Nuuskommentaar: Britse verkiesing – meer as net nog ’n Brexitse verkiesing

brexit

Foto: Pixabay.com

Brexit is ’n komplekse mengsel van wegbeweeg van globalisme, maar terselfdertyd van die bestendiging van sentralisering van meerderheidsoorheersing omdat minderheidsvolke soos die Skotte en ander Keltiese minderhede se onafhanklikheid- of selfbeskikkingstrewes ontmoedig word. Suid-Afrika lyk al hoe minder na ’n staat wat weens sy heterogeniteit as “laboratorium” kan dien om die beste moontlike model te vind omdat politieke korrektheid as uitgangspunt te swaar weeg.

Brittanje

Nie baie lank gelede nie het dit gelyk of Boris Johnson se politieke lewe nie nog baie lank sal hou nie. Die uitslae van tussenverkiesings en ander peilings, ondersteun deur enorme openbare optogte, het dit laat lyk of Brexit al meer in die gedrang kom. Dit het ook gelyk of die Keltiese nasies eerder in onafhanklikheid van Brittanje sou belangstel as om Brits-afhanklik en as deel van Brittanje vorentoe te beweeg.

Maar in ’n ommesientjie het sake taamlik drasties verander. Teen vanoggend was dit duidelik dat die mees onlangse peilings in die kol was, en dat Johnson se skynbaar “vernielde” Konserwatiewe Party tot 368 van die 650 setels in die sakkie sal hê. Johnson, wat self sy party se meerderheid tot niet gemaak het deur ontevrede LP’s uit die Konserwatiewe Party te skop, se waagmoed het vrugte afgewerp, en die Konserwatiewe Party het nou ’n werkbare meerderheid.

In hoe ’n mate Johnson die Skotte, die Walliesers, die Noord-Iere en die mense van Cornwallis, ook bekend as die Keltiese Nasies, die hoenders in gejaag het, sal nou spoedig kristalliseer. Hierdie nasies het tydens die oorspronklike Brexit-referendum daarteen gestem, maar die Engelse kiesers is soveel meer as die Keltiese nasies saam dat dit, saam met die Katalaanse krisis en selfs die Belgiese verkiesing, opnuut die fokus laat val het op die magteloosheid waaronder minderhede hulle bevind.

Hoewel dit ’n ruk gaan neem om presies vas te stel waarom die kiesers gister in Brittanje hul stemme uitgebring het soos hulle wel gestem het, is enkele faktore reeds vooraf duidelik. Stellig die grootste korttermynrede is die leierskapsrol van Jeremy Corbyn van die Arbeidersparty. Kritiek oor sy leierskapsrol, veral deur LP’s wat hul setels verloor het, is skerp teen Corbyn se gebrekkige leierskap gemik.

Johnson het op die oog af gewaag en gewen.

Israel

Die derde verkiesing binne ’n jaar in Israel het nou wel nie gister saam met die verkiesings in Brittanje en Algerië plaasgevind nie, maar die baie nuusdekking wat dit nou geniet, pas netjies by die ander twee in.

Aan die bod is premier Benjamin Netanyahu se pogings om herkies te word omdat dit hom waarskynlik die beste kans bied om nie op aanklagte van bedrog tereg te staan nie. Netanyahu kan egter nie daarin slaag om ’n volstrekte meerderheid vir sy Liqud-party te kry of ’n werkbare koalisie-minderheid nie. Netanyahu volg ’n baie soortgelyke strategie as pres. Donald Trump waar dit al hoe waarskynliker lyk dat hy in ’n staat van beskuldiging geplaas kan word. Beide leiers probeer dit laat lyk of die aanklagte teen hulle eintlik net bogstories is.

Algerië

Die baie lae stempersentasie van 41,4% in Algerië se verkiesing dié week is ’n groot teleurstelling vir diegene wat gehoop het hierdie land sou nou deurbrake kon maak in die proses om weg te stap van die eienskappe van ’n polisiestaat. Dit was die laagste stempersentasie ooit tydens ’n meerparty-verkiesing in hierdie land, en is die eerste verkiesing sedert pres. Abdelaziz Bouteflika op 2 April vanjaar gedwing is om te bedank. Dit is voorafgegaan deur ’n lang burgeroorlog sedert die weermag die verkiesingsoorwinning van die radikale Moslems in 1991ongedaan gemaak het. Tot 200 000 mense het moontlik teen 1979 om die lewe gekom.

Algerië het sedertdien min of meer ’n polisiestaat gebly. Die lae stempersentasie word as ʼn terugslag beskryf vir diegene wat daarop gereken het dat ’n doodgewone demokrasie nou sou kon nesskop.

Vooruitbeskouing

Om in dié drie verkiesings algemene gevolgtrekkings te gaan soek oor hoe suiwer toekomstige demokratiese verkiesings kan plaasvind, is heeltemal voortydig. Tog wil dit lyk of lande waar verkiesings wat nie demokrasie bestendig is nie of outoritêre optredes ontmoedig nie, druk van verskeie state en organisasies kan verwag.

Die behoorlike toepassing van minderheidsregte lyk in dié stadium as ’n erg misgunde opsie. Uit die onlangse wydlopende verkiesings in België wil dit ook voorkom of die veral die Franssprekende minderheid al hoe meer gesteurd raak oor die Nederlandssprekende deel van die bevolking se oorhoofse steun vir groter mate van selfbeskikking en dit al hoe meer as bedreiging, dislojaliteit en selfs ’n vorm van verraad beskou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

André André ·

Gaan Trump ook hierdeur in Amerika voordeel trek, ‘n voortsetting van verskuiwing in wêreldpolitiek? Die Republikeine sal mos nou self opgepomp wees oor Trump se kanse.

Trump het getwiet:
“Congratulations to Boris Johnson on his great WIN! Britain and the United States will now be free to strike a massive new Trade Deal after BREXIT. This deal has the potential to be far bigger and more lucrative than any deal that could be made with the E.U. Celebrate Boris!”

John ·

Die Skotte het ‘n tydjie gelede gestem en besluit om deel van Brittanje te bly. Die opportunistiese leier wil die Brexit-drama gebruik om haarself te verkoop. Stem weer en doen. Miskien kan Herman vir ons die wonderlike prentjie skets van die VSA, Israel en andere onder liberale leiers aangesien hy dit skynbaar voorstaan. Israel met die Palestyne as burgers en Biden wat as vise-president presies dit gedoen het waarvan die demokrate Trump beskuldig nl die gebruik van VSA-fondse om hom en sy seun te bevoordeel… en as Brexit sou platval, die beautiful gevolge. Maar CNN is ‘n magtige breinspoelmiddel… vir diepdenkendes…

Jacobus ·

Brittanje gaan ‘n geweldige prys betaal as hulle van Europa afskei. Die ekonomiese kwartier in London gaan die prys wees wat betaal gaan word aan die Amerikaners na Brexit vir ‘n nuwe handelooreenkoms met Amerika.

50% van London se besigheid gaan na New York beweeg en 25% na Europa onderverdeel tussen Frankryk en Duitsland met kleiner dele na anderEuropese lande.

Kyk en sien hoe die toekoms ontvou.

Bollie en sy maat ·

Ja hulle het gesê dis die einde van die wêreld as trump president word. Miskien moet jy besef meeste wat jy op CNN sien is eenvoudig Bollie – of soos trump sê FAKE NEWS.

Jacobus ·

Ek kyk nie CNN nie.

My inligting kom van Amerikaanse kenners wat weet hoe Amerika besigheid doen, kyk na die nuwe handelsooreenkomste wat onder President Trump plaasvind.

As Amerika praat, luister die res van die wêreld.

Kyk na die volgende YouTube video “The New World (Dis)Order – Peter Zeihan – 72nd CFA Institute Annual Conference”

André André ·

Ek stem, kom ons kyk hoe die toekoms ontvou. En die pendulum gaan in wie se guns swaai? Is vandag se uitslag nie dalk ‘n voorloper van wat wag nie?

André André ·

En ek sien vanoggend op BizNews die Rand het ook gister kop opgetel na die uitslag van die verkiesing in afwagting van vooruitsigte met een van ons groot handelsvennote.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.