slyp met diegene met wie hy nie saamstem nie. Ontledings kan nie op selfgeskepte hoernalistiek gebou word nie.

Die ontleder het terselfdertyd ’n dun vel om gevoelig te wees teen die ontwikkeling van eie vooroordele en subjektiwiteite, en ’n dik vel om te voorkom dat hy suksesvol deur randakkers, ontkenners en samesweringsaanhangers tot subjektiwiteit afgepers word.

Maroela se lesers verdien nie prul en afskeepwerk nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Francois Nel ·

As ‘n derde wereldoorlog uitbreek is dit die einde van die wereld soos ons dit ken. Opponerende lande sal kernwapens gebruik wat alles en almal sal uitwis en ‘n radioaktiewe wolk veroorsaak wat verdere miljoene sal uitwis, die son se strale sal verduister en tot ‘n ystydperk sal lei. Hopelik sal moondhede die gevolge van so ‘n oorlog besef en enige oorlog op so ‘n skaal liewers vermy.

G.P.Botha ·

Die konflik tussen die Russe en die Weste is vir my onverstaanbaar.Die ideologiese redes van die koue oorlog bestaan nie meer nie.Kan hulle nie hulle geskille d.m.v. diplomasie oplos nie? Navo lyk nie vir my so onskuldig nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.