Nuuskommentaar: Brug-rassisme en waarskuwing aan Ramaphosa

Diegene wat harde rassehaat aanblaas na aanleiding van die brugramp by die Hoërskool Driehoek, en minister Lindiwe Sisulu, kan ewe groot skade aan die land oorsee berokken, al is dit op heel uiteenlopende maniere.

Foto: Verskaf

Brugtragedie en rassisme

Die Hoërskool Driehoek se brugtragedie was nog besig om in te sink toe die eerste vals noot geblaas is. Veral die opmerkings van die BLF-woordvoerder, Lindsay Maasdorp, en die ondersteuning wat hy gekry het, het gewalg.

Dit is duidelik dat rassehaat erg aangeblaas is, maar laat ’n mens dadelik byvoeg dat daar ook talle optredes oor kleurgrense heen was om brûe van goedgesindheid te bou.

Terwyl ons harte bloei oor die tragedie, word ons aan die mees barbaarse vorm van rassisme blootgestel.

Teen vanoggend het dié rassistiese optrede reeds meer as 80 000 Google-trefslae opgelewer. Gelukkig lyk dit of verreweg die meeste Suid-Afrikaanse bronne is, maar baie hiervan word ook via die internet oorsee gelees. Dit lyk dus onwaarskynlik dat dit nie ook, namate die nuus algemeen bekend word, in die oorsese media gaan neerslag vind nie.

Die onewehandigheid van die Menseregtekommissie en die regering oor gevalle van rassisme het reeds groot wantroue geskep. Hierdie gebeure bied nou ’n goeie geleentheid aan dié instellings om die erg negatiewe gevolge van die onewehandigheid effens reg te stel. En as die omstrede Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, in daardie rigting mik, kan daar net dalk ’n kentering aan die gang gesit word.

Memorandum aan Ramaphosa

President Cyril Ramaphosa
(Oktober 2018) Foto: Kopano Tlape/GCIS

Met die skryf hiervan was dit in die nuus dat die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Lindiwe Sisulu, boos was vir verskeie Westerse lande weens ’n brief van vermaning wat vyf Westerse lande aan Ramaphosa geskryf het. Hulle sou, aldus die minister, diplomatieke protokol verbreek het deur regstreeks aan die president te skryf, en nie via die betrokke diplomate nie.

Die vyf lande is die VSA, Brittanje, Nederland, Duitsland en Switserland, lande van herkoms van sowat 75% van die buitelandse beleggings in Suid-Afrika. Ramaphosa is onder meer gemaan oor die gevaar wat misdaad, BEE, grondgryp sonder vergoeding en korrupsie op beleggersvertroue in die land het. Sedertdien het verskeie nuusmedia slegs melding van die kommer oor korrupsie gemaak. Of dit joernalistieke onbeholpenheid is, en of die grondgrypkwessie doelbewus verdoesel word, kan ’n mens net raai.

Met die staatskapingsonthullings voor die Zondo-kommissie en verskeie ander ondersoeke na sake voortspruitend uit die staatskaping en korrupsie in die algemeen, hoef ’n mens net na Suid-Afrika se patetiese vertoning op die korrupsiepersepsie-indeks te kyk om te weet dat die land kniediep in tamatiestraat is.

Om die waarheid te sê, volgens die indeks sou veral met die aanvang van oud-pres. Jacob Zuma se tweede termyn, kwalik na Suid-Afrika kon verwys word as ’n land waar korrupsie endemies is, soos verskeie waarnemers soos prof. André Duvenhage, dit konsekwent genoem het. Met die aanvang van Zuma se eerste termyn was Suid-Afrika nog 54ste op die indeks, wat nie goed was nie, maar darem strate beter as lande soos Suid-Soedan. Hierna het Suid-Afrika flink die kreeftegang op die indeks gegaan en die volgende jaar, 2011, was Suid-Afrika op 64 tien plekke swakker daaraan toe.

In 2012 was dit 69 en toe in 2013, die 71ste plek. Met die aanbreek van Zuma se tweede termyn in 2014 verbeter SA se posisie onverwags na 67. Analiste het die vreemdste verklaring hiervoor gegee, soos dat die korrupsieposisie positief gestabiliseer het. Die volgende jaar verbeter dit nog verder onder die Zuma-bewind tot 61ste. In 2016 tree ’n meer geloofwaardige “herstelfase” in toe dit na die 64ste plek styg, gevolg deur die 71ste plek in 2017, en die 73ste plek in 2018. In 2017 was ses Afrikalande, waaronder Namibië (53) en Rwanda (48) beter af as Suid-Afrika.

Na die jongste onthullings, wat duidelik nog net die puntjie van die ysberg is, sal Suid-Afrika nog ’n harde hou weg hê. Onthou, dit gaan om die persepsie, nie hoe korrup ’n land werklik is nie. Dit is duidelik dat die onthullings die persepsies oor die ganse Zuma-era, veral onder beleggers, erg gaan knou.

Die vermaning van die vernaamste beleggerslande aan Ramaphosa was dus hoog tydig, veral noudat Ramaphosa so ’n spesiale poging aanwend om buitelandse beleggings te lok, en ook nie baie beskeie is oor die suksesse daarvan nie. Ramaphosa het selfs gesuggereer dat negatiewe persepsie oor die grondgryp-kwessie besweer is.

Lindiwe Sisulu (Foto: Departement van kommunikasie)

En nou die brief waarin dit pertinent genoem word. Nog voor die nuus oor die buitelandse regerings wat Ramaphosa aanspreek rugbaar geword het, het die knap rubriekskrywer Tim du Plessis in Rapport geskryf “Cyril moet ophou paai en Zuma nou vasvat”.

Sisulu, wat haar so gewip het, kan gerus gaan kyk waar die vyf lande hulle op die korrupsiepersepsie-indeks bevind, met Switserland in die derde posisie, en die VSA in die 19de. Suid-Afrika steek sleg af, en gaan met die volgende indeks nog meer gehawend daaruit sien. Al manier om die negatiewe persepsie te bekamp is om die vermaning ter harte te neem, en sigbaar en ferm die skuldiges met mening te laat les opsê en so ver moontlik te laat opdok.

’n Mens kan amper nie anders nie as om tong in die kies te wonder hoe Sisulu sou reageer het as Trump sommer sy land se standpunt aan Ramaphosa getwiet het. As minister van buitelandse sake kan sy gerus die ou waarheid van internasionale politiek ter harte neem: “In die internasionale politiek is alle lande gelyk en ongelyk tegelyk”. Suid-Afrika het nog ’n stywe paadjie om te loop voor die land ’n gelykwaardige rolspeler gaan wees, en solank die Zuma-spook nie verdryf is nie, sal die perde ook eers horings moet kry.

Met die skryf hiervan lyk dit of Suid-Afrika moontlik ’n groot oliebron ontdek het. Mag korrupsie ’n harde knou toegedien wees voor die vonds, wat vir Suid-Afrika se ekonomie ’n groot bloedoortapping kan beteken, nie ook onder die land se neus uit verdwyn nie.

** Nota: Hierdie nuuskommentaar is geskryf voor dit bekend geword het dat die Sunday Times, wat die oorspronklike bron van die dokument van vyf lande blyk te wees, glo in verskeie opsigte nie korrek berig het nie. Tewyl die Nuuskommentaar byna algeheel in die kol is, is dit belangrik dat die lesers daarop let dat die dokument ‘n besprekingsdokument is as deel van die span wat pres. Ramaphosa aangewys het om miljarde rande se beleggings vir SA te werf, en wat uitgelek het. Die lande se ambassadeurs ontken byvoorbeeld ook dat hulle ooit die woord “korrupsie” in hul dokument gebruik het, maar erken dit is geïmpliseer. Sodat daar groter duideklikheid is, en dit blyk nodig te wees, sal hierdie deel van die nuuskommentaar deur ‘n nuwe nuuskomemntaar, gebaseer op duideliker inligting, volg.

Die skrywer vra verskoning vir enige ongerief, maar bevestig dat ander inligting, soos Suid-Afrika se posisie op die korrupsiepersepsie-indeks, deur eie navorsing saamgestel is en korrek is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Afrikaner ·

Pres. Cyril Ramaphosa is aangewys as die Nasionale Persklub se Nuusmaker van die Jaar vir 2018. Teen die tempo wat hy aangaan sal hierdie eer hom verseker ook in 2019 toeval.

Kom ons vertrou dat hy in sy toesprake waar hy die toekenning sal ontvang die suksesse wat hulle met die bekamping van misdaad op plase behaal het sal uitlig, dit is nou buiten vir die aantal sake van korrupsie wat hulle suksesvol in die howe gedryf het.

Tanya ·

God sien nie kleur raak nie.God skape almak van ons.Stop met julle haatspraak.Ons trou met mekaar ons woon saam ons eet saam ons drink saam.Genoeg is nou genoeg.Aparheid is 22 jaar verbly.Ons kinders word saam groot

Staak saam ·

Dink gerus daaroor, hoekom het God ons almal dan verskillend gemaak, in voorkom, taal en kultuur.
God het ook vir elke volk sy eie grond gebied gegee.
As jy n onbekende se DNS ontleed dan kan daar bepaal word van watter ras hy is, duidelike verskille.
Nee, God maak nie voute nie, ons is almal na Sy beeld geskape met verskille.

Lizelda ·

Hartseer EN kommerwekkend om te dink 5 ander lande is meer bekommerd oor die stand van sake as ons eie President en Ministers.

Werner ·

Hy gaan vir al die verkeerde redes onthou word erger as Zuma

Lanie ·

Kan ons nie ASSEBLIEF n regeerder kry wat nie korrup is nie. Mnr Ramaposha is nie die man wat ons almal gedink hy is nie.

John ·

Inteendeel, hierdie olie… sal net olie op die vuur wees vir lieg en bedrieg en voor in die koor en die voordele sal in onbekende sakke in verdwyn. Min werksgeleenthede word geskep met so ‘n projek. En siende dat SA nou in ‘n liefdesverhouding met die Ooste is, sal die ministers blink gevry word vir ‘n deeltjie van die paai. Groot drome…. eish…

Paul ·

Toe ons belastingbetalers daardie jare moes betaal vir Sasol was dit ook vir ons vertel van die langtermyn voordele wat dit vir ons inhou. Almal weet daar het niks van gekom nie. Hierdie sal ook net vir ‘n sekere groepie iets beteken, maar niks vir ons belastingbetalers nie.

Jerry ·

Alles wat nou gese en gedoen word is water onderdeur die brug. Die ANC het deur staatskaping nie net die geldmag bekom nie, maar reeds die ANC elite verryk ten koste van alle Suid Afrikaners. Die ANC in sy geheel moet van hoogverraad aangekla word. Tweedens het die kommissies dit ten doel om te mislei deur net die beeld van die ANC te poets voor die verkiesing en vir buitelandse investering. Daar kan slegs hoop wees vir SA as die ANC verslaan word by die stembus. Die kaderappels is alles vrot en mense wat hoop dat dit nie die geval is nie gaan lelik ontnugter word. Die hoop wat gekoester word met die ANC aan bewind is nasionalisering en sosialisme. Dit is die ANC ideologiese feite.

Heinrich ·

‘n Vryheidsvegtersbeweging in Afrika wat nié korrup is nie; sterkte mense; julle gaan lank soek. Dit is ‘n botsing van ideologië (kapitalisties vs kommunisties), interverweef met ‘n botsing van geloof (voorvadergees aanbidding vs die Christelike geloof). As gevolg van hierdie diep verskille is daar ‘n wêreldse verskil in groepe se waardestelsels. Hierdie is van die diepste menslike beweegredes en word tog maar net oppervlakkig as ‘n diskriminasie teen velkleur gesien.

Pampoen ·

Besef hulle nie hoe hulle hulle eie integriteit ondermyn deur so openlik vyandig te wees op kritiek wat welverdiend is nie.

Gemaskerde Sopbeen ·

Onse Cyril is in die knyp. As hy ontken dat hy geweet het wat aangaan met al die korrupsie in SA, was hy maar ‘n swak vise-president…………en as hy erken dat hy geweet het, maar NIKS daaraan gedoen het nie………dan is hy deel van die probleem. So, waarnatoe nou Mnr die President?

Wers ·

Putty neus is regtig besig om sy onderliggende korrupsie bloot te stel. Die 5 nasies glo nie sy drek wat hy verkondig nie.

Gert J ·

Die regering het gedink hulle kan wegkom met al hulle korrupsie en vyandigheid teenoor die blankes. Ramaposa moet nou optree. Die lande het reeds vir Cyril gewys dat hulle nie die strukture vertrou nie. Hier kom n ding.

Herman Toerien ·

Hallo Rupert. Ek het pas ‘n berig vir oorweging ingestuur. In kort, die moontlike olieveld is in die see so 150 km suid van Plettenbergbaai ontdek, en sal na verwagting dalk selfs meer as ‘n miljard vate olie bevat. Dit sal egter tussen agt en tien jaar neem om in volle produksie te wees as die vonds bevestig word. Die mynbou-indaba in Kaapstad het vandag begin en dit lyk na ‘n gawe geleentheid om die aankondiging te doen.

Herbert Carlson ·

Wanneer wil die vader van die volk Mnr Ramaphosa ook iets se omtrent die walglike rassistiese aanmerkings teenoor die blanke kinders van die brug ramp.Sy veroordeling hiervan kan dalk ons volk bymekaar bring,, Mnr Ramaphosa se uit eindelike doel moet wees om hierdie volk te verenig.

Maro ·

Daar antwoord jy jouself. Hy wil nie noodwendig die land verenig nie.

Trojaanse Donkie ·

Die eerste eienskap va ‘n ware leier is nie blatante arrogansie nie. et al.

Chris ·

Snaaks genoeg het God dan Chinese, wit mense, swart mense geskape. Hoekom dan nie almal bruin nie? As hy wou kon hy ons almal dieselfde kleur gemaak het. Maar nee..

Jean van der Riet ·

“It is not uncommon for ignorant and corrupt men to falsely charge others with doing what they imagine they themselves, in their narrow minds and experience, would have done under the circumstances.” John Hessin Clarke

Staak saam ·

Dink gerus daaroor, hoekom het God ons almal dan verskillend gemaak, in voorkom, taal en kultuur.
God het ook vir elke volk sy eie grond gebied gegee.
As jy n onbekende se DNS ontleed dan kan daar bepaal word van watter ras hy is, duidelike verskille.
Nee, God maak nie voute nie, ons is almal na Sy beeld geskape met verskille.

jakes ·

CR is beslis nie die vader van my volk nie. Hy kom wel voor as n wolf in skaapklere en sy ware kleure gaan nog uitkom sodra die verkiesing verby is. Mense wat die ANC glo of hulle aanhang moet verduidelik hoekom SA na meer as 24 jaar n derdewereld land geword het met rommelstatus en n regering wat korrupsie steun?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.