Nuuskommentaar: Bruin man quo vadis?

Die DKD-werknemers wat deur Solidariteit verteenwoordig word. Foto: Reint Dykema

Die DKD-werknemers wat deur Solidariteit verteenwoordig word. Foto: Reint Dykema

Vandag se saak voor die grondwetlike hof waar Solidariteit namens bruin DKD-lede ’n erge onreg probeer regstel, handel oor veel meer as suiwer regsbeginsels. Benewens die feit dat die uitspraak moet voorkom dat die reg absurd word, neem dit ’n groot gemeenskap se reg tot volwaardige burgerskap, sosio-ekonomiese deelname, selfrespek en minderheidsregte onder die loep; ook met die doel om die ANC se blatante invoer van neo-apartheid in die bek te probeer ruk.

Veel meer as bloot die grondwetlikheid van die gebruik van die nasionale rassedemografie in provinsiale aanstellings is van vandag af ter sprake wanneer Solidariteit se saak namens tien personeellede van die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) voor die grondwetlike hof dien.

Die hele beginsel van natuurlike geregtigheid en die vraag of die reg ooit absurd kan wees is op die spel. Maar dit sny nog veel dieper.

Aan die hart van die saak staan die feit dat die DKD die nasionale rassedemografie inspan om aanstellings en bevorderings ook in die Wes-Kaap te doen, waar die bruin mense, in die gewraakte woorde van Jimmy Manyi, oorverteenwoordig is.

In ’n rasbehepte samelewing, waar die rasbeheptheid erg deur die ANC gedryf word, skree dit ten hemele.

Die “dice” het weer vir die bruin mense, veral in die Wes-Kaap, verkeerd geval. So gewortel is die rassekwessie hier dat dit eintlik prinsipieel verkeerd is dat hierdie skrywe uit ’n “wit pen” sou vloei. Maar behalwe vir oudpremier Peter Marais, wat min ooghare vir politieke korrektheid en konvensie het, is veral intellektuele bruin stemme en stemme van bruin leiers taamlik stil – lyk dit al of hard probeer word om nie die olifant in die vertrek raak te sien nie.

Nie dat die Manyi-skok nie destyds ’n groot kentering gebring het nie, en veral vir wie die Wes-Kaapse bruin mense in die toekoms tydens verkiesings sou stem nie. Die Bruin Belangebeweging (BBB) het ook te midde van groot belangstelling tot stand gekom. In ’n peiling het die meeste deelnemende bruin en wit kinders gemeen apartheid het teruggekeer. Swart kinders volgens die peiling nié. Maar dis al of dit “onvanpas” is om die kwessie steeds lig en lug te gee. Marais en geesgenote loop gereeld erg onder vitrioel deur van bruin mense wat meen hulle speel onkant.

Na berig word het die tydperk toe die Wes-Kaap deur die ANC geregeer is ook reeds min heil vir die bruin gemeenskap ingehou. Gesinne wat al jare onder brûe gewoon het, moes glo verbysterd toesien hoe hul name op waglyste vir HOP-huise steeds afwaarts skuif en die name van nuwe intrekkers uit die Transkei in die plek daarvan opduik. Versoeke vir groter openheid soos die elektroniese byhou van waglyste is deur die ANC-regering geweier.

Om by herhaling die kort lootjie te trek, of die “dice” verkeerd te sien rol, moes skynbaar die bruin man se lot bly in ’n provinsie wat lank sy hartland was – in ’n stadium as bruin voorkeurgebied ontwikkel is met ’n eie universiteit en ontwikkelingskorporasie. Met ’n stewige hand in die vissersbedryf met praktyke wat reeds uit die “bose” Jan van Riebeeck se tyd dateer – net om nou ook onder nasionale kwotadruk geplaas te word.

Dit is oneindig meer kompleks as wat dit nou geskets is. As dit sou help kon apartheid en parallelle ontwikkeling voos geslaan gewees het. As dit kon, kon die horlosie teruggedraai word. Wat nou ter sprake is, is om die siklus van kort lootjies te probeer breek – om selfrespek te herstel en seker die mins rasbehepte gemeenskap in die land nie verder juis om hul ras te straf nie. Daar is enorme sosio-maatskaplike probleme soos wat beduidend in anti-kulture van bendegeweld manifesteer, wat getakel moet word. Maar dit kan kwalik geskied terwyl die gemeenskap kunsmatig weens velkleur juis onder ekonomiese en sosio-ekonomiese druk geplaas word.

Voortgesette vervreemding lei tot vervreemding ook van natuurlike bondgenote.

So kompleks soos dit is, is dit ook nodig om sekere aspekte uit te lig wat vordering bemoeilik.

In die apartheidjare was dit soms ’n spel wat bekend gestaan het as “play for white”. “Wit” busse is onder meer bestyg om te kyk of “hulle” genoegsaam blank sou kon lyk om nie afgeskop te word nie. Bruin mense wat kon, het hulle dikwels laat herklassifiseer as blank.

Op ’n vreemde manier gebeur dieselfde nou, behalwe dat veral intellektuele en sekere leiers na hulself as “swart” verwys. Soms laat die media hulle in hierdie rasbenepe spel insleep deur byvoorbeeld te verwys na die hoeveelheid “swart” spelers (waarvan sommige eintlik bruin is) in die Springbokspan terwyl almal weet dis net ’n tydelike “uitkoms” omdat dit uiteindelik vir die ANC oor etnies swart gaan. Dit is byvoorbeeld reeds die geval in krieket waar provinsiale spanne benewens rassekwotas, spesifiek ook aan kwotas vir “African Africans” moet voldoen.

Deur nie die ANC se bluf hieroor te roep nie, kom die ANC grootliks met hierdie blatante rassisme weg. Op die vooraand van die DKD-saak het die Vryheidsfront Plus juis daarop gewys dat die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, gesê het die bruin mense moet aanvaar hulle is eintlik swart.

Hoewel Mantashe hierdeur die bruin mense skynbaar by die agterdeur innooi na die ANC se kostafels, stel adv. Anton Alberts ’n harde werklikheid: “Wanneer dit egter by die departement van korrektiewe dienste kom, besluit die ANC egter dat bruines nie swart genoeg is om werk te kry of bevorder te word in die nuwe Suid-Afrika waar ras, meer as ooit, die bepalende faktor vir feitlik alles geword het nie. Mantashe dink bruin mense is dom en dat hy hulle kan misbruik. Dieselfde ANC wat aan hulle vertel hulle is swart se beleid maak dat daar teen hulle gediskrimineer word.”

Die Vryheidsfront Plus is so ver bekend die enigste parlementêre party wat die saak teen die DKD openlik steun. Met ook die FW de Klerk-stigting wat in die verlede sy steun toegesê het, sou verwag word dat partye wat hul nie-rassige karakter wil beskerm en uitbou ook meer waagmoedig sou wees om die saak te steun.

Is die bruin gemeenskap deur hul leiers versaak? Soos bruin rektore wat dit self as “swart” mense gemaak het en in hul posisies byna onaantasbaar geword het, al kan hulle nie ’n woord van ’n swart taal praat nie. Een so ’n “swart” rektor was enkele jare gelede op sy Facebook-blad nog op die regte spoor toe hy “sy kinders” (studente) aangemoedig het om, as hulle hul ras op ’n amptelike vorm moet invul, eenvoudig te skryf “human”.

Maar nou probeer hy self “swart” wees (met huistaal Engels). En so word neo-apartheid gevoed in plaas daarvan dat bruin mense ’n oop kans in ’n werklike nie-rassige samelewing kry.

Wyle prof. Jakes Gerwel het skynbaar iets van hierdie teenstrydigheid besef deur by geleentheid in ʼn rubriek na homself as ’n “nuttige idioot” te verwys. Met hoeveel erns of tong-in-die-kies hy dit bedoel het, is onseker, maar dat hy bewus daarvan was dat sy blinde lojaliteit aan die ANC nie noodwendig die bruin mense se beste heilsweg behels het nie, was ook duidelik.

Die ANC dwing bruin mense en hul leiers om as bruin mense standpunt in te neem eerder as bloot Suid-Afrikaners in ’n veronderstelde nie-rassige samelewing – die ideaal wat baie bruin leiers lank sterk nagestreef het. Dit is ongelukkig nou ’n versperring wat oorkom moet word om voortgesette onregte in die kiem te smoor.

Die mate waarin die bruin gemeenskap ’n blootgestelde gemeenskap is word goed gedemonstreer uit ’n gebeurtenis in 1993. In die aanloop tot die nuwe bedeling het die destydse Vrystaatse Provinsiale Administrasie ’n aantal poste ontvries om spesifiek deur bruin mense en swart mense te laat vul om solank ’n beter rasbalans daar te stel. Daar was nog geen handves van menseregte wat so ’n veronderstelde verbod op diskriminasie plaas soos nou nie.

Onder die aansoekers was ’n jong swart man van Borwa by Tweespruit – ’n ANC-aktivis – maar met die van Van Heerden. Nog ’n kandidaat was ’n briljante jong bruin man van Sandersville by Heilbron met die van Botes, en uit ’n erg agtergeblewe huis. (Albei vanne is om verstaanbare redes effens aangepas).

Tydens die onderhoude wou die voorsitter van die keurkomitee, ’n swart vrou, hierdie twee kandidate se aansoeke ongesiens uitgooi “because they are white”.  Gelukkig kon een van die paneellede bevestig dat dit nie die geval is nie, en albei is aangestel. Die swart vrou is kort hierna van hoofmaatskaplike werker (senior beampte) met drie range tot direkteur bevorder en het ontken dat dit iets met “affirmative action” te make het.

Bitterlik baie is met vandag se saak vir die land en sy minderhede op die spel. Nie net vir die bevestiging van basies regsbeginsels soos natuurlike geregtigheid nie, maar om die reg van regsabsurditeite te suiwer. En dan begin die groot werk eers.

Marais se Facebook-inskrywing spreek boekdele: “Popcru [wat deur bruin mense gestig maar nou deur Cosatu beheer word] stem met die DKD saam en Tony Ehrenreich en Marius Fransman draai teen hul eie mense. Hulle weier om die tien bruin werkers te steun in hul aansoek vir regverdige behandeling. Slegs die vakbond Solidariteit is bereid om hand en tand vir die saak te veg. Gister se vriende is vandag se vyande en andersom.

“Laat ons as gelowiges God vra vir ʼn oorwinning. Anders is ons weer slawe in ons eie land, werkloos, verarm en met geen toekoms nie.”
Met dié inskrywing het niemand Marais soos in die verlede met vitrioel gaan toegooi nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Leendert van Oostrum ·

Hierdie saak is ‘n “toetssaak” – dit toets die oppergesag van die reg.

Henk ·

Persoonlik dink ek dit toets eerder tot watter mate Suid-Afrikaners, ongeag ras, ens., nog kan staatmaak op die ‘regdenkendheid’ van ons howe.

Leendert van Oostrum ·

Stem saam, Henk,

Ek beskou die “regdenkenheid van die howe” as ‘n deurslaggewende element van die oppergesag van die reg. (Let wel, die oppergesag van die reg – ook die howe moet daaraan honderhewig wees.)

Johannes Meintjes ·

In situasies van toenemende ongeregtigheid en die totale misbruik van gesagstrukture, hetsy in die howe, regering, kerk, publieke vertrouensposisies of andersins, noop dit minderheidsgroepe nou toenemend om alternatiewe, soos minderheids-selfbeskikking, onder die Grondwet te soek.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.