Nuuskommentaar: Brexit en die Skotse, Walliese, Noord-Ierse en selfs die mense van Cornwallis se opmars

Boris Johnson. Foto: (AP Photo/Matt Rourke)

Verskeie nuusbronne dui daarop dat premier Boris Johnson se optrede oor Brexit nie net ongelukkigheid onder die Skotte, Walliesers, Noord-Iere en die mense van Cornwallis laat eskaleer het nie, maar dat steun téén Brexit toegeneem het; selfs die Walliesers, wat sedert die 1300’s by Engeland ingelyf is, voel nou sterker oor onafhanklikheid van Brittanje.

Die nuus het soos ’n skokgolf oor die wêreld gespoel: Brittanje se hoogste hof het premier Boris Johnson se prorogering van die Britse parlement ongrondwetlik verklaar.  Baie regsgeleerdes het die uitspraak egter verwag, maar dit het nogtans vir baie as ʼn verrassing gekom omdat die koningin eers haar troon-regsadviseurs geraadpleeg het voor sy haar kop in hierdie byenes gesteek het.

Met die Skotse hoogste hof se adviserende uitspraak dat Johnson buite sy magte optree, was die skrif eintlik reeds aan die muur, maar Johnson het allerlei geluide gemaak wat daarop gedui het dat hy eerder dood in die sloot sal lê (vir minagting van die hof tronk toe sal gaan) as om kop te gee.

In sy reaksie op die uitspraak het Johnson gesê die uitspraak maak geen verskil aan sy voorneme om Brittanje teen die einde van Oktober, met of sonder ’n ooreenkoms, uit die Europese Unie te lei nie. Hy het egter gesê hy aanvaar die uitspraak, maar stem nie met die regters saam nie. Teen laat gisteraand het die Britse media berig Johnson gaan alles in sy vermoë doen om die parlement opnuut te prorogeer.

Of Johnson inderdaad sy planne sal kan uitvoer, is nie so seker nie. Hy het sy meerderheid in die parlement verloor, en die speaker het reeds laat weet die parlement hervat vanoggend sy werksaamhede. Die hof het reeds bevind dat Johnson die koningin mislei het, en hom erg daaroor uitgetrap. Sy sal na verwagting nou enige versoek van Johnson om weer so te maak, erg krities in oorweging neem, terwyl haar regsadviseurs haar nie sommer teen die uitspraak van die hoogste hof sal adviseer nie.

Intussen is berig dat die mees onlangse peilings toon dat die Skotte wat nou weer op ’n referendum oor onafhanklikheid van Brittanje aandring op 49% staan, maar dit kan reeds ’n meerderheid wees volgens een peiling. Na raming het vier persent Skotte in die onlangse verlede van mening hieroor verander, en die Skotte se teenstand teen Brexit word as “die enigste rede” vir die swaai genoem. Die leier van die Skotse Nasionale Party (SNP) (wat hom vir Skotse onafhanklikheid beywer) het na die jongste hofuitspraak gesê dit is ondenkbaar dat Johnson as premier aanbly (sy kantoor het laat blyk dat Johnson nie oorweeg om te bedank nie) en het ’n beroep op die premier gedoen om te bedank.

Met die Britse referendum oor Brexit het die meerderheid Keltiese volke binne Brittanje, naamlik die Skotte, die Walliesers en die Noord-Iere teen Brexit gestem. Die grenskwessie tussen Ierland en Noord-Ierland, wat sedert die vredesooreenkoms effektief nie meer bestaan nie, is met Brexit nou ’n brandende kwessie. Die SNP het ook ’n groot optog gereël om teen Brexit beswaar te maak.

Intussen het ’n ou spook weer by Johnson vir diens kom aanmeld om Johnson tot slapeloosheid te treiter. Vyftien jaar gelede toe Johnson redakteur van Spectator was, het hy ’n gedig gepubliseer wat die Skotte erg verkeerd opgevryf het. Dit lui onder meer die Skotte is ’n “verminous race” wat “comprehensive extermination” verdien.

Boris Johnson praat by die Verenigde Nasies. Foto: (AP Photo/Craig Ruttle)

Berigte uit Wallis lui dat die hoofminister (first minister), Mark Drakeford, vir Johnson erg gekritiseer het en onder meer gesê het Johnson het die demokrasie geskaad, en dat Johnson se regering alle respek vir die waarheid verbeur het.  Protesoptogte het ook reeds plaasgevind waar vlae met die Walliese rooi draak op, geswaai is. Die media bespiegel oor of die onmin oor Brexit daartoe kan lei dat Wallis sy onafhanklikheid van Brittanje kan opeis.

In Noord-Ierland is die jongste hofuitspraak oor Brexit as ’n groot oorwinning vir alle mense van Noord-Ierland beskryf. Al meer stemme gaan op vir ’n “Northern Ireland only”‑oplossing vir veral die grenskwessie.

Selfs Cornwallis wat oor minder selfbeskikkingsreg as die ander Keltiese lande en gebiede beskik, het volgens mediaberigte nou hul mening oor Brexit verander sedert die referendum daaroor. Toe het ’n betreklik geringe meerderheid inwoners vir Brexit gestem, maar aldus die berigte word nou gevoel hulle was nie goed ingelig oor die stap nie, of hulle was selfs mislei. Hulle wil nou weer referendum oor die kwessie hou.

Na berig word voel veral die Walliesers dat die stem teen Brexit nog sterker sou wees as so baie Engelse wat in Wallis woon nie daarvoor gestem het nie.

Dit lyk inderdaad of Johnson die Keltiese onafhanklikheidsdenke aangevuur het. Die implikasies van die Britte (eintlik die Engelse meerderheid) se vermoë om met hul meerderheid die Engelse wil op die Keltiese minderhede af te dwing, is nog selde so duidelik gedemonstreer as deur die Brexit-kwessie. Boonop word die ongelykheidstatus tussen Engeland en die Keltiese lande en gebiede gedemonstreer deur die feit dat die Engelse nie ’n eie parlement het nie, en dat die Engels-oorheerste Britse parlement as voldoende hiervoor beskou word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

17 Kommentare

Kallie ·

Ek kan nie wag vir die VK om uit mekaar te spat nie. Die huidige bestel met die monarg as staatshoof in ‘n land sonder ‘n behoorlike grondwet is uitgedien en onvolhoubaar in ‘n moderne wêreld. Die hordes immigrante is besig om Engeland se aard te verander.

Kerneels ·

Verstaan ek reg: Is die meerderheid nou ontevrede omdat die meerderheid die referendum oor Brixet gewen het…?

Herman Toerien ·

Hallo Kerneels. So ver ek weet het nog net prof André Duvenhage in SA hom uitgelaat oor die Kelte se gewysigde verwagtinge. Dat nie-joernliste grootliks swyg, of hulle net mondelings uitdruk, herinner mens nogal aan sekere ontleders hier wat nooit iets oor plaasmoorde sê nie, of dit ontken. Dit beteken nie die realiteit bestaan nie, en ‘n buitelandse joernalis sal waakynlik ook by gebrek aan iets meer gesaghebbend Google inspan om te kyk wat word oor plaasaanvalle geskryf. Stephan de S kan ook daarop let dat ‘n nuuskommentaar kommentaar oor die nuus lewer, en nie soseer die nuus self rapporteer nie. Wanneer dit oor ‘n onbekende onderwerp handel, sal daar uiteraard meer nuus in opgeneem wees. ‘n Mens leer in die reël weet watter nuusbronne is meer geloofwaardig as ander. Ongelukkig raak dit moeiliker omdat baie vd beter bronne betaalbronne word, en dus ontoeganklik word.

Stephan de S ·

Die beste is maar om n wag-en -sien houding in te neem. Met respek teenoor Herman: lyk my hy haal grotendeels joernaliste se menings aan. Hoe het ons nie die afgelope tyd geleer om nie joernaliste se opinies met feite te verwar nie?

Nico K ·

Kerneels, onthou dat die referendum met ‘n 1% meerderheid gewen het. Ek kan steeds nie glo dat hulle so belangrike saak nie met minstens ‘n teederde meerderheid moes besluit nie. Toe SA gestem het oor republiekwording was die vereiste ‘n tweederde meerderheid. Mens neem nie so belangrike besluit met 1% meerderheid nie. En vergeet daai storie oor hoeveel duisende is 1%. Ons almal weet dat ‘n swaai van 5% van 1 verkiesing tot ‘n volgende is niks vreemd.

Therese van Schalkwyk ·

Leave 51.89%
Remain 48.11%
‘n Meerderheid van 1.296.501 stemme.

‘n Wen is ‘n wen, anders waarom ‘n referendum hou?
Die verloorders is hoofsaaklik ‘linksgesindes’, soos die sogenaamde Demokrate in die VSA, en demokrasie geld slegs wanneer dit hul pas.

Dolf ·

51.89% is nie juis oorweldigend nie. Daarom die bohaai wanneer dit uitgevoer moet word. 67% sou dalk Brexit meer geloofwaardig maak. Burgerooloë het al oor kleinighede ontstaan.

Therese ·

Jip.
En dit bring ons terug by David Cameron wat duidelik nié sy huiswerk gedoen het voor die referendum aangekondig is nie.
Maar wanneer meer as ‘n miljoen mense se wens dan ná drie jaar nog op géén manier uitgevoer is nie (hard óf sag), dui dit op ‘n gruwelike aantasting van die demokratiese stelsel.
Selfs die mees geharde “Remainers” moet dít erken.

Rupert Ashford ·

Die nasionalistiese idees raak effens meer getemper wanneer hulle verneem hulle moet dan hulle eie belastings hef en hulle social grants kan dalk in gedrang wees.

Magaretha van Heerden ·

Ons woon in UK. Boris was nie verkeerd nie. Die Deep State sit agter alles en wil verhoed dat ons uit die EU gaan. Dit is alles deel van n een wereld orde en Globalist. Die koms van die Here Jesus kan nie te ver wees nie, ek hoop Hy kom gou. Die wereld is in chaos. Geen geregtigheid oor nie. Ons het die referendum gewen en hulle kan dit nie aanvaar nie. Hulle sal alles doen om dit te verhoed.

Hanns ·

Die Skotte en Ander gaan nog Lang trane huil as hul nie saam met England ui die EU Wil gaan nie. Engelse beheer is Baie better as om uit Brussels deur die Europese (Lees die linkse Duitsland en ander) regeer te word.

Petrus ·

In so ‘n scenario kan die Britte afstuur op ‘n burgeroorlog, met die EU wat die Kelte steun en die VSA wat die Engelse steun.

Kerneels ·

VSA die engelse steun…? Ek nie so seker nie, Petrus. Hulle trek dan hul aristokratiese neuse op vir Trump.

Sven ·

Kerneels, indien ‘n land in die moeilikheid is verwelkom hulle enige steun.

Attie. ·

Nico K, jy het dalk vergeet, in 1960 het Dr Verwoerd ‘n referendum gehou vir Republiek en een stem sou die beslissing bepaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.