Nuuskommentaar: Bring einde van België vryheid, en dan vir wie?

Tom van Grieken, leier en voorsitter van die Vlaams Belang. Foto: (AP Photo/Virginia Mayo)

Mense aan albei kante van die debat/bespreking oor moontlike Vlaamse onafhanklikheid van die res van België span die woord “vryheid” as vertrekpunt mildelik in. Maar die debat oor vryheid woed ook elders in die wêreld, ook in Suid-Afrika.

Ná die sukses van veral die Vlaams Belang in die pas afgelope verkiesings in België, wat nou saam met die N-VA byna die helfte van die setels (43%) in die Vlaamse Parlement verower het, is die vraag oor sesessie in België opnuut in die kollig. Gaan dié twee partye met die volgende verkiesing in 2024 saam meer as die helfte van die Vlaamse stemme trek sodat Vlaamse onafhanklikheid uitgeroep kan word?

Dié vraag word nou breedvoerig in ’n artikel in De Standaard, ’n Vlaamse dagblad, onder die loep geneem. In die elektronika word twee opskrifte gebruik wat uitwys hoe kompleks die vraag is. Die een lui: “Voor vorst, voor vrijheid en voor altijd.”

Die ander, vry vertaal, lui: “Moet ons ons gereed maak vir die einde van België? Dit sal altyd ‘kwikkel-kwakkel’ wees.” Kwikkel-kwakkel, of kwikkel, kwekkel, kwakkel, kan waarskynlik ten beste verstaan word as kluitjies deur politici.

Die probleem is dat die akademici, en eintlik die media, na berig word nie so positief is oor die moontlikheid van Vlaamse onafhanklikheid nie. Selfs konfederalisme, wat deur die N-VA as rytuig tot Vlaamse onafhanklikheid voorgestel is, het nie juis steun uit die akademiese en joernalistieke wêrelde verkry nie. Die opkomende sentimente onder die kiesers is egter blykbaar onstuitbaar. Het separatisme is een massabeweging geworden,’ skryf die Gentse historikus, Bruno de Wever.

Terwyl die Vlaamse akademici en ander in die aanloop tot 2014 uitpluis of Vlaamse onafhanklikheid dieselfde as vryheid (vir die Vlaminge) beteken, maak dit op die oomblik internasionaal deel uit van ’n komplekser vraag oor hoe sake grondwetlik behoort te manifesteer om die beste vorm van vryheid en demokrasie te verseker.

Is onafhanklikheid al manier om vryheid en demokrasie te verseker?

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Suid-Afrika staan nie buite hierdie proses nie. Volgens verskeie politieke kommentators wat weer regskenners geraadpleeg het, stuur die onmin tussen pres. Cyril Ramaphosa en die Openbare Beskermer op beregtiging in die konstitusionele hof af. Een van die doelwitte van die Grondwet is immers om ’n diktatuur van die meerderheid te voorkom, of minstens te temper. Die ampseed van onder andere die president lui voorts dat die president van die land in alle burgers se belang moet regeer, nie net in belang van die meerderheid nie. Dit is iets wat oudpres. Jacob Zuma klaarblyklik nooit gesnap het nie. Hy het immers pas in sy getuienis voor die Zondo-kommissie die kaderbeleid verdedig juis omdat dit die meerderheid bevoordeel.

Suid-Afrika is nie al land waar die vryheidsvraag rondom die magte van ’n staatshoof en die Grondwet uitgepluis moet word nie. Die jongste Rasmussenpeiling in die VSA toon dat 50% van die kiesers pres. Donald Trump se verbintenis tot die grondwet bevraagteken.

Die eerste strofe van die volkslied van die ou Vrystaatse republiek vat die idee van vryheid en onafhanklikheid van ’n volk/land soos volg saam:

Heft, Burgers, ’t lied der vrijheid aan
En zingt ons eigen volksbestaan!
Van vreemde banden vrij,
Bekleedt ons klein gemenebest,
Op orde, wet en recht gevest,
Rang in der Staten rij

Vlae van die Europese Unie en die Verenigde Koninkryk hang buite die parlement in Londen, Engeland.  (Foto: Tim Ierland, Xinhua)

Die hele Brexit-kwesie het getoon dat daar meer waarheid steek in ’n ou opvatting wat nie altyd in die praktyk getoets is nie. Dit kom kortweg daarop neer dat as heterogene lande op hul beurt deel van ’n groter geheel word, soos byvoorbeeld die Europese Unie, sal die kleiner dele heel moontlik op groter outonomie of algehele onafhanklikheid aanspraak maak. Die behoefte aan ’n kunsmatige, heterogene staat verval dan eintlik.

Die strominge oor moontlike Skotse onafhanklikheid, wat pas weer ter sprake gekom het, is ’n manifestasie hiervan, terwyl die groeiende Vlaamse onafhanklikheidsdrang ook waarskynlik hiernatoe herlei kan word. Is dit vreemd dat die Katalane sou vra hoekom hulle onder ’n Spaanse regering moet dien, as hulle waarskynlik beter daaraan toe sal wees om regstreeks onder die Europese Unie te val?

Laastens kom die vraag na vore of ’n kieser werklik vry kan wees as hy kan stem, maar ’n politieke analfabeet is en dalk presies vir die teenoorgestelde stem as wat hy sou verkies. Maak dit (nog) sin om staatkundige keuses in “boksies” van “links” en “regs” in te deel?

’n Paar jaar gelede het Europese politieke denkers die idee ontwikkel om die politieke toneel as ’n ronde bal uit te beeld, eerder as ’n reguit lyn wat van links na regs loop. Politieke partye dryf dan oral in die bal rond. Dit is omdat partye tegelyk beleidsrigtings kan hê wat links en regs is.

Dr. Leopold Scholtz het onlangs in Maroela Media oor iets soortgelyks geskryf oor byvoorbeeld regs wat nie altyd konserwatief is nie (onder andere Hitler en Mussolini).

Die idee van die ronde bal het skynbaar vervaag weens partye soos die Vlaams Belang en Geert Wilders se politieke rytuig wat ongetwyfeld regs is, maar met die onlangse verkiesing in België het De Standaard ’n rekenaarmodel ontwikkel wat tog op die sinvolheid van die rondebal-konsep dui. Kiesers kon dan vasstel watter party se beleidsrigting kom die meeste met sy idees ooreen deur ’n vraelys op die rekenaar in te vul. Die rekenaarprogram gaan stel dan vas met watter party se beleidsrigtings dit die meeste ooreenstem.

Daar bestaan honderde staatkundige modelle wat bedoel is om so paslik moontlik vir verskillende lande se unieke behoeftes te wees. Tog lyk dit of kiesers makliker in eenvoud ’n gekoesterde vryheid raaksien – gewone onafhanklikheid “teen die hele wêreld vry”.

Veral as die minderheidsregte, wat deel van die internasionale reg is, deur ’n meerderheidsregering misken word.

Ons en die Belge gaan heel waarskynlik nog baie by mekaar leer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Herman Toerien ·

Baie, baie dankie Johan. Waardeer dit baie. Herman

Adam ·

Uitstekende artikel. Ek vind veral die verwysing na die links en regs “boksies” interessant. Dit was en is nog altyd vir my vreemd hoe mense nie kan verstaan dat ‘n kieser behoudend kan wees tov sekere aspekte bv kultuur en heelwat meer liberaal tov bv ekonomiese beleid nie. Vryheid in SA blyk egter ‘n onbereikbare ideaal te wees weens die totale minagting van die Grondwet deur ‘n regering wat absoluut hopeloos moreel bankrot is.

Frans C ·

Suid Afrika is nie ‘n staat met natuurlike grense nie.Die ANC probeer sy bes om alle swart volke as een homogene groep aan die wêreld te verkoop,maar misluk tragies.
So mobiliseer Zuma nog steeds steun onder sy volksgenote.Hoe lank dit gaan duur
voordat die Zoeloenasie gaan aandring op meer onafhanklikheid gaan net van hul leiers afhang.

Die eenheidstaat is mi ‘n doodgebore idee.

John ·

Herman ken die kuns om verskillende kleure wol so mooi in te knoop dat dit in een groot warm waarheid gebrei kan word… ‘n knusse oplossing vir die koue en eensaamheid en honger en dors en alle ideologieè op deeske aarde… Wie staan dan nog koud en bewend buite, maar vang, vang kan jy hom ook nie sommer nie… want hy haat voorsè en soentjies?

Dimitri Hoegaerts ·

Interessante en uitgebreide analyse. Het Vlaams Belang is een rechtse (‘law & order’, immigratiekritisch) en tegelijk een sociale (linkse) partij die pleit voor een minimimumpensioen en meer sociale rechten voor de Vlamingen. Dat verklaart het succes.

Dirk Breytenbach ·

Ek kan nie verstaan hoekom mense in lande waar minderheids groeperings/kulture ‘n versugting tot selfbeskikking het, dit afkeur nie. Die bestaande meerderheid is of bang dat die groepe baie suksesvol kan wees sodra daar ‘n ander bedeling vir diegene in plek kom of dat dit een of ander bedreiging kan inhou. Ek voel dat die groepe ongeag hul ideologiese beskouings (konserwatief, liberaal, kapitalisties of sosialisties) toegelaat moet word om hulself uit te leef ten opsigte van hul geerfde kultuur of stamverband. Kyk maar wat die klein landjies oor die wereld heen vermag (Monaco, Liechtenstein, San Marino, Vatikaan, Marshall Eilande, Nauru, Tuvalu, Malta, Grenada, Maldives, Seychelles ens.) Groot gevestigde lande glo blykbaar dat hulle vir klein volke kan dink en voorskryf wat reg vir hulle is.

fred ·

die vlaminge was vir jare deur die franstalige suide(wallonie) onderdruk…voor 1968 was daar nog franstalige universiteite in Vlaanderen terwyl die upper echelon van die katolieke kerk ook franstalig was… nou subsideer die meer voorspoedige vlaanderen nog altyd die franstalige deel van België.
Die invloei van immigrante uit die midde ooste en meer en meer uit afrika het die “regse” sentiment nog versterk….
In teenstelling met suid-sfrika is vlaanderen geografies één gebied.
“Zij zullen hem niet temmen,die fiere Vlaamse leeuw”????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.