Nuuskommentaar: Buitelandse kritiek op Mandela

Terwyl ‘n groot groep media voor die hospitaal uitkamp waar oud-president Nelson Mandela weer vir ʼn longkwaal behandel word, word Suid-Afrikaners opnuut onder die indruk gebring van die ikoniese status wat die bejaarde Madiba in die buiteland geniet.

Daarom val dit half vreemd op dat ‘n bekende Nederlandse koerant juis nou ‘n artikel sou plaas waarin ook erg krities na Mandela verwys word. Die kritiek in Trouw kom weliswaar van ‘n Suid-Afrikaner, emeritus-prof. Sampie Terblanche.

Die onverwagse is dat ‘n buitelandse publikasie wat andersins saam voor in die ikoon-koor sing, so iets in ‘n wydlopende artikel oor die ekonomiese ongelykheid in Suid-Afrika sal dra.

Volgens Terblanche het selfverryking onder Mandela se bewind reeds bestaan, en die skatryk Mandela self het daarby gebaat. Onder oudpres. Thabo Mbeki het korrupsie gegroei, en onder die huidige president het dit ontplof.

Terblanche voer die ontstaan van die probleme oudergewoonte na apartheid terug, maar hy beklemtoon dat ekonomiese ongelykheid tussen klasse na 1994 net toegeneem het. Hy kan ook nie sien hoe sake onder die toekomstige bewind van die skatryk Cyril Ramaphosa sal verander nie.

Oor die meriete van Terblanche se stellings kan hard geredekawel word. Uit die gepubliseerde onderhoud lyk dit na ‘n opstapeling van oorvereenvoudigde retoriek, wat onder meer ander faktore wat oorerflike armoede in die hand werk, ignoreer. Die artikel weerspieël byvoorbeeld nie enige bydrae uit die jongste verslag van die VN se departement van Ekonomiese en Maatskaplike Sake (ESA) nie, wat onder meer daarop wys dat die aarde teen 2028 reeds ‘n bevolking van 8 miljard kan hê. Die verslag meld voorts dat die groot aanwas in Afrika van 4,9 kind per moeder teenoor 1,5 in Europa, ernstige maatskaplike gevolge gaan inhou.

Wat hier onder die loep geneem word, is die feit dat daar ‘n kritiese media-oog oor Suid-Afrika gehou word, en dat die ikoniese fokus op Mandela ook die land meer blootstel aan nog meer kritiese berigte.

Met so ‘n groot mediakontingent wat in Suid-Afrika op nuus oor Mandela se toestand afwag, kan nie verwag word dat daardie joernaliste andersins sal sit en niks doen nie. Daar sal ‘n stroom ander nuus na die joernaliste se koerante en ander media vloei, en daardie nuus sal nie alles positief wees nie.

Boonop kom pres. Barack Obama binnekort na Suid-Afrika en dit verseker ook dat die buitelandse media die water hier sal kom toets.

Slegs die mees naïewe of oningeligte Suid-Afrikaner sou nou nog nie kennis geneem het van die sake wat die land se beeld oorsee skaad nie. Dié probleme word dikwels oorvereenvoudig en op Zuma se brood gesmeer, sodat einste Trouw na Zuma se herverkiesing tot ANC-president ‘n spesiale redaksionele kommentaar geskryf het om dit met feite gemotiveer as ‘n groot fout te beskryf.

Dit moet in gedagte gehou word dat die Nederlandse pers, anders as die meeste anders, wel aan die Afrikaanse media – die kuberruim ingesluit –  blootgestel word en dus ook nader perspektiewe opdoen.

Tog, in die breë, word Suid-Afrika se buitelandse beeld in ‘n mate gebalanseer deur die ikoniese status wat Mandela geniet. Die huidige opname in die hospitaal bring ook die boodskap duidelik tuis dat Suid-Afrika nie nog baie lank beeldkapitaal gaan trek uit die persoon van Mandela nie.

Weens tydsverloop het die bykans kritieklose grasietydperk wat die ANC geniet het min of meer uitgeloop. Marikana het die foutlyne baie duidelik uitgelig. Vreemde uitsprake deur die president het die land se beeld erg geknou. Maar nog altyd was daar die veiligheidsnet om bloot ‘n verbintenis met Madiba te hê, en alles is weer min of meer reg.

Die onlangse mediasirkus by Mandela se huis het egter geboemerang, en daardie veiligheidsnet het ‘n groot skeur opgedoen.

Suid-Afrika is op die punt om deur die wêreld in sy eie reg beoordeel te word, en as die stropersmentaliteit nie aan bande gelê word nie, gaan dit baie warm onder die vergrootglas word.

Die artikel in Trouw, saam met buitelandse TV-programme oor plaasmoorde, is al ʼn  voorsmakie daarvan.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

H J Bester ·

Die invloei van vreemde elemente gedurende die afgelope paar dekades in Europa, het ‘n geleidelike ander opinie teweeggebring by die inwoners en is daar kommer en in baie gevalle selfs woede te bespeur vir die teenwoordigheid van immigrante uit ander dele van die wêreld – ook uit Afrika.

Laasgenoemde het, buiten ‘n vreemde kultuur, ook ‘n mate van onderontwikkeldheid en barbaarsheid na Europa gebring. Juis dit bring mee dat daar al meer begrip ontstaan vir die frustrasie en ongeduld van die blankes in Suid-Afrika wat ‘n bestaan moet maak binne ‘n bestel wat nie op standaard met Westerse gebruike en sieninge is nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.