Nuuskommentaar: Bruin en wit en beskouings oor Afrikaans en diversiteit is divers

Argieffoto

Argieffoto

Uit verskeie onlangse skrywes het dit nie net duidelik geword dat wit en bruin Afrikaanssprekendes mekaar ter wille van die oorlewing van Afrikaans nodig het nie, maar dit het ook geblyk hoe omvangryk die brûe sal moet wees wat hierdie samespanning oor ’n breë front moontlik maak.

Die bedanking van prof. Jonathan Jansen as rektor van die Universiteit van die Vrystaat (UV) te midde van Beeld se gesprekvoering oor die toekoms van Afrikaans, het foutlyne uitgelig oor hoe bruin en wit dieselfde sake beskou. Of miskien is dit akkurater om bruin intellektuele en ’n (nuwe) Afrikanerhoofstroom teenoor mekaar te meet in ’n proses waarin veel ruimte vir diversiteit en die bestuur daarvan gelaat word.

En laat dit dadelik gesê word, daar is in albei kampe soveel ander menings dat veralgemenings waaghalsig word. Pas het die bekende mnr. Peter Marais via sy Facebookblad bekend gemaak dat ’n groot, nierassige party gestig is wat hom sal beywer vir ’n federale status vir die Wes-Kaap.

Dit kan moontlik nie regstreeks gekoppel word nie, maar die nuwe party gaan van sy steun put uit veldtogte van Marais en ander om te keer dat bruin mense in die Wes-Kaap weens hul velkleur uit werk en woning gediskrimineer word. Die Bruin Belangebeweging se spoor kan in die aanloop duidelik bemerk word.

Voorts is dit dikwels moeilik om genoegsaam te bepaal wat iemand werklik in die oog het omdat terme soos transformasie en diversiteit vir verskillende mense heel uiteenlopende betekenisse het.

Diversiteit en hoe dit die doeltreffendste aangespreek kan word, is nou in verskillende dele van die wêreld ’n vuurwarm onderwerp, onder meer weens die instroming van vlugtelinge na Wes-Europa, en knaende rassevoorvalle in die VSA. Die Republikeine se kandidatuur van Donald Trump vir die presidentsamp is ’n manifestasie van hoe daarop reageer word.

Verskillende skrywers doop nou hul penne in diversiteitsink. Op een dag dra die Nederlandse koerant Trouw twee artikels oor die onderwerp, naamlik Integratie is een verkeerd idee en Politieke leiders spreken klare taal. Aan die ander kant van die Atlantiese Oseaan plaas die Christian Science Monitor ’n baie lang artikel, Where diversity works.

Definisies lyk redelik duidelik, maar uit gespreksdokumente is dit duidelik dat heel verskillende konsepte daaraan geheg word. Aan die een kant is daar ’n omvattende aanslag teen enige diversiteit, soos ’n veldtog in die VSA teen afsonderlike toiletgeriewe vir mans en vroue. Aan die ander kant word diversiteit beklemtoon om minderheidsregte aan sulke diverse groepe toe te ken.

Op die gevaar af van oorvereenvoudiging lyk dit of die bruin intellektuele hulself swart, en nie bruin nie, noem. Dit slaan wyd soos die algemene verwysing van swart Afrikaanse skrywers, van wie die meerderheid eintlik bruin is. Trouens, dit het oor ’n wye front die polities korrekte ding geword om te sê, soos nuusberigte oor hoeveel “swart” spelers in spanne is, terwyl almal wat nie wit is nie dan as “swart” bymekaar getel word.

Ideologies is dit hul goeie reg, maar in die praktyk onderskei die regering wel deeglik tussen bruin en swart, soos dit nou uitloop op die voortgesette saak van Solidariteit namens bruin lede teen die departement van korrektiewe dienste (DKD). Die DKD meen bruin mense is in die Wes-Kaapse bestuur oorverteenwoordig deur die nasionale demografie toe te pas.

Wat sport betref, is onder regeringsdruk kwotas gestel van hoeveel wit, bruin en “etniese swart mense” in spanne verteenwoordig moet wees.

Dit laat dikwels die “dice” weer vir die bruin mense verkeerd val.

Op RSG se program, Kommentaar, het prof. Jansen onlangs gemeen dis verkeerd om etnisiteit te koppel aan die skoolverbranding in Limpopo. Op Facebook het hy iemand wat op die werklike toedrag van ’n historiese spanning tussen Vendas en Tsongas gewys het, die persoon daarvan beskuldig dat sy (rassistiese) onderrok uithang.

’n Tweede skynbare eienskap is ’n geneigdheid om ten spyte van wat gebeur, ook met bruin mense, lojaal teenoor die ANC te bly. Wyle prof. Jakes Gerwel is in Die Burger aangehaal dat hy self gesê het hy is waarskynlik die laaste nuttige idioot.

Teen dié agtergrond is die toenadering wat deurlopend tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes bepleit word baie kompleks. Die elite, so lyk dit, wil eerder swart wees, met die teoretiese konsep dat wit ook so ingetrek behoort te word (maar steeds diskriminerende aspekte soos “affirmative action” moet aanvaar).

Daar is in die jongste verlede besonder baie geskryf oor die historiese redes waarom die gewone bruin man besonder skepties oor toenadering deur wit, en in die besonder Afrikaners, sal staan. In die afgelope Sondag se Rapport het Leopold Scholtz met sy lang artikel hieroor, Hooghartig die uwe, tot op die been gesny.  Verskeie bruin mense het onlangs ook die onderwerp in artikels aangeraak, en dikwels voorbehoude vir toenadering gesoek soos kompensasie en ’n bieg en verantwoordelikheidaanvaarding. Die felheid waarmee die Belharbelydenis in die NG Kerk onvrede bring, is simptomaties.

Hoe dit buite die bruin elite daaruit sien, is moeiliker om te bepaal. Daar was immers nadat die destydse NP nog in die driekamer-bedeling sy deure vir alle rasse oopgegooi het ’n groot oorlopery uit die Arbeidersparty na die NP. Die NP se opname in die ANC het egter nog ’n “generasie” bruin mense in die ANC ingebring, maar dit lyk of dit intussen meestal na die DA gedreineer het.

En soos gemeld, het Peter Marais ook heelwat steun.

Intussen staan dit soos ’n paal bo water dat die stryd om Afrikaans baie moeilik sal wees as wit en bruin, asook swart Afrikaanssprekendes nie op die een of ander wyse saamstaan nie. Die bestaan van liggame soos die Afrikaanse Taalraad wys dit is moontlik, maar dit moet iets wees wat tot ’n groter mate op voetsoolvlak deurslaan. ’n Private Afrikaanse koshuis by Tukkies met aanvanklik geldelike steun van AfriForum is nog nie eens in bedryf nie, of dit loop onder kritiek deur omdat dit ras-uitsluitend sou wees. Dit ten spyte daarvan dat een van die grondbeginsels van die koshuis is dat dit nierassig sal wees. Al wat “uitgesluit” sal wees, sal diegene wees wat weens hul eie taalvoorkeur by die bestaande koshuise, waar hulle voorkeur kry, opgeneem moet word. En hierdie Afrikaanse, Christelike koshuis is ’n grondwetlike reg.

Daar kan egter nie maar net bloot aangegaan word om private Afrikaanse nierassige universiteite, koshuise en nou, ná die jongste uitspraak van die konstitusionele hof, ook skole te stig nie. Sulke instellings moet gefinansier word, en daardie kraantjie knyp. Die algemene sosio-ekonomiese dispariteit tussen wit en bruin sal ’n impak hê op die bekostigbaarheid van ’n breë segment van die bruin gemeenskap om hieraan mee te doen. Trouens, ’n groot deel van die wit Afrikaanse gemeenskap kan nie by Afrikaanse skottel-stasies bykom nie, en waar dit wel gebeur, is daar dikwels agterstallige munisipale rekenings, noodsaaklike assuransie wat verval het, en kerklike bydraes wat opgedroog het.

Kortom, waar dit eens betaal het om Afrikaans te wees, moet ’n mens nou betaal om Afrikaans te wees.

Om wit en bruin Afrikaanssprekendes ter wille van die oorlewing van Afrikaans (in sy verskeidenheid) te laat saamtrek, gaan kompleks wees. Die narratief waarteen die een segment van ’n segment dit wil laat afspeel, is dalk net te vreemd en ver verwyder van dit waarvoor ander segmente kans sien. ’n Kamikaze-flirtasie met die ANC om iets vir Afrikaans te beredder lyk nie na gesonde denke nie. Daar lê in elk geval talle flenters van sulke pogings reeds op die grond.

Groter wedersydse begrip vir mekaar se beskouings, tesame met ’n uitdruklike liefde vir Afrikaans wat die volle ontplooiing daarvan verteenwoordig, is nodig.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

vermeende ·

Herman ek het gelees tot by saamstaan.

Feite..Afrikaans is n kombuistaal. Afrikaans is hier in SA gebore en het hier groot gegroei.
Dit is die huistaal van baie verskillende rasse van wit tot swart.
Nie n enkele ras kan aanspraak maak op Afrikaans en dit net toe eien as net sy eiendom en reg nie.
Afrikaans is die enigste taalproduk van SA en enige bevolkingsgroep wat Afrikaans verag, verag sy eie handewerk.

JC ·

Uitstekende, weldeurdagte artikel. Baie dankie vir HIERDIE AFRIKAANSE, NIE-UITSLUITENDE en omvattende ARTIKEL TEN OPSIGTE VAN ONS AFRIKAANSES SE PRAGTIGE EN DIVERSE TAAL (Wes-Kaapse dialek, Oranjerivierse dialek, Standaard [Oos-Kaaps-Visrivier dialek) wat op Woensdag, 25 Mei 2016, 91 JAAR oud word!

Johann Marx ·

Gen 11:1 “En die hele aarde het dieselfde taal gehad en een en dieselfde woorde.” Vers 4 “En hulle sê: Kom laat ons vir ons ‘n stad bou en ‘n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ‘n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie. Vers 5 Toe daal die Here neer om die stad en die toring te besien waaraan die mensekinders gebou het. Vers6 En die Here sê: Daar is hulle nou een volk en het almal dieselfde taal! En dit is net die begin van hulle onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie. Vers7 Kom, laat Ons neerdaal en hulle taal daar verwar, sodat die een die taal van die ander nie kan verstaan nie.”

Gemsbok ·

As dit nêrens betaal om Afrikaans te wees nie, is die dood in die pot vir Afrikaans. Al neem dit ook ‘n geslag om uit te sterf.

Loeis ·

Beide die ANC en die DA staan swart bevoordeling voor.

Toe die OD (met beduidende bruin steun) in die DA verdwyn het, heet lg party heelwat steun bygekry. Maar soos wat Toerien uitgewys het, voel bruin mense die effek van swart bevoordeling, nes blankes.

Die DA se gevry na swart stemme kos hulle reeds blanke stemme, en met ‘n bruin party, gaan daardie prys sterk sigbaar word, veral in die Wes-Kaap.

VF+ argumenteer lankal dat ‘n koalisie van opposisie partye nodig gaan wees om die ANC enigsins seer te maak. Die voordeel daarvan as VF+ en ‘n bruin party deel is van so ‘n koalisie, is dat hulle na wit en bruin belange sal omsien.

Kom ons hoop mense sien dit so in wanneer hulle later hierdie jaar gaan stem: dit is in jou belang om vir ‘n party te stem wat vir jou belange staan. Dit sluit taal en gelyke geleenthede in.

Theuns ·

Maroela, het julle my kommentaar gekry? Dit gebeur baie dat ek my kommentaar stuur en gaan julle web werf net na ‘n bladsy toe wat se” THIS PAGE CAN NOT BE DISPLAYED! Hoekom?

Sune van Heerden ·

Dagsê Theuns

Ek kan bevestig dat ons webwerf nie tans enige tegniese probleme ervaar nie. Dit is moontlik dat jou sein dalk nie sterk genoeg is om die nuwe bladsy te laai wanneer jy jou kommentaar wil stuur nie. Kontak ons gerus by [email protected] indien die probleem voortduur.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Theuns ·

Al wat ek kry is ‘n oorverdowende stillte. Maar sal nie raas nie want dit is mos in Maroela se ” Bepalings en Voorwaardes! Kom ons probeer weer!
Herman, goeie artikel! Jy is ons gewete. Doen so voort!

vermeende ·

Herman ek sal graag wil sien dat jy n artiekel skryf oor wie die Afrikaner is en wie almal aanspraak kan maak op die titel.
Baie Afrikaners gaan met skok ontnugter word.

Poplap ·

Waarom vertel jy nie vir ons wie en wat ‘n Afrikaner is nie?

vermeende ·

Glo maar Poplap jy gaan nie van die antwoord hou nie, maar se eers, is jy n Afrikaner?

Poplap ·

O, ek is ‘n Afrikaner, was nog altyd ene. en was nog nooit daaroor geskok, nog minder ontnugter gewees nie.
Maar vertel ons gerus wat volgens jou ‘n Afrikaner is.

John ·

Dis die vangplek! As ons Afrikaans wil red moet ons die blanke ras dus die rug draai. Dis die eintlike waarheid. Punt. Taal het ‘n wapen geword teen die blanke Suid-Afrikaner. Afrikaans is ‘n kombuistaal. Regtig! Dis iemand se teorie (inderwaarheid die teorie van ‘n Afrikaanse nagraadse student vir sy verhandeling en mense weet wie dit is), soortgelyk aan die evolusieleer wat steeds net ‘n teorie is. Die Kleurlinge praat nou nog nie Afrikaans soos die Boere nie. Hoekom? Indien swart en wit meng word ‘n nuwe ras geskep. Hierdie ras word in Afrikaans Kleurlinge genoem. Die Kleurlinge is nie swartmense of blankes nie en het ‘n gemengde gene-poel. Diegene wat hul gene wat opoffer vir Afrikaans is welkom. Vir ander mense is dit belangrik om hulle nageslag volgens die wil van die Skepper te behou, en dit is hulle reg. Die New Age-beweging stel hom ‘n homogene bruin wereldbevolking ten doel. Uiteindelik gaan die ‘redders’ van Afrikaans, bruin mense wees wat die taal gaan praat van die wereldmassa en so is die Boere/Afrikaners lekker gevang. Hi there!

cobusp ·

Voel jammer vir ons bruin mense……onder apartheid was hulle te donker en uitgesluit uit die bedeling nou onder die anc is hulle te lig kleurig en ook uit gesluit uit die bedeling……………nou hoe gemaak nou………..dus darem ergerlike diskriminasie……..

John ·

Die Kleurlinge is net soveel soos die witmense in Suid-Afrika. Hoekom jammer voel vir hulle? Ons is dan nou ook te wit na die swartmense se smaak. Regoor die wereld is daar gemengde rasse. Die mense van die Maleisiese eilande is ‘n voorbeeld, so ook die’ van Brazil of die Argentyne. Ons kan hulle ongelukkig nie net omdat hulle Afrikaans praat, as wit klassifiseer nie. Dit sou nie die waarheid wees nie. ‘Ag, shame’ is ‘n ongesonde emosie. Mens moet mense eerder help om hulle self te wees/ te word en hulself/selfbeeld te ontwikkel, en nie om meer soos jyself te word nie. Dis ‘n magspel. Afrikaans is nie ‘n heilige koei, ‘n outydse potlooduitveer of ‘n fopdosser se tutu wat die’ afpluk as die klok 12 slaan nie.

POP-LAP ·

Ek wil baie graag weet watter ekonomiese waarde Afrikaans in die Ekonomie dra?

Marius ·

Van die kommentare hier maak net geensins sin nie. Ek het al heelparty keer gesê dat mense se regse onderrok ver uithang op hierdie forum. Dis nie ‘n strafbare sonde as jy regs is nie, maar moet dit asb. tog nie so inweef by jou geloofsbeskouing dat jou opinie na God se wil lyk nie. Hou dan liefs geloof daarby uit. Ek ken heelparty mense wat diep gelowiges is, nogaal streng Calvinisties is en geloofslewens het wat ek beny en hulle is in gemengde ras huwelike. Nou daag ek jou uit om vir hulle te sê hulle is vir die hel bestem, gegewe die Bybel se boodskap dat ons uit genade alleen gered is. Ek het nog nooit enige new age tendense in hulle aanbiddingslewe gesien nie, en hulle is ‘n voorbeeld van hoe ‘n geloofslewe behoort te lyk. Ons verlede is nie hoe wondelik of sleg ons was nie. Ons het as gelowiges ‘n nuwe verlede ook, en dit is Christus aan die kruis en my jou sondes saam met dit. Glo wat jy wil glo, maar moet nie politieke agendas gebruik in jou argumente vir geloof nie. Jy maak baie gelowiges seer.

Klippie ·

Kom ons fokus op Soltech en Akademia, ons twee nuwe privaatinstellings. Dit is ‘n taal se hoër funksies wat haar toekoms bepaal. Die bruinmense het heel gemaklik toegelaat dat die CTUT, UWK ,US en meeste van hul Kaapse skole verengels. Afrikaners en die Afrikaanse taal is doelbewus uitgewerk. Ons het vir té lank gewag op “Afrikaanses” om die rigting aan te dui. Verdere debatte en gesprekke hieroor is net ‘n mors van tyd.

Marius ·

Daar is duisende Afrikaanse ouers wat hulle kinders in die franchise privaat skole en Engelse privaat skole gesit het, omdat die Afrikaanse staatskole volgens hulle nie op standaard was nie. Ek is seker dit was waar in sommige gevalle, maar dit het die effek gehad dat baie Afrikaanse skole moes dubbel medium word a.g.v. lae getalle. Baie van hierdie skole het heeltemaal verengels. Moet dit ook nie uit die oog verloor nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.