Nuuskommentaar: Bruin en wit en beskouings oor Afrikaans en diversiteit is divers

Argieffoto

Argieffoto

Uit verskeie onlangse skrywes het dit nie net duidelik geword dat wit en bruin Afrikaanssprekendes mekaar ter wille van die oorlewing van Afrikaans nodig het nie, maar dit het ook geblyk hoe omvangryk die brûe sal moet wees wat hierdie samespanning oor ’n breë front moontlik maak.

Die bedanking van prof. Jonathan Jansen as rektor van die Universiteit van die Vrystaat (UV) te midde van Beeld se gesprekvoering oor die toekoms van Afrikaans, het foutlyne uitgelig oor hoe bruin en wit dieselfde sake beskou. Of miskien is dit akkurater om bruin intellektuele en ’n (nuwe) Afrikanerhoofstroom teenoor mekaar te meet in ’n proses waarin veel ruimte vir diversiteit en die bestuur daarvan gelaat word.

En laat dit dadelik gesê word, daar is in albei kampe soveel ander menings dat veralgemenings waaghalsig word. Pas het die bekende mnr. Peter Marais via sy Facebookblad bekend gemaak dat ’n groot, nierassige party gestig is wat hom sal beywer vir ’n federale status vir die Wes-Kaap.

Dit kan moontlik nie regstreeks gekoppel word nie, maar die nuwe party gaan van sy steun put uit veldtogte van Marais en ander om te keer dat bruin mense in die Wes-Kaap weens hul velkleur uit werk en woning gediskrimineer word. Die Bruin Belangebeweging se spoor kan in die aanloop duidelik bemerk word.

Voorts is dit dikwels moeilik om genoegsaam te bepaal wat iemand werklik in die oog het omdat terme soos transformasie en diversiteit vir verskillende mense heel uiteenlopende betekenisse het.

Diversiteit en hoe dit die doeltreffendste aangespreek kan word, is nou in verskillende dele van die wêreld ’n vuurwarm onderwerp, onder meer weens die instroming van vlugtelinge na Wes-Europa, en knaende rassevoorvalle in die VSA. Die Republikeine se kandidatuur van Donald Trump vir die presidentsamp is ’n manifestasie van hoe daarop reageer word.

Verskillende skrywers doop nou hul penne in diversiteitsink. Op een dag dra die Nederlandse koerant Trouw twee artikels oor die onderwerp, naamlik Integratie is een verkeerd idee en Politieke leiders spreken klare taal. Aan die ander kant van die Atlantiese Oseaan plaas die Christian Science Monitor ’n baie lang artikel, Where diversity works.

Definisies lyk redelik duidelik, maar uit gespreksdokumente is dit duidelik dat heel verskillende konsepte daaraan geheg word. Aan die een kant is daar ’n omvattende aanslag teen enige diversiteit, soos ’n veldtog in die VSA teen afsonderlike toiletgeriewe vir mans en vroue. Aan die ander kant word diversiteit beklemtoon om minderheidsregte aan sulke diverse groepe toe te ken.

Op die gevaar af van oorvereenvoudiging lyk dit of die bruin intellektuele hulself swart, en nie bruin nie, noem. Dit slaan wyd soos die algemene verwysing van swart Afrikaanse skrywers, van wie die meerderheid eintlik bruin is. Trouens, dit het oor ’n wye front die polities korrekte ding geword om te sê, soos nuusberigte oor hoeveel “swart” spelers in spanne is, terwyl almal wat nie wit is nie dan as “swart” bymekaar getel word.

Ideologies is dit hul goeie reg, maar in die praktyk onderskei die regering wel deeglik tussen bruin en swart, soos dit nou uitloop op die voortgesette saak van Solidariteit namens bruin lede teen die departement van korrektiewe dienste (DKD). Die DKD meen bruin mense is in die Wes-Kaapse bestuur oorverteenwoordig deur die nasionale demografie toe te pas.

Wat sport betref, is onder regeringsdruk kwotas gestel van hoeveel wit, bruin en “etniese swart mense” in spanne verteenwoordig moet wees.

Dit laat dikwels die “dice” weer vir die bruin mense verkeerd val.

Op RSG se program, Kommentaar, het prof. Jansen onlangs gemeen dis verkeerd om etnisiteit te koppel aan die skoolverbranding in Limpopo. Op Facebook het hy iemand wat op die werklike toedrag van ’n historiese spanning tussen Vendas en Tsongas gewys het, die persoon daarvan beskuldig dat sy (rassistiese) onderrok uithang.

’n Tweede skynbare eienskap is ’n geneigdheid om ten spyte van wat gebeur, ook met bruin mense, lojaal teenoor die ANC te bly. Wyle prof. Jakes Gerwel is in Die Burger aangehaal dat hy self gesê het hy is waarskynlik die laaste nuttige idioot.

Teen dié agtergrond is die toenadering wat deurlopend tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes bepleit word baie kompleks. Die elite, so lyk dit, wil eerder swart wees, met die teoretiese konsep dat wit ook so ingetrek behoort te word (maar steeds diskriminerende aspekte soos “affirmative action” moet aanvaar).

Daar is in die jongste verlede besonder baie geskryf oor die historiese redes waarom die gewone bruin man besonder skepties oor toenadering deur wit, en in die besonder Afrikaners, sal staan. In die afgelope Sondag se Rapport het Leopold Scholtz met sy lang artikel hieroor, Hooghartig die uwe, tot op die been gesny.  Verskeie bruin mense het onlangs ook die onderwerp in artikels aangeraak, en dikwels voorbehoude vir toenadering gesoek soos kompensasie en ’n bieg en verantwoordelikheidaanvaarding. Die felheid waarmee die Belharbelydenis in die NG Kerk onvrede bring, is simptomaties.

Hoe dit buite die bruin elite daaruit sien, is moeiliker om te bepaal. Daar was immers nadat die destydse NP nog in die driekamer-bedeling sy deure vir alle rasse oopgegooi het ’n groot oorlopery uit die Arbeidersparty na die NP. Die NP se opname in die ANC het egter nog ’n “generasie” bruin mense in die ANC ingebring, maar dit lyk of dit intussen meestal na die DA gedreineer het.

En soos gemeld, het Peter Marais ook heelwat steun.

Intussen staan dit soos ’n paal bo water dat die stryd om Afrikaans baie moeilik sal wees as wit en bruin, asook swart Afrikaanssprekendes nie op die een of ander wyse saamstaan nie. Die bestaan van liggame soos die Afrikaanse Taalraad wys dit is moontlik, maar dit moet iets wees wat tot ’n groter mate op voetsoolvlak deurslaan. ’n Private Afrikaanse koshuis by Tukkies met aanvanklik geldelike steun van AfriForum is nog nie eens in bedryf nie, of dit loop onder kritiek deur omdat dit ras-uitsluitend sou wees. Dit ten spyte daarvan dat een van die grondbeginsels van die koshuis is dat dit nierassig sal wees. Al wat “uitgesluit” sal wees, sal diegene wees wat weens hul eie taalvoorkeur by die bestaande koshuise, waar hulle voorkeur kry, opgeneem moet word. En hierdie Afrikaanse, Christelike koshuis is ’n grondwetlike reg.

Daar kan egter nie maar net bloot aangegaan word om private Afrikaanse nierassige universiteite, koshuise en nou, ná die jongste uitspraak van die konstitusionele hof, ook skole te stig nie. Sulke instellings moet gefinansier word, en daardie kraantjie knyp. Die algemene sosio-ekonomiese dispariteit tussen wit en bruin sal ’n impak hê op die bekostigbaarheid van ’n breë segment van die bruin gemeenskap om hieraan mee te doen. Trouens, ’n groot deel van die wit Afrikaanse gemeenskap kan nie by Afrikaanse skottel-stasies bykom nie, en waar dit wel gebeur, is daar dikwels agterstallige munisipale rekenings, noodsaaklike assuransie wat verval het, en kerklike bydraes wat opgedroog het.

Kortom, waar dit eens betaal het om Afrikaans te wees, moet ’n mens nou betaal om Afrikaans te wees.

Om wit en bruin Afrikaanssprekendes ter wille van die oorlewing van Afrikaans (in sy verskeidenheid) te laat saamtrek, gaan kompleks wees. Die narratief waarteen die een segment van ’n segment dit wil laat afspeel, is dalk net te vreemd en ver verwyder van dit waarvoor ander segmente kans sien. ’n Kamikaze-flirtasie met die ANC om iets vir Afrikaans te beredder lyk nie na gesonde denke nie. Daar lê in elk geval talle flenters van sulke pogings reeds op die grond.

Groter wedersydse begrip vir mekaar se beskouings, tesame met ’n uitdruklike liefde vir Afrikaans wat die volle ontplooiing daarvan verteenwoordig, is nodig.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
vermeende

Herman ek het gelees tot by saamstaan.

Feite..Afrikaans is n kombuistaal. Afrikaans is hier in SA gebore en het hier groot gegroei.
Dit is die huistaal van baie verskillende rasse van wit tot swart.
Nie n enkele ras kan aanspraak maak op Afrikaans en dit net toe eien as net sy eiendom en reg nie.
Afrikaans is die enigste taalproduk van SA en enige bevolkingsgroep wat Afrikaans verag, verag sy eie handewerk.

JC

Uitstekende, weldeurdagte artikel. Baie dankie vir HIERDIE AFRIKAANSE, NIE-UITSLUITENDE en omvattende ARTIKEL TEN OPSIGTE VAN ONS AFRIKAANSES SE PRAGTIGE EN DIVERSE TAAL (Wes-Kaapse dialek, Oranjerivierse dialek, Standaard [Oos-Kaaps-Visrivier dialek) wat op Woensdag, 25 Mei 2016, 91 JAAR oud word!

Johann Marx

Gen 11:1 “En die hele aarde het dieselfde taal gehad en een en dieselfde woorde.” Vers 4 “En hulle sê: Kom laat ons vir ons ‘n stad bou en ‘n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ‘n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie. Vers 5 Toe daal die Here neer om die stad en die toring te besien waaraan die mensekinders gebou het. Vers6 En die Here sê: Daar is hulle nou een volk en het almal dieselfde taal! En dit is net die begin van… Lees meer »

Gemsbok

As dit nêrens betaal om Afrikaans te wees nie, is die dood in die pot vir Afrikaans. Al neem dit ook ‘n geslag om uit te sterf.

Loeis

Beide die ANC en die DA staan swart bevoordeling voor. Toe die OD (met beduidende bruin steun) in die DA verdwyn het, heet lg party heelwat steun bygekry. Maar soos wat Toerien uitgewys het, voel bruin mense die effek van swart bevoordeling, nes blankes. Die DA se gevry na swart stemme kos hulle reeds blanke stemme, en met ‘n bruin party, gaan daardie prys sterk sigbaar word, veral in die Wes-Kaap. VF+ argumenteer lankal dat ‘n koalisie van opposisie partye nodig gaan wees om die ANC enigsins seer te maak. Die voordeel daarvan as VF+ en ‘n bruin party deel… Lees meer »